Transformasie se resultaat kommerwekkend

  • Bennie van Zyl. (Foto: Daleen Gouws)

    Deur Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA

Woordspeling en die persepsie wat rondom transformasie gevestig word, het nogal die laaste ruk ’n beduidende rol gespeel. Daagliks word ons gebombardeer met stellings wat die skuld vir baie van die regering se mislukkings op kolonialisme en apartheid plaas.

Arme Jan van Riebeeck en 1652 word voorgehou as die rede hoekom ’n eens florerende land in duie gestort het. Dit is nou as die huidige narratief oor grondbesit in Suid-Afrika se geskiedenis geglo kan word. Hierdie narratief verskil egter hemelsbreed van die weergawe soos opgeteken deur internasionale skrywers en historici.

Om hierdie situasie in volle perspektief te stel verg eintlik ’n reeks boeke en’n kort artikel kan nie die volle prentjie skets nie. Feit is wel dat die swart mense, net soos die wit mense, nie eerstegenerasie inwoners in die land is nie. Die wit mense kan verskeie traktate en ooreenkomste toon waar daarmee grond bekom is op ’n wyse waar die bedoeling van billikheid duidelik geïllustreer word. Die vraag is by wie het die swart mense die grond wettig gekoop toe hulle die land vanuit die noorde van Afrika betree het?

Die leuen dat wit mense grond “gesteel” het, het by sommige mense ’n skuldgevoel laat ontstaan wat tans hul gesonde oordeel beïnvloed.

Sedert die ANC ’n redelik goed funksionerende land, wat dienslewering vooropstel, ontvang het, het hy meganismes begin implementeer wat sy beleidsomgewing bevorder. Dit het verskeie aspekte behels wat die hele samelewingsorde beïnvloed het in die rigting van sy ideologiese beskouing. ’n Beskouing wat wêreldwyd nog net misluk het.

Drie dokumente rig die ANC, naamlik:

  • Die Vryheidsmanifes (“Freedom Charter”)
  • Nasionaal Demokratiese Revolusie
  • “Strategy and Tactics”

Iemand wat ernstig is oor die toekoms van ons land behoort ten minste hierdie drie dokumente te bestudeer en wel vanuit die konteks van die ANC se verklaarde beskouing, dat hy op koers is na sosialisme en kommunisme. Dit gee konteks oor wat besig is om in ons land te gebeur.

Hoe die ANC dit regkry om kiesers so lank met beloftes en slagspreuke te kon mislei is ’n ope vraag. Dit is nogal moeilik om aan een ding te dink wat onder die ANC se beleid verbeter het. Dink net aan Eskom, Spoorweë (Prasa), die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), die SAUK, onderwys, gesondheid, veiligheidsdienste (SAPD en SANW), swak ekonomiese groei, infrastruktuur en werkloosheid wat jaarliks styg.

Sommige mense kan dalk redeneer dat verskeie HOP-huise gebou is, wat waar is, maar daar is ’n groot wolk wat hieroor hang, met dié dat die staat die titelaktes vashou en die huise dus nie aan die intrekkers behoort nie. Die wonings se waarde is nou dooie kapitaal met dié dat dit glad nie as kollateraal aangewend kan word om moontlik ’n lening te kan kry vir die begin van ’n nuwe onderneming nie.

Seker die grootste probleem is die ingrepe in skole se kurrikula. Elke Christen-ouer behoort kennis te neem van die opmerkings van dr. Blade Nzimande by geleentheid voor die Suid-Afrikaanse demokratiese onderwysersunie (Sadou) se kongres, naamlik dat hierdie kurrikulum uitgewerk is om vir die jeug van ons land sosialisme te leer. Dit is hier waar hulle ons jeug se denke ontneem van die waardes waarmee ons grootgeword het.

Die ANC het verskeie aspekte van sy beleid oor tyd geïmplementeer om sy ideologiese beskouing beslag te gee. Hier kan ons dink aan dinge soos kaderontplooiing en regstellende aksie, wat in die praktyk vir ons gewys het dat dit tot ’n groot mate deurspek is van korrupsie.

