Trump, Biden beklemtoon politieke toestand van VSA

(Foto: Cliff Owen/AP)

Dinsdagaand se debat tussen pres. Donald Trump en sy opponent, die voormalige adjunkpresident en Demokratiese senator, Joe Biden, was ʼn nuwe laagtepunt in vanjaar se verkiesingsveldtog.

Die politieke krisis in die VSA is reeds jare lank aan’t opbou met groter demografiese, geografiese en ideologiese verskille wat soms onoorbrugbaar lyk. Dinsdagaand se debat het hierdie verskille eerder beklemtoon as om oplossings daarvoor aan te bied.

Dit het soms gevoel asof ʼn mens in 1453 in Konstantinopel of in 476 n.C. in Rome staan en sien hoe ʼn groot ryk besig is om onder te gaan, en by jouself wonder waar die leiers is wat die ondergang van die ryk moet verhoed. Net soos die Bisantynse Ryk in 1453 in Konstantinopel tot ʼn einde gekom het en die Romeinse Ryk in 476 in Rome ondergegaan het, wonder ʼn mens of vanjaar se verkiesing nie die begin van die einde vir die VSA as die toonaangewende wêreldmag gaan wees nie.

Terwyl Trump bombasties opgetree het en selfs soos ʼn boelie oorgekom het deur Biden voortdurend in die rede te val, sleg te sê en te beledig, was Biden se optrede maar vrot. Sy sarkastiese laggies, swak antwoorde en met tye ook ongeskikte houtjies wat hy na Trump ingekry het, was net so teleurstellend. Nóg Trump nóg Biden het oorgekom as iemand wat die magtigste land ter wêreld kan of moet lei.

Pres. Trump se grootste fout tydens die debat was dat hy ʼn korrekte strategie te ver gevoer het. ʼn Dienende president kom altyd voor die uitdaging te staan dat hy tydens so ʼn debat sy eie rekord moet verdedig terwyl sy uitdager makliker voorstelle vir ʼn toekomstige bedeling kan maak.

Trump moes tydens die debat sy administrasie se suksesse van die afgelope drie en ʼn halwe jaar op ʼn doeltreffender wyse verkondig het. Hy het egter nie daarin geslaag nie, maar bloot van een tema na ʼn ander rondgedans, met aanhoudende, soms selfs irriterende, aanvalle op Biden. Die fout wat Trump gemaak het, was om te dink al wat hy moet regkry, is om aan Amerikaners te bewys dat Biden nie oor die vermoë beskik om president te word nie. Ondanks Trump se bombastiese persoonlikheid het sy administrasie oor die afgelope paar jaar heelwat sukses behaal en dit sou wyser van hom wees om kiesers op ʼn goed geformuleerde wyse hieraan te herinner.

Trump se strategie was dus om Biden aggressief uit te daag en Biden se swakpunte bloot te lê. Trump het dit egter heeltemal te ver gevoer. Dit was Napoleon wat gesê het jy moet nooit jou opponent onderbreek wanneer hy fouteer nie. Elke keer wanneer Biden oor sy woorde gestruikel of ʼn potensieel omstrede uitspraak gemaak het, het Trump hom in die rede geval en hom wesenlik van sy eie grootste tekortkominge gered. Daarmee saam het dit Trump onbeskof en onpresidensieel laat lyk.

Die debat is volgens amptelike syfers deur baie minder mense gekyk as wat aanvanklik verwag is. Baie Amerikaners het ook halfpad deur die debat hul televisies afgeskakel en opgehou kyk. Geen sinvolle debat oor ernstige beleidsaangeleenthede is tydens die debat gevoer nie; albei leiers het eerder voortdurend hul grootste persoonlike uitdagings onthul.

Wanneer ʼn mens politieke debatte sedert die 1960’s ontleed, moet Dinsdagaand se debat as ʼn absolute laagtepunt beskou word. Dit vergestalt egter ook ʼn laagtepunt vir ʼn land wat sukkel om sy rol as die magtigste politieke, ekonomiese en militêre moondheid ter wêreld te bly vervul.

