Trump: Die begin van die einde van die Nuwe Wêreldorde?

Donald Trump

Foto: AP Photo/Paul Sancya

Teen hierdie tyd weet almal dat Donald Trump toe wel die presidensiële verkiesing in die VSA gewen het. Trump het Hillary Clinton verslaan in seker een van die belangrikste verkiesings in die VSA in die afgelope klompie dekades. Die verkiesing het basies nasionalisme voor globalisme verkies en die bestaande wêreldorde erg versteur. Hierdie rubriek op Maroela Media het reeds in Julie daarop verwys dat Trump gaan wen: “Hoekom Donald Trump die verkiesing in die VSA gaan wen”.

Tog gaan ons nie stilstaan by die verkiesing en wat nou in die VSA gaan gebeur nie. Daar is genoeg kenners, ook hier op Maroela Media se webtuiste, wat in die volgende paar weke uitstekende kommentaar daaroor gaan lewer.

Miskien net een kommentaar: dis eintlik ongelooflik dat Trump gewen het, aangesien hy ʼn veldtog teen “almal” gevoer het. Hy het teen beide die Demokrate en die Republikeine (se leierskorps) gewen, wat beide die bestaande orde in Washington wou behou. Hy het ook teen die magtigste nuusmedia geseëvier. Maak geen fout nie, die nuusmedia in die VSA is allermins onafhanklik. Hulle bedien beslis sekere belange in die Amerikaanse stelsel en hul eenogige beriggewing en openlike afkeur aan Trump het hom byna die presidentskap gekos. Trump het selfs die meningspeilings geklop!

Kom ons kyk eerder wat die hele veldtog van Trump beteken en wat sy oorwinning dalk vir die bestaande wêreldorde beteken.

Trump bevorder ses beginsels

Hier verwys ek graag ʼn uitstekende artikel wat so paar weke terug verskyn het (toe almal nog voorspel het Hillary Clinton gaan wen) deur ʼn Amerikaanse professor by Georgetown Universiteit, Joshua Mitchell, genaamd “Donald Trump Does Have Ideas—and We’d Better Pay Attention to Them”.

Die artikel sit uiteen dat daar ʼn sterk tendens wêreldwyd is om die Nuwe Wêreldorde, wat na die val van kommunisme in 1989 posgevat het, vaarwel toe te roep. Trump het hierdie wêreldorde met sy idees verwerp. Hy het ses idees gepropageer om hierdie orde te vervang:

  • Eerstens maak landsgrense wel saak (met ander woorde, jy is nie ʼn wêreldburger nie – globalisme, maar behoort aan ʼn staat – nasionale burger)
  • Tweedens ʼn roekelose immigrasiebeleid raak die inwoners van die gasheerland erg.
  • Derdens nasionale belange is belangriker as sogenaamde universele belange.
  • Vierdens entrepreneurskap stimuleer ekonomiese groei.
  • Vyfdens desentralisasie (oftewel selfbestuur) is belangrik.
  • Sesdens politieke korrektheid verwerp moet word.

As jy raakpunte hiermee in Suid-Afrika sien of almal (of meeste) van hierdie idees aanhang, is jy dalk niks anders as ʼn Trump-ondersteuner nie.

Die media in die VSA het hierdie soort nasionalebelangepolitiek as “populisme” voorgehou. Ondersteuners van nasionalebelangpolitiek in Europa word ook gereeld “verregses” of “populiste” genoem. Voorheen was populiste eerder ʼn woord wat vir kommuniste of “linkses” gebruik is. Populiste staan idees voor wat op onwerkbare utopia gerig is en kry so populêre steun. In die ou dae sou Julius Malema se Ekonomiese Vryheidsvegters (EVV) byvoorbeeld populiste genoem word met soms absurde beloftes.

Ewenwel, terug by Trump se ses idees of boodskappe. Hierdie is nie idees wat skielik posgevat het nie. Trump het dit net op sy eiesoortige manier oorgedra en eintlik ʼn rewolusie in die VSA begin teen die bestaande orde. Dis hoekom die Demokrate, die Republikeine (wel, baie van hul senior leiers)  en die mediahuise hom so graag wou sien verloor.

Trump gee eintlik vir ons ʼn sterk boodskap: die nasiestaat is belangrik. Mitchell skryf Trump se opgang beteken landsburgers het regte en hulle kan saamwerk om daardie regte te gebruik om hulself en hul staat te bevoordeel.

