Trump maak fout met aanval op Iran

Donald Trump

Pres. Donald Trump. Foto: AP Photo/Evan Vucci

Almal wat ’n paar jaar gelede die televisiereeks The Apprentice gekyk het, sal onthou dat Donald Trump ’n meester is in die skep van afwagting vir ’n groot aankondiging. Sedert hy in Januarie president van die VSA geword het, pas hy ook hierdie beginsel in die aankondiging van belangrike beleidsbesluite toe. Die afgelope paar weke het Trump groot afwagting geskep vir ’n belangrike aankondiging oor die kernooreenkoms wat twee jaar gelede tussen die VSA, Frankryk, Brittanje, Duitsland, China, Rusland, Die Europese Unie en Iran oor Iran se kernprogram gesluit is.

Sedert die ooreenkoms op 14 Julie 2015 in Wene, Oostenryk, gesluit is, het die internasionale atoomenergie-agentskap in agt verskillende verslae bevestig dat Iran die ooreenkoms nakom. Iran se kernfasiliteite is deeglik deur die agentskap ondersoek en daar bestaan internasionale konsensus dat Iran sy deel van die ooreenkoms nakom. Trump het egter reeds tydens verlede jaar se Amerikaanse verkiesingsveldtog teen die ooreenkoms uitgevaar en dit as ’n swak en gevaarlike ooreenkoms beskryf. Sedertdien het hy herhaaldelik beweer dat Iran nie die ooreenkoms nakom nie.

Volgens wetgewing wat deur die Amerikaanse kongres aanvaar is, moet die Withuis elke 90 dae sertifiseer dat Iran die ooreenkoms nakom en dat die verslapping van Amerikaanse sanksies teen Iran steeds in die VSA se belang is. Trump het hierdie afsnydatum gebruik om oor die afgelope paar weke afwagting vir sy groot toespraak oor Iran te skep.

Verlede Vrydag het hy sy langverwagte toespraak gelewer waarin hy ’n hele lys klagtes teen Iran voorgehou het. Party van die klagtes, soos dat Iran die terreurgroep Al Kaïda ondersteun het, is lank reeds weerlê, terwyl ander meer geldige klagtes 30 en selfs 40 jaar gelede relevant was. Ná al die afwagting wat geskep is, moes Trump darem probeer om die persepsie te skep dat Iran die monster is wat, hoewel hy die woorde van die kernooreenkoms nakom, op een of ander manier nie die gees waarin die ooreenkoms gesluit is, eerbiedig nie.

Trump het egter op advies van sy adviseurs en kabinetslede nie sover gegaan om hom aan die ooreenkoms te onttrek nie. Waarin hy egter wel geslaag het, is om die VSA se geloofwaardigheid oor Midde-Oosterse sake verder te ondermyn en die verhouding met Europese bondgenote, wat almal by die ooreenkoms staan, skade te berokken.

Trump is toenemend onder invloed van drukgroepe, insluitende wapenvervaardigers, wat nie kan wag vir die volgende Midde-Oosterse oorlog nie. Ook Israel jaag die spanning tussen die VSA en Iran op in sy eie belang. Nog ’n belangrike bron van die kwaad is die spanningslyn tussen Soenniete- en Sjiïete-Moslemlande. Iran verteenwoordig die sentrum van Sjiïete-herlewing, terwyl die Amerikaanse regering reeds vir lank in ’n ongesonde verhouding met Soenni-lande soos Saoedi-Arabië staan.

Trump se bewering dat Iran regoor die wêreld chaos saai is selfs meer verregaande as party van sy ander ongefundeerde opmerkings van die afgelope paar maande. Die realiteit is ongelukkig dat spanning en uiteindelik selfs oorlog met Iran vir die VSA en/of sy bondgenote in die Midde-Ooste min voordele kan inhou en die streek selfs in meer chaos kan dompel. Die Amerikaanse regering sal die verlede agter hom moet plaas en met groter realisme na hedendaagse Midde-Oosterse magsverhoudinge moet kyk. Dit sal egter net sonder die geraas van steunwerwingsgroepe kan gebeur.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Cherokee ·

Waarskynlik jou eie gevolgtrekking Jaco Kleynhans, wat nie noodwendig aanvaar word bloot omdat jy so dink nie.

Waarheid asseblief ·

Het Jaco Kleynhans ‘n ogie op ‘n vakante pos by CNN?

