Trump-aankondiging oor Jerusalem behoort nie te verras

Palestynse betogers verbrand plakkate van die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, en Amerikaanse president, Donald Trump, gedurende ’n betoging in Gasastad. Dit volg in reaksie op Trump se besluit om Jerusalem as Israel se hoofstad te erken. Foto: Khalil Hamra, AP.

President Donald Trump van Amerika se aankondiging dat die VSA voortaan Jerusalem as die hoofstad van Israel sal erken, het sterk reaksie van reg oor die wêreld uitgelok. Veertien van die vyftien lede van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad het die aankondiging verwerp, terwyl leiers in die Midde-Ooste waarskuwings en selfs beledigings teenoor die Trump-administrasie gemaak het.

Die eienaardigheid is dat die Trump-aankondiging eintlik glad nie omstrede behoort te wees nie. Reeds sedert die einde van Israel se onafhanklikheidsoorlog in 1948 beskou die land Jerusalem as sy hoofstad met die land se parlement, hooggeregshof en regeringsdepartemente wat alles in Jerusalem geleë is.

Gedurende die eerste helfte van die twintigste eeu het Europese diplomate die idee probeer bevorder om Jerusalem ’n soort internasionale stad, soos die Vatikaanstad, te maak. Daar het egter nooit iets van gekom nie.

Terwyl beide Israel en die Palestyne ’n geldige eis op Jerusalem as hoofstad het, is dit ’n feit dat Jerusalem reeds vir dekades die hoofstad van Israel is, hoewel die meeste lande uit vrees vir die reaksie van die Palestyne en ander Moslemlande, dit nog nooit erken het nie.

Reeds in 1995 het die Amerikaanse kongres wetgewing aanvaar om die Amerikaanse ambassade van Tel Aviv na Jerusalem te verskuif. Sedertdien het Clinton, Bush, Obama en Trump in verkiesingsveldtogte belowe om Jerusalem as hoofstad van Israel te erken. Verlede Woensdag was dit egter Trump, wat met ’n versigtig bewoorde verklaring, sy belofte nagekom het.

Die proses om ’n meer permanente vredesoplossing tussen Israel en die Palestyne te kry en die moontlikheid van die totstandkoming van ’n Palestynse staat, word nie werklik, anders as wat oor die afgelope paar dae beweer is, deur Trump se aankondiging in die wiele gery nie.

Die meeste voorstelle wat oor die afgelope paar dekades tydens onderhandelinge tussen Israel en die Palestyne op die tafel geplaas is, verdeel Jerusalem wat dit dus moontlik maak vir beide Israel en ’n Palestynse staat om van Jerusalem hul hoofstad te maak.

Die laaste wesenlike hoop op ’n langtermynskikking was in 2000 by die onderhandelinge wat deur die Amerikaanse President Bill Clinton gelei is. Sedertdien het daar min gekom van pogings deur Bush en Obama om vordering tot ’n permanente tweestaat-strategie te maak.

Donald Trump het reeds vroeg tydens sy verkiesingsveldtog in 2016 bekend gemaak dat hy, sou hy tot president van Amerika verkies word, Jerusalem as die hoofstad van Israel sal erken. Die oorgrote meerderheid van Amerikaners ondersteun ook die beginsel.

Kritiek wat deur Demokrate op die aankondiging uitgespreek is, moet as verregaande afgemaak word, omdat dit juis die Demokrate is wat reeds vir lank die idee van Jerusalem as hoofstad van Israel probeer bevorder. Senator Dianne Feinstein het Woensdagaand ’n sterk bewoorde verklaring uitgereik waarin Trump se aankondiging veroordeel word. Sy was egter een van die skrywers van die wet wat in 1995 in die Amerikaanse kongres goedgekeur is, waarvolgens die Amerikaanse ambassade in Israel na Jerusalem verskuif moet word.

Behalwe Trump se belofte oor Jerusalem het hy homself ook tydens sy verkiesingsveldtog tot die onderhandeling van ’n permanente skikking tussen Israel en die Palestyne verbind. Trump moet nou van die geleentheid gebruik maak om groter druk op veral Israel, maar ook die Palestyne, te plaas om na die onderhandelingstafel terug te keer.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Gerrie ·

As ek die reg verstaan is die basiese betoog:

Vat iemand se goed

Hou en egbeuil dit vir dekades

Kry iemand belangrik om saam te stem

En skielik is dit reg ?

Klink na diefstal

jan_alleman ·

jip jy is reg , plak op die jode se grond vir honderde jare , maak vals “claim” op die grond en nou is dit skielik die palestyne sin ?! klink baie na wat in ons land gebeur met plakkers op die boere se grond

Nico K ·

Ek verstaan nie mooi Gerrie se punt oor wie nou eintlik wie se goed gevat het nie. In Israel is dit bietjie moeiliker om te bepaal wie is reg en wie is verkeerd.

