Trump besig om handelsoorlog te wen

Pres. Donald Trump van die VSA. (Argieffoto: Susan Walsh, AP)

Die handelsoorlog tussen die Verenigde State van Amerika en sommige van sy grootste en belangrikste handelsvennote, is besig om in die guns van die Amerikaners beslis te word. Tydens die Amerikaanse verkiesingsveldtog van 2016 het Donald Trump, toe die Republikeinse Party se kandidaat vir president, keer op keer aan kiesers belowe dat hy onbillike handelspraktyke van lande soos China en Mexiko gaan beveg. Dit is grootliks hierdie belofte wat meegebring het dat bloukraagwerkers in state soos Ohio, Pennsilvanië, Wisconsin en Michigan vir Trump gestem, en hom die presidentskap besorg het.

Terwyl Trump se dreigemente om invoertariewe teen handelsvennote soos China, die Europese Unie en selfs buurlande soos Kanada en Mexiko in te stel, talle politici en kommentators (ook uit sy eie party) ontstel het, het hy eenvoudig sterk bly staan en ’n billike argument bly aanvoer dat, indien een land onbillike handelspraktyke toepas, ’n ander land nie maar net op ʼn grondslag van goeie teoretiese ekonomiese idees daardie onbillike praktyke kan ignoreer nie.

Trump het die afgelope tyd selfs sover gegaan om wel invoertariewe, veral op produkte uit China in te stel.

Die bekende Amerikaanse beleggingsbestuurder, Donald Luskin skryf in die Wall Street Journal dat Trump besig is om die handelsoorlog teen China te wen. Terwyl die Amerikaanse ekonomie tans baie sterk is, met die beste ekonomiese groei in meer as vyf jaar, bykans geen werkloosheid, ’n sterk dollar en aandelemarkte wat weer eens rekordhoë vlakke toets, is dieselfde nie vir China waar nie.

Die Chinese aandelemarkte beleef ’n beermark en die Chinese geldeenheid, die yuan, het die afgelope week heelwat verswak. Intussen spartel groot Chinese maatskappye om produksie na ander Asiatiese lande met lae arbeidskoste te verskuif om sodoende Amerikaanse invoertariewe vry te spring. Die Chinese ekonomie is geweldig afhanklik van uitvoere na Amerika en Trump weet dit baie goed. Oor die afgelope paar dekades het China sy geldeenheid kunsmatig swak gehou teen die dollar ten einde die speelveld met Amerika in sy guns te hou. Daarmee saam volg China nog altyd ’n uiters proteksionistiese ekonomiese beleid wat self invoertariewe op talle Amerikaanse produkte insluit. Trump se antwoord hierop is eenvoudig – as julle jul ekonomie gaan beskerm, gaan ons dieselfde in Amerika doen.

Behalwe vir invoertariewe het Trump tydens sy presidentsveldtog ook belowe om bestaande handelsooreenkomste te heronderhandel. Dit is dan ook presies waarmee hy die afgelope paar maande besig is en ook hier bewys hy en sy regering die kritici verkeerd. Selfs die linkse nuwe Mexikaanse president Andres Manuel López Obrador het onlangs na Trump uitgereik om ’n beter handelsooreenkoms tussen die lande te sluit.

Die president van die Europese Kommissie Jean-Claude Juncker het verlede week inderhaas na Amerika gevlieg om met Trump oor invoertariewe samesprekings te voer. Ook hier is dit duidelik dat Trump sy sin gaan kry. Al waarvoor Trump vra, is dat indien Europa toegang tot die Amerikaanse mark sonder invoertariewe wil hê, dan wil Amerika ook toegang tot die Europese mark sonder invoertariewe hê.

Dit lyk asof Donald Trump besig is om internasionale handelsverhoudinge heeltemal te herskik wat tot selfs groter vryhandel en minder handelsbeperkinge aanleiding kan gee.

Dit kan net vir die hele wêreld goed wees.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Paul ·

Maar intussen kan China ook nie stilsit nie, nou sit Afrika met die gepakte pere van swak produkte wat na daardie markte dmv ooreenkomste, hul weg vind, en SA het gedink China is vader krismis.

Paul ·

Plaas dat ons ons eie mense begin besig hou, die ekonomie aan die gang kry dat ons produkte hul weg na die buiteland vind, maar nee, buiten grondstowwe wat ons uitvoer, hou ons eerder China se burgers besig. Dit lyk my, buiten vir myne, is ons mense net bevoeg om in konstruksie bedrywig te wees, bou op elke dorp ‘n winkelsentrum en om elke hoek en draai.

