Trump en die komende handelsoorloë

donald-trump-001-deur-gage-skidmore-flickr

President Donald Trump. Foto: Gage Skidmore/Flickr.com.

Dit was nogal vermaaklik om laas week te sien hoe die (meestal liberale) massamedia en politici, saam met die ondersteuners van ’n geïntegreerde wêreldekonomie, in die VSA en wêreldwyd met ongeloof gereageer het nadat president Donald Trump weer ʼn verkiesingsbelofte nagekom het. Trump het die aartsonde begaan om invoertariewe op staal- en aluminium-invoere in te stel.

Afgryse oor Trump se invoertariewe

’n Invoertarief van 25% gaan op staal gehef word en aluminium kry ’n 10%-invoertarief. Die VSA voer groot hoeveelhede staal in en Trump het kiesers in 2016 beloof hy sal in hul belang optree aangesien die staal- en aluminiumbedryf in die VSA erg benadeel word en duisende werkers weens globale handelsooreenkomste en vrye handel hul werk verloor het. Dit volg nadat Trump vroeër vanjaar ook tariewe op ingevoerde wasmasjiene en sonpanele ingestel het.

Die reaksie, soos die meeste reaksies op enige verkiesingsbeloftes wat Trump reëlmatig nakom, is iets tussen skok, woede en afgryse. Die grootste kritiek kom daarop neer dat Trump met handelsbeskerming (proteksionisme) besig is. Hy is besig om in te meng met vrye handel wat reeds vir 30 jaar wêreldwyd die botoon voer en hy gaan daarom ʼn handelsoorlog teen die VSA ontketen.

Die EU het reeds aangedui dat hulle die VSA kan straf deur invoertariewe op goedere soos denims, Harley Davidson-motorfietse en Amerikaanse whiskey oftewel bourbon kan instel. China het beloof om teenmaatreëls teen Amerikaanse produkte in te stel en Brasilië, wat heelwat staal na die VSA uitvoer, het ook teen optrede beloof.

Trump se argument is dat sekere lande staal stort op die VSA-mark, teen pryse wat goedkoper is as produksiepryse, met die oog om die VSA as staalprodusent te vernietig. Hoewel hy nie pertinent enige land genoem het nie, is dit duidelik dat veral die Chinese hulself hieraan skuldig maak. China is verantwoordelik vir 50% van staal-uitvoere wêreldwyd en het reeds heelwat lande, insluitend Suid-Afrika se staalbedryf, ernstige skade berokken. Dit is wel waar dat invoere van staal direk uit China na die VSA nie astronomiese bedrae beloop nie, maar China voer blykbaar staal deur derde lande na die VSA uit.

ʼn Komende handelsoorlog?

Die grootste kritiek is dat Trump ʼn soort tariefoorlog gaan begin wat die Amerikaanse ekonomie groot skade gaan berokken of nog erger ʼn nuwe wêreldwye instel van tariewe gaan veroorsaak wat ou handelsbeperkings gaan stimuleer. Blykbaar is Amerikaanse landbouprodukte veral in die visier van dié wat die Amerikaners wil straf.

Trump se argument is eenvoudig: eerstens het die VSA ʼn gesonde staalbedryf nodig vir nasionale verdediging. Hulle kan nie van buitelandse staalinvoere afhanklik wees om sy vloot, lugmag en weermag se wapentuig te vervaardig nie. Hierdie argument hou egter nie veel water nie, aangesien ’n baie klein gedeelte van die VSA se staalinvoere op wapentuig spandeer word. Buitendien lewer Kanada die meeste staal aan die VSA en Kanada is tans uitgesluit van die nuwe handelstariewe.

Trump glo verder dat die VSA se handelsooreenkomste onregverdig ten gunste van die oorgrote meerderheid van sy handelsvennote is. Die gevolg is dat die meeste VSA-handelsvennote verreweg ʼn handelsurplus teenoor die VSA het. M.a.w., die VSA voer heelwat meer van bv. China en Suid-Korea in as wat hy uitvoer. Hier het hy ’n punt beet. In enige handelsoorlog verloor die land met ʼn positiewe handelsurplus gewoonlik meer as die een met ʼn negatiewe handelsurplus. Trump argumenteer dus dat die VSA nie veel kan verloor deur sogenaamde handelsoorloë nie.

As ons die situasie na ons eie landstreek kan verplaas: Suid-Afrika voer heelwat vervaardigde produkte uit na bv. Mosambiek, maar voer maar min van Mosambiek in. As Mosambiek nou skielik ʼn nuwe invoertarief op vervaardigde SA-produkte sou instel, en Suid-Afrika vir Mosambiek straf deur in reaksie ook invoertariewe op Mosambiekse produkte instel, sal Suid-Afrika heelwat meer verloor as Mosambiek.