Ons het natuurlik oor die laaste paar jaar gesien hoe mense, veral in die VSA en Europa, teenstand begin bied teen die heersende wêreldorde. Die invloei van miljoene vreemde immigrante uit die Midde-Ooste en Afrika het die pot laat oorkook. Die hele Brexit-gedoente, waar die Britte besluit het om die Europese Unie te verlaat, is deel van hierdie verskynsel. Ook die opgang van “populiste” in Frankryk, Nederland en Duitsland, om maar ʼn paar te noem.

Die politiek waar die nasiestaat ʼn sterk rol speel, is natuurlik in openlike opposisie teen die heersende wêreldpolitiek, naamlik die afbreek van grense van die staat (globalisme) en sogenaamde identiteitspolitiek.

Die afbreek van grense en state word reeds vir 20 jaar deur die EU, vryehandelsooreenkomste en streeksorganisasies bevorder. In praktyk maak dit ʼn paar rykes ryker, verseker dat groot multinasionale maatskappye verder uitbrei, ontneem ontwikkelende state van hul beste breinkrag (want hulle gaan werk eerder in ontwikkelde ekonomieë) en benodig hande-, wat weer deur grootliks onwettige immigrasie na die ontwikkelde wêreld plaasvind. Baie beloftes word gemaak oor werk wat geskep gaan word, ensovoorts, maar daar is eintlik nie veel voordeel vir die spreekwoordelike man op straat nie.

Identiteitspolitiek en globalisme

Identiteitspolitiek het die laaste 25 jaar die wêreldorde oorheers en ons, ook hier in Suid-Afrika, word gereeld hieraan herinner deur soms absurde en politiek-korrekte optredes en gebeure.

Maar wat is identiteitspolitiek? Dit verwys na die neem van politieke posisies gegrond op die belange en perspektiewe van sosiale groepe met wie mense identifiseer. ʼn Hele mondvol. Voorbeelde hiervan is sosiale en identiteitspolitiek gebaseer op ras, klas, geslagsidentiteit, etnisiteit, nasionaliteit, seksuele oriëntasie, gestremdheid, godsdiens, kultuur, taal en dialek.

Ons word toenemend gestoomroller deur sogenaamde aktiviste (hulle staan ook bekend as sosialegeregtigheidstryders, wat op sigself nie polities korrek is nie) wat sulke identiteitspolitiek “speel”.

Die verskynsel is natuurlik ook baie sterk aanwesig in Suid-Afrika. Sogenaamde rassisme van wit mense, transformasie van bestaande sosiale en ekonomiese strukture, wettige diskriminasie teen wit mense, dekolonialisering van universiteite, wit simbole wat nie welkom is in die land nie, grondhervorming en grondgryp, ensovoorts, is almal voorbeelde van identiteitspolitiek wat aanvaarbaar geword het.

Ongelukkig sluit die identiteitspolitiek sekere mense uit. Ons sien toenemend dat groepe wat die ekonomie en politiek die afgelope paar eeue oorheers het, nie deel kan hê aan hierdie identiteitspolitiek nie. Dit is veral mans, wit mense, Christene en dalk moet ons byvoeg, heteroseksueles.

Deur hierdie argument kan mans, wit mense, Afrikaners, Christene en gesinne byvoorbeeld nie aandring op identiteitsregte in Suid-Afrika nie. Daarteenoor is swart sakeforums, Moslems, gays, daggarokers, armes, mense sonder grond, Engelstaliges en selfs vroue of gestremdes byvoorbeeld “aangewese” groepe wat wel identiteitspolitiek kan bedryf.

Ook in Europa sien ons talle voorbeelde van identiteitspolitiek. Die nuwe immigrante uit die Midde-Ooste en Afrika, Arabiere of mense wat Arabies praat, transseksueles, armes, Afrika of Moslem kulturele gebruike, ensovoorts, speel identiteitspolitiek, maar die Duitse nasionalis in Duitsland, wat Duits praat en trots is oor sy Duitse herkoms, word gesien as a bekrompe, verregs of ʼn populis.