Kom Ons Boks ·

Weet nie, maar jy kan nie vir ‘n feit nie altwee kante aanhang nie. Ek verkies wel om te staan saam met die kant wat demokrasie en westerse waardes beoefen, wat sy gewig dra waneer dit kom by wetenskaplike en maatskaplike vooruitgang, wat nie glo in selfmoord bom aanvalle en onthofings om ander te forseer om te glo wat hul glo nie, wat bydra tot die wereld ekonomie, wat staan vir konserwatiewe waardes tog die reg van Christene en ander gelowe (insluitend Islam) om in hul land vrylik te verkeer en te aanbid. Trump is hier lojaal en het die regte besluit geneem. Goeie artikel weereens Jaco!

John ·

Aai tog… Jerusalem is Israel s’n… die oorsaak en rede vir die’ konflik le eintlik tussen die Vader en Israel… Lees hoeveel keer was die Jode oor duisende jare in groot moeilikheid maar word telkens uitgered… maar dit was gou vergete… ongehoorsaam…. weer…. en weer… selfs Christus misken… en nou nadat Israel na eeue der eeue gedeeltelik weer in Israel se hande is, bly Jerusalem die goue twisappel… Christus het geween toe hy op ‘n donkie die lieflike ou stad van Dawid binnegery het… Alles het waar geword… en die res sal ook… vyande wees gewaarsku…

Eish ·

Jaco,
Histories is Jerusalem in Juda se grondgebied en dit is dan ook die stad wat die tempel gehuisves het. Opgeteken in die Bybel. Kan jy ons asb inligting waar en hoekom die konflik ontstaan het.

Therese van Schalkwyk ·

Waardering vir die ewewigtigheid van hierdie artikel.
Meningsvormers lek behoorlik die lippe af en voorspel voortdurend die einde van die Trump-presidentskap, maak nie saak wat die onderwerp is nie. Dit maak Jaco Kleynhans se skrywes ‘n welkome verandering.

Wat die Palestynse betogers se voorspelbare, barbaarse optrede en die geveinsdheid van die Demokrate betref, is dit moeilik om te besluit wié die grootste minagting verdien.

Therese ·

Die Jagter (dapper en naamloos)

Om die waarheid te sê, kan nie minder omgee oor gebeure in die Midde-Ooste nie.
Het kommentaar m.b.t. Trump gelewer. Steun in elk geval die mees beskaafde van die twee groepe om vanselfsprekende redes. Brand, breek, dreig en skel hoort in die Donker-Middeleeue.

Innige meegevoel met die wroeging oor Jerusalem.

Veritas ·

My kennis van die Midde-oosterse politieke bestel is erg gebrekkig. Vir my klink dit egter na twee politieke partye wat hier veg oor die reg om die grondgebied te regeer. Die twee partye is dan ook, verteenwoordigers van twee faksies van die oorspronklike stam van Israel. M.a.w. albei groepe kan tot ‘n mate aanspraak maak op die grondgebied. Word dié twee partye onderskei deur geloofsoortuigings of afstamming van die oorspronklike stamme van Israel?

Drikus ·

Ek hou van Kom ons boks se bydrae. Daar is egter baie diep gegronde redes vir beide parye om Jerusalem te hê as hoofstad. Dis ‘n konflik wat nou al baie meer as ‘n duisend jaar kom. Dus is hierdie nie ‘n maklike oplossing nie. Godsdienstig gesien sal Christene en Jode sê Jerusalem is Dawid se stad, dus is dit Israel s’n. Palestyne sal sê dat hulle meer as ‘n duisend jaar terug Jerusalem verower het, dus is dit hulle s’n. As jy nog verder teruggaan het Dawid dit juis ook van ander stamme af verower. Wie s’n is dit nou eintlik?

W Vorster ·

Nee aub Mense, Trump gebruik Jerusalem slegs as ‘n politieke speel bal. Hy is besig om veld te verloor in die VSA. derhalwe kort hy ‘vriende’ in die Senaat en wie anders as die ‘Jode’. Met die skuif van hom het hy die hele klomp nou agter hom.

Ek stem verder saam met Drikus hierbo,

As jy na beide die lande se weergawes, gesag waarop hulle hul argumente grond, kyk en jy bly objektief, dan vra jy beslis : ‘Wie s’n is dit nou eintlik?’.

O, ja gaan besoek Israel, en sien hoe apartheid werklik toegepas word. Praat maar ook sommer met van die ‘gesalftes’ en die ‘heidene’.

Nico K ·

Ek dink Veritas se mening is verkeerd dat die twee groepe verskillende vertakkinge van Israel is. Maar ek wil eintlik praat oor die mense wat meen dat Jerusalem aan die Jode behoort omdat die Bybel dit bepaal. En dit maak veral nie sin dat Christene dit so beskou nie. Christene glo dat die Jode hulle reg as God se volk verloor het toe hulle nie Christus as die seun van God erken het nie. En dit is duidelik dat Jerusalem as heilige stad nou in die hemel is en die een op aarde geen aanspraak op die die titel het nie. En nou is dit so dat die land vir 2000 jaar deur die Palestyne bewoon is en dat die Jode eers onlangs daarheen teruggekeer het. Aan die ander kant het die Jode geen ander land nie en verdien hulle seker ook hulle eie land. Dit bly ‘n moelike saak en beide partye sal moet opoffer om vrede te bewerkstellig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.