Trump en die tameletjie van Iran

Die Amerikaanse president, Donald Trump, spreek die media toe tydens ’n mediakonferensie na aanleiding van ’n beraad vir staatshoofde en regeringshoofde by die NAVO-hoofkantoor in Brussel. (Foto: Markus Schreiber, AP)

Baie mense, in en buite Amerika, ervaar pres. Donald Trump van die VSA steeds as bombasties, arrogant en doodeenvoudig gevaarlik; hy dreig hier en daar en verbreek die een ná die ander internasionale ooreenkoms. Die rede? Sy mantra is een van “Amerika eerste en basta met die res”. Sy volgelinge in Amerika, lede van die Republikeinse Party, is heel tevrede hiermee, want hy is glo vir ’n groeikoers van 4% in die Amerikaanse ekonomie verantwoordelik.

Die res van die wêreld voel egter nie so nie. Trump het onlangs gesê hy gaan Amerika van ’n belangrike internasionale militêre ooreenkoms met Rusland, die International Range Nuclear Forces (INF) van 1987 onttrek. Ingevolge hierdie ooreenkoms, wat net ná die val van die Berlynse muur gesluit is, onderneem Rusland om nie meer missiele met ’n gemiddelde reikafstand te vervaardig nie. Trump sê Rusland hou nie by die eereenkoms nie; Rusland sê dis omdat Amerika missielbasisse in lande soos Pole, Tjeggië en ander oprig. Dis volgens Rusland nie in die gees van die ooreenkoms nie.

Hoe dit ook al sy, Trump se dreigement is gevolg deur President Putin van Rusland wat die wêreld “verseker” het Rusland sal nie die eerste kernbom gooi nie, maar indien hy met kernwapens aangeval word, hy met vuur en swael sal antwoord. Nogal onrusbarend, nè, veral as ’n mens in ag neem dat Amerika meer as 4 000 en Rusland meer as 6 000 kernbomme het en albei fluks nog bou. Rusland sê ook hy het ’n “onvernietigbare” wapen ontwikkel wat hy kan gebruik.

Wat ’n mens verder bekommer, is dat Trump Amerika uit die een ná die ander internasionale ooreenkoms onttrek met die verskoning dat dit nie in Amerika se belang is nie. Só het hy Amerika aan die Paryse Klimaatsooreenkoms van 2015 onttrek met die verskoning dat dit China onregmatig bevoordeel, maar China sê ontwikkelende lande soos hyself moet aan minder streng maatreëls onderwerp word totdat hul nywerhede die vlak van die ontwikkelde lande s’n bereik het. China het sowel die ooreenkoms onderteken, as geratifiseer. Ratifikasie beteken dat ʼn land se parlement ʼn internasionale ooreenkoms goedkeur en wetgewing implementeer om aan die vereistes daarvan te voldoen.

Trump het ook, in weerwil van die bepalings van die Wêreldhandelsorganisasie (WHO), doeanebelasting op invoere vanuit China ingestel. Hy het Amerika van die Noord-Amerikaanse Vryehandelsooreenkoms (Nafta) met Mexiko en Kanada onttrek en wil heronderhandel. Amerika eerste, is sy refrein.

Een van die mees kontroversiële onttrekkings is dat Amerika sy ooreenkoms van 1955 met Iran wil laat vaar. John Bolton, Trump se raadgewer oor internasionale sake, bestempel Iran as ’n “terroristestaat” wat terrorisme in Irak en ander dele van die Midde-Ooste aanwakker. Bolton is natuurlik een van die besluitnemers wat gesorg het dat Amerika sy oorlog in Irak begin. Dis ook hy wat Trump aangeraai het om te onttrek uit ’n kernooreenkoms wat die Verenigde Nasies en president Obama met Irak aangegaan het. Ingevolge die ooreenkoms het Iran onderneem om sy kernwapenprogram te staak in ruil vir geld en ander voordele. Amerika dreig ook om sanksies teen enige land in te stel wat voortgaan om sake met Iran te doen… en dit sluit Suid-Afrika in, wat groot hoeveelhede olie uit die land van die sjah van ouds invoer.

Amerika se tradisionele vennote in Europa – Brittanje, Duitsland en Frankryk – weier om Amerika na te doen. Daar is geen rede nie, want Iran, sê hulle, hou by die voorwaardes. Om eerlik te wees, Trump is nie die enigste een wat internasionale ooreenkomste verbreek nie. Selfs Suid-Afrika wil van die Roomse Statuut en die Wêreldhof in Den Haag onttrek.