Demokrate en Republikeine in die VSA woon toenemend in twee aparte wêrelde. Demokrate is meestal stedelike, minder gelowige, multikulturele, links-liberale persone, terwyl Republikeine in kleiner stede en dorpe en plattelandse gebiede woon, meer gelowig, konserwatief en steeds merendeels wit is. So onlangs soos enkele dekades gelede was die verdeling tussen die twee partye minder eenvoudig en meer vloeibaar. Deesdae is die verdeeldheid so groot dat al hoe meer Amerikaners in die twee groepe niks kan vind wat hulle met mekaar gemeen het nie. Geen leier van die afgelope paar jaar, onder wie presidente Barack Obama en Trump, kon daarin slaag om Amerikaners ten opsigte van spesifieke ideale te verenig nie.

Demokrate en Republikeine het vandag twee totaal verskillende beelde van hoe die VSA van die toekoms moet lyk en wat die land se rol in die wêreld moet wees. Weens die verdeeldheid is daar ʼn toename in woede, protes en selfs geweld, met ʼn plofbare situasie wat ontwikkel.

iIn ʼn tydperk waar demokrasie in die wêreld toenemend onder druk verkeer, is dit steeds die VSA en Europa wat verantwoordelik is vir die beskerming van demokratiese waardes in die wêreld. Opkomende globale magte, in die besonder China, is nie net ondemokraties nie, maar selfs anti- Westerse demokrasie. Die wêreld het ʼn sterk demokratiese VSA nodig. Daarvoor mag ʼn politieke herskikking nodig wees. Dit lyk toenemend of die tweepartystelsel in die VSA uitgedien is, en veral met ʼn meer diverse VSA mag ʼn veelpartystelsel dalk net wees wat die VSA nodig het om steeds een van die voorste demokrasieë ter wêreld te bly.

Regter Barrett kan Trump se konserwatiewe nalatenskap vir dekades verseker

Amy Coney Barrett se benoeming kan Trump se konserwatiewe nalatenskap nog vir dekades verseker. (Argieffoto: (Barbara Allison/South Bend Tribune via AP)

Pres. Trump se besluit om die 48-jarige appèlregter, Amy Coney Barrett, van die sewende appèlhof van die VSA in Chicago, vir die vakante posisie in die Amerikaanse hooggeregshof te nomineer, kan as ʼn briljante skuif beskou word om sy konserwatiewe nalatenskap vir dekades te verseker.

Sou Barrett deur die Amerikaanse senaat as regter bevestig word, kan sy vir drie of vier dekades ʼn regter in die hooggeregshof bly en daarmee Trump se nalatenskap lank ná sy vertrek uit die Withuis verseker, ongeag of dit nou in 2021 of in 2025 sal wees.

Die Amerikaanse hooggeregshof het nege regters wat almal lewenslange aanstellings kry. Wanneer ʼn vakante posisie in die hof ontstaan, kan die president iemand vir die posisie benoem. Die senaat voer eers onderhoude en dan ʼn openbare ondervraging met die kandidaat en stem daarna om die kandidaat te bevestig al dan nie. ʼn Benoemde het 51 stemme of 50 stemme en die stem van die adjunkpresident nodig om bevestig te word.

Die huidige samestelling van die hooggeregshof is drie liberale regters, vyf konserwatiewe regters (van wie veral hoofregter John Roberts soms saam met die liberale regters stem) en die een vakante posisie wat ontstaan het ná die dood van die liberale regter Ruth Bader Ginsburg. Sou Barrett se benoeming bevestig word, sal ses van die nege regters konserwatief wees.

Amy Coney Barrett het in Louisiana grootgeword en aan die private Katolieke universiteit Notre Dame in die deelstaat Indiana studeer. Sy was tot ʼn paar jaar gelede ʼn dosent in regte aan dié universiteit. In 2017 is sy deur Trump benoem tot ʼn posisie in die sewende appèlhof in Chicago. Barrett het ʼn indrukwekkende rekord as ʼn streng teksgetroue regter wat daarvan oortuig is dat regters wette, insluitend die Amerikaanse grondwet, letterlik moet interpreteer en nie hul eie gevolgtrekkings moet maak nie.

