Transformasie vermom as akkreditasie

studente

Foto: Argief

Deur Leonard van der Dussen

In die na-1994 Suid-Afrika is sonder slag of stoot aanvaar dat selfs gevestigde universiteite elke opleidingsprogram deur die staatsdepartement en sy instrumente moet laat goedkeur, tesame met ʼn ystergreep op skoolonderwys waar die matriekeksamen gebruik word om ʼn gesentraliseerde en voorskriftelike skoolkurrikulum af te dwing.

ʼn Ruk gelede is vier bekende universiteite deur die Raad op Hoër Onderwys (RHO) aangesê om verslag te doen hoe hulle hul “regsgraadprogram (LLB-graad) gaan verbeter om nie hul akkreditasie te verloor nie”.

Dit klink dalk of die proses normaal en geldig is. Dit is nie. Nie vir universiteitswese wat oor akademiese outonomie behoort te beskik nie. Allermins.

Eerstens bied die betrokke universiteite hierdie opleiding al lank aan. Hulle weet hoe om graadkursusse saam te stel en aan te bied. Tweedens kom die kommentaar op die graadprogramme nie van ʼn beroepsliggaam of die departement van justisie nie. Wat kan dan nou skielik fout wees met die gevestigde programme?

Daar kan natuurlik fout kom as daar onbekwame mense aangestel is by van die universiteite, maar wanneer Olivia Mokgatle, direkteur van die RHO se standaardehersieningsafdeling, sê dat transformasie en diversifisering “een van die redes” is waarom die vier universiteite in kennis gestel is dat hulle moontlik akkreditasie vir hulle LLB-programme kan verloor, is dit duidelik dat dit nie net oor akademiese standaarde gaan nie.

En dit is ook maklik om menings te hê oor tegniese sake soos “die aantal krediete van die graad” as jy ander doelwitte, soos transformasie, wil afdwing.

Hierdie oënskynlike klein voorval in ʼn groot poel van graadkursusse is ʼn betekenisvolle waarskuwing dat daar standpunt ingeneem moet word vir akademiese outonomie en dat daar weerstand teen sentrale regeringsinmenging in akademiese opleiding gebied moet word. Dit maak nie saak van watter politieke oortuiging jy is nie, maar hierdie magsvergryp op opleiding kan die ekonomie vergiftig. Vandag is dit die regsgraad, môre kom die ingenieursgraad aan die beurt. Vandag word van die staatsgesteunde universiteite aangespreek, maar môre kom die private universiteite, wat ook deur die RHO geakkrediteer word, aan die beurt.

Die regering van die dag het ʼn kragtige gesentraliseerde greep op skoolonderwys: die “CAPS”-kurrikulum, wat met die kleinste van uitsonderings tans die Afrikaanse kind se opleiding is, se beginsels is deurspek met social engineering doelwitte, soos “sosiale transformasie” en “menseregte, inklusiwiteit, omgewings- en sosiale geregtigheid”. Dis nie maar net afleidings nie, maar beginsels wat woordeliks uit byvoorbeeld die “Afrikaans Huistaal” CAPS-dokument aangehaal word.

Die sosialistiese afdwinging van registrasie- en akkreditasievereistes op ʼn wyse wat die perke en rol van die sentrale regering in onderwys ver oorskry, is nie net ʼn ekonomiese bedreiging nie, maar ʼn aanslag op akademiese vryheid en gewetensvryheid. ʼn Soort pouslike styl van voorskriftelikheid oor hoe jy moet menswees en dink wat in jou aanleer van taalkunde of wiskunde ingebou word.

Dit is tyd vir ʼn oproep vir gewetensvryheid en om onderwys ruimte te gee om akademies getrou en vir die gemeenskap en nie die sentrale beplanners se doelwitte nie opgestel en uitgevoer te word.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

12 Kommentare

lizl ·

Een van die dae kan ek maar net `n Chomp papiertjie op my hemp plak en dit sal my `n doktersgraad besorg….

Derek Meyer ·

Moenie so neerslagtig wees nie. Dit was dieselfde voor 1994. Net geakkediteerde Universiteite se grade was binnelands sowel as buitelands erken. As jy ‘n graad by Stellenbosch gekry het, was dit outomaties erken orals in die wêreld.
Nou werk dit anders. Die wêreld erken nie meer al ons grade nie.
Daar is ‘n oplossing. Wes-Australië se Universiteit bied ruim beurse aan vir studente uit SA wat baie goed gedoen het op skool en Universiteitstoelating geweier is op grond van kwotas. Dis veral gemik op studente wat Medies, Ingenieurswese of een van die Natuurwetenskaplike rigtings wil bestudeer.
Daar is natuurtlik voorwaardes daaraan verbonde; jy moet na studie in of naby een of ander dorp in die middle van nêrens gaan werk vir ‘n aantal jare (gewoonlik 3 of 4).
Daar beteken letterlik in die middel van nêrens. In die woestyn iewers soos Kalgoorlie of Coolgardie. Of teen die kus by Port Hedland of so ‘n plek. Niks plaasmoorde teenwoordig nie.

