Trump internasionale beleid realisties

2016 Election Trump

Donald Trump Foto: AP Photo/John Locher

Indien ’n mens die hoofstroommedia in die VSA volg sal jy maklik oortuig word dat Donald Trump se voorgenome internasionale beleid sonder enige fokus is.

Die waarheid is egter dat ’n duidelike internasionale beleid wat ou gewoontes ignoreer en uiters realisties na die ware kwessies van die tyd en na Amerika se rol in die wêreld kyk, besig is om binne die Trump-kamp te ontwikkel.

Sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog was die VSA se groot stryd teen Kommunisme en die Sowjetunie die groot dryfveer agter Amerikaanse internasionale selfvertroue. President na president ,van Eisenhower tot Obama, het eers Kommuniste en ná die val van die Sowjetunie die Russe as vyand nommer een bly beskou ten einde die Amerikaners se drang na ’n gemeenskaplike vyand te bevredig.

Rusland is egter lankal nie meer die grootste bedreiging vir die VSA nie. Ekonomies hou lande soos China, Indië en selfs Mexiko weens swak arbeidspraktyke en die manipulasie van hul geldeenhede baie groter bedreigings vir die VSA in. Op die terrein van veiligheid word die VSA baie meer deur Moslem-terrorisme en onwettige immigrasie as deur Rusland, Kuba en ander vyande uit die middel van die 20ste eeu bedreig.

Trump se keuse van Rex Tillerson as minister van buitelandse sake is ’n duidelike sein oor hoe Trump internasionale verhoudinge gaan bedryf. Tillerson word as een van die briljantste bestuurders en internasionale ekonomiese strategiese denkers in die VSA bestempel. Met sy aanstelling is dit duidelik dat Trump ’n baie sterk fokus op ekonomiese aangeleenthede gaan hê. Die beskerming van Amerikaanse bedrywe, werkskepping en billike internasionale handel bly van Trump se sterkste fokusareas.

Tillerson werk reeds vir dekades in die oliebedryf en het regoor die wêreld deur die bou van sterk verhoudinge, goeie onderhandelingsvermoëns en ’n goeie begrip van geopolitieke veranderinge, Exxon Mobil se posisie versterk en uitgebrei.

Hy is die afgelope ruk sterk gekritiseer weens sy goeie verhouding met Wladimir Poetin van Rusland en ander Russiese politici en sakelui. Die realiteit is egter dat Tillerson se pragmatiese houding jeens Rusland heeltemal sin maak wanneer die ou politieke strategieë van die 20ste eeu begrawe word en daar met realisme na die uitdagings van die 21ste eeu gekyk word.

Die Trump-kamp se aandrang op die vervanging van Rose Gottemoeller as adjunkhoof van die Noord Atlantiese Verdragsorganisasie is ook die afgelope tyd deur die media gekritiseer. Die realiteit is egter dat die VSA te veel geld onnodig op Navo bestee terwyl Navo ’n uiters beperkte bydrae tot Amerikaanse veiligheid lewer.

Indien die VSA se internasionale beleid op die bevordering van sy eie ekonomiese en veiligheidsbelange en ook op ’n veiliger, billiker wêreld gefokus is, dan moet Amerika minder op kammabedreigings uit Rusland fokus en eerder immigrasie uit Moslem-lande en die Derde Wêreld beperk en aktief Moslem-terrorisme teenwerk. Konvensionele oorloë in die Midde-Ooste bied geen oplossing nie. Die herstel van bande tussen die VSA en die Midde-Ooste en die bevordering van billike ekonomiese geleenthede, in plaas van Amerikaanse imperialisme, is ’n veel beter oplossing. Trump se huidige internasionale beleid mag nog heelwat gate hê, maar lyk toenemend meer realisties as dié van onlangse Amerikaanse presidente.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Loeis ·

‘n Goeie artikel, Jaco.

Voeg by bg. hoe Trump onlangs ‘n gelukwensing vanaf die president van Taiwan (wat in die praktyk ‘n 100% onafhanklike land is) aanvaar het. Dit het die Chinese taamlik ontstel. Dit herinner mens aan die ANC se onlangse reaksie toe die die burgemeester van Pretoria Taiwan besoek het (asof dit ‘n sonde is). Die punt waarby ek probeer uitkom is dat Trump se buitelandse beleid interessante gevolge vir Suid-Afrika mag inhou, veral gegee die (baie realistiese) kritiek wat hy al teen hierdie regering uitgespreek het.

Dinge gaan interessant raak.

Bruno Stef ·

Al wat ek wil se ” Is gee die maer hond wind” baie van die ultra liberaliste gaan nog hulle bevooroordeling moet sluk.

gatiep ·

Baie mooi geskryf Jaco dis hoogtyd dat ons mense wakker word en nie net vir Rusland as n rooi gevaar beskou nie.Kyk n slaggie wat om jou aangaan en vra vir jouself of dit die soort lewe is waar jy n kind wil grootmaak in.Trump is n draaipunt in wereld wat moes kom een of ander tyd ,want die belaglike wereld waarin ons nou lewe kan nie vir ewig aangaan nie.

