Trump kan verloor, maar Republikeine is ware wenners van verkiesing

Joe Biden. (Foto: AP Photo/Carolyn Kaster)

Terwyl dit lyk asof Joe Biden, presidentskandidaat van die Demokratiese Party in die VSA, ʼn naelskraapse oorwinning in Dinsdag se verkiesing gaan behaal, was daar egter heelwat meer wenners en verloorders ná ʼn verbete stryd om setels in die Amerikaanse kongres en in die wetgewers van die 50 deelstate.

Die grootste wenners in die verkiesing was die Republikeinse Party wat teen alle voorspellings in die senaat behou het, die Demokrate se meerderheid in die huis van verteenwoordigers drasties verklein het, ʼn ekstra goewerneurskap gewen het en in talle deelstate beheer oor wetgewers oorgeneem het. Ná Dinsdag se verkiesing beheer die Republikeine 27 goewerneurskappe, terwyl die Demokrate in slegs 23 deelstate die goewerneurskap beklee.

Die meeste Amerikaanse deelstate het hul eie senaat en huis van verteenwoordigers. In twee deelstate is daar net een wetgewende liggaam. Ná Dinsdag se verkiesing beheer die Republikeine 60 uit die 98 wetgewende liggame in die deelstate nadat die Demokrate nie daarin kon slaag om een van hul teikens vir oorname te bereik nie. Die Republikeine het in New Hampshire ʼn verrassingsoorwinning in dié deelstaat se huis van verteenwoordigers behaal.

Pres. Donald Trump. (Foto: Randy Hoeft/The Yuma Sun via AP)

Terwyl Dinsdag se stempersentasie van 65% die hoogste in ʼn Amerikaanse verkiesing in meer as 100 jaar is, was dit juis die hoë stempersentasie wat dit vir die Republikeinse presidentskandidaat moeilik gemaak het om te wen. Die party wen gewoonlik verkiesings wanneer daar ʼn laer stempersentasie is omdat die Republikeine se steun in meer ylbevolkte landelike gebiede is. Trump se amper 70 miljoen stemme is die meeste wat enige Republikeinse presidentskandidaat nog ooit op hom kon verenig. Sowat 27% van alle kiesers wat vir Trump gestem het, is lede van minderheidsgroepe en dit is die beste prestasie vir ʼn Republikeinse presidentskandidaat onder minderheidsgroepe sedert die verkiesing van pres. Dwight Eisenhower in 1956. Dit beteken dat die Republikeinse Party onder Trump begin het om dit reg te kry om heelwat meer steun onder konserwatiewe kiesers in minderheidsgroepe te kry.

Ná Dinsdag se verkiesing sal die rol van spesifieke individue in die Amerikaanse politiek oor die volgende paar jaar van groot belang wees. Sou Biden, wanneer die laaste stemme getel is, as president bevestig word, sal ʼn interessante verhouding tussen die Withuis en die Amerikaanse kongres ontstaan. Hier is sommige van die wenners en verloorders van Dinsdag se verkiesing.

Wenners

Joe Biden

Sou Biden, soos wat verwag word, finaal deur die kieskollege aangewys word as Amerikaanse president, is dit ’n groot oorwinning vir hom ná 47 jaar in die Amerikaanse politiek en twee vorige mislukte pogings om president te word. Biden was ’n flouerige kandidaat en hoewel sy verkiesing baie meer te doen het met ’n afkeur in Trump onder ’n meerderheid van Amerikaners as met Biden se eie gewildheid en steun vir sy beleidsvoorstelle, verdien Biden krediet vir ’n verkiesingsveldtog wat sonder die soort insident wat sy veldtog kon sink, verloop het. ’n Uitdagende tyd lê vir hom voor terwyl hy eenheid binne die Demokratiese Party moet probeer verseker en terselfdertyd rekening moet hou met ’n senaat wat deur Republikeine beheer word.

