Tradisionele Springbokrugby knel Pumas in wurggreep

SpringbokkeDie eerste skote van die kampioenskapsreeks het geklap en die uitslae was soos verwag.

Die  Wallabies het baie swaarder gekry as wat die telling aandui en die All Blacks sal beslis nog hulle hanteringsprobleme uitsorteer . Dit sal sonder twyfel van hulle die gevaarspan in die kampioenskapsreeks maak. Die gemak waarmee hulle die Aussie-verdediging oopgekloof het, spreek boekdele.

Wat die Bokke betref is dit duidelik dat daar  langer tyd van voorbereiding en saamoefen was. Die voorspelers het die bal op die voorvoet aan die agterspelers besorg en dit het beteken dat daar meer doelgerigtheid onder die Bok-agterspelers was.

Selfs buite sy posisie het Brian Habana tekens begin toon dat hy weer die vorm begin bereik wat hom ‘n paar jaar gelede die beste vleuel in wêreldrugby gemaak het. Sy drie ná die presisieskop van Morné Steyn was ‘n juweel.

Van Steyn gepraat – sy skopwerk, takties sowel as na die pale, was weer gelykstaande aan die standaarde van wêreldrugby. Die Springbokke het met tradisionele Springbokrugby die Argentyne in ‘n wurggreep vasgevat en dit enduit nie gelos nie. Sprankelrugby was dit beslis nog nie, maar dié sal mettertyd kom. Die onervare Bokspan sal beslis nog verbeter namate die reeks vorder.

Die Springbokke het hulle stempel van meet af aan afgedruk en die Pumas het geen teenvoeter daarvoor gehad nie. Dit sal interessant wees om te sien hoe die Wallabies teen die Pumas sal vaar, want na gister se vertonings wag daar swarigheid vir die Aussies.

Die stryd om die eerste viernasiekroon sal na my mening tussen die All Blacks en die Springbokke wees. Die gebrek aan ‘n bonuspunt vir die Bokke mag vorentoe ‘n steen om die nek wees.

Wat die Curriebeker betref het dit redelik voorspelbaar afgeloop.

Ek het tog gedink die Bulle sal ‘n beter vertoning lewer as wat wel die geval was. Dit was ‘n totaal ander Cheetah span as verlede week wat die Bulle aangepak het. Die Cheetahs het die Bulle die stryd voor aangesê en beslis die beste daarvan afgekom.

Dit is duidelik dat daar geen gunstelinge in die Curriebeker reeks is nie. Die span wat die positiefste ingestel is om die wedstryd te wen sal op die gegewe dag die koning kraai.

Selfs die Griekwas was op pad na ‘n oorwinning nadat hulle met ‘n Blitzkrieg teen halftyd welverdiend met 12-7 voorgeloop het. Daarna het die WP geleidelik meer balbesit gekry en was die Griekwas onder druk om die wedstryd te draai, wat hulle helaas nie kon regkry nie.

Die Haaie is tans die enigste onoorwonne span in die Curriebekerreeks. Om die ander spanne ‘n beter kans op oorwinning oor die Sharks te gee, het die Springbokkeurders nou nog ook vir Craig Burden van die Sharks tot hoër diens opgeroep. Na sy vertoning in die Super 15 is dit egter welverdiend.

Dit is nogal ironies dat daar nie een Bulle-voorspeler onder die begin 15-tal vir Saterdag se toets was nie.

Dis rampspoedig dat die Lions uit die Super 15 is, maar die Super Kings sal beslis nie beter vaar nie. Of dié politieke skuif gaan werk, sal nog gesien moet word.

Rugbygroete!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Meningsvormers, Rugby

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.