Trump die twisappel

Donald Trump

Pres. Donald Trump. Foto: AP Photo/Evan Vucci

Deur Peet Bothma

Sedert die inhuldiging van pres. Donald Trump as die 45ste president van die VSA, verlede maand, behou hy sy status as ikoniese internasionale twisappel.

Die honderde openbare protesoptogte waartydens miljoene in ʼn staat van massahisterie kort ná sy inhuldiging teen sy presidentskap betoog het, is nou reeds ou nuus.

Uit die staanspoor is daar ook ʼn vurige debat oor Trump se verkiesing in die sosiale media gevoer. Aanvanklik oor die wettigheid van die verkiesing, daarna oor die inhuldigingstoespraak en nog later oor sy omstrede besluite. Dit duur ad nauseam voort.

Maar hoe is dit moontlik dat een leier soveel emosionele reaksie uitlok? Selfs in lande soos Suid-Afrika, waar ons veel kan sê oor ons eie president?

Dit het luidens mediaberigte aan die lig gekom dat een van Trump se grootste teenstanders, die Hongaars gebore miljardêr, George Soros, miljoene dollars aan dié georkestreerde openbare protes bestee het. Soros het nie net miljoene dollars aan Hillary Clinton se verkiesingsveldtog bestee nie – gerugte wil dit ook hê dat hy ʼn reusebedrag in ʼn weddenskap verloor het toe Clinton die presidentsverkiesing verloor het.

Die vraag is of die sosialemedia-veldtog teen Trump, wat oënskynlik spontaan ontstaan het, steeds só voortduur? Sommige ontleders vergelyk dit selfs met die rol van die sosiale media in die sogenaamde Arabiese Lente in die Midde-Ooste en Noord-Afrika in 2010. Die Dubai School of Government het ʼn studie oor die invloed van sosiale media op burgerlike verset gedoen en bevind dat daar teen Januarie 2011 ʼn gekoördineerde veldtog van verset was – veral om die bestaande leierskap te bevraagteken en om landsburgers aan te moedig om te onttrek aan staatsbeheerde prosesse.

Is dit nodig om die vraag te vra: Word die veldtog wat teen Donald Trump in die sosiale media gevoer word, georkestreer? Of is dit ʼn samesweringsteorie?

Ter plaatse word daar feitlik daagliks sogenaamde fopnuus oor Trump op die sosiale media versprei en gulsig deur sy opponente opgeraap. Dit is duidelik dat die debat oor Trump lank reeds enige balans verloor het. Reg of verkeerd, het hy die nommer-een-slaansak op veral Facebook geword.

Of mens nou verskil of saamstem met Trump se omstrede besluite, dit is altyd belangrik om die kaf van die koring te skei. Dit is ook belangrik om nie emosioneel te raak nie – ter wille van sinvolle debat.

Tans is daar selfs ʼn groepie op Facebook wat sover gaan as om te wonder wanneer Trump dan ʼn sluipmoordenaar ten prooi sal val?

Een aspek wat duidelik opval, is dat ʼn hele aantal plaaslike joernaliste nou gesoute politieke ontleders geword het en willekeurig hulle standpunte deel, sonder om vir een oomblik te huiwer by die beginsel van onpartydigheid in die nuus. Hulle deel houe links en regs uit en kan nie insien dat Trump inderdaad die verkose president van die VSA is nie.

Dit is nie alleen irriterend nie, dis onverskillig, want die groepie raak so Trump-behep dat hulle skynbaar die ware vraagstukke op eie voorstoep miskyk. Dis jammer, want debatsvoerders laat hulle onderrokke vér uithang en doen skade aan hulle eie reputasies.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

humor ·

Dit sal nie baie lank duur nie dan is al hierdie kritiek nie meer snaaks nie, en buitendien gaan Trump die hele spul verbaas

Willem ·

Ja, daar is hy nou, al het meeste mense in die VSA vir Hillary, nie Trump gestem nie. Hulle stemstelsel is eienaardig

John ·

Spontaan? Nee, slim georkastreer. CNN is Demokraties-gerig en skynbaar die voorbokke in die aanslag. Die res van die wereld het soos skape gevolg. Trump het daarna verwys. Christiane Amanpour, CNN se glo blinkste ster, se eggenoot, James Rubin, was bv Bill Clinton se regterhand en Hillary hul kandidaat. Die woede van die 2 vroue en die hoogsaangeskrewe tv-groep het oorgeborrel toe Hillary verloor. Amanpour, wat in Londen op skool was, se pa was ‘n boorling van Iran (glo ‘n Shi’ite-Moslem) en Ruben is Joods. Die CNN het ‘n internasionale werkkorps. Die VSA kry glo meer as 1 milj immigrante per jaar en nog soveel glip oor die grense. Die Demokrate se volgehoue stryd teen Trump kry baie strukrag van die’ massas liberale uitlanders en ryk uitlandse sakemanne.

