Trap (by) Sasol: Dis hoekom ek Donderdag Sandton se strate gaan toemaak

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, betoog saam met lede van die vakbond en lede van die gemeenskap teen Sasol se Khanyisa-aandeleskema in Secunda in Mpumalanga op 6 September 2018. Foto: Reint Dykema

Donderdag 25 Oktober gaan ek my voetspoor voor Sasol se hoofkantoor in Sandton trap. Daar’s ’n rede waarom dit op ’n Donderdag is. Ek gaan hard trap; trouens, ek gaan my voete stamp, want ek is kwaad. Ek is kwaad dat ek in ’n straat moet stap oor gewone mense wat hard werk, wat op grond van hul ras van ’n skema uitgesluit is. Ek is kwaad omdat dít wat in Sasol gebeur, oral gebeur. Ek is kwaad oor uitsluiting by universiteite, beursprogramme en opleidingsinstellings.

Ek is kwaad omdat dit wat abnormaal is, normaal geraak het.

Ek gaan saam met honderde Sasol-werkers, Solidariteit-lede, AfriForum-lede en gewone mense wat hard en eerlik werk om ’n bestaan te maak, stap. Ons gaan in die hartjie van die internasionale en nasionale kapitaal, Sandton, vastrap.

In die hartjie van hulle wat oor hul voete val om polities korrek te wees, gaan ons strate toemaak en sê: “Wag net ’n bietjie. Nou praat ons eers.” Swart en wit elite wat hulself verryk deur gedienstigheid aan die staat, gaan in hul luukse motors hul toeters blaas. Hul frustrasie gaan vir my musiek wees, want ons gaan eers praat.

Ons gaan voor die Johannesburgse Effektebeurs stop en ’n memorandum oorhandig. Die verkeer sal moet wag; dis nou óns beurt. Ons gaan sê: genoeg is genoeg. Ons is moeg daarvan om op grond van ras en in die algemeen uitgesluit te word. Ons is moeg daarvan om soos tweedeklasburgers behandel te word, ons is ontsteld om bekommerd te wees oor ons kinders, ons is siek en sat daarvan om te hoor ons is misdadigers, want ons het alles “gesteel” en ons is “vreemdelinge”.

Die luukse motors kan maar toet, ons is nog nie klaar nie. Ek gaan na die Sasol-werkers draai en vir hulle dankie sê. Dankie dat julle die moed gehad het om die stilte te verbreek. Dankie dat julle opgestaan het vir wat reg is. Dankie dat julle so baie van ons gevoelens verwoord het. Ek gaan vir hulle sê dat ek aan hulle kant is. Die Sasol-dispuut het iets anders geword – dit het ’n simbool geword van baie van ons se gevoel van vervreemding en uitsluiting.

Daarna gaan ons hofstukke op Sasol beteken om hul rassebeleid in die hof te toets.

Dan gaan ek na die nasionale en internasionale media draai. Ek gaan vir hulle sê: Hoor ons stem. Ons mag mos kamstig eintlik nie praat nie, want ons het ’n bose verlede. Ons word geboelie met mooi woorde soos gelykheid, versoening, verteenwoordiging, diversiteit en transformasie. Ek wil vir die internasionale media sê hulle het almal ’n rol gespeel om ’n nuwe bedeling tot stand te bring en hulle moet nou seker maak dat ’n volhoubare demokrasie in stand gehou word. Ek gaan sê ’n ware demokrasie word getoets aan sy vermoë om minderhede te beskerm. Suid-Afrika se demokrasie het misluk en die internasionale media het ’n aandeel daarin omdat hulle swyg en onkrities oor die regering se houding teenoor minderhede is.

Ek gaan nóg stap; in Sandton gaan ek vastrap.

Maar ek wil nie alleen stap nie; ek wil saam met jou stap. Ek wil inhaak by mense wat ook sê genoeg is genoeg, wat ook moeg is vir uitsluiting en wat ook vir die Sasol-werkers wil dankie sê.

Ek wil jou vra om nog iemand (of tien!) saam te bring wat ook so voel.

Kom ons maak ’n afspraak met mekaar: Donderdag 25 Oktober om 8:00 by die Voortrekkermonument. Van daar ry ons in ’n konvooi busse en karre. Dié wat kwaad is op die N1 omdat die verkeer stadig gaan wees, kan gerus ontspan, want vir een dag is dit óns beurt.

As iemand dan toet en skreeuend vra wat ons doen, dan skreeu ons terug: “Ons gaan vastrap in Sandton.”

Die optog ter ondersteuning van Sasol-werkers en teen rasse-uitsluiting vind Donderdag 25 Oktober plaas. Mense kom om 8:00 by die Voortrekkermonument bymekaar. ’n Konvooi busse en motors sal van daar vertrek. Mense wat uit ander rigtings kom, kan hul motors veilig by Rosebank Union Church parkeer. Busse sal hulle vanaf 10:00 na Mushroom Park neem van waar die optog ongeveer om 11:00 sal begin. Mense kan ook met die Gautrein ry en vanaf die Sandton-stasie na Mushroom Park stap. Die optog is wettig – toestemming is verkry en dit sal ordelik verloop. Mense word aangemoedig om vriende saam te bring. Almal wat sterk voel oor hierdie saak, word uitgenooi.