Daar is geen bewyse vir bewerings dat Barrett ʼn aktivistiese regter sal wees nie. Sy het juis ʼn rekord as ʼn regter wat al soms saam met liberale regters gestem het omdat sy wette daarvolgens geïnterpreteer het.

Barrett het die afgelope week afsprake met verskeie senatore by hulle kantore in Washington D.C. gehad. Haar onderhoud voor die senaat se justisiekomitee sal oor net meer as ʼn week begin en daar word verwag dat die Demokrate alles moontlik gaan doen om haar benoeming te laat ontspoor.

Twee gematigde Republikeine, Susan Collins van Maine en Lisa Murkowski van Alaska, kan moontlik teen Barrett stem. Dit laat die Republikeine met 51 stemme. Die kans dat nog ʼn Republikein teen Barrett sal stem, is klein, maar die party kan selfs nog een stem verloor omdat adjunkpresident Mike Pence dan die beslissende stem sal uitbring.

Belangrike sake oor aborsieregte, private wapenbesit, voorskrifte oor gelyke indiensneming, regeringsvoorskrifte oor die rol van geloof in die openbare lewe, die regte van onwettige immigrante en asielsoekers en nog omstrede aangeleenthede sal oor die volgende jaar of twee in die Amerikaanse hooggeregshof aangehoor word. Indien regter Barrett as regter in die hooggeregshof bevestig word, kan die hof moontlik verskeie uitsprake lewer wat die VSA in ʼn meer konserwatiewe rigting stuur met beperkings op die reg op aborsies, ʼn bevestiging van bestaande regte om wapens te besit, die verklaring van regstellende aksie as ongrondwetlik en beperkings op immigrasie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Human

Wat sou jy gemaak het as ‘n narsistiese en bombastiese boef, wat onwaarhede verkondig asof dit die alfa en omega is, jou die heeltyd in die rede val. Onder omstandighede, buite sy beheer, het Biden hom heel goed van sy taak gekwyt en was hy heeltemal te ordentelik, maar nou ja hy het baie meer inbors en karakter as die skobbejak, met wie hy moes redeneer en die ergste van als, Trump trëe op soos hy wil en sy opponente moet hom, altyd met handskoene hanteer.

annie

Sjoe, ons het darem ‘n paar erge verskaaptes in die land wat elke woord van CNN (Soros et al) glo, nogal so ver weg in die VSA. Al gehoor van politiek? En Biden se geboer in die Oekraìne toe hy vise-prez was en sy seun, woeps, ‘n toppos bekom het? Maar dis iets heel anders. So, watter erge rampe en oorloè het Trump begin? Wag vir oom Biden, maar dan sal die anti-Trumpette skielik tjoepstil wees.

Therese

Ongelukkig ‘n akkurate opsomming van die fiasko.
Chris Wallace se vertoning as ‘skeidsregter’ ook taamlik gemiddeld.
Onewewigtigheid wat deurskemer vererger sake en maak ‘n swak indruk.
Van Trump word bv. verwag om herhaaldelik verregses te verdoem, maar Biden ontken die bestaan van die linkse Antifa, én kom daarmee weg.

Bittergal

Die links liberale papbroeke wat te bang is om standpunt in te neem sal maar altyd daarop uit wees om Trump sleg te sê. Hulle moet maar vir ‘sleepy’ Joe Biden stem wat die VSA gaan verander in n sosialistiese welsynstaat.
TRUMP 2020

Dirk J

Die debat sal ek nie as ‘n barometer beskryf om die situasie in Amerika te beskryf nie. In die groter prent is ek van mening dat die republiekeine gaan wen en wel met ‘n groot meerderheid wat veral sigbaar sal wees in die kieskolleges. ‘n Derde politieke party wink op die horsison, n linkse sosialistiese derde party in die Amerikaanse politieke samelewing. En dit sal die republiekeine in staat stel om vir ‘n baie langer tydperk te regeer in die VSA. Donald Trump kry my stem.