Kamala Harris. (Foto: AP Photo/John Locher, File)

Kamala Harris

Indien Biden die volgende president van die VSA gaan wees, sal Kamala Harris outomaties as ’n gunsteling beskou word om hom op te volg. Biden sal moeilik meer as een termyn as president dien en sou sy eerste termyn nie rampspoedig verloop nie, hy besluit om uit te tree en Harris as adjunkpresident ’n sterk rol speel, sal sy die gunsteling wees om in 2024 tot die volgende Amerikaanse president verkies te word.

Mitch McConnell

Senator Mitch McConnell van Kentucky het Dinsdag sy herverkiesing met ’n wegholoorwinning behaal, ten spyte daarvan dat die Demokrate meer as $100 miljoen op ’n enorme veldtog teen hom spandeer het. McConnell is die leier van die Republikeinse meerderheid in die senaat en was die afgelope paar jaar suksesvol daarin om eers tydens Barack Obama se presidentskap te verhoed dat Obama linkse regters aanstel, terwyl hy tydens president Trump se termyn leiding geneem het met die verwerping van klagtes teen Trump, die goedkeuring van belastingverligting en die aanvaarding van meer as 400 konserwatiewe regters. Die Republikeine gaan waarskynlik beheer oor die senaat behou en dit sal McConnell een van die magtigste mense in die VSA maak omdat Biden oor byna elke beleidstap wat hy wil neem, met McConnell sal moet onderhandel. Die linkses se planne vir ’n groot en duur omgewingsinisiatief, verhoogde belasting, die toevoeging van nuwe deelstate (Washington DC en Puerto Rico) en die uitbreiding van die hooggeregshof sal deur McConnell en die senaat geblok word.

Mike Pence. (Foto: Toru Hanai, AP)

Mike Pence

Toe president Trump Woensdagoggend ’n woedende toespraak vanuit die Withuis lewer waarin hy beweer dat verkiesingsbedrog gepleeg is, het adjunkpresident Mike Pence rustig agter hom gestaan. Nadat Trump gepraat het, het Pence op sy gebruiklike kalm, presidensiële wyse almal wat by die veldtog betrokke was, bedank. Pence (61) sal, sou hy wou, maklik in 2024 ’n kandidaat vir die Republikeine vir die presidentskap kan wees. Pence se politieke posisie in die VSA is steeds sterk en hy word deur die meeste mense in die Republikeinse Party gerespekteer.

Lindsay Graham

Senator Lindsay Graham van Suid-Carolina het ook Dinsdag ’n verbete stryd met miljoene dollars wat van buite die deelstaat in ’n veldtog teen hom spandeer is, oorleef om tot nog ’n termyn verkies te word. Graham is die senaat se voorsitter van die regskomitee en dit is waar persone wat as regters genomineer word, verskyn en goedgekeur word. Graham sal waarskynlik saam met Trump en McConnell probeer om nog tientalle regters voor Biden se inhuldiging bevestig te kry. Daarna sal hy ’n aktiewe rol speel om nominasies deur Biden te ondervra en dan te verhoed dat hulle bevestig word.

Die kieskollege en federalisme in die VSA

Die VSA se sterk federale karakter en die motiewe van die oprigters van die moderne Amerikaanse staat was Dinsdag duidelik weer sigbaar. Vir ’n kandidaat om tot president van die VSA verkies te word, moet jy steun in genoeg deelstate kry. Die president van die VSA is nie ’n posisie wat ingestel is om ’n sentrale staat te versterk en vanuit Washington DC oor die volk te regeer nie. Dit is ook waarom dit nie die kiesers is wat direk die president verkies nie, maar wel die vyftig deelstate deur middel van die kieskollege. Die Republikeine se vermoë om beheer oor die senaat te behou, bewys die krag van die federalisme, en die gesonde magstryd wat oor die volgende vier jaar tussen die senaat en die Withuis voorlê, sal juis die demokrasie in die VSA versterk en verhoed dat ’n stedelike elite buitensporig baie mag kan bekom.