Ter wille van kommunikasie, die reël van busse, verversings en T-hemde word mense versoek om te registreer op Solidariteit se webwerf of stuur die woord STAPSAAM na 34802.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Callie ·

Pragtig gestel. Dit is presies wat in die land gebeur. Almal moet nou begin saamstaan. Almal van ons raak kwaad. Wat verrstaan die regering en die saolls nie. Vervreem mense en vertrap hulle, hulle sal die volgende “vryheidsvegters” word. Is dit waartoe julle die land wil vat

John ·

Ek hoop mnr Hermans het genoeg geld in sy unie vir die gevolge van sy dapper bravado en … teen die wind, want hy wil nie verstaan dat Sasol op die’ wyse die regering probeer paai en die bestuur so sy eie koninkryk probeer red nie. Rooiligte brand. Hoekom nie weer die VVO nader nie? Hoeveel het hulle daar reggekry? Te veel van net een man voor op die wa… en in die wapad brand nie ‘n lig nie… net daai stinkende kamma-vlammmetjie van Sasol wat nou skep en skep terwyl die petrolprys die hoogte inskiet. Sasol is reeds deur die regering ge-inkop as ultra-werkgewer. Ons het nie meer vir Sasol nodig nie, dis bloot ‘n lekker vet skapie vir maer tye. En ons mense het darem nog werk… destyds is wit werkers armblankes gemaak en gehou en dis steeds so. Hoekom nie destyds al teen die hogere Nasionale Party-menere gerebelleer nie?

Johanna Botha ·

SA is n gemors en die media het deel aan dit ….dink mooi dis waar. SA is die enigste plek waar die meerderheid beskerm word teen die minderheid en uitgesluit , verstoot en vertrap word ! Hoe meer buigsaam mens probeer wees hoe meer uitgesluit voel mens !

bgj van der westhuizen ·

voorspoed uit die kaap vir my onder steening sal ek daar die dag niks koop by in winkel nie en dalk moet alle wit mense niks koop op daar die dag nie

JV ·

Dit is so nodig dat ons gesien word. Ons gaan hard probeer om daar te wees en saam te stap. Hoop ons mense daag in hulle duisende op!!

Jerry ·

Mense kan partykeer darem vir jou nonsense aanjaag wanneer hulle kwaad raak. Wonder wat skuil agter die kwaadraak bravade. Dit is tekenend van n konsortium van projekleiers wat tegerlykertyd n besigheidsagenda en politieke agenda nastreef. Botsende belange is hier duidellik waarneembaar. Hoe meer ondersteuning, hoe meer lede, hoe meer geld, hoe meer mag. Dit is duidellik dat die konsortium van besigheidslui na geldmag strewe en dat hulle die situasie van die Afrikaner vir spesifiek geldmag doeleindes verpolitiseer. Solidariteit het daarom die Afrikaner nodig. Die Afrikaner het Solidariteit nie nodig nie, die Afrikaner het wel dringend n leier wie se morele kompas in plek is, nodig.

Jan Alleman ·

Hierdie forum lewer gereeld ‘n klassieke voorbeeld van ‘n ou politieke slenter wat al hoe meer in ons land gebruik word deur hans kakies met suur druiwe om eie agendas en opinies te bemark deur die wat anders dink of doen te beskuldig van dit wat hulle self aan skuldig is..
In teenstelling daarmee wens ek die marsjeerders alle voorspoed toe en vertrou dat julle optrede goeie vrug tot gevolg sal hê.

RG ·

Stem saam dit is simbolies. Probleem is dat alle besigheid in SA onderwerp word aan ANC voorskrifte en geen keuse het as om daarby te hou nie of anders hul deure te sluit nie. Watter vrye mark?

charmaine ·

Goed so Dirk Herman. Sterkte ek hoop en bid tot ons Vader dit sal goed gaan en ons nie net daar sal VASTRAP nie maar dat dit die eerste van baie VASTRAPPE sal wees.

Al ·

My gebede saam met julle. Ek bid vir volslae sukses en dat inwoners in hul horde opruk. Hierdie gaan nie net oor Sasol werkers nie, hierdie gaan vir ons kinders en kleinkinders.
As die Afrikaan- Amerikaan hul stemme oor duisende kilometers en vastelande laat hoor oor sal ons ook daarin slaag.

Lorette ·

Mnr Herman, ek kan nie in liggaam daar wees nie, maar wel in gees. My man het by Sasol gewerk. Sterkte en dit is tyd dat ons opstaan. Hier by ons kry mense baie reg met stakings ens. Hoop dieselfde gebeur daar.

Joe ·

Vreedsame stakings doen niks…begin soos die res van SA staak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.