‘n Baie goeie inisiatief is ook dat mense wat in dorpe soos daardie bly se inkomstebelasting baie laer is as vir mense wat in die stede bly. Hoie langer jy bly; hoe meer spaar jy.

Derek Meyer ·

Moenie so neerslagtig wees nie. Dit was dieselfde voor 1994. Net geakkediteerde Universiteite se grade was binnelands sowel as buitelands erken. As jy ‘n graad by Stellenbosch gekry het, was dit outomaties erken orals in die wêreld.

Nou werk dit anders. Die wêreld erken nie meer al ons grade nie.

Daar is ‘n oplossing. Wes-Australië se Universiteit bied ruim beurse aan vir studente uit SA wat baie goed gedoen het op skool en Universiteitstoelating geweier is op grond van kwotas. Dis veral gemik op studente wat Medies, Ingenieurswese of een van die Natuurwetenskaplike rigtings wil bestudeer.

Daar is natuurtlik voorwaardes daaraan verbonde; jy moet na studie in of naby een of ander dorp in die middle van nêrens gaan werk vir ‘n aantal jare (gewoonlik 3 of 4).
Daar beteken letterlik in die middel van nêrens. In die woestyn iewers soos Kalgoorlie of Coolgardie. Of teen die kus by Port Hedland of so ‘n plek. Niks plaasmoorde teenwoordig nie.

Die voordeel is dat mense wat in sulke dorpe bly minder belasting betaal as mense wat in die stede bly. Hoe langer jy daar bly, hoe meer spaar jy!

Mitch ·

Neewat Derek ek dink jou feite is nie so lekker nie. Wes Australie het nie net een Universiteit nie en selfs Australianers moet uithaal vir toelating tot medies, verder is daar n baie klein belasting voordeel wanneer jy in afgelee sones van Australie woon. Stadig met die heuning….

Soekmekaar ·

Derel, sal graag meer detail wil he^.

Sien net algemene inligting op webblad van Uni of Western Australia

B-man ·

Hierdie ding kom al ‘n ruk lank. Gaan kyk maar ook oor hoe die Ingenieursraad van Suid-Afrika (ECSA), ongekwalifiseerde lede op die nuwe raad wou aanstel. Ons ingenieurs gaan nie meer internasionaal erken word wanneer oningeligdes besluit of ingenieurs ‘bekwaam’ genoeg is vir professionele registrasie nie.

Eish ·

Die toedrag van sake is uiters kommerwekkend veral indien dit die standaard gaan verrot soos ons die staat en al sy liggame sien agteruitgang het die afgelope kwarteeu.
Gedagtig aan die tersiêre inrigtings se bestuur se rugkeer op Afrikaans, wonder ek tog of die instellings enige weerstand gaan bied teen die oordonderende ideologie van sosiale hervorming.
Ek is steeds die mening toegedaan dan n mens maar jou eie koers moet inslaan ten einde die goeie te behou, des te meer indien tersiêre instellings se futlose weerstand teen die aanslag verkrummel.

leser ·

lekker lag, wonder hoeveel “grade”, het idi amin gehad met al sy koeldrank proppies wat op sy uniform was

Gerhard ·

Die vraag is hoe sal die soort ding private universiteite in die toekoms raak? Daar is teveel mense wat nog te gemaklik is met die huidige situasie, terwyl daar daadwerklik opgetree moet word in die rigting van selfbeskikking.

Elizabeth ·

Die feit van die saak is dat slegs studente wat werklik goed presteer het op skool in universiteite hoort. Vir diesulkes is daar orals ter wêreld plek om te studeer. As ek akkreditasie moes verleen aan SA grade, sou ek ook 2 maal dink. As ek sien hoe kom studente by universiteite aan en hoe verlaat hulle dit weer, wil ek huil!! Hierdie ouens verdien nie ‘n graad nie. Hulle sal nooit in ‘n professie kan staan nie. Hulle is minderwaardig – swart, wil, geel of pienk, ongeag!!

Aanlynonderrig ·

Die antwoord is aanlyn onderrig via n globaal geakredditeerde instelling. Nasionale regerings is besig om hul houvas hierdeur te verloor.

I am Sam ·

Dankbaar en bevoorreg om nou ons 22ste jaar van tuisonderrig te doen en my kinders teen die breinspoelingsstrategieë van die Nuwe Wêreldorde te beskut.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.