Amerika se geskiedenis is nogtans besaai met internasionale ooreenkomste wat óf nie geteken is nie óf nie deur die huis van verteenwoordigers en senaat geratifiseer is nie. Amerika het aanvanklik die Roomse Statuut van 1998 onderteken, en toe onder leiding van president George Bush onttrek. Dit beteken dat geen Amerikaner voor die Internasionale Strafhof gedaag kan word vir oortredings soos massamoord of enige oortreding in die aanhoudingsentrum in Guantánamobaai, Kuba nie. Dis by laasgenoemde dat Afghaanse en Irakese gevangenes gemartel is, wat president Obama beloof het gesluit gaan word, en vandag nog oop is. President Trump het onlangs die Wêreldhof as ’n “stuk gemors” bestempel, hoewel Amerika, vreemd genoeg, die meeste van die koste betaal om dit in stand te hou.

Maar kom ons gaan verder terug: daar word beraam dat Amerika se bevelhebbers net enkele van die meer as 300 bilaterale ooreenkomste wat hy met die inheemse bevolking aangegaan het, eerbiedig het. Oor sommige is weer onderhandel, die res is bloot geïgnoreer of nie geratifiseer nie.

Die Comprehensive Nuclear Test Ban Treaty van 1966 is nie deur Amerika (saam met China, Egipte, Indië, Iran, Israel, Noord-Korea en Pakistan) geratifiseer nie. ’n Ooreenkoms om die misbruik van myne teen mense hok te slaan, die Ottawa-verdrag van 1997, is saam met 32 ander lande geteken, maar nie geratifiseer nie.

Amerika het nooit die Ooreenkoms van Versailles – ingevolge waarvan die Eerste Wêreldoorlog beëindig is – geratifiseer nie, hoewel Amerika een van die argitekte daarvan was. Die Geneefse Ooreenkoms van 1954 ingevolge waarvan die Koreaanse en Indo-Chinese Oorlog beëindig is, is nooit deur Amerika onderteken nie. China, Viëtnam, Frankryk Rusland en Brittanje het wel geteken. Amerika het ook nooit die Konvensie vir die Eliminasie van alle Diskriminasie teen Vroue (1979) geratifiseer nie. Dieselfde geld vir die Konvensie vir die Regte van die Kind (CRC) van 1989. Ook die Wet van die See van 1982 is nooit deur Amerika geratifiseer nie. So kan ’n mens aangaan…

Voeg daarby dat Trump en Bolton sulke taal gebruik dat Noord-Korea totaal verwoes gaan word, dat Amerika Iran van die aarde gaan afvee, en ’n mens wonder waar dit alles gaan eindig. Sulke woorde sal natuurlik goed verstaan word deur Trump se kieserskorps in die aanloop tot die verkiesing, maar ’n mens wonder hoe die buitewêreld dit beleef. Vir baie mense is Trump en Amerika boelies wat wil maak en breek, arrogant is en hulself as beter as ander beskou. Die probleem vir Trump is dat hy vyande maak sover hy gaan en daagliks besig is om die wêreld ’n onveiliger plek te maak.

Intussen sit Trump nog met twee dilemmas: die moord op die Saoedi-Arabiese joernalis Khashoggi, en vlugtelinge wat uit Honduras deur Mexiko op pad is na Amerika. Trump se onderrok het met die moord op Khashoggi so ver uitgehang, ’n mens kon aanvoel hoe hy tog net wens dat die probleem in die niet sal verdwyn en Amerika kan aangaan om miljarde dollars se wapens aan Saoedi-Arabië te verkoop.

Maar, wie glo nog Amerika verdien die reg om ’n morele oordeel oor ’n ander land uit te spreek?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Maro ·

Op die stadium is ek meer bekommerd oor Rusland se uitlatings. Klink of hulle goed besig is met wapens bou. Maar dit pla nie die media nie.

nico k ·

Ek stem heeltemal saam met Trump dat hy eerste aan sy eie land moet dink. Veral as dit by ekonomiese sake kom. Maar ‘n kern oorlog is iets anders. Al hou ons nie van Iran nie, moet mens partykeer ooreenkomste sluit met sulke lande. Geen land in die wêreld kan homself meer afsonder en sê ek het niks met die ander te doen nie. Ek wonder hoe kragtig is al die kernwapens wat in die wêreld bestaan as dit saamgevoeg word?

