Transformasie: goed of sleg?

Deur ‘n alumni van die Universiteit Stellenbosch 

universiteit-stellenbosch

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Daar heers tans ʼn wanpersepsie rakende transformasie, soos dit vandag toegepas word, op al die verskillende terreine van die samelewing. Transformasie beteken bloot om nuut te dink oor bepaalde aangeleenthede en met nuwe oplossings na vore te kom. Transformasie in Suid-Afrika het ongelukkig vervlak tot ʼn suiwer ras-gebaseerde beleid ten einde die nasionale demografie te weerspieël. Dit verskil geensins van apartheid nie. Ras is weereens die primêre oplossing vir alle probleme. Swart is die nuwe bevoordeeldes wat deur wetgewing afgedwing word.

Hierdie drogredenasie het sy oorsprong in die VSA en Kanada deur die kritiese rasteorie (KRT) en die “Black Lives Matter” (BLM)-beweging stewig vasgebed in Marxisme. In terme van die KRT word alle blankes outomaties bevoordeel bloot omdat hulle blank gebore is, ongeag hulle omstandighede of die tydgleuf waarin die werklikheid afspeel. “Black Lives Matter” skep verder die persepsie dat slegs swart lewens tel. Namate die sosialistiese nagmerrie onder ANC-bewind momentum opbou, is dit ironies genoeg swart mense wat die meeste ly onder ʼn korrupte getransformeerde samelewing in Suid-Afrika. Bitter min linkses en liberales het ongelukkig die moed om hierdie werklikheid in die oë te staar en in debat te tree daaroor.

Dr. Ben Shapiro (VSA) en dr. Jordan Petersen (Kanada) het die kwessies rakende KRT en BLM krities gaan ontleed en bevind dat dit op populistiese oortuigings gebaseer is en totaal ongegrond is. Daar is geen wetenskaplike gronde daarvoor nie. Die Instituut vir Rasse Verhoudings in Suid-Afrika het tot dieselfde slotsom gekom dat KRT en BLM gebaseer is op populistiese rasse-retoriek wat swart nasionalisme ondersteun. Die grootste verloorder is egter die reg tot vryspraak en uiteindelik word verwronge persepsies by lesers geskep, wie se denkraamwerk verskraal word tot rasgebonde uitkomste.

Suid-Afrika het amptelik ʼn vrye demokrasie geword in 1994. Alle rasgebaseerde wette is in 1990 afgeskaf. In 1996 word regstellende aksie (RA) ingestel onder Mandela se bewind. Swart ekonomiese bemagtiging (SEB) word in 1999 onder oudpresident Thabo Mbeki se bewind ingestel. Die logiese uitvloeisel daarvan was dat kaderontplooiing onder Zuma se bewind gevolg het, wat onlosmaaklik tot staatskaping gelei het onder ʼn korrupte ANC-regering. Wat het in Suid-Afrika verander? Alles het verander en tog het niks verander nie. Omgekeerde rassediskriminasie is nou aan die orde van die dag. Die Engelse spreekwoord stel dit so mooi, “Two wrongs don’t make a right”. Tog reken linkses en die oorgrote meerderheid liberales dat RA en SEB die etiese korrekte oplossing is vir die situasie tans. Dit is ʼn infame leuen. Die vernietigende gevolge hiervan word seker ten beste geïllustreer deur die huidige situasie binne Eskom. Eskom het baie van sy kundige persone verloor as gevolg van rasgebaseerde beleid. Solidariteit het dit al telkemale uitgewys.

Die kritiese vraag is egter hoe kan transformasie enigsins geregverdig word teenoor vrygebore blankes wat na 1994 gebore is? In terme van die Algemene Reg, staan elke persoon tog in eie reg as regspersoon. Hoe kan vrygebore blankes aanspreeklik gehou word vir die historiese verlede voor 1994? Hulle was nog nie eens gebore nie! Hierdie drogredenasie word egter gebruik om rasgedrewe transformasie te dryf teen vrygebore blankes en derhalwe boet hulle deur die ontneming van bepaalde regte en geleenthede waar hulle andersins suiwer op meriete sou kwalifiseer. Volgens die KRT is alle blankes, insluitende vrygebore blankes, permanent bevoordeel. Hierdie drogredenasie ontneem vrygebore blankes van hulle reg as regspersoon ten einde gelyke kanse en geleenthede te kan geniet in Suid-Afrika. Suid-Afrika se Grondwet waarborg voorts gelyke regte en voorregte aan alle burgers in Suid-Afrika. Dit is helaas ʼn blote mite.

