Transformasie vermom as akkreditasie

onderwys-appel-pen-merkwerk

Argieffoto.

Deur Leonard van der Dussen

In die ná-1994-weergawe van Suid-Afrika is sonder slag of stoot aanvaar dat selfs gevestigde universiteite elke opleidingsprogram deur die staatsdepartement en sy kanale moet laat goedkeur, tesame met ʼn ystergreep op skoolonderwys waar die matriekeksamen gebruik word om die gesentraliseerde en voorskriftelike skoolkurrikulum af te dwing.

Onlangs is vier bekende universiteite deur die Raad op Hoër Onderwys (RHO) aangesê om verslag te doen hoe hulle hul “regsgraadprogram (LLB-graad) gaan verbeter om nie hul akkreditasie te verloor nie”.

Dit klink dalk of die proses normaal en geldig is. Dit is nie. Nie vir universiteitswese wat oor akademiese selfseggenskap behoort te beskik nie. Allermins.

Eerstens bied die betrokke universiteite hierdie opleiding al lank aan. Hulle weet hoe om graadkursusse saam te stel en aan te bied. Tweedens kom die kommentaar op die graadprogramme nie van ʼn beroepsliggaam of die departement van justisie nie. Wat kan dan nou skielik fout wees met die gevestigde programme?

Daar kan natuurlik fout kom as daar onbekwame mense aangestel is by van die universiteite, maar wanneer Olivia Mokgatle, direkteur van die RHO-standaardehersieningsafdeling, sê dat transformasie en diversifisering “een van die redes” is waarom die vier universiteite in kennis gestel is dat hulle moontlik akkreditasie vir LLB-programme kan verloor, is dit duidelik dat dit nie net oor akademiese standaarde gaan nie.

En dit is ook maklik om menings te hê oor tegniese sake soos “die aantal krediete van die graad” as jy ander doelwitte, soos transformasie, wil afdwing.

Hierdie oënskynlike klein voorval in ʼn groot poel van graadkursusse is ʼn betekenisvolle waarskuwing dat daar standpunt ingeneem moet word vir akademiese selfseggenskap en dat daar weerstand teen sentrale regeringsinmenging in akademiese opleiding gebied moet word. Dit maak nie saak van watter politieke oortuiging jy is nie, maar hierdie magsvergryp teenoor opleiding kan die ekonomie vergiftig. Vandag is dit die regsgraad, môre kom die ingenieursgraad aan die beurt. Vandag word van die staatsgesteunde universiteite getakel, maar môre kom die privaat universiteite, wat ook deur die RHO geakkrediteer word, aan die beurt.

Die huidige regering het ʼn kragtige gesentraliseerde greep op skoolonderwys: die KABV-kurrikulum, wat met die kleinste van uitsonderings tans die Afrikaanse kind se opleiding is, se beginsels is deurspek met social engineering-doelwitte, soos “sosiale transformasie” en “menseregte, inklusiwiteit, omgewings- en sosiale geregtigheid”. Dis nie maar net afleidings nie, maar beginsels wat woordeliks uit byvoorbeeld die KABV-dokument vir “Afrikaans Huistaal” aangehaal word.

Die sosialistiese afdwinging van registrasie- en akkreditasievereistes op ʼn wyse wat die perke en rol van die sentrale regering in onderwys ver oorskry, is nie net ʼn ekonomiese bedreiging nie, maar ʼn aanslag op akademiese vryheid en gewetensvryheid. ʼn Soort pouslike styl van voorskriftelikheid oor hoe jy moet “mens wees en dink” wat in jou aanleer van taalkunde of wiskunde ingebou word.