Paul ·

Peet, jy kan nie sommer net skryf dat iets “luidens mediaberigte” die geval is nie. Die kastige bewerings oor Soros wat die veldtogte georkestreer het, kom van uiters twyfelagtige “mediaberigte” wat absoluut geen bewyse daarvoor het nie. Die ironiese is eintlik dat die kastige “bewyse” afkomstig is van ‘n opiniestuk op die New York Times deur Asra Nomani.
Dit is wel korrek dat Soros se Open Society al in die verlede geld geskenk het aan sommige van die organisasies wat deelgeneem het aan die Women’s March, maar “so what”?
As ‘n iemand geld geskenk het aan Pretoria FM in 2015, beteken dit dat daardie persoon alles orkestreer wat Pretoria FM in 2017 doen? Dis mos ooglopende nonsens.

Nou, ek het nie juis ooghare vir Soros en sy Open Society nie, maar net omdat mens nie van hom hou nie, beteken nie mens kan sommer lekker kluitjies bak nie.

Jy kan nie die waarheid van ‘n stelling beoordeel op grond van of jy daarvan hou of nie, Peet.

JC ·

Paul, Peet is geregtig om sy opinie/oortuiging te lug, en daar mag nie gepoog word om persone se oortuigings te smoor deur oordonderende kritiek nie…veral indien dit DUIDELIK is dat daar ‘n georkestreerde aanslag teen President Trump is. (wie terloops ek dink dit in sy stap neem en daarmee handel soos ‘n ervare politikus ;-)

Paul ·

Maar wat as hy stellings maak of herhaal wat GEEN bewyse daaragter het nie?

Indien niemand uitwys dat sulke stellings geen feitelike agtergrond het nie, hoe moet lesers op Maroela dit dan weet?

Die kritiek is slegs “oordonderend” omdat die kritiek geregverdig is.

Dark.O ·

Nou wat maak jou siening en vertolking van ń berig wetenskaplik en onpartydig, Paul? Of is dit die “waarheid” omdat jy so glo en sê? Ook dan maar net nog ń drogargument.

Henry ·

Oordonderend of te not.
Dit is ‘n openbare forum en indien mens iets kwytraak wat nie feitelik korrek is nie, kan daar tog geen beswaardheid wees, wanneer wie ookal daarop gewys word dat hy/sy besig is om perde kuttels as vye te smous nie.
:-)

Piet Snot ·

Paul, dit waaroor jy jou bekla, staan op ewe sterk pilare as die kritiek teen Trump.

Paul ·

Dark.O. Weereens stel ek dit maar net dat daar absoluut geen bewyse is vir die stellings dat Soros die “Women’s March” teen Trump befonds het nie. Dis al wat ek uitwys – dat Peet hierdie ongegronde beweringe herhaal sonder om enige konteks vir lesers van Maroela te gee dat dit eenvoudig ongegronde gerugte is. Dis ‘n swak standaard van beriggewing.

Die bewyslas lê by die een wat ‘n bewering maak.

Paul ·

Piet Snot, dit mag wees, maar net omdat een kant nonsens praat, beteken nie die ander kant is outomaties waar nie.
As Koos en Jan stry oor die antwoord van 2 plus 2, en Koos sê dis 5, dan is Jan nie outomaties reg as hy sê dis 3 nie.

Sarie ·

Soros is baie slim . Interssant om sy geskiedenis te volg. Hier is dit weer moeilik om die skyn en die waarheid te onderskei. Geld wat stom is maak reg wat kom is.

Paul ·

Ek is ook jammer om dit te moet sê, maar die tweede laaste paragraaf herinner nogal aan die dinge wat mens uit die kamp van die Zuma-juigkommando hoor.

humor ·

n Mens word nie net aan jou vriende geken nie. Dit is vir my net so waardevol dat jy ook aan jou vyande geken word en hieroor hoef Trump nou glad nie komplekse te he nie.

skorrs ·

Nugtere en objektiewe artikel waaraan die wereld deserdae ongelukkig erg gebrek gaan. Baie dankie daarvoor!

Kerkorrel ·

Trump verteenwoordig die blanke man , die mees gehate ras/geslag(manlike) in die wereld.
Dis die liberaal met al sy ateisme/kommunisme/haat/gebrekkige denkwyse teenoor die Konserwatief met sy nasionalisme/eie behoud/kultuur/identiteit (Trump)
As ons Trump pleks van FW De Klerk gehad het , was ons vandag nog n eerste wereld land.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.