Frik ·

Gatiep. Donald Trump is die beste ding wat met Amerika kon gebeur het, korttermyn en so effe medium termyn. Maar, op die langtermyn is daar nie veel hoop nie. Trump is hoeka van die laaste bastionne wat nog aktief is. So, Trump kan twee termyne hou, en dan?

Hendrik ·

Mense, van waar kom hierdie bewondering vir Putin en Rusland?
1. Putin sy politieke opponente brutaal onderdruk in en buite Rusland; die Britse geheime diens het n paar jaar gelede in n uiters ongewone stap ‘n verslag bekendgestel oor so ‘n moord in London.
2. Die inval in die Krim gebied wat deel is van die Ukraine, ook aanvalle in die Ooste van die Ukraine, wat die afskiet van passasiersvliegtuig insluit.
3. Die vier grootste VSA spioenasie agentskappe wat vandag in Washington gaan getuig oor Putin se persoonlike betrokkenheid by inmenging in die VSA verkiesing.
4. Rusland se hulp aan die Siriese regeringsmagte deur onder andere tot hospitale in Aleppo to bombardeer – aanvalle op burgerlikes en rebellemagte wat teen Asad en Isis veg.

Ons moenie dat die selfversekerde manier van hoe sulke bullebakke praat, ons laat miskyk oor hoe hulle internasionale reg verbreek nie. Trump self stel ‘n klomp mense aan ontken dat die mens se doen en late ‘n wesentlike rol speel in klimaatsverandering speel. Voor ons die gedagte sommer net so eenkant toe skuif, dink aan daardie boere in Suid-Afrika vir wie die droogtes al hoe erger en langer raak. Ons kan ons konserwatiewe waardes op ‘n ordentlike, beskaafde wyse uitvoer, gedryf deur ons beginsels, en nie soos Trump wat sy mantel na die wind draai nie. Voor hy sy verkiesingsveldtog begin het, het hy sy standpunt oor aborsie en wapens 180 grade gedraai ter wille van stemme. Ek kan nie sulke mense respekteer nie.

Ebert Terblanche ·

Beste Hendrik, die artikel stel nie voor dat ons van Trump of Putin hou nie. Dit wys bloot uit dat die werklikhede van die 21ste eeu anders daaruit sien as die werklikhede van die 20ste eeu, en dat aanduidings daar is dat die Trump-administrasie (let wel nie die persoon nie), tekens toon dat hul die nuwe werklikhede beter begryp as vorige administrasies.

Ongeag hoe vieslik Putin is, is sy – en Rusland – se vermoë om die veiligheid van die VSA te bedreig uiters beperk. Rusland beskik eenvoudig nie oor die militêre vermoë om met die VSA te kompeteer nie. Rusland beskik ook nie oor die ekonomie om die VSA se militêre voorsprong in te haal nie. Dieselfde tegnologiese agterstand geld vir China en enige ander land wat op ‘n konvensionele wyse die VSA sal wil aanvat.

In hierdie opsig is dit reg dat die Trump-administrasie fokus op die interne probleme wat die VSA se leiersrol kan bedreig. Dit is ‘n ekonomie wat nie meer kan vervaardig nie, ‘n burgery wat voel hul leiers is nie aanspreeklik nie en onbeheerbare immigrasie.

Hendrik ·

Goeie punte Egbert, maar ongelukkig loop die bewondering vir beide Putin en Trump maar baie dik op die webblad. My punt is juis dit – kom ons hou by ons konsertiewe waardes sonder om hierdie bullebakke as on prinse op wit perde te sien. Putin is ‘n sluwe skelm en Trump se begins word deur sy medium-termyn doelwitte bepaal. Indien Trump toegelaat word om veragtend teenoor klimaatsverandering op te tree, gaan dit katastrofiese gevolge vir ons planeet, en veral ons boere, hê.

James ·

@Hendrik, die einste vier VSA spoienansie-agentskappe het ook hoog en laag gesweer dat Sadam Husain “weapons of mass destruction” het. Laat mens maar wonder …..

Hendrik ·

Sovêr ek kan onthou was die agenskappe baie minder baie minder oortuig van die wapens van massavernietiging as die politici …

Frans C ·

Die tyd is verby dat Amerika die wêreld se probleme moet oplos. Hoe meer hulp Amerika verleen hoe meer afhanklik word die lande wat dit ontvang van dit.Afrika het bv ‘n bodemlose put geword,want so vinnig iets opgebou word,so vinnig word dit op baie plekke deur magbelustigde mense vernietig.

Nato lyk ‘n tamelike tandelose organisasie te wees want hoekom het hul nie teen Rusland
opgetree toe sy grondvergrype en stadige grensverskuiwing plaasvind nie.Die Europeërs
moet leer om op hul eie voete te staan en minder op Amerika staatmaak om die kastaiings
uit die vuur te krap.

Die Europeërs maak hul grense oop vir miljoene vlugtelinge uit Afrika maar is blind vir dit wat op hul grense plaasvind.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.