In die tyd wat die Reformasie van vyf eeue gelede herdenk word, is ʼn oproep vir gewetensvryheid en ruimte aan die onderwys om akademies getrou en vir die gemeenskap (nie die sentrale beplanners se doelwitte nie) opgestel en uitgevoer te word, baie gepas.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

JC ·

Baie dankie. Tydig, maar is dit nie te laat in die dag om die massas (veral liggelowige “afrikaner/Boer skape”!! ) skape uit die kraal uit te laat nie, en “waarheids” stroop te gee nie?

Eish ·

Vir wat wil jy dit doen? Die Afrikaner se kop werk nie so nie. Bou n stelsel beter as die bestaande dan migreer hul vanself sodra die eerste een die gat in die heining gekry het.

Eish ·

Puik artikel dankie.
Genadiglik is al my kroos deur die akademi. Tog is dit met afgryse dat ek kennis neem van die indoktrinasie. Handboekgeval van die deursuur van kommunisme of Afrikaaning van die samelewing.
Dan moet ons maar die privaat onderwysinstellings onwettig bedryf, maar die waardes moet behoue bly.

Disselboom ·

Akademia en AROS is baie trots op hulle regeringsamptelike registrasie en regeringsamptelike akkreditasie.

Eish ·

Tot die regering gaan begin karring aan hulle soos deur artikel uitgewys.

Johan Neuteman ·

Sien op ander nuusnetwerk dat daar voorgestelde wetgewing is wat skole nog meer van bo af gaan beheer, en plaaslike beheerrade se magte verder gaan afwater. Dit lyk nie of die plaaslike gemeenskap se regte of die minderheidsregte en al die soort van dinge iets werd is nie. Is verbaas oor die goed wat in die KABV (neem aan dis die Afrikaans vir “CAPS”) staan, en nog meer verbaas oor hoe min mens hoor dat daarteen weerstand gebied word. Die huidige geslag dink dus seker maar die transformasie en al die goed is maar normaal.

Rupert Ashford ·

Gee kans, volgende aan die beurt in die skoolkurrikulum sal die invoer van gender theory wees waar kindertjies geleer sal word jy is watter geslag jy wil wees en jou “water works” bepaal dit nie. En o ja, daar is nagenoeg 50 “geslagte” om van te kies…

Dom Astrant Vrydenker Bosvark ·

National Democratic Revolution (NDR) is the process of social reengineering society to become the National Democratic Society – die halfbroer van kommunisme en die halfsuster van werkloosheid en armoede gevul met ‘n mampoertjie van die verryking van die elite-groep – en siedaar, jy het die South African NDS Animal Farm! En vergeet nie die Dinkpolisie en al die lakeie wat die menigde reëls en wetgewings en -ismes en slagspreuke moet uitdink nie! Tragies en sieklik. Ons moet waak om nie slawe van die South African NDS Animal Farm elite te word nie. Wakker loop Afrikaners!

Ewoud Pistorius ·

Ja nee kyk, dis een van die redes waarom ek lankal uit die onderwys is en my eie besigheid begin het waar ek ‘n Amerikaase kurrikulum via afstanonderrig vir leerders bied. So kan hulle weg kom van CAPS indoktronasie. Jy werk uit die veiligheid van jou huis en kry online tutor ondersteuning.

Ewoud Pistorius ·

Gelukkig is daar nog alternatiewes tot die CAPS. Daar is altyd “online schooling” wat besig is om pos te vat in SA en baie gewild is. Met al die geweld in skole is jou kind nie eers meer veilig nie. Ek is lankal uit die onderwys en het my eie web skool begin en sit vandag met verskeie gelukkig ouers en gelukkige kinders wat nie geindoktroneer word deur CAPS nie

Karin ·

@Ewoud Pistorius, hoe kom ek meer te weet van hierdie Amerikaans kurrikulum via afstandonderrig?

Kannaland ·

Laat ons universiteite eerder in die buiteland akkrediteer, of deur internasionale organisasies geakkrediteer word. Slim werkgewers steur hul nie eers aan SA akkreditasie nie want SA se standaarde is laag en nou irrrelevant in n globale ekonomie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.