Kom ons kyk vir ʼn oomblik na universiteite en meer spesifiek na die Universiteit Stellenbosch se voorgestelde koshuisplasingsbeleid waar studente volgens drie kategorieë geplaas word. Die eerste kategorie is suiwer op meriete gebaseer. Die tweede kategorie is suiwer op ras gebaseer, waar alle blankes uitgesluit word en slegs swart, bruin, Indiër en Asiërs (in hierdie volgorde) voorkeur geniet bo vrygebore blanke burgers. Vrygebore blankes het geen bydrae gelewer tot die historiese verlede nie. Die derde kategorie word die sosio-ekonomiese-status-kategorie genoem waar studente wat nie oor die finansiële vermoëns beskik om te studeer nie, maar wel oor die intellektuele vermoëns beskik, in staat gestel word om te studeer. Dit maak grootliks sin, want hier is geen kleur aan gekoppel nie en word suiwer op meriete toegepas. Wat hierdie model uiters omstrede maak, is dat daar nie vaste persentasies aan die verskillende kategorieë gekoppel kan word nie. Dit word as instrument ingespan om rassetransformasie te regverdig. Die swart komponent word jaarliks verhoog totdat die nasionale demografie weerspieël word in die studente aanbod. Daar is nie beleid beskikbaar om hierdie rasteikens te verifieer nie en dit word volgens die diskresie van die US-bestuur bepaal. Ek het die vraag al aan talle US-bestuurslede gestel – wanneer gaan hierdie vensterperiode sluit vir omgekeerde rassediskriminasie? Wanneer gaan suiwer meriete geld?

Tydens ʼn gesprek met ʼn senior bestuurslid van die US het hy ruiterlik erken dat as suiwer meriete sou geld, sommige van die koshuise amper spierwit sou wees. ʼn Kleiner wordende groep blanke studente ding dus mee in die boonste kategorie vir beperkte plekke in koshuise volgens vasgestelde rassekwotas. Die minimum afsnypunt vir ʼn blanke studente om in ʼn koshuis geplaas te word, is 84%. Die minimum afsnypunt vir swart studente om in koshuise geplaas te word, is 60%. Verskillende standaarde geld dus vir verskillende rasse. Is dit billik? Die US maak daarop aanspraak dat hulle beleid nie-rassigheid bevorder. Hoe bevorder jy nie-rassigheid met rasgebaseerde beleid? Die US pas hierdie beleid toe ten einde ʼn diverse rasomgewing te skep en studente voor te berei op ʼn diverse samelewing. Die US bestuur dus diversiteit in ten einde aanspraak te regverdig dat hulle ʼn diverse omgewing moet bestuur. Wie bluf vir wie?

Madiba het tydens sy inhuldiging as president met groot waardigheid verklaar en plegtig onderneem dat daar nooit weer teen enige persoon op grond van ras, geslag of godsdiens gediskrimineer sou word nie. Wat het van hierdie droom geword? Daardie droom het saam met die ANC gesterf en die huidige nagmerrie van voortgesette rassediskriminasie word verder meer meedoënloos gedryf deur linkses en liberales onder die dekmantel van transformasie.

Tydens die US-konvokasievergadering het Helen Zille gewaarsku dat die US afstuur op die huidige situasie by die UK. Die hoof dryfveer was ras, oftewel transformasie, by die UK. Die hoof dryfveer by die US is transformasie wat rasgedrewe is ten einde die nasionale demografie te weerspieël. Derhalwe word Afrikaanse studente ook doelbewustelik uitbestuur. Dan wonder ons nog hoekom daal die Afrikaanse studente aanbod aan die US, ongeag SSA se statistiek dat 49% van die Wes-Kaap se bevolking Afrikaanssprekend is.

Die situasie by die US stem my tot groot kommer as US-alumni. Ek vra bloot suiwer meriete om ʼn nie-rassige samelewing tot stand te bring. Uitnemendheid sal vanself volg. Gemiddeldheid word beloon en meriete word gestraf. Suid-Afrika het nie meer middelmatigheid nodig nie. Ons het uitnemendheid nodig, met suiwer meriete as die enigste kriteria ten einde ʼn beter samelewing te bou ongeag ras.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

jzjz05 ·

Daar is nie n ander woord vir transformasie soos dit nou in SA bedryf word nie as Apartheid nie.dit is nog slegter as die ou Apartheid want dit benadeel ook die wat dit moes bevoordeel het.net die “fat kats” soos Madella dit genoem het word bevoordeel.

