Trau-Matiese gevolge van transformanie

Deur Bernard Pieters

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Met die Universiteit Stellenbosch se besluit om die gebruik van ’n minderheid se moedertaal te beperk, wonder ’n mens watter vryheid volgende verbied of beperk gaan word. Ek meen, hoe anders raak jy meer inklusief as deur meer dinge te verbied, dis mos logies, nè?

Die verbod geld ook in effek tussen studente wat dieselfde moedertaal deel. Met al die ideologiese opleiding (propaganda is dalk ’n akkurater term) wat deur die universiteit aangebied word, word daar ernstige beperkings geplaas op dit wat jy mag dink en nou ook op die taal waarin jy mag kommunikeer, selfs tot buite akademiese ruimtes.

Dis ’n baie interessante tyd waar die vraag ontstaan: “Wat gaan met my (of my kind) gebeur as hulle die ‘verkeerde’ gedagte het en in die verkeerde taal vra vir die sout by ’n koshuis-etenstafel?”

Hierdie onlangse gebeure kan opgesom word in een woord: fascisme, die outokratiese beheer van ’n omgewing en inligting sowel as die beperking van idees wat nie met dié van die instelling of groep strook nie. Die feit dat die koshuisdame sê hulle leef in vrees, bring weereens 1930’s-vibes na vore.

Die US wat, by die skryf van hierdie artikel nog nie die voorval ontken het of beloof het om dit te ondersoek nie, wys weereens sy dubbele standaarde. Was die situasie omgekeerd, was Wim al op sy knieë in die strate om jammer te sê namens die US, soos destyds met #FeesMustFall.

Vanuit ’n regsoogpunt haal ek dele 6.3, 6.5 en 7.2.5 van die nuutste taalbeleid van die US aan:

6.3 Die US respekteer die tale wat studente en personeellede gebruik, en erken hulle taalvoorkeure en taalvaardigheidsvlakke.

6.5 Die US gebruik sy gekose tale op so ’n wyse dat dit alle studente, personeellede en ander belanghebbendes insluit.

7.2.5 In koshuise en ander leefomgewings word taal op so ’n wyse gebruik dat, waar dit redelikerwys uitvoerbaar is, geen belanghebbende uitgesluit word van deelname aan enige formele aktiwiteite in hierdie omgewings nie.

As die US nie by sy eie reëls hou nie, hoekom moet studente? Is sekeres meer gelyk as ander? En waar is die integriteit, of is hierdie konsep uitgetransformeer by hierdie progressiewe akademiese instelling?

Sedert 2015 veg AfriForum Jeug vir een hoofdoel, dat die US by sy eie reëls moet hou en dit gelyk onder studente moet toepas. Tog is dit ná ses jaar steeds nie die geval nie. Kyk gerus hier na ‘n kort onderhoud in 2015 in verband met dieselfde uitdaging op Maties.

  • Bernard Pieters is die bestuurder van AfriForum Jeug.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Groen Ghoen ·

SKANDE! Volgens die regering se webwerf is 46% van die Wes-Kaap se inwoners Afrikaanssprekend/ is dit hul eerste taal. Waarom moet Afrikaans nou uitgerangeer word? Het die Afrikaanstaliges dan geen regte nie? Wat van Jannie Marais se skenking wat die US moontlik gemaak het en sy versoek dat Afrikaans die voertaal moet wees? Maar ons ken die resep wat by die UOVS, UPE, UP en ook Pukke gevolg is. Terloops: Nadat die DA se steun wesenlik gedaal het, is hul deesdae baie vinnig met die opsitkers oppad orals waar daar munt uit die Afrikaanse stem te slaan is.

Fae Fubar ·

Bernard Pieters, mooi neologisme met “transformanie”.

Andries ·

Die Stellenbosch universiteit dien nie meer die gemeenskap van Afrikaansprekendes in die Wes -Kaap nie. Oud Maties moet maar hulle bydraes elders kanaliseer waar Afrikaans gerespekteer word.

Jack ·

US is gekaap/het toegelaat dat hulle gekaap word, deur die liberaliste/sosialiste.

Dup ·

Ek wil voorspel dat die druk op die Afrikaner en sy taal/kultuur/leefwyse al hoe feller gaan raak.Ons is nie meer welkom in SA nie alhoewel ons belastinggeld nog goed genoeg is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.