Transformeer liewer die onderrigmodel

Universiteit Stellenbosch. Foto: Facebook

Universiteit Stellenbosch. Foto: Facebook

Deur Marié Heese

Die bestuur van die Universiteit Stellenbosch, asook bepaalde fakulteite, is pas in die bek geruk deur studente wat aandring op lesings in die taalmedium wat bepaal word in die beleid van die Raad en wat in die US se Jaarboek beloof word. Die saak is buite die hof geskik, want die aangeklaagde partye het goed geweet hulle het ultra vires opgetree toe hulle eensydig die aanbod in die US se klaskamers wou verander na hoofsaaklik Engels.

Hierdie manier van doen, om die universiteit wederregtelik van onder af op te bestuur, kom al van ver af. In 2009 het ek bedank as raadslid by die US omdat ek nie verder wou dien op ʼn raad wat nie kon of wou verseker dat sy eie beleid geïmplementeer word nie. Die direkte aanleiding tot my ongelukkigheid was dat die raad die regsfakulteit se taalplan goedgekeur het, wat dubbelmedium (die gewraakte T-opsie) in al die studiejare sou invoer, direk strydig met die raad se taalbeleid en taalplan wat toe gegeld het.

Nadat die raad besluit het om die plan vir bykomende dubbelmedium goed te keur, verklaar die (destydse) rektor verlig dat die bestuur nou hul integriteit herwin het, want hy moet erken hulle weet lankal dat klasse reeds tweetalig aangebied word. Ek het bedank met die waarskuwing dat integriteit, soos maagdelikheid, net eenmalig verloor kan word. (Dié stelling geld steeds.) Ek het ook gewaarsku die US sou nog vinniger gly op ʼn skaatsbaan na verdere verengelsing.

Van toe af tot nou, het die US soos volg gewerk: in die klaskamers het die gebruik van Engels toegeneem. Studente wat op Engels aangedring het (dikwels wit, nie bruin of swart nie), het hul sin gekry, ongeag wat in die jaarboek staan oor die kursus; studente wat Afrikaans sou verkies (dikwels bruin of swart en nie wit nie), het oor die algemeen maar stilgebly en gesukkel. In terme van die studentekorps het wit Engelse studente beduidend vermeerder, opsetlik gewerf by ryk private skole in Natal.

So het ʼn Engelse aanbod op grondvlak aanhou toeneem, terwyl opeenvolgende rektore roerend hul toewyding aan Afrikaans verkondig het. Nie te lank nie, of die fakulteite pas hul taalplanne by die de facto klassituasie aan, in stryd met die raad se taalbeleid. Nie in die jaarboek vervat  nie, sodat studente wat kom om in Afrikaans te studeer, gekonfronteer word met iets anders as die amptelike aanbod.

Maar dit het niemand geskeel nie. Almal weet die raad sal wel bykom, sodat die bestuur hul integriteit kan herwin. Niemand gaan kla nie. Die Afrikaanse studente is stilgeskrik en die Afrikaanse dosente sal bly wees om nie ʼn dubbele werklading te hê nie (waarskynlik in stryd met billike dienspraktyk), omdat hul Engelssprekende kollegas selde in staat is om ʼn worsbroodjie in Afrikaans te bestel, laat staan nog ʼnsaak wat intellektueel veeleisend is, te verduidelik.

Die raad het oor die jare toegelaat dat sy eie beleid, taalplan en ʼn verbod op gefederaliseerde fakulteitstaalplanne verontagsaam word. Algemeen-geldende beginsels van prosedure en administratiefreg is tersyde gestel. So het dit voortgegaan. Tot nou toe.

Die feit is, ʼn hele aantal regsgeldige beginsels, waarskynlik beginnende by die grondwet, is mettertyd bepland misken deur die US. En dis verblydend dat, toe studente ʼn slag op regsbeginsels gesteun het, die US vinnig besef het hulle staan nie op vaste grond nie.

Maar daar is ʼn groot probleem: geen inrigting of instansie kan vorder as hul praktyk telkens deur die howe gerig moet word nie. Daarom moet ons nuut, helder en prakties besin oor hoe om die belofte van ʼn vaste plek vir Afrikaans op Maties te verwesenlik op ʼn wyse wat die vyandige gesindhede en destruktiewe optredes wat die kwessie tans kenmerk, sal laat bedaar. Waaroor daar eerlik gekommunikeer word.

In Die Burger van 20 November 2015, onder die opskrif “Transformeer eerder praktyk”, doen dr. Jacques Kriel ʼn voorstel aan die hand wat werklik aandag en nadenke verdien. Kriel stel ʼn hibridiese vorm van afstand-  en lokaalgebaseerde onderrig voor, internasionaal bekend as die flipped classroom, of omgekeerde klaskamer.