Verloorders

Donald Trump

Wat Dinsdag duidelik geword het, is dat hoewel president Trump se ekonomiese beleid steeds redelik gewild onder baie Amerikaners is, en baie Amerikaners tevrede is met sy benadering tot buitelandse aangeleenthede, het sy verdelende optrede en onpresidensiële gedrag in die guns van die Biden-veldtog gespeel. Dit is nie soseer dat Biden en sy veldtog Demokrate geïnspireer het om vir hom te gaan stem nie, maar eerder dat ’n afkeur en selfs haat vir Trump tot ’n ongekende hoë stempersentasie onder Demokrate aanleiding gegee het. President Trump is steeds geliefd onder baie Republikeine, maar sy bombastiese optrede die afgelope vier jaar het veroorsaak dat die veldtog teen hom uiteindelik oorweldigend was.

Nancy Pelosi. (AP Photo/Alex Brandon)

Nancy Pelosi

Politieke kommentators in die VSA het voor Dinsdag se verkiesing voorspel dat die Demokratiese Party sy meerderheid in die huis van verteenwoordigers vanaf 35 (232 teen 197) tot 45 gaan verhoog. Intussen het die teenoorgestelde gebeur met die Republikeine wat verskeie setels wat hulle in 2018 verloor het, teruggewen het. Teen die tyd wat die stemme alles getel is, kan die Republikeine soveel as 210 lede in die Huis hê teen minder as 220 vir die Demokrate. Die Demokrate se speaker van die Huis, Nancy Pelosi, gaan nie net met ’n baie klein meerderheid van Januarie af moet werk nie, maar haar leierskap kan heel moontlik ook deur sommige Demokrate uitgedaag word. Pelosi se onwilligheid om die afgelope paar weke met die Trump-administrasie oor ’n opvolg- ekonomiese hulppakket te onderhandel, het waarskynlik bygedra tot haar party se verloor van verskeie setels.

Chuck Schumer

Die leier van die Demokrate in die senaat, Chuck Schumer was voor die verkiesing oortuig dat hy ná die verkiesing die magtige posisie as leier van die meerderheid sou kon inneem. Dit gaan waarskynlik nie gebeur nie en Schumer en sy span se onvermoë om meer Demokrate tot die senaat verkies te kry, plaas ’n demper op sy vermoë om vir lank voort te gaan as leier van die Demokrate in die senaat.

(Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Die geloofwaardigheid van die kiesstelsel

Elke deelstaat in die VSA bepaal self die reëls waarvolgens ’n verkiesing in daardie deelstaat gehou word, hoe en waar kiesers stem, hoe stembriewe getel word en hoe dit gerapporteer word. Die suksesverhaal vanjaar was deelstate soos Florida en Ohio waar stemme vinnig en doeltreffend getel is en die uitslag binne drie of vier uur nadat stemlokale gesluit het, bekend gemaak is. Die teenoorgestelde het egter in Pennsilvanië, Michigan, Wisconsin, Georgia en selfs dele van Arizona en Nevada gebeur. Die uitgerekte telproses en politici in sommige deelstate se besluit om toe te laat dat stembriewe nog ná stemdag kan arriveer, het ruimte geskep vir bewerings van kiesersbedrog. Verder is die besluit van Pennsilvanië dat partye se waarnemers nie by die telproses teenwoordig kon wees nie, onnodig en verkeerd. Terwyl dit goed en reg is dat elke deelstaat sy eie reëls maak, het die geloofwaardigheid van verkiesings in sommige deelstate groot skade gelei en kan hulle gerus by Ohio en Florida oor beter stelsels gaan kers opsteek.