Dirk Breytenbach ·

Ons kan nie weer industrialiseer in SA nie want BBBEE en EE plus gepaardgaande beperkende regulasies verhoed mense met die ondervinding en kwalifikasies om dit te doen.

Gerhard ·

Sjina, en ook die EU, kan nie ‘n handelsoorlog teen die VSA wen nie. The Donald sit met al die kaarte.

Hanno ·

Paul, ek stem saam dat ons meer plaaslike produkte moet vervaardig, MAAR… wie gaan daarmee begin? Beslis nie ek nie, want ek is nie lus vir unies en stakings (wat gepaardgaan met intimidasie en vernietiging van eiendom) nie.

Wonder ·

Wonder hoe CNN fout gaan vind hiermee – kan mos niks goeds oor hul president sê nie….

Pietman ·

Trump wil slegs wederkerige handelsooreenkomste hê. niks meer. Maar die linkse slinkse media noem die ‘n “handelsoorlog”. Die”einde van vryhandel”. Daardie agenda van hoofstroommedia en wêreldorganisasies soos die IMF en wêreldbank vedien ‘n artikel op sy eie.

Gerhard ·

Ouens soos Bezos het ‘n biljoener geword deur goedkoop Sjinese produkte te verkoop met goedkoop en onwettige werkers. Natuurlik is sulke mense ongelukkig met Trump.

Hendrik ·

Bog – vertel vir Amerikaanse boere en Harly Davidson werkers dat Trump die handelsoorlog wen. Trump is n verleentheid vir meer as 50% van stemgeregtigdes in die VSA wat nie vir hom gestem het nie, asook vir n klomp “evangelicals” wat slegs vir hom gestem het oor hy sy standpunt oor aborsie verander het.

ChristaT ·

Ag ou Hendrik jy sit die pot ver mis. Ek kry greeld me Amerikaners te doen en hulle almal se die media dra ‘n vals beeld uit oor Trump. Hulle is baie trots om hom as President te he, dat hy ‘n goeie president is . Jy hardloop agter CNN en ander linkse media aan. Weet nie waar jy aan jou 50% kom nie, o wag by CNN ne

Johan ·

ChristaT…Jy is absoluut reg! Hendrik, ek is n Amerikaner en President Donald Trump is NIE n verleentheid vir die meerderheid; hardwerkende, patriotiese, God vresende burgers nie. Jy, Hendrik, IS wel ondersteunend in jou komentaar van die minderheid; rugraatlose, “One-World-Order”, liberale, media manipulerende gepuipel wat glo die regering van n land is belangriker en verantwoordelik vir die sorg (sosialisme) van sy onderdane. n Ene Obama filosofie. Word minder ingelig deur jou bronne soos CNN of FNN soos ons Amerikaners laasgenoemde beter ken, en meer opgevoed deur die mense wat bloed sweet om hierdie land veilig te hou, en n vooruitgang te verseker vir ons kinders deur harde werk.

Richard ·

Christa, die stemgetalle, soos deur die VSA-regering se Federal Election Commission getel en opgeteken is in die 2016 presidensiële verkiesing was soos volg:
Clinton – 65 853 514 stemme
Trump – 62 984 828 stemme
Johnson – 4 489 235 stemme
Stein – 1 457 226 stemme
McMullin – 732 237 stemme
Castle – 203 091 stemme
Verskeie “write-in” kandidate gesamentlik – 949 294 stemme
Dit is waar Hendrik aan sy stelling oor die 50% kom. Hy is egter nie heeltemal korrek nie, want hy praat van meer as 50% van “stemgeregtigdes”, maar alle stemgeregtigdes het nie in die verkiesing gestem nie. Daar was in 2016 sowat 230,6 miljoen stemgeregtigde mense in die VSA, maar net sowat 138,8 miljoen het gestem. Met ander woorde het Trump sowat 27,3% van al die stemgeregtigde mense se stemme gekry, en Clinton het sowat 28,5% van stemgeregtigde mense se stemme gekry.

Die Amerikaanse presidensiële kiesstelsel werk egter nie op wie die meeste stemme kry nie, maar met die komplekse “Electoral College”-stelsel wat beteken iemand kan die algehele verkiesing wen sonder om die hoogste getal stemme te kry. Dit het al in 1824 met Adams gebeur, in 1876 met Hayes, in 1888 met Harrison, in 2000 met Bush en in 2016 met Trump.

Juan ·

EU gaan baie meer soya in voer, motorvoertuig in en uit voer aan beide kante gaan vir eers uitgelos word en die boere wat wel skade gaan lei gaan staats subsidie kry – feite maak saak!