Die ander argument is dat dit vrye handel wêreldwyd negatief raak. Hier moet egter genoem word dat vrye handel maar ʼn wollerige konsep is. Daar is nooit regtig sprake van vrye handel nie. Daar bestaan gewoonlik soveel burokratiese rompslomp en doeanevereistes, veral in lande met lang invoerprosedures, dat dit in baie gevalle die verbruiker nooit die voordeel verkry van die goedkoop invoerproduk nie (selfs sonder invoertariewe).

Hoe dit ook al sy, Trump glo dat hy die hef in die hand het. Daar is seker waarheid in die argument dat enige handelsoorlog eintlik maar geen wenner het nie. Op een of ander wyse benadeel dit invoerders, uitvoerders en natuurlik die verbruikers. Vir Trump gaan dit om Amerikaanse werkers te beskerm en te keer dat nog meer werksgeleenthede verlore gaan in die Amerikaanse deelstate wat Trump se oorwinning in die VSA se presidensiële verkiesings moontlik gemaak het.

Die grootste wenners uit die relatiewe vrye handel wat tans bestaan is sekerlik die Chinese. Ten einde hul eie werkers te beskerm voer China in baie gevalle goedere teen sulke goedkoop tariewe uit dat jy telkens die kop skud oor sommige vervaardigde produkte se goedkoop pryse in supermarkte. Onlangs het die uwe ’n nuwe Chinese sambreel vir R22 aangekoop. Hoe kan die Chinese ʼn redelik ordentlike sambreel, wat R22 in SA kos, vervaardig, oor die bloue waters stuur teen groot koste en dan deur die kleinhandelaar verkoop (met sy eie winsmarge) en steeds ʼn wins maak? Ons weet almal van die goedkoop Chinese produkte wat oral beskikbaar is teen ’n appel en ’n ei.

Chinese produkte (sommige van vrot kwaliteit en ander baie goed) het wêreldwyd oorgeneem en daar is min wat regerings kan doen om dit te keer. Alles natuurlik ten koste van plaaslike indiensneming.

SA se trae reaksie teenoor storting

In Suid Afrika het die vrye handel natuurlik al groot skade aan die plaaslike bedrywe veroorsaak. Eers het goedkoop Chinese tekstielprodukte tot soveel as 90% van plaaslike werksgeleenthede in daardie bedryf laat verlore gaan. Die regering het soos gewoonlik met ongeërgdheid opgetree teen hul Chinese vriende. Later is tariewe ingestel maar die skade was reeds gedoen. Die staalbedryf het dieselfde oorgekom. Goedkoop Chinese staal het die mark binnegedring en ArcelorMittal Staal (die ou Yskor) sukkel nou nog om tot verhaal te kom. Ander SA staalvervaardigers (soos Evraz Highveld Steel) het reeds deure toegemaak. Die nuutste slagoffer is die pluimveebedryf. Goedkoop hoenderprodukte stroom van Brasilië en Europa in en duisende werksgeleenthede is reeds verloor.

Die SA regering se reaksie was tot dusvêr maar bra flou om die bloeding te stop. Dit plaas natuurlik net nog meer druk op die staat om die werkloses te versorg. Die middelklas in Suid-Afrika is natuurlik die melkkoeie wat moet pa staan vir die trae reaksie van die regering wat meestal om politieke redes nie handelsvennote soos China, Brasilië en Indië wil aanvat nie.

Wat ook al gebeur met die komende handelsoorlog is onseker. Dalk sal Trump nuwe werk skep in die VSA, maar in die proses ander bedrywe soos die landbou skade aanrig. Sommige ekonome verwag ’n kleiner impak aangesien die meeste lande nie hul handel met die VSA wil skaad deur ’n handelsoorlog te begin nie

Nieteenstaande kan niemand vir President Trump beskuldig dat hy nie sy verkiesingsbelofte nakom nie, of dat hy nie Amerikaanse werkers probeer beskerm nie.

Daar is sekerlik ʼn paar lesse wat politici daarby kan leer.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 25 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

VanAfrika ·

Dis hoekom ek Suid Afrikaanse produkte en materiaal koop. Ons goed is duurder maar kwatliteit die beste en goed hou langer en kan langer gedra word, so hou ons ook ons winkels se deure oop, Ek probeer veral by blanke Afrikaners te koop om te verhoed dat meer van ons in plakkers kampe of verkeerligte op land. Ondersteun ons mense is my beleid.

fritz breitenbach ·

dit kan ons ekonomie baie help as ons ook sulke invoer tariewe instel

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.