Transformasie: Waarheid en die alternatief

Argieffoto

Argieffoto

Hierdie artikel is in verskeie kampuskoerante (waaronder Die Matie) gepubliseer en is bedoel om die debat oor transformasie by universiteite aan die gang te kry. Dit is juis op tersiêre onderrig gerig, hoewel die beginsels universeel geld.

Ná Apartheid se ongelyke behandeling het die koms van demokrasie in 1994 en die aanvaarding van die Grondwet in 1996 die weg vir gelykheid gebaan. Hoër onderrig, as die skepper van goeie sosioëkonomiese geleenthede, sou voortaan gedemokratiseer word. Maar dit het mettertyd begin blyk dat gelykheid ’n omstrede en bestrede begrip is met verskillende sienings daaroor.

Eerstens beskou dr. Blade Nzimande, die minister van hoër onderwys, asook die ANC gelykheid as gelyk aan demografiese verteenwoordiging. Dit staan in die algemeen as “transformasie” bekend. Hiervolgens moet die land se universiteite se personeel, studentekorps en koshuise eindelik die nasionale rassedemografie weerspieël. Dus, as universiteite die rassesamestelling van die land aangeneem het, is gelykheid bereik.

Die probleem hiermee is weereens dat geleenthede en posisies by universiteite vooraf vir sekere rassegroepe “bespreek” word. Dit beteken dat indien enige groepe, hetsy swart of wit, in ’n graadkursus oorverteenwoordig is, hul getalle weer verminder kan word om die demografie van die land te weerspieël. Dit beteken ook dat indien ’n groep onderverteenwoordig is in ʼn bepaalde fakulteit, koshuis of graadkursus, hul getalle ten alle koste aangevul moet word, ongeag of die begeerte of beskikbare talent in die onderverteenwoordigde groep bestaan. En wat as daar nie geskikte kandidate uit die onderverteenwoordigde groep gevind kan word nie? Gaan die oorverteenwoordigde groepe en dus die hele kursusgroep verminder word om bloot die demografie van die land te weerspieël?

Indien die antwoord op die laaste vraag “ja” is (en teoreties moet dit wees), berokken hierdie definisie en toepassing van gelykheid die land groot skade. Belowende jongmense wat hierdeur geraak word en dit kan bekostig, studeer oorsee en keer meestal nie terug om boonop nog sulke diskriminasie in die werkplek weens regstellende aksie te trotseer nie. Uiteindelik is daar minder werkers in daardie bepaalde rigting in Suid-Afrika, minder belasting word betaal, die land kweek nóg minder vaardighede, en broodnodige dienste word nie aan die publiek gelewer nie. Dit bevorder nie net in werklikheid rassisme en ongelykheid nie, maar dien nie die land en breër publiek se belang nie. Die struggle-aktivis dr. Mamphela Ramphele vergelyk hierdie siening van gelykheid met iemand wat mank loop weens ’n besering, en homself in die gesonde voet skiet om sake gelyk te maak.

Die tweede beskouing oor gelykheid is die oop definisie waarvolgens almal – ongeag ras, agtergrond of enige ander onderskeidende kenmerk – toegang het tot hoër onderrig, opleiding en geleenthede. Mense moet almal gelyk behandel word en gelyke kanse kry, ongeag wie hulle is.

Artikel 1(b) van die Handves van Menseregte in die Grondwet verbind almal in die land tot nierassigheid, terwyl Artikel 9 die staat en mense verbied om regstreeks of onregstreeks teen iemand op grond van ras te diskrimineer. Die Grondwet is dus duidelik aan die kant van hierdie benadering. Die internasionale reg en politieke norme steun dit onomwonde.

Terwyl die eerste beskouing se toepassing op diskriminasie en verminderde geleenthede uitloop, is die tweede benadering een van groei, verbetering en gelyke geleenthede vir almal. Universiteitsinskrywings het tussen 1985 en 2010 met 249% toegeneem en voorgraadse studente wat vir hul eerste jaar van studie ingeskryf het, het tussen
2004 en 2010 met 16% gestyg. Met sulke enorme groei is dit ondenkbaar dat die bestaande universiteite, veral die gesogtes, voortaan almal sal kan akkommodeer. Selfs met ’n volledig getransformeerde hoëronderwyssektor sal ’n groot groep jongmense steeds nie kan studeer nie.

Dit is daarom noodsaaklik dat die wanfunksionele skole en kolleges vir verdere onderrig (FET’s) asook swakker universiteite eerstens opgeknap word. Daarna sal daar meer universiteite gebou moet word. Die regering het klaaglik in al hierdie opsigte misluk. Kinders wat op grond van hul ras op universiteit toegelaat word, nadat hulle swak onderrig op skool ontvang het en nie werklik hul plek op universiteit verdien nie, gaan waarskynlik lank sukkel om klaar te maak of nooit hul grade klaarmaak nie. Dit baat niemand.

Tweedens, kinders van alle rasse wat op skool presteer en finansieel sukkel, moet deur middel van beurse bygestaan word. Hierdie geld kan van die staat, private burgers of die sakesektor kom, en daar is heelwat borge wat kinders wil help wat bereid is om hard te werk.

Die einddoel van transformasie in hoër onderwys moet dus nie wees om elke jaar ’n rasse-koppetellery te doen nie, maar om Suid-Afrika en sy mense meer voorspoedig te maak. Deur minderhede uit te sluit en slegs op ras te fokus, word politici se wraaksugtigheid dalk bevredig, maar dit los niks op nie. Die antwoord lê altyd in verbetering en groei, nie in die voortsetting van rasbevoordeling nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae