Trump-besluit oor Golan-hoogtes ’n fout

’n Ontploffing wat deur Israeliese lugaanvalle veroorsaak is kan in die stad Gasa gesien word. Israelse magte het Maandag teikens reg oor die Gasastrook getref in reaksie op ʼn vuurpylaanval vroeër vanuit Palestynse grondgebied. (Foto: Adel Hana, AP)

President Donald Trump se besluit om Israel se soewereiniteit oor die Golan-hoogtes te erken, is ’n ernstige fout wat wesenlike invloed op die geloofwaardigheid van die VSA en ook op ander gebiedsgeskille in die wêreld kan hê.

Israel het tydens die 1967-oorlog teen Sirië die westelike twee derdes van die Golan-hoogtes beset en ná die oorlog geweier om dit terug te gee. In 1981 het Israel volledig beheer oor die gebied geneem en dit onder hul administrasie geplaas. Sedertdien is talle Joodse nedersettings in die gebied gebou.

Die internasionale gemeenskap, onder meer Israel se groot bondgenoot, die VSA, het nog altyd geweier om Israel se soewereiniteit oor die besette Golan-hoogtes te erken. Die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad het reeds op 22 November 1967 in ’n mosie wat eenparig deur die lede van die Veiligheidsraad aanvaar is, geëis dat Israel die besette dele van die Golan-hoogtes aan Sirië terugbesorg.

Die besluit van die Amerikaanse president om nou, sonder enige raadpleging met ander lidlande van die Veiligheidsraad, ander lande in die Midde-Ooste en belangrike bondgenote soos Brittanje, eensydig Israel se soewereiniteit oor die Golan-hoogtes te erken, plaas die VSA in direkte opposisie met die steeds staande VN-resolusie van 1967.

Die probleem met die Trump-administrasie se Israel-beleid is nie meer dat dit die VSA as ’n bondgenoot van Israel bevestig nie, maar eerder dat Trump besig is om Benjamin Netanyahu, eerste minister van Israel, se agenda vir hom uit te voer. Trump se aankondiging oor die Golan-hoogtes, drie weke voor die verkiesing in Israel, gee Netanyahu ook ’n enorme hupstoot in ’n baie moeilike verkiesing.

Trump en Netanyahu het ’n baie goeie verhouding en Netanyahu slaag duidelik daarin om Trump om sy pinkie te draai. Die vraag is, wat kan Amerika daarby baat indien die Amerikaanse president skielik besluit om van Amerika se dekade lange eis dat die Golan-hoogtes aan Sirië teruggegee moet word, weg te stap?

Amerika se internasionale beleid ten opsigte van gebiedsbesetting, outonomiteit en soortgelyke geskille lyk reeds twyfelagtig. Hierdie besluit vererger die situasie verder. Toe Kosovo onafhanklikheid van Serwië verklaar het, was die VSA een van die eerste lande wat Kosovo se onafhanklikheid gesteun het. In Georgië was die VSA aggressief gekant teen die onafhanklikheidsverklaring van Abchasië en Suid-Ossetië. Amerika het al gereeld in die Midde-Ooste en Oos-Europa weggekyk wanneer bondgenote die grense van die internasionale reg uitdaag. Trump se aankondiging oor die Golan-hoogtes is nie net ’n uitdaging van internasionale reg nie, maar eerder ’n verklaring dat Amerika homself in ’n posisie ag waar hy oor die soewereine regte van ander lande in grondgeskille kan beslis.

Wat is volgende? Die Netanyahu-administrasie is steeds besig om groter dele van die Wesoewer te beset. Gaan die VSA ook een of ander tyd Israel se soewereine reg op dele van die Wesoewer erken en daarmee finaal ’n streep deur die Tweestaatopsie trek?

Die Trump-administrasie dra met sy besluit oor die Golan-hoogtes eerder by tot groter langtermynkonflik in die Midde-Ooste as om ’n volhoubare vredesoplossing daar te stel.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Wiehan ·

Jaco, net ‘n vraag: Sien jy eerder die Golan onder ‘n oorlog verwoeste Asad Siriese regering of onder ‘ n Israelitiese regering?

Johan ·

Jy kan nie dele beset wat jy reeds as eiedom het nie, jy verwys na die internationale wet maar vergeet gerieflik van die wet wat duidelik omskryf dat wanneer jy grond in n oorlog afneem en nie die agitator was nie dan kan jy die grond as jou eie neem. Die 1967 oorlog was deur Sirie Jordanie en Egipte geinissieer en Israel het hulle terug gedryf so hulle is totaal geregtig op die grondgebied wat hulle ingeneem het. Israel neem geen nuwe grod af nie hulle populeer bloot hulle eie grondgebiede

Zach Coetzee ·

Johann is reg. Die buurlande en meeste Arabiese state het in 1967 saam aanvalle geloots op Israel met die doel om die staat uit te wis. In die verstommende verdediging wat Israel laat seevier het, is die Golan hoogtes nie in aggressie beset nie, maar uit selfverdediging verower. Tydens besoek aan Israel in die 90’s het die gids ons laat sien dat die vuur-veld vanaf die Golan hoogte, onbelemmerd kan vuur op die stad Tiberias, slegs enkele kilometer oorkant die meer. Daarom word dit as ongeregverdigde besetting voorgehou. Hulle het ‘n besondere aanvalspossissie daardeur verloor… en Israel het die strategiese kwesbare situasie omgekeer om verdere aanvalle vandaar te voorkom.

willem Botha ·

Presedent Trump is n leier wat praat maar ook doen en hom sterk uitspreek vir christene en teen muslim en dit maak hom nie n geliefde leier nie maar een ding doen hy goed en dit is om die vsa n beter plek te maak vir sy mense ,n land wat israel ondersteun is n geseënde land soos sa was toe hulle israel ondersteun het.

Johan Grobler ·

Sjoe, miskien moet Jaco Kleynhans eerder vir CNN gaan werk. As hy sy Bybel enigsins geken het sal hy weet dat Israel sy grondgebied van die Almagtige self gekry het en so sal dit wees.

Nico K ·

Nee Johan, as jy jou Bybel reg lees dan weet jy dat die Jode Christus verwerp het en ons as Christene erken lankal nie meer dat die Jode die uitverkore volk is nie.
Wat eerder waar is, is dat daar oor die hele kwessie van internasionale grense gedebateer kan word. Nie alle bestaande grense is regverdig nie. Wie het dit vasgestel? Gewoonlik die een met die grootste weermag.

Piet ·

Nee Nico K, jy ken nie jou bybel nie. Jy en ‘n paar ander Christene erken dalk nie die Jode as uitverkore volk nie, maar God doen wel en sy beloftes aan die hele Israel bly gestand. Die huis van Juda en die huis van Israel sal weer een volk word soos geprofeteer deur Esegiel. Die Jode sal Christus aanneem met Sy tweede koms.

God het ook aan Abraham, Isak en Jakob die grond gebied tussen die Nyl en die Eufraat riviere belowe. ‘n Belofte wat nog nagekom moet word. God maak nie leë beloftes nie.

GRIET ·

Israel behoort aan die Joodse volk of hulle Christus nou erken of nie!
Christene mag bg.dalk nie meer erken nie maar Koningskinders erken Sy Volk en Sy Woord!
VIVA TRUMP jys 100% reg

Jerry ·

Trump is so voorspelbaar soos sy gebrek aan geloofwaardigheid en daarmee ook nou saam, die VSA se geloofwaardigheid. Trump se oogmerke is so duidelik soos daglig. Sekere bestaande nasionale ooreenkomste en sekere internasionale verdragte word doelbewus geteiken en vervang of net bloot verander. Deur presies die teenoorgestelde in plek te plaas van die bestaande, verander die denke van mense. Dit is n ou sosialistiese trick wat selfs deur die ANC in SA toegepas word. Die ANC en Trump bring nie veranderinge aan ten goede van almal nie, maar slegs ten goede van “our people”! Dit opsigself veroorsaak chaos en die verval van die huidige orde met n nuwe orde wat tot stand gebring word. Die verskil tussen Trump en die ANC is dat Trump se planne gestop kan word deur hom by die stembus te verslaan wat weer nie die geval is met die ANC nie. Die ANC word tans nog net verhinder deur n wankelende onafhanklike regbank en wanneer die regbank ook uiteindelik verander en afhanklik van ANC ideologie staan, is daar niks wat die verandering na die teenoorgestelde van die bestaande sal keer nie, behalwe n wonderwerk!