Al hierdie aspekte van sy beleid kan inderdaad saamgevat word onder die begrip transformasie. Die beleid het veroorsaak dat persone wat in poste aangestel is, nie noodwendig oor die nodige opleiding of vermoë beskik om die werk te kan doen nie.

Die werklikheid vandag is dat die samelewing reken dit is goed en reg om polities korrek te wees, terwyl dit juis die toekoms van ons land vernietig. Dit bly belangrik om ’n saak ter sprake te hanteer met die beginsels wat daarop van toepassing behoort te wees. Wanneer ons oor onderwys gesprek voer, behoort opvoedkundige beginsels die rigting aan te dui.

Indien ons oor landbou of die sakesektor gesprek voer wat volgens ekonomiese beginsels funksioneer, moet daar besef word dat die markkragbeginsels die laaste sê sal hê. Ongelukkig is die ANC deurlopend besig om van elke aspek ’n ideologiese beredenering te maak en dit is net mooi daar waar dinge erg skeefloop en ons land degenereer.

Baie mense is oortuig dat daar getransformeer moet word, maar indien daar vir hulle gevra word wat dit alles behels, bly die antwoorde agterweë. Daar is niks volhoubaar om iemand van ras (ongeag watter een) te probeer bemagtig nie. Waarop die fokus wel behoort te wees, is om kundigheid die geleentheid te gee om in ’n gesonde beleidsomgewing te funksioneer en ekonomies aktief te wees. Daardie kundigheid is diegene wat die verantwoordelikheid aanvaar van wat die lewe van hom of haar vereis. Dit bring mee dat ’n “demanding”-kultuur nie enige positiewe uitkomste kan lewer nie.

Die steeds groeiende armoede wat onder die beleid van die ANC net vererger, kan net opgelos word indien die spreekwoordelike koek (ekonomiese groei) groter gemaak word. Dit verg ’n beleidsomgewing anders as dit wat tans gepoog word.

Die staat het basies twee primêre verantwoordelikhede, naamlik om na die veiligheid van die land se inwoners om te sien en tweedens om ’n klimaat met sy beleid te skep waarbinne die privaatsektor graag sake in sal wil doen. Ongelukkig is ons werklikheid dat in beide hierdie aspekte die regering klaaglik misluk.

Heel gerieflik word sekere woorde gereserveer asof dit die rede is vir alle mislukkings. Die blaam vir hierdie mislukkings word vinnig verplaas en beskuldigings geuiter indien daar na enige goeie punte van ’n vorige bedeling verwys word. Die werklikheid is dat die glybaan na ’n mislukte staat onder die begrip transformasie tans ons werklikheid is. Dit bring mee dat die vloekwoord van die tyd inderdaad eintlik transformasie is. Die praktyk wys vir ons dat elke inwoner in die land se toekoms van hulle ontneem word deur juis dit waarvoor transformasie staan.

Dit verg van elkeen van ons om standpunt in te neem. Word deel van strukture wat bereid is om die verskil te maak wat nodig is. Bring jou kundigheid tafel toe en kom werk saam met diegene wat poog om vir veral ons jeug ’n toekoms en hoop te gee. ’n Beter toekoms sal geskep moet word en dit kan duidelik nie in die huidige beleidsomgewing gebeur nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Produksie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Herman ·

Ek het lanklaas ‘n stuk gelees wat alles so logies en volledig uiteensit en opsom. Dankie Bennie. Sterkte met jou taak.

Schalk ·

Pragtige opsomming van die verval van ‘n land met infrastruktuur. Solank as wat waardes en kultuur nie respek , godsdiens en harde werk insluit nie sal die trein van mislukking nie gestuit word nie.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

APATIE om aktief betrokke te wees by die bevordering van geregtigheid, die politiek, die onderwys van die jeug en ‘n eie kultuur, maak die agterdeur oop vir opportunistiese politieke aktiviste om met vae begrippe soos “vryheid, gelykheid en transformasie” hul ideologië te bevorder en die mag oor te neem. Is u ‘n apatiese burger, onbetrokke by enige burgerlike beweging om demokrasie uit te bou? ‘n Klaer in die makleunstoel en om die braaivleisvure? Gaan jy nou reeds betrokke raak by jou politieke party met steun tot en met die 2024 Algemene Verkiesing?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.