 

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Dries ·

Dankie Jaco. Het gewag vir hierdie waarheid. Sou dit nerens anders nou kon kry nie

Piet ·

Miljoene meer Amerikaners het vir Biden in plaas van trompetter gestem. Dis die wil van die mense en ware demokrasie.

nell ·

Nee Piet dit was die wil van die liberales en beslis nie die van die meerderheid mense en die demokrasie nie. Demokrasie is as’t ware ‘n nekslag toegedien. Kyk tog asb verder as net die CNN en ander liberale en eendersdenkende nuus kanale. Dalk sal jy dan ‘n vollediger prentjie kry van wat werklik in sommige state met die stemmery gebeur het. Weet jy hoeveel bedrog is daar van die demokrate se kant by die stemlokale en met die stemtellery gepleeg? Ek kan jou vir ‘n hele ruk daarmee besig hou.

Vrijburger ·

“Trump is an indictment of America’s ruling class.”

Jammer Trump is nie weer verkies nie, maar hy het sy doel gedien – Hy het die politieke elite, die demokrate en die (s)linkse hoofstroom media ontbloot vir wie en wat hulle is.
Konserwatiewes is wakker geskud. Maar ook gematigde liberales se oe het oopgegaan mbt die bedreiging van die radikales in hul party.
Verder is die onsigbare grens vir minderhede (Latinos en African-Americans) as Republikeine gebreek.
Die suksesse/groei van die Republikeine in die Senaat en die Huis van Verteenwoordigers is aanduidend van begenoemde.

Ps. Hou ‘n ogie op Ted Cruz van Texas vir die toekoms.

Frans ·

Die gedurige afkraak van Trump deur die hoofstroom media en sy beleid oor immigrasiebeheer, klimaatverandering en moeilike ekonomie agv die Covid-19 pandemie het sy tol geëis in die verkiesing.
Die feit dat die Amerikaners ‘n man verkies wat oor sy woorde struikel met ‘n dame wat deelneem onder die vaandel van ‘n ‘Black American’ wat sy nie is, haar ma is van Indië en haar pa van jamaika.
Sy is dus veelrassig maar gee haarself voor as synde ‘n ‘Black American’ te wees.
Trump se verloor is mi ‘n gatslag nie net vir die konserwatiewe Amerikaners nie maar vir die konserwatiewe wêreld wat briek aandraai teen Sjinese ekonomiese oorheersing.Dit word beraam dat daar in die nabye toekoms daar 400 miljoen middelklas Sjinese gaan wees.Dit is meer as die totale Amerikaanse bevolking en dat Sjina die wêreldekonomie gaan domineer en ook hierdie keer skotvry gaan kom oor die Covid-19 pandemie wat daar sy oorsprong het.
Niemand behalwe Trump is bereid om hul daaroor aan te pak nie,

Ratel ·

Frans, ek sal graag wil leer hoe Amerikaanse ekonomiese oorheersing so fantasties vir die wêreld was en hoe Chinese ekonomiese oorheersing so sleg gaan wees?

Josef du Toit ·

Deurgaans uitstekende verslaggewing en analise van die Amerikaanse verkiesings, baie dankie! Trump het daarin geslaag om die inmengende nieu-behoudende beleid van George W Bush ‘n nekslag te gee binne die Republikeinse Party, maar sy onbeskofte aangryping van die laagste gemene deler het altyd ‘n moontlike kiem van selfvernietiging gedra. In die Republikeinse voorverkiesings in 2016, was dit tragies om te sien hoe die grondwetlik-behoudende en vlymskerp ideologies-beredeneerde Ted Cruz, die onderspit delf teen origens oppervlakkige Trump se swartsmeermasjien. Dat die hoofstroommedia en sosiale media miljardêrs se meedoënlose veldtog teen die Trump-presidensie moontlik op hul beurt Trump gekelder het, is nie juis onverwags nie. Ten spyte van Republikeinse teenwigte in die Amerikaanse parlement en deelstate, moet die vernietigende bedrog van ‘n Biden (Zuma) / ekstremisties radikale Harris (Malema) se moontlike Wit Huis intrek nie onderskat word nie.