Gjorgi ·

Maak julle oë oop. Julle stem nie saam met Jaco nie want om een of ander rede dink julle Trump is die messias. Dink en kyk na die saak soos grootmense en nie soos stoute kinders nie man

Ernie ·

Heeltemal korrekte opsomming, Jaco. Dit wil lyk of Trump al meer die geveg met die groot geldmagte verloor en hom laat lei deur mense met ‘n heel ander agenda. Miskien is dit net geldgierigheid. Met Iran gaan die Amerikaners egter hulle rieme styf loop, terwyl die res van die wereld, insluitende Europa, hierdie keer nie die VSA sal ondersteun nie. Slegs Saudi Arabië en Israel sal voordeel daaruit put, tesame met al die VSA wapenvervaardigers. Kom ons hoop nugtere denke oorwin.

Tiaan ·

Ek stem saam met die internasionale atoomenergie-agentskap, indien Iran die ooreenkoms nakom waarom wil Trump nie die ooreenkoms nakom nie?

Haan ·

Hy maak nie n fout nie, hy voer bloot die bevele van sy meesters uit.
Ek is nooit op die Trump-treintjie gewees nie en ek stel voor diegene wat wel is moet mooi besin oor wie hierdie man werklik dien. Hy flous baie mense onder die dekmantel van “konserwatisme”

Hy is besig om Amerika in n oorlog in te lei.

Generaal Wesley Clarck (1 mei 2003)
“this is a memo that describes how we’re going to take out seven countries in 5 years. Starting with Iraq and then Syria, Lebanon, Libia, Somalia, Sudan and then finishing off with Iran”

Januarie 27, 2017: Trump inisieer die reisverbod op bogenoemde lande, wat deur die media bestempel is as die “muslim ban”

Januarie 29, Iran laat vaar die Amerikaanse dollar (treë in werking die 21ste maart)

2 Februarie, Trump twiet dat Iran op amptelike kennisgewing geplaas is vir die afvuur van n ballistiese missiel (Trump tik hulle oor die vingers en sê hulle moet dankbaar wees vir die “iranian nuclear deal” SELFS al was dit nie n kern-missiel nie… Maw heeltemal wettig)

Ensovoorts ensovoorts

Gaan lees die boek “which path to persia” en besef dat die glorieryke held Trump eintlik maar net nog n marionet is.

Casper ·

Hi Jaco – sinvolle mening, dankie. Maar gegewe Iran se haat vir Israel en hul beleid om Israel te vernieting, sal ek as VSA president baie versigtig wees om Iran te vertrou met enige iets wat Israel se vernietiging kan veroorsaak.

Marisa ·

Die laaste reeks van The Apprentice het in 2006 ten einde geloop, Jaco! Dis meer as ‘n ‘paar jaar gelede’! Dit tersyde, die saak is baie meer ingewikkeld as wat jy dit laat klink!

Israel ·

ek glo nie hy skep afwagting nie , ek dink hy doen behoorlik sy huiswerk , net soos alle presidente het hy raadgewers en glo my Trump het n paar baie goeie’s

Darius Els ·

Pres Trump het wel besigheidbestuur geswot,MAAR,her 5 Jr as jong offisier diens gedoen in die VSA. se weermag,as Artillerie lid van hul spesmagte.
Trump weet oenskynlik BAIE meer as u MNR Kleynhans.
Die Pres se Min van Verdediging is n afgetrede 4 ster General van Spesmagte, Gen J Mathis.Of soos verlede ons geleer het,weet u seker beter.
Gaan gerus MAAR voort en bestuur Oranje,blyk die beste beroep vir u te wees.

Richard ·

Hy was nooit lid van die weermag nie, Darius. Hy was slegs in ‘n private hoërskool met ‘n militêre inslag. Die skool is nie deel van die weermag nie. Dis nie “jong offisiere” wat daar skoolgaan nie, dis eenvoudig skoolkinders.

Hugo D ·

Die teendeel is die waarheid hy is wat bekend staan as n “draft dodger” met 6 verskillende uitstelle na hy opgeroep is vir n voet probleem (ons sou 50 jaar later uitvind dit was oor die’ in sy mond is) hy was wel in n rykmans privaat skool wat “kadette” gehad het vir speel speel soldaate. glad nie n werklike militere skool nie – ek bly in die VSA – so doen maar navorsing self, nou speel hy, hy is die leier van die wereld.

Kosie Kramer ·

Daar is `n gedeklassifiseerde State Department dokument op die net beskikbaar wat die VSA se posisie teenoor Iran duidelik stel: Iran is nie `n gevaar nie, maar slegs Israel mag die reg hê tot kernwapens in die Midde-Ooste. En dis heelwaarskynlik die Israel-lobby (onthou: Trump se skoonseun is Joods), wat die Withuis nou druk.
Darius, jy sê Trump was artillerielid van die VSA se spesmagte. Ek het nooit geweet enige land se spesmagte het actually `n artillerie-eenheid nie. Sover my kennis strek, was genl Mathis `n marinier (US Marines); hulle is nié spesmagte nie.

