Tree vandag verby die vrees

Argieffoto: Pixabay

Dit is 04:30, Vrydag 27 Maart 2020. Vanoggend word ek wakker, nie weens die geluid van ’n vragmotor vol steenkool of ystererts op pad vanaf die myne by Kuruman na ’n hawe in die Oos-Kaap nie. Dalk is die vroeg wakkerword net roetine of dalk is dit die onsekerheid vir die onbekende. Vanoggend is daar absolute stilte. Die staat van inperking, een-en-twintig dae van onsekerheid, het aangebreek.

Die lug buite is koud. Die Suid-Afrikaanse weerdiens het ’n minimum temperatuur van 7 grade Celsius voorspel – die koudste oggend tot dusvêr vanjaar. Herfs is in die lug. Soos die dag breek, is daar geen wit strepe van vliegtuie tussen Johannesburg en Kaapstad in die lug nie. Niemand wat vroeg werk toe gaan nie. Net die klank van voëlgesang, honde en êrens ver ’n hoenderhaan.

Die atmosfeer is amper soos op ’n Sondagoggend, maar tog ook anders. Eerder gedemp as bloot net rustig. Die afgelope paar dae het Suid-Afrikaners uit vrees vir die onsekerheid vir vandag begin voorberei. Noodaankope is gedoen, duisende mense het uit stede na geboortehuise op die platteland gevlug en planne is beraam om van die huis af te werk. Sedert die aankondiging dat ’n staat van inperking vanaf 27 Maart sou heers, het verskeie emosies by Suid-Afrikaners posgevat, waarvan vrees waarskynlik die mees algemene is.

Vrees vir die onbekende is niks nuuts nie. Deur die wêreld se geskiedenis het ’n vrees vir dit wat ons nie kan beheer nie, ’n vrees vir verandering (tydelik of permanent) en wat ons nie ken nie, mense tot angstigheid gedryf. Dr. Catherine Lewis, van die Ackermann Instituut vir die Gesin in New York, beskryf vrees vir die onbekende as een van die grootste gevolge van die inperkingsmaatreëls wat oor die afgelope weke ingestel is in stede en lande wêreldwyd.

Vrees vir die onbekende moenie onderskat word nie. H.P. Lovecraft, ’n Amerikaanse skrywer van die vroeë 1900’s het gesê: “Die oudste en sterkste menslike emosie is vrees en die oudste en sterkste soort vrees is die vrees vir die onbekende.” ’n Staat van inperking, die idee dat ek vir dae aaneen van byna alle vrye reg tot beweging buite my eie woning ontneem word, is ’n totaal onbekende terrein vir almal van ons.

Die vrees vir die onbekende word verder aangevuur deur ons onvermoë om grootskaalse ontwrigting en onsekerheid te verreken. Daar is die afgelope jare ’n kultuur waar onsekerheid grootliks bestuur, verhoed of beheer kan word, in die wêreld geskep. Oor die afgelope paar dekades is ons ingeboude meganismes om met onsekerheid te handel, ondermyn deur die ontwikkeling van, onder meer, moderne mediese dienste, globale kommunikasie en vervoer en ander middele wat potensiële onbekende ontwrigting in ons lewens kan verhoed of help bestuur.

Dus, toe ek vanoggend vroeg besluit om vir die dag ’n tuinkantoor in te rig ten einde die sagter herfslig en koeler herfslug te geniet, toe wonder ek oor my oupa.

Wat my aan hom laat dink het, was die stinkhoutstoel wat ek na buite gedra het en waarop hy sekerlik baie ure tydens onseker tye soos die wêreldoorloë en die depressiejare deurgebring het.