Erwee ·

Die probleem met kernwapens is dat die vuurpyle wat die wapen aandryf nie betroubaar genoeg is nie dus hulle is bang hulle blaas hulle self op

Judge Dredd ·

En tog spreek die VN morele oordeel oor ander lande – Saudi Arabia is selfs tot die VN vroue regte kommisie verkies nog voordat hulle vroue toegelaat het om motors te bestuur – lol.

sweiz ·

Presedent Trump is volgens my mening die beste leier in die wêreld en net hy kan die diewe in suid afrika onder beheer hou so asb bring die sanksies terug.

Ronnie ·

Die waarheid het maar ‘n manier om uit te kom. Dit is hoogs waarskynlik dat die ongeregtighede wat Trump en sy mafia tipe vriende deur al die jare gepleeg aan die lig sal kom. Dit kan dalk net die skelms in SA na amateurs laat lyk.

Twakkie ·

Met al die vals “nuus” en eensydige menings wat tans oral uit die media op die publiek neerreën, glo ek nét wat ek mense soos Bolton en pres. Trump self in ‘n video sien sê. Met ander woorde, ek wantrou enige verslae van wat iemand konsuis sou gesê het. Ek het dus pres. Trump by verskeie geleenthede self sien sê dat hy die VSA onttrek uit ooreenkomste wat bloot beteken Amerikaanse belastingbetalers dra die res van die wêreld finansieel. En hy onttrek die VSA uit alle wapenverdrae waar die ander kant in elk geval nie by die ooreenkoms hou nie. Hy meen as dit bekend is dat Amerika enige aggressor in konflik kan ore aansit, is dit die beste afskrikmiddel. En hy het ook by verskeie geleenthede gesê dat die VSA nie meer in ander lande se interne probleme gaan inmeng nie, tensy burgerlikes met chemiese wapens aangeval word. In Khashoggi se geval weier pres. Trump om te gaan rusie soek met ander lande en dus Amerikaners in gevaar te stel omdat een persoon homself deur sy eie optrede in gevaar gestel het. Pres. Trump het ‘n leeftyd van bewese sukses agter hom en niks wat ek hom tot dusver sien sê het, of enige van die resultate van sy optrede, sal my beweeg om gewone joernaliste se opinies oor hom bo my eie oordeel te stel nie.

julius ·

Twakkie hier stem ek saam met jou. Trump werk teen die nwo en dit is wat die mense nie van hou nie. Hierdie eensydige kritiek wat ons daagliks lees is niks anders as propoganda nie en daarom vat Trum ook die nuusblaie vas wat so lieg.

Pieter ·

Ek vat Trump enige dag bo enige van die clowns in ons regering

VanAfrika ·

Daar was en sal nooit weer so n goeie President wees nie. Hy doen wat hy gesê het hy gaan doen. Hy het al my respek, al van Celebrity Apprentice dae af en toe ek hoor hy hardloop vir President, toe steun ek hom ten volle.

Hendrik le Roux ·

Dit is ongekend hoe liberale media Trump probeer slegpraat. Ongelukkig is daar min konserwatief denkende joernaliste oor. Goeie antwoord.

Ronnie ·

Trump se “bewese” sukses is ‘n stuk of ses bankrotskappe.

Judge Dredd ·

Ronnie as jy R10 miljoen rand het en jy kry ‘n lening van R20 miljoen rand om ‘n besigheid/gebou te ontwikkel – voordat daardie gebou voltooi is dan is jy tegnies ook bankrot.

DG ·

Nou het Iran dan hulle kernprogram gestaak ? Na bewering – gladnie. Veral Israel se mnr Netanyahu beweer dat Iran net hulle vermoee verder uitbrei. Nou as dit waar is, wat dan?? Moet Amerika eers wag dat Israel gebombardeer word voordat aksie geneem word ?
Ek dink mnr Trump neem die regte voorsorg, dit is beter om die vrot oop te vlek as om ‘n blinde oog te gooi en te maak asof niks verkeerd is nie.