Ronnie ·

Jerry, ek stem saam met jou en Jaco. Ek kan byvoeg, sy ou maat is aangekla van bedrog en kan doen met ondersteuning van die VSA. Trump skaar hom maar altyd by wetsoortreders.

Konstantin Kosachev, hoof van ‘n Russiese buitelandse sake kommittee: “After Trump’s Golan statement, any demagoguery about Crimea is groundless.” Menende die erkenning van die anneksasie van een gebied regverdig anneksasie in ander gebiede.
Onthou sy Poetin vriendelike uitlatinge oor Montenegro en Afganistan? “Montenegro is a tiny country with very strong people … They’re very aggressive people. They may get aggressive, and congratulations, you’re in world war three.” Dit was kort na Helsinki en duidelik ‘n weerspieëling van die Poetin / Kremlin anti-Navo sentiment.
Montenegro se “sonde” is dat hulle pro-westers is net soos die Ukraine. ‘n Beplande coup d’etat waarby die opposisie en Russiese burgers betrokke was, was gelukkig gefnuik. Hulle is nie eers ‘n miljoen mense nie en is heeltemal vreedsaam. Hulle is so min ‘n bedreiging vir wêreld vrede as wat Kanada ‘n bedreiging vir die VSA is.
Trump het op televisie verklaar: “Russia used to be the Soviet Union,“Afghanistan made it Russia because they went bankrupt fighting in Afghanistan.”

Dis gewoon nie waar nie maar die aanmerking was ter ondersteuning van Poetin se poging om die geskiedenis van hierdie oorlog te herskryf.

(NS – Miskien plaas MM my kommentaar vir ‘n verandering?)

Piet ·

Jerry,

Dis maar hoe die wereld werk. My mense kom altyd eerste, maak nie saak by watter nasie, volk of ras jy inval nie. Dit werk maar persoonlik ook so. Jou eie gesin kom eerste, dan familie, en dan vriende. Die res moet maar in die tou staan en hulle beurt afwag.

Leon ·

Isreal se hoof water toevoer kom vanaf die Golan hoogtes. As hul dit terugee aan Sirië is hul water sekuriteit daarmee heen. Wie sal so onosel wees om jou water sekuriteit op te gee?

Annie Webb ·

Net so. Trump is Israel se vriend en hy staan by sy vriende. Mens moet in elk geval onnosel wees om Palestina se vriend te wees as jy eerder Israel se vriend kan wees. Die skrywer (en Jerry) is geregtig op hul opinies, maar sover was pres. Trump nog altyd reg in sy besluite. Ek dink nie mens word ‘n biljoenêr-eiendomsontwikkelaar in New York en wêreldwyd as jy nie presiés weet wat jy doen nie. En nie bang is om besluite te neem en dan daarby te staan nie, bygesê. En wie, wonder ek, steur hulle nog aan VN-resolusies? Klomp grootbek-lande wat op VSA-aalmoese leef maar altyd in die VN téén die VSA stem. Daar is g’n “oplossing” vir die Midde-Ooste nie. Behalwe Trump en Netanyahu se “peace through strength”. Hulle vyande moet net weet as hulle moeilikheid maak, is dit hulle “death wish”. Werk vir NoKo. Palestina sukkel nog om die lessie te leer, maar hulle sal.

Andreas ·

Jip en Trump het destyds ook nie net op die kruin van die golf gery nie, hy moes ook maar ‘n paar maar spartel om kop bo water te hou, dit als maak dat jy jou vermoe ken en weet waar om berekende besluite te neem, en dan is hy ‘n vinnige denker.

Ruiklont ·

Jaco miskien het jou pa jou nooit geleer bie of jy verstaan die Woord nie, die gebied was nig altyd Israel s’n

John ·

Die Hooglande was nog eintlik altyd Israel s’n. Punt. Wie het die gebied vir hulle gegee? Die land is eeue gelede van hulle weggeneem… ook met die toestemming van die Gewer omdat Hy hulle gestraf het. En as Hy dit weer na hulle wil laat terugkeer, sal niemand dit kan keer nie.