Oupa, Theodorus Ernst (Doors) Kleynhans is in 1892 op ons familieplaas, Klipdrift in die distrik van Heidelberg in die Wes-Kaap gebore. Tot met sy dood in 1964 sou hy die Tweede Vryheidsoorlog, twee wêreldoorloë, die griep van 1918, die depressie van die 1930’s en heelwat ander politieke en ekonomiese krisisse deurleef. Sy eerste vrou is jonk dood – iets wat toe nog redelik algemeen was. Dit was ook normaal vir jong kinders om te sterf. Dit was egter ook ’n tyd voordat geld almal se daaglikse lewens beheer het. ’n Tyd toe ’n droogte sleg was, maar omdat gesinne grootliks hul eie kos op plase geproduseer het en min geld ooit nodig gekry het, was die gevolge van krisisse dalk nie altyd so direk en dringend nie.

Ons vrees vir die koronavirus is tweeledig. Daar is ’n logiese vrees om self siek te word of dat iemand naby aan jou siek kan word. Daar is egter ook ’n ernstige ekonomiese vrees.

Weens globalisme en die toenemende materiële aard van ons daaglikse lewens met hoë lewenskoste wat net deur voortdurende inkomstevloei in stand gehou kan word, vrees mense vir die potensiële verlies aan inkomste. Die gevolge van ’n verlies aan inkomste is vir baie mense, heeltemal verstaanbaar, selfs erger as om siek te raak.

Een van die probleme van vrees is egter dat dit juis jou vermoë om dié dinge wat vrees veroorsaak, teen te werk. Die huidige krisis en die gesondheids- en ekonomiese gevolge is katastrofies. Dit moet ons almal aanvaar. Die verhale van mense wat oorsee sit en nie kan terugkeer na hul huise nie, maatskappye wat nie hul werknemers kan betaal nie en natuurlik die aantal mense wat siek is en doodgaan – getalle wat elke sekonde bly styg – is vreesaanjaend.

Om dit te kan hanteer, moet ons eerstens begin besef hoe bevoorreg ons steeds is. Die meeste mense wat vandag leef, het nie twee of drie groot oorloë, ekonomiese depressies en verwoestende siektes wat miljoene mense doodgemaak het, deurleef nie. Ons het die voorreg van sekerheid op soveel lewensterreine vir redelik lank ervaar. Ek probeer allermins nie sê dat alles maar net altyd vir almal van ons maanskyn en rose was nie, maar vra enigiemand in Wes-Europa wat tydens die Tweede Wêreldoorlog geleef het, hoe ontwrigtend dit vir mense kon wees.

Terwyl die koronavirus deur die hele wêreld versprei, moet ons onthou dat die wêreld vandag beter as ooit in die verlede gerat is om so ’n krisis te hanteer. Ja, slegter dae mag op die kort termyn op pad wees, maar ’n oplossing sal redelik gou gevind word en daarna sal herstel weer moontlik wees.

Die beste wat ’n mens tydens ’n krisis kan doen, is om uit dankbaarheid vir wat jy wel het – binne jou vermoëns en die grense van die reëls – jouself op beter dae voor te berei. Dit behels besinning deur te lees, te skryf, te dink en deur die mense en dinge om jou in jou huis soos musiek en boeke geïnspireer te word.

Ons eerste uitdaging is om gesond te bly en vir dié wat siek raak, om behandel te word en te genees. Die tweede uitdaging is egter om ná die krisis ekonomiese herstel moontlik te maak. Die mense wat dit die beste gaan regkry, is nie dié wat slegs op die vrees tydens die krisis gaan fokus nie, maar juis dié wat die vrees verreken en die hier en nou gebruik om planne te beraam om ná die krisis ekonomiese herstel en selfs groei te beleef.

Vat ’n stoel van jou oupa (of iets van ’n dierbare wat krisisse oorleef het) en gaan sit buite. Geniet die herfs se koeler lug. Lees, dink en besin. Maak notas en beplan. Skakel vriende en familie en toets idees. Luister musiek, lees ’n boek en word kreatief geïnspireer. Sorteer werk op jou rekenaar, antwoord e-posboodskappe en werk aan ’n toekomsplan. Dan sal jy skielik agterkom dat positiewe energie ook in krisisse gevind kan word en dat dit moontlik is om verby jou vrees te tree.

Ek gaan probeer, jy moet ook.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frieda ·

Jy is reg bly besig en doen dinge wat agterweë gebly het en pak nuwes aan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.