Ronnie ·

Trump het nie ‘n buitelandse beleid nie. Hy het net besigheidsbelange oral en ‘n obsessie om alles wat Obama tot stand gebring het te vernietig. Hy is die mees onkundige en onbetroubare president ooit en kan reeds nie meer beskou word as die leier van die vrye wereld nie. Hy is ‘n ontluikende diktator en raak gevaarliker by die dag. Hy is tot enige-iets in staat om die aandag af te trek van homself en om hom en sy kinders te beskerm teen dreigende kriminele aanklagte. Hy sal oorlog verklaar as dit moet en hy sal sy ondersteuners opsweep tot so mate dat dit binnelands tot al groter geweld sal lei. Volgelinge is meer beskrywend as ondersteuners. Trump is meer ‘n leier van ‘n kultusbeweging as ‘n leier van ‘n volk.
Hy probeer sy bes om ‘n einde te bring aan die Mueller ondersoek en het nou drastiese stappe geneem om dit te bewerkstellig. Hy het Sessions nou vervang met Whitaker wie hom baie terwille is en hom moontlik sal beskerm. Dit gaan egter nie so maklik wees om internasionale ondersoeke na beweerde geldwassery te keer nie.
Slegte nuus vir plaaslike Trump ondersteuners, hy weet nie waar SA is nie en hy gaan niemand hier kom red nie. Pompeo gaan ook nie kom kuier nie. Hoogstens sal die Suid Afrikaans gebore handsak ontwerpster Ambassadeur word. Hy mag dalk net belangstel om haar toe te laat om die Trump naam te gebruik teen ‘n fooitjie om haar handsakke hier te bemark.

Ellisras ·

Ronnie. Dit is ‘n raak antwoord. Ingelig en alles wat jy sê motiveer jy. Ek sou graag wil weet wat laat mense dink Trump kom Suid Afrika “red”

John ·

Trump-haters moet maar skuilings begin bou op Antarktika saam met Iran en die EU. Navo sal julle beskerm met die hulp van N-Korea. Ek dink net julle moet wag vir die volgende 007-fliek om te weet wat jul volgende aksies moet wees. Natuurlik is die sigaarvormige gedoente wat nou op die aarde afpeil iets wat Putin en Trump saam ontwerp het so tussen die gekonkel met Hillary se stemme deur. Maar not to worry uiteindelik sal sy die kans kry om eerste die rooi knoppie te druk en die atoombom af te vuur na die VSA se eie basis in Hawaii… per geluk… toe sy die tandeglasie wou raakvat…

Ronnie ·

John, my kommentaar is nie op haat baseer nie, wel op feite. Trump is ‘n selferkende krimineel. Hy is openlik omtrent sy motiewe vir die afdanking van James Comey en nou vir die afdanking van Sessions. Hy wil ‘n einde bring aan die Meuller ondersoek want dit is vir hom ‘n bedreiging. Kom ons hoop maar Trump kom tot ‘n ooreenkoms met die FBI en met die Kongres om eerder te bedank onder een of ander voorwendsel om hom die verleentheid en gevolge van vervolging te spaar en hy kry sy koers. So ooreenkoms moet hom verhoed om sy volgelinge verder op te sweep. Dit is dalk ‘n pypdroom… maar ek kan hoop. En daar is natuurlik die Putin faktor. Kanse is dat hulle weer binnekort in Parys sal samesprekinge voer. Privaat en agter geslote deure. Dit is kommerwekkend. Wat het hulle om weg te steek?
Hy kan dalk ‘n bloutjie loop met Whitaker. Dit is in alle waarskynlikheid ‘n onwettige aanstelling en enige aksie wat Whitaker dalk mag neem sal ook onwettig wees.
Daar hang ‘n donker wolk oor Whitaker se kop in elk geval. Hy was betrokke by onwettige skemas om arm mense uit hulle geld te bedrieg Die skema was beboet met $26 miljoen. Dit wat die siviele kant van die saak betref. Wat as Trump se beskermer nou nog ook kriminele klagte in die gesig staar? Dit kan mos nou nie vir hom werk nie.
Amerika is ‘n kruitvat.. een vonkie is dalk een te veel.