Frans C ·

Richard as jy syfers korrek is,beteken dit dat ongeveer 60% stemgeregtig Amerikaners gaan stem het,wat dus beteken dat 40% buite stemming gebly het.As jy buite stemming bly in ‘n demokrasie moet jy jouself,al stem jy nie saam nie,onderwerp aan die wat die verkiesing gewen het.
Jy kan dus nou nie omdraai en ‘n lawaai opskop nie,want jy het jou kans om dit te doen verbeur,toe jy buite stemming gebly het.Hendrik is dus verkeerd in sy siening . In die 1994 referendum plaaslik het 25% stemgeregtig Blanke kiesers buite stemming gebly en hul dus versoen met wat ook al gebeur.

Hulle moet dus mi ook nie hul stemme verhef oor dit wat tans plaasvind in ons land nie,want deur buite stemming te bly het hul toegelaat dat die land op ‘n skinkbord aan ‘n onbevoegde regering oorhandig is.

Jan ·

Frans C, ‘n mens moet maar versigtig wees om jou naam nie met ‘n plank te slaan nie. Die stemgeregtigde blanke kiesers se getalle was ongeveer 3-miljoen in 1994. 25% hiervan is dus 750 000 (hou ook in gedagte dat ‘n 100%-stemming, weens veskeie redes eintlik onmoontlik is). Die totale aantal stemme wat in die 1994 verkiesing uitgebring was, was meer as 19-miljoen gewees!!! Die ANC het meer as 12-miljoen hiervan op hom verenig. En jy reken dat hierdie geringe % blanke stemme (ongeveer 3,8% van die totaal) “die land op ‘n skinkbord” aan die ANC oorhandig het, en dat hulle dit kon verhoed het deur tog net destyds aan die verkiesing deel te geneem het, want sodoende sou daar so om-en-by 12 meer witgesigte in die Parlement gewees het. Van die 400-sitplekke het die ANC 252 gehad, die NP 82, VF 9 en die DP 7. Getalle spreek, en nie sinnelose aantygings nie.

gatiep ·

Hu?
So jy is vir aborsie.Dit klink bietjie duiwels vir my.Dis my opinie,as mens nog so iets mag he.

Balanseerd ·

Waarom mag China invoertariewe hef en GEEN vlugtelinge aanvaar nie, maar Amerika mag nie, kan liberaliste my inlig?

White Rhino ·

Mooi Trump!!!!
Hy het mos gese Amerika Eerste.
Man van sy woord al kraak die media hom af.

Kom Ons Boks ·

Jitte Jaco, stadig oor die klippe. Dis ‘n ongelooflike euwel om enige iets goed oor The Don kwyt te raak al is dit die reine waarheid.

bgj van der westhuizen ·

hy kyk agter sy mense nie soos die anc regering wat toe sien dat mense meer werk verloor oor gemors wat in gevoer word van af china

Liberaal ·

Ons liberales het nie meer beledigings oor nie so ons moet nou maar op sy hare fokus.

Hannatjie ·

Richard gaan soek op youtube, Walkaway. Dis ‘n hele nuwe beweging in Amerika van Demokrate wat wegbeweeg na Trump toe en wat vandag selfs verskoning vra omdat hulle teen Trump gestem het. Baie Demokrate se oe is besig om oop te gaan.

Terloops ·

Bannon is besig om ‘n organisasie te stig genaamd ‘the movement’ wat konserwatiewe denkrigtings bevorder… ‘n teenvoeter vir Soros

Pietman ·

‘n Land met feitlik geen werkloosheid nie doen iets reg.

anton ·

Man die President Trump laat my tone krul van lekkerte omrede hy weet wat hy doen.
Sou wat wou gee om sy hand te kon skud en hom as n President te kon hê.
Daar is beslis weer hoop vir Amerika!!!

John ·

Met Hillary as president en Bill in sy drome, was WO3 in volle swang, Mexiko boots and all in die VSA en ISIL lid van die Veiligheidsraad. En Israel Arabies. Soros, die ateistiese Jood, die president van Rusland en boesemvriend van Xi.

gatiep ·

Net die feit dat Trump dit kon regkry om te wen deur al die gelieg teen hom in die verkiesing se vir my hy gaan baie vermag.
Nou moet hy net die Duiwel uitskop uit Hollywood en die gelieg wat daar aangaan in CNN en BBC dan kan die wereld baie beter raak.
Ons in Suid Afrika sal baie baat vind, want dan kan hulle nie meer vir wereld lieg teen ons nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.