Dit is ʼn pedagogiese model met verskeie variasies, maar kortliks kombineer dit voorafvervaardigde studiemateriaal (soos video’s) met groepbyeenkomste waar kontakonderrig plaasvind. Die materiaal kan vertaal word in twee of meer tale. Dit word gelewer twee weke voor ʼn klas en klastyd word benut om vrae te beantwoord (in die taal van die vraesteller) en die lesing te bespreek.

Baie meer tyd word toegelaat vir selfstudie as vir besprekingstyd. Dit plaas die verantwoordelikheid vir studeer terug waar dit hoort: by die student self. ʼn Opvoeding is nie ʼn kommoditeit wat die dosent teen betaling moet lewer nie. Niemand kan dit opeis nie. ʼn Mens moet sélf studeer. Kom ons skep die moontlikheid om aan Afrikaanssprekendes én aan verskeie ander moedertaalsprekers studiegeleenthede van ʼn uitmuntende gehalte te lewer. Op ʼn wetsgehoorsame en volhoubare wyse.

  • Marié Heese is ‘n opvoedkundige en skrywer. Sy is ‘n voormalige raadslid van die US.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sarie ·

Hierdie voorstel maak sin. Dit sal ook al die studente wat net by universiteite inskryf om te studeer ‘n kans gee om dit te doen en nie die ontwrigtings wat hulle hierdie reg ontneem moet verduur nie. Ons leef in die 21ste eeu en die ou talk en chalk manier van onderrig is lankal uitgedien. Ek hou egter nie my asem op dat Blade en sy manne dit sal aanvaar nie, want dit kan dalk net hulle transformasiemodel (lees verdomming van ons bevolking) beduiwel en die wittes bevoordeel .

Oosie ·

Ek hou baie van hierdie model. Dit sal onmiddellik van al die luies (rugryers) in die sisteem ontslae raak en weer gehalte voortbring. Om te studeer is ‘n ernstige saak en ‘n voorreg en behoort nie met die politiek van ‘n land vermeng te wees nie.

anna ·

Ek stem sooooo saam, want mens kan nie met die Ego-belaaide de villiers regkom nie. Hy is so behep met homself dat hy nie weet wat om hom aangaan nie. Hoogmoed kom tot n val. Wag maar.
Ek is bly die studente dring daarop aan. Hulle wil studeer hulle wil nie deur die eff gbeheer word en met ander gemors te make het nie. Dit is nie waarvoor hulle daar is nie. Dit is duur om te studeer en die kinders weet hulle moet ‘n sukses daarvan maak. Dit is net die ontwrigters wat dit duidelik nie besef nie saam met ego-wim en die ander ego- Proff’s by die ander universiteite. Dit is so sigbaar wat hulle plan is.
Mooi studente!!! pragtig!!! Ons is trots op julle!!!

As ·

Uitstekende idee! Dit word al oorsee met groot vrug geimplementeer, en is die rigting waarin naskoolse onderrig beweeg…behalwe natuurlik in SA… meeste van onse studente wil met die lepel gevoer word, en is heeltemal te lui om self te studeer. Maar dit sal net moet geimplementeer word of ten minste prober word want dit is die laaste hoop.

Rooijan ·

Die US het ń groot verlies gely toe jy besluit het om te bedank uit hul raad uit Marié dis jammer want hulle het mense nodig met integriteit. Maar nou ja dis tekenend van ons tyd dat mense wat ingee , opgee en weggee (verkieslik blanke afrikaners) deur die meningsvormers van ons tyd soos Max gesien word as leiers. En enigiemand wat staan op hul regte word gesien as regs (die nuwe vloekwoord) in die NP se tyd was hulle “verkramptes”.

anna ·

Ek hoop die egoiistiese wim lees hierdie artikel. Twyfel of sy ogies sal oopgaan. Al wanneer sy ogies oopgaan is wanneer hy vir kamera moet smile. In Duitsland word net die Duitsers gestraf wanneer hulle monde oopmaak oor die imigrante wat vroue in die land verkrag (Dit mag nie in die Duitse koerante gepubliseer word nie) Hierdie Duitsers word ver-regs of Neo nazi genoem.
Dieselfde storie hier._ HIerdie afbrekers en hooligans gaan eendag nog baie hongerly en dan aan ons voordeure begin klop vir kos – wat hulle alreeds doen.
Laat ons kinders ‘n sukses maak – in Afrikaans – hulle is nie die lui-aards nie en erens kom. Die moeilikheidmakers sal net bly stagneer saam met wim en sy trawante.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.