Kryger ·

@Ronnie; Jy se Pres Trump is ‘n selferkende krimineel, maar jy kan dit nie staaf nie? Weet jy ooit wat “selferken” beteken? Dan gaan jy verder deur te se hy “is eerlik oor sy motiewe” om James Comey af te dank. Maar weereens verduidelik jy nie waar was hy kamstig eerlik oor dit?
James Comey het Hillary Clinton onskuldig bevind oor die 33000 e-mails op haar private server wat (teen ‘n hof beslissing) vernietig is en onwettig op die einste server in die eerste plek was. James Comey mag dit nie gedoen het nie, en sal later vervolg word hiervoor. Hoekom voel jy hy moes nie afgedank word nie?
So is Sessions ook oneerlik gewees en mag die president hom vra om te bedank (jy was oneerlik om te se hy is afgedank), maar al het Pres Trump hom afgedank, is dit sy reg. Pres Trump is immers deur die meerderheid state verkies, nie Meuler, Sessions of Comey nie.
Meuler is al twee jaar besig met ‘n hekse jag wat begin het met die Demokrate se aangestelde storie verteller, maar hy het nog geen bewyse gekry nie… Voel jy Amerika moet nog geld mors op dit, of eerder die bron van die storie begin ondersoek?
Voor pres Trump as president verkies was het hy al oor Suid Afrika gepraat, hy ken ons land en is deeglik bewus van wat hier aangaan,
Nee wat Jerry, jy is ‘n Trump hater!

Anton X ·

Ek verlekker my in die patetiese pogies van party mense om Trump te beledig. Hulle probeer so hard om hom verkeerd te bewys. Tog, ‘n man met beginsels, wat bo andere uitgestyg het. En ooooooooh, die jaloesie.
Ek stel voor julle kry eers ‘n antwoord vir jule eie probleem, voordat julle op Amerika kommentaar lewer.

Hoe ry die boere sit, sit so……..!

Rooi Jan ·

Anton kan jy vir ons se presies wat is Trump se beginsels? Behalwe dat hy glo dit is n man se reg om n vrou sommer aan haar geslagsdele te gryp om te wys hoe manlik hy is?

Frans C ·

Daar word soveel dinge gesê in die berig en kommentaar daarop dat dit te veel is om op te reageer.Dus bepaal ek my by Iran. In Mei 2018 vuur Iran 20 vuurpyle af op Israel se militêre posisies in die Golan hoogte.

Niks te vinde in die plaaslike pers nie.In ‘n teenaanval val Israel se vegvliegtuie Iran se
militêre installasies nie in Iran maar in Sirië aan.Iran weier om sy troepe uit Sirië te onttrek en bly daar met die verskoning dat dit help om mynvelde op te ruim.

Dit is te danke aan Rusland en Iran se teenwoordigheid in Sirië wat help om diktator
aan bewind te hou/’n Man wat nie geskroom het om gifgas teen sy eie mense te gebruik
nie.Op https://www.reuters.com/article/us-mideast-crisis-syria-iran/iran-says-to-maintain-military-presence-in-syria-despite-u-s-pressure-idUSKCN1LD1JQ kan jy ‘n foto kry wat wys hoe lekker ‘Syrian President Bashar al Assad meets with Iranian Defence Minister Amir Hatam’ met mekaar gesels.

Die wêreld veral Westerse lande swyg,want hul wil nie hul handelsbande opvoeter nie.
Amerika se Trump mag grootmond wees, my hy is die enigste een wat opdrag gegee het
dat ‘n poging aangewend moet word om Sirië vir sy gifaanval te straf.

Die wêreld draai sy rug en hoe hul self blind vir dit wat werklik daar aangaan.

Dave ·

Nogal jammer dat ‘n Afrikaanse sg. obkektiewe nuus berslaggewer soos Maroela hom ook deur die antiTrump liberale media aan die neus laat lei. Die kern ooreenkoms van Obama met Iran was die heel grootste klug van alle eeue en Mossad het oor en oor bewys dat Iran op geen wyse sy kernprogram gestaak het nie. En wat Trump se uitstappery uit die glonal warmimg ooreenks betref: Mens kan met ‘n tang aanvoel dat daardie ooreenks opgemaak is en tien keer meer globalistiese politiek bevat as werklike kommer oor klimaatsveranderimg. Trump staan by wat reg is en is die beste wêreldleier wat ons in 100 jaar grsien het.?

Ronnie ·

Dave, lees onderaan die artikel: Hierdie meningstuk is deur ‘n onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. Ek herhaal dit maar hier vir jou vir maklike verwysing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.