Kosie ·

Jy slaan die spyker mooi op sy kop, John. Trump is miskien baie dinge maar hy is nie ‘n ruggraatlose onderdaan van die “establishment” nie…

Marius van Australie ·

Jaco – nou skryf jy klomp snert. Histories is die Golan-Hoogtes deel van Israel, militer is dit van strategiese waarde vir Israel, en geo-polities van waarde vir Amerika om die Russiese sowel as Iranese magsfeer in Sirie in toom te hou. Jy trek Russiese enklawes in jou skrywe in om sodanige regverdiging te verleen wat totaal uit verband is. Israel is die enigste land behalwe Jordanie en in ‘n mate Egipte wat Amerika goedgesind, uitgesluit die UAE/ Saudi-Arabie wat verder weg is. Israel is omring deur Hamas aan die westekant wat niks minder as aanhoudende moeilikheidsmakers is nie, Sirie en sy toenemende Iranese invloedsfeer in die Noord-Ooste en direk noord Libanon wat deur ‘n sterk Hezbollah beheer word. Jy kan nie meer op ‘n toenemende militante Turkeye reken nie, omdat Erdogan alreeds as ‘n NAVO-land oorhel na Rusland toe.

JAN ·

Dankie Jaco altyd goeie debat.
die Golan hoogland is oos van die see van Galilea en Jordaan rivier. Die varswater meer is van uiterste strategiese belang as die grootste enigste bron van vars water en as grens.
Trump begeer seker so ‘n grens – grappie !!
Dis skokkend hoeveel die meer gesak het – dat die hawens droog is…
Ek wonder waar Gasa hul vars water vandaan kry.? hulle lê oorkant die dooie sout see nie waar nie?
Ja geen wonder hy en die Joodjies verstaan verstaan mekaar so goed nie.
Hulle ken van grense.
Niemand kan floreer op chaos nie behalwe die ou dywel..

Chrisjan ·

Of ek en jy nou daarmee saamstem, of nie – dis irrelevant. Feite word o.a. in Bybel gegee. Terloops, die “Joodjies” waarna so minagtend verwys word is die appels van Sy oë. Of ek en jy daarvan hou, is irrelevant. Christene is Jesus se bruid. Verskillende rolle en funksies. Die vraag is eerder: waarom wil bykans die hele wêreld baklei oor n land so groot soos die Kruger Wildtuin? Eenvoudig: want die Bybel sê dit sal so wees. Jaco, my raad aan jou is: lees o.a. Marzanne le Roux vd Boon se reeks boeke oor Israel. Begin met “Granate bloei in Jerusalem”. Dan lees jy oor die Green Prince, of selfs beter – gaan bly daar vir n klompie jare en as jy terugkom gesels ons weer. Die situasie is veel meer gekompliseerd as waarvoor jy dit afmaak. Dis soos om oor SA se dinamika te skryf as jy in Siberië sit. Jy dink dat jy dink dat jy weet. Ek bedoel dit opreg as ek sê daar is veel meer faktore om in ag te neem as waaroor jy berig. Shalom.

dejager ·

Jaco jy gaan baie teestand oor hierdie artikel kry.Ek dink ons kan eerder praat oor die geloofwaardigheid van die VN.Die VN het oor die jare ń anti -Israel organisasie geword.Dit is lagwekkend dat hulle aandring dat die Golan vir Sirie gegee moet word.Die Siriers het met hul voete geloop na Europa.Damaskus lyk nou soos ń post apokaliptiese stad.
Trump erken bloot iets wat so is.Hy word nie deur die anti Israel league beheer nie en ook nie deur Netanyahu nie.Ek erken ook die reg van Israel oor hul eie grond.

Nico ·

Jaco, gaan lees die Bybel sorgvuldig. Die Golan was van die antieke tye Israelse grondgebied. Die bekende skuilstad was daar gevestig. Jerusalem was altyd die Israelse hoofstad oftewel die stad van Dawid. President Trump het ‘n ou saak reggestel en reg so. So ook m.b.t. die Golan. Enorme oliereserwes en gas is daar ontdek. Rusland, Turkye, Iran en Sirië begeer hierdie rykdom want hulle almal is in ‘n finansiële verknorsing. Hulle soek oorlogsbuit en hier kom ‘n groot oorlog, presies soos Esegiël dit in Hfs. 37 tot 38 ongeveer 2600 jaar gelede voorspel het. Jaco, luister gerus op Behold Israel na wat Majoor Amir Tsarfati oor al hier die dinge te sê het. Hy is ‘n briljante puik kenner van sake in die Midde Ooste. Dalk sal jou oë oopgaan. Met Donald Trump se verkiesingsveldtog het jy en vele ander plaaslike politieke kommentators die pot behoorlik mis gesit. Jy sal vorentoe sien hoe Trump en Netenyahu mildelik geseën sal word. En Jaco, weë diegene wat Israel haat, aftakel en ondermyn!!