Hugo D ·

Ek woon in die VSA en die mense wat Trump so blindelings ondersteun in SA verbaas my werklik, ek is konserwatief in idiologie, maar Trump is verseker alles behalwe. Sy uitgangspunte is geensins verskillend van die van Mugabe nie, tog sien baie Afrikaners hom as een of ander rol-model, julle is aan die verkeerde kant van die geskiedenis as julle die’ immoreele leunaar nie sien vir wat hy is nie, hy vernietig die Republikeinse party eiehandig.

Andries Erwee ·

Flip Buys noudat meer mense geskryf het, besef ek hoe onregverdig my oorspronklie reaksie was.

Die meeste kommentaar is wel deurdag en gebalanseerd.

trublu ·

Ek sou wat wou gee om so n patriotiese president soos Trump te kon kry….sy enigste motto is om sy Land en sy mense eerste te stel…..hy haat korrupsie….het intussen n minister wat te veel rondrits in n jet gefire…..hy bring die belasting af van werkers en hy skep meer werksgeleenthede met beter salarisse….dis mos nou n president Duisend!!

Hendrik ·

Trump bly maar Amerika se hanswors. Eintlik is hy n verleentheid vir selfs die meeste republiekeine. Van al sy beloftes wat hy gemaak het, kon hy nog net een regkry, naamlik om n konserwatiewe hoofregter aan te stel. Terwyl hy nie Obamacare kan vervang nie, ondergrawe hy dit deur befondsing te ontrek, sonder om iets in die plek daarvan te plaas. Onafhanklike analise het ook bewys sy belastingplan sal die rykes baat ten koste van die middelklas en armes. Hy is ook totaal onsuksesvol met Noord Korea. My eerste stem as VSA burger sal wees om hom te verwyder.

Petrus ·

Een ding is seker. Mense het kant gekies vir of teen Trump. In die oë van die een groep kan Trump niks reg doen nie en in dié van die ander kan hy niks verkeerd doen nie.

Ons almal se menings word maar gevorm deur tweedehandse inligting en afhangende van watter bron jy jou inligting vandaan kry vorm jy jou persepsies.

Na my mening is dit heel duidelik dat groot media organisasies soos CNN enige iets wat uit Trump se mond kom onmiddelik verdraai om dit ‘n negatiewe konnotasie te gee en daarom neem ek negatiewe berigte oor Trump met ‘n al hoe groter knippie sout.

Die sin wat ek uithaal uit al die tweedehandse stukkies inligting wat vanuit verskillende mediabronne en oogpunte aan my gevoer word is dat Sjina, Rusland en Iran ‘n magsblok vorm teen die VSA, onder andere deur kern-
en missieltegnologie aan Noord-Korea deur te smokkel. In alle waarskynlikheid is dit grootste faktor wat Amerikaanse beleid oor Iran beïnvloed…

Gerhard ·

Ek is een van min wat nie vir of teen Trump is nie. Ek ondersteun hom in die geval. Trump het geen keuse nie en moet teen Iran optree. Enige persoon wat werklik glo dat om deur Iran afgepers te word met kernwapens n goeie ding is moet at kop laat lees. Dit is waarom Noord-Korea nou so aangaan, want dit werk.

Frans C ·

Ek kan Pres, Trump se vrees van ‘n Iran-kernstaat verstaan,want Muslim leiers verkondig openlik dat wêreld dominasie die uiteindelik doel van die Islam-geloof is.Sien You tube vir videos.

Gawie ·

Die skrywer maak soveel “sweeping statements” oor Trump asof hy/sy feitelik seker is van al sy/haar bewerings. Laat hy/sy sy bewyse hier plaas – objektiewe, juridies-verifieërbare feitelikhede.

humor ·

Wanneer jy herhaaldelik voortduend alles net van die negatiewe kant belig sonder sonder om ooit ewewigtig te wees dan is dit n simptoom van n siekte. Ek wil voorstel die skrywer moet homself ontleed. Maroela behoort sulke rubriekskywers te identifiseeren nie te gebruik nie. Perslot van sake is dit heeltemal ongebalanseerd om alles aan Trump te hang en nie rekening te hou dat hy in samewerking is met sy ondersteunende ministers en raadgewers nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.