Michell verwys daarna dat die idees wat Trump, Brexit en ander vir ons gebring het, die begin kan wees van ʼn nuwe wêreldorde. ʼn Wêreldorde met sy eerste verpligting teenoor strukture in die gemeenskap (soos die gesin, familie en gemeenskapsorganisasies), tweedens teenoor die vryemarkstelsel en derdens teenoor die staat. Van laasgenoemde word eerder verwag om die burgers te beskerm en nie om identiteitsbelange te bevorder nie. Die staat word nie gesien as ʼn middel om armes deur die staatskas te voed deur sosiale hulpskemas nie en heeltyd “sosiale ongeregtighede” uit te wys en te beveg nie.

Trump se oorwinning in die VSA bewys daar is wel ʼn alternatief tot die nuwe wêreldorde.

ʼn Nuwe wêreldorde

Dit beteken politieke partye sal wêreldwyd moet aanpas by die wêreldorde wat stadig maar seker besig is om te verander. Baie waarnemers wys reeds daarop dat daar nie veel sprake van identiteitspolitiek in groeiende ontwikkelende lande is wat al hoe meer na vore kom as wêreldleiers nie. Dit is dalk deel van hul sukses.

Hoewel sommige nou nie juis demokraties van aard is nie, is die aandrang eerder op nasionale belange as identiteitsbelange. Voorbeelde hiervan is China, Rusland (onder Poetin) en Japan. Die meeste groeiende ekonomieë in Asië bevorder glad nie identiteitspolitiek nie. Selfs Afrika het nie ʼn groot voorkeur vir identiteitspolitiek nie, maar die magsgreep van die elite en korrupsie veroorsaak dat daar nie juis voordele vir die gemeenskap is nie.

Daar is wel ʼn teenstrydigheid. Hoewel identiteitspolitiek nie deel van hierdie lande se eie beleidsraamwerk is nie, bevorder hul burgers wel identiteitspolitiek as hulle emigreer na ontwikkelde ekonomieë. Hulle gebruik dus eerder identiteitspolitiek teen die Westerse state om voordele te verkry.

Dit is nog te vroeg om te sê dat die bestaande globalistiese wêreldorde, wat ons reeds vir 25 jaar ken, gaan verander. Baie moet nog gebeur om identiteitspolitiek eerder in nasionale belange te laat verander. In Suid-Afrika voel dit soms of ons altyd ʼn dekade of twee agter wêreldnorme is en identiteitspolitiek word nou eers daadwerklik werklik deur belangegroepe en die media bevorder, al is die tendens dat die wêreldpolitiek juis verander.

Nietemin is dit ʼn tendens wat ons moet dophou. Sou Brittanje suksesvol afstig van die EU, kan ander volg. Trump se verkiesing kan nasionale belange voorrang laat geniet in die VSA en soos die identiteitspolitiek minder aantreklik raak vir Europese nasies, kan hulle ook wegbeweeg van die bestaande orde.

Trump se verkiesing kan nietemin ʼn rewolusie veroorsaak.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 25 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

42 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johann

100 vir jou. Het dit sien kom, die volk het gepraat, ongeag die oormag, mag die media volg.

Jan Els

Uitstekende artikel.

Jan van Riebeeck

Nico, jy was in die kol met die uitslag voorspelling, en waarskynlik met hierdie stuk ook. Die gewone mens aanvaar nie meer die media manipulasie nie (is identiteitspolitiek nie maar in ‘n groot mate ‘n produk van die media nie?) Baie goed geskryf, dit laat my met hoop en meer duidelikheid oor die pad vorentoe.
Is identiteitspolitiek nie presies wat toegepas is deur die media teen die Apartheidsregering nie? Die “struggle” wat so aktief in die media bevorder is was so ‘n geidentifiseerde groep.

Marius

Kom ons hoop dat die Afrikane wat eeue voor blankes hier was nie begin om ons uit die land te dryf met wetgewing wat sê ons hoort nie hier nie. Die geluide word reeds gemaak en die Trump oorwinning gaan dalk net stukrag aan so sentiment gee. Ons kan dalk as die indringers gesien word wat swart mense se werksgeleenthede weg kom vat het. Op ‘n skeefgetrekte manier kan dit dalk gebeur.

hans

“I will lock Mugabe and Museveni in prison if I become President” – Donald Trump vows.

Read more: http://buzzsouthafrica.com/robert-mugabe-asserts-adolf-hitler-is-donald-trump-grandfather/