Groen Ghoen ·

Ek is ook ‘n alumnus van die US en is met reg onsteld oor die misplaaste beheptheid met ras en die veragtelike uitrangering van Afrikaans. Die skuld plaas ek egter voor my eie deur en die deure van die alumni wat dit stilswyend toegelaat het. Ons het geswig voor gonswoorde soos politieke korrektheid en nou is die skade gedoen.

Republikein in die Wes Kaap ·

Gee Afrikaanssprekendes nog om wat daar gebeur? Ons is in 1994 in die boks gedruk. Waarom het Afrikaanse belangegroepe nie toe reeds begin gewerk vir ‘n sateliet kampus in Wellington of Paarl nie? ‘n Publieke-Private Venootskap kon die wiel aan die rol kry. Ons kla gereeld, maar uit eie geledere is daar weinig nuwe alternatiewe voorstelle en planne. Nou in 2022 kyk ons terug en vra wat het nou gebeur.

koos ·

Liewe jongmens, jy wat nie-amptelik erken word “as suiwer meriete sou geld, sommige van die koshuise amper spierwit sou wees”, moenie jou pêrels voor die (anc)swyne werp nie. Gaan bou vir jou ‘n beter lewe in die land van jou verre voorvaders. Donker Afrika is vir hulle wat spesialiseer in donker denke – kyk maar hoe dit in die res van die vasteland gaan. Moenie wag dat jy, soos ek, te oud is daarvoor nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Goeie advies Koos. Indien ek sê wat ek wil sê word ek weer gemoduleer.

Vexed ·

Dit is erg, grotendeels omdat mense moet baklei om in ‘n koshuis in te kom waar geen mens met standaarde en by sy volle positiewe seker sal wil bly nie. Baie hartseer as jy moet baklei vir ‘n ruimte daar.

Lourens ·

Al wat ek kan sê hierop is dat daar nie iets soos “omgekeerde rassediskriminasie” is nie. Dis suiwer rassediskriminasie, m.a.w. die diskriminant (onderskeier) is ras.
Deesdae word dit teen blankes toegepas, waar dit tot met 2 Februarie 1990 teen nie-blankes toegepas was. Dis AL wat verander het.

annie ·

Wat nou maar steeds gebeur is dit wat ná Brittanje se grootskaalse plan vir kolonialisasie inwerking gestel is. Die Afrikaners/Franse Hugenote se vestiging was ‘n groot kopseer. En die Groot Trek het erge vrese ontketen dat die minerale in Afrikaner-hande sal beland. Die Britse sendelinge, nogal, het feitlik daagliks skrywes gerig na Europa met ‘gruwelverhale’ oor die Afrikaners. En so is die onkruid gesaai wat ons vandag oes. Afrika baat nou en Brittanje lag want Engels gedy en hul steeds-baasskap is verseker. Selfs Afrikaners glo en verkondig nou die leuen oor hul voorsate. Tragies! Hou op lui wees en lees wyd oor die SA-geskiedenis. Eye openers.

Richard ·

Ons het pas die tweede toets teen die All Blacks verloor a.g.v. van “transformasie”. Die All Blacks moes gedink het Kersfees het vroeg gekom toe Malcolm Marx nie uitdraf op die veld nie, en die telbord het sy afwesigheid weerspieël, en toe hy noodgedwonge op die veld kom was die agterstand te groot. Hierdie wedstryd is maar ‘n klein voorbeeld. Eskom is vandag waar hy is, oor transformasie.

Ek wil my ten sterkste uitspreek téén enige vorm van transformasie. Transformasie is besig om ons land te verwoes.

Slégs meriete mag gebruik word.

Excelsa petamus – Streef die hoogste na.

Manie ·

Ramaphosa reken nou dat kaderontplooing nie onwettig is nie en dat hy onder geen verpligting is om die Zondo kommissie van ondersoek se bevindings oor kaderontplooing aan te spreek nie.

Spook ·

Transformasie, is niks anders as Toegepaste Rassisme nie.
Mooi woordjies verander nie die uiteindelike gevolg van die idee nie.
Dit is soos om mense in konsentrasiekampe te sit, want jy “beskerm” hulle teen hongersnood en uitbuiting.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.