Deon ·

Die Golan Hoogtes is van strategiese belang .
Terroriste het voorheen die hoogtes gebruik vir mortier en vuurpyl aanvale teen Israel . Van die hoogtes af kan hulle a groot deel van Israel teiken . Dus moet die Golan hoogtes onder Israeliese beheer wees .

M ·

JACO ….. n bietjie advies. Bly uit Israel se sake. Lees wat die bybel se ….

Chrissi ·

Jaco, ek stem. Iewers het die mensdom verval om ‘n afgod van ‘n midde-oosterse land te maak. Hoe het ons die boodskap “gemis” dat die Koninkryk en tempel van God nou in elke mens teenwoordig is wanneer, volgens die geloof, ons dan nou lewe in Christus wat Sy eie liggaam ( gemeente) sal bou. Daardeur het ons ook nie verstaan dat Jerusalem nou ‘n hemelse Jerusalem geword het en dat die “Israel van God” nou voortleef vir diegene wat “in Christus” leef nie. Op die stadium het geloof niks meer te doen met die fisiese land gebied of ‘n etniese ras nie, Dit vet verskuif na die hemelse/geestelike realm. Het ons begin om Judaizers te word? Die bybel en politiek mag nie verwar word nie.

JAN ·

Dankie Chrissi – die ewige waarheid.
Prof Stoker van Potch het die vreeslike duiwelse gevaar van sinkretisme beskryf. Die
tipiese Baal dogma.

Beth ·

Jaco jy moet liewer uit Israel se sake bly. Soos almal sê, gaan lees eers die Bybel voor jy God se volk probeer aanvat. Wat Trump aanbetref: mens kan seker baie oor hom sê as jy nou wil klippe gooi, maar hy is duidelik God se man van die oomblik. Ek het begin respek kry vir sy volgehoue ondersteuning aan die uitverkore volk.

DelaRey ·

Die konflik rondom Israel en Palestina is kompleks en niemand kon dit tot op hede beredder nie. Jaco beweer dat die VSA se erkenning van Israel se soewereiniteit oor die Golan hoogtes die kanse vir ‘n oplossing van die geskil sal ondermyn.

Kan dit egter slegter gaan as wat dit in elk geval die afgelope 30 jaar gaan?

En hoekom moet Israel in elk geval die Golan hoogtes prysgee. Sal dit werklik vrede bring?

Die komplekse politiekery tussen lande is in elk geval so ingewikkeld dat die feitlik onmoontlik is om nie beskuldig te word van oneerlikheid of valsheid op een of ander stadium nie.

Trump se strategie is duidelik dat hy Israel se magsposisie wil versterk en daardeur stabiliteit bevorder. Dis nie iets nuuts in die wereld nie en moenie verbaas wees as dit meer suksesvol is as die toegewings nie. Dit kan in elk geval nie slegter gaan as wat die reeds gaan nie.

Bogenoemde in aggenome is die besluit van die VSA dapper en dinamies.

Hou ook maar in gedagte dat ons nie alles weet nie. Die VSA is baie beter ingelig en het beslis ‘n strategie vir “vrede” in die Midde-Ooste.

En dan is daar natuurlik Trump. Hy het meer reggekry as enige ander President en is ‘n baie effektiewe uitvoerder. Kan dit wees dat mense hom nog steeds onderskat?

Chrisjan ·

Kyk gerus hierna. Dit kom uit die spreekwoordelike perd se bek.
https://youtu.be/NX-atfFWeq8
Ons moet oppas vir die slim omies teoloë se sogenaamde “replacement theology”. Maak dit gerus n gebedsaak as jy nie seker is watter kant vd draad jy moet (aanhou) sit nie.

JAN ·

Jaco se klip in die hoenderhok gaan primêr oor GRENSE. Die groot WO lll.
En toe spring hier alweer ń paar Soros hoenders uit wie reken dat Trunp se grense projek sleg is vir SA se Boerevolkie. Trump lyk al te veel na dit wat vermoor is 50 jaar gelede!
Jaco se kommentators het mooi bewys dat ons enigste hoop in Jesus se grense is.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.