Therese ·

JK se Trump-artikels is ‘n Oase van Objektiwiteit in ‘n Woestyn van Vooroordeel en Venyn.
Respek en waardering daarvoor.
My teleurstelling is groot en hart séér saam met 70 miljoen Amerikaners.
Verbysterende bewerings van stembedrog (Fox en Breitbart) moet ondersoek word ter wille van toekomstige geloofwaardigheid.
Ted Cruz, Jim Jordan en vele ander sal tog nie sit en leuens vertel nie.

Human ·

Al wat nie normaal is, is wanneer Trump lieg sonder om ‘n oog te knip en nou wil hy voorgee daar is bedrog gepleeg, hy wat die grootste bedrieër is. Fox en Breibart is desperaat en hulle weet die koeël is deur die kerk.

Piet ·

Die Republikeine is besig om in hul tradisioneel, sterk deelstate te verloor. Georgia byvoorbeeld is laas in 1992 deur die Demokrate gewen. Boonop gaan die verskil tussen die algehele, totale stemme nog groter wees ten gunste van die Demokrate as die vorige verkiesing. Hoe enige iemand kan dink dat die Republikeine die eintlike wenners kan wees, gaan my verstand te bowe.

Jaco ·

Beste Piet. ‘n Mens moet die uitslae omvattend beoordeel om te sien waar die Republikeine orals goed gedoen het. Ja Biden wen die Withuis en die Demokrate gaan die Huis van Verteenwoordigers met ‘n klein meerderheid beheer, maar die Republikeine beheer na Dinsdag se verkiesing meer goewerneurskappe, meer wetgewers in deelstate (60 van die 98 wetgewende liggame) en nog talle ander posisies wat beteken dat ten spyte van Biden se oorwinning Republikeinse kandidate daarin kon slaag om kiesers te oortuig om vir hulle te stem. Die enigste twee tipiese Republikeinse deelstate wat Trump verloor het, is Georgia en Arizona, maar in beide het die Republikeine in die deelstate se eie wetgewers goed gedoen.

Human ·

Beste Jaco soos jou en vele ander se voorspelling dat Trump ‘n kans staan om te wen? Somtyds moet ‘n mens maar ‘n knippie (sak) sout vat saam met dit wat opgedis word as menings.

Piet ·

Die VSA se “vreemde” kiesstelsel (wat so terloops al erg gekritiseer is) kan ‘n verwronge beeld skep wat jy nie andersins in ander demokratiese kiesstelsels sal vind nie. Die punt is dat meer mense proporsioneel vir die Demokrate hierdie verkiesing gestem het in vergelyking met die verskil in getalle in die vorige verkiesing, Die Republikeine verloor ook nou deelstate wat hulle die vorige verkiesing gewen het. Het die Republikeine enige deelstate by die Demokrate afgevat? Hoe kan dit ‘n verbetering wees? Deur die paar ligstraaltjies uit te lig wat deur die groot donkerwolk breek en dit te verheerlik en die groot donkerwolk te verberg, skep ‘n skewe beeld. Dis soos om jou kop in die sand te steek en die vragtrein te ignoreer wat in aankoms is.

Paul ·

Die Republikeine is (nog) nie in beheer van die senaat.
Die finale (senaat) verkiesings vir Georgia vind eers op 5 Januarie plaas.

Jaco ·

Paul. Hierdie artikel is Donderdagoggend geskryf toe dit nog gelyk het asof daar nie tweederonde verkiesings in Georgia nodig sal wees nie. Jy is egter reg oor die tweede ronde verkiesings op 5 Januarie. Indien ‘n mens na Dinsdag se uitslae in die twee senaatsverkiesings in Georgia gaan kyk en indien jy in ag neem dat Demokrate die Withuis gaan beheer dan behoort daar ‘n baie sterk kans te wees dat die Republikeine die twee senaatsetels sal behou. Ek is dus redelik sterk oortuig daarvan dat die senaat vir die volgende twee jaar onder die beheer van die Republikeine sal bly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.