Trump nou loshande die voorloper

Donald Trump (Foto via ABC-video)

Donald Trump (Foto via ABC-video)

So Donald Trump het Suid-Carolina gewen. Hy het om die waarheid te sê die staat so ver gewen dat hy al 50 afgevaardigdes na die Republikeinse Party se nasionale kongres later vanjaar, verower het. Na ‘n tweede plek in Iowa, het Trump nou twee agtereenvolgende oorwinnings op sy kerfstok. Hy loop voor in die peilings in die meeste state waar kiesers binne die volgende paar weke gaan stem. Geen politieke ontleder kan nou meer ontken dat Donald Trump die voorloper is om die presidentskandidaat vir die Republikeinse Party te word nie.

Trump se oorwinning in Suid-Carolina beteken egter nie dat die leierskap van die Republikeinse Party en ander leiers in die konserwatiewe beweging in die VSA warmer vir sy kandidaatskap sal word nie. Die teendeel is eerder waar. Met Jeb Bush wat nou aan die stryd onttrek het, is die gevestigde belange in die Republikeinse Party se volle fokus op Marco Rubio. As jy Facebook en Twitter dophou sou jy selfs kon dink dat Rubio voorloop in die stryd, ten spyte daarvan dat hy slegs derde in Iowa, vierde in New Hampshire en nou tweede in Suid-Carolina kon eindig. Rubio het dus nog geen staat gewen nie. Sy vooruitsigte om binne die volgende paar weke state te wen, is ook maar skraal.

Dit is egter belangrik om die rol van gevestigde belange in die Amerikaanse politiek te verstaan. Politieke partye wil graag sien dat kandidate met wie hulle goed vertroud is en wat nie vir onaangename verrassings sal sorg nie, aangewys word. Verder is daar ‘n enorme steunwerwing (lobbying) bedryf in die VSA met groot maatskappye, ekonomiese sektore, burgerlike instellings en selfs internasionale regerings en organisasies wat bande met sekere kandidate smee deurdat hulle tot hierdie kandidate se veldtogte bydra en daardeur die guns van kandidate probeer wen. Vir hierdie instellings is geweldig baie op die spel en sal hulle in die volgende dae en weke alles in hul vermoë doen om Rubio as die kandidaat van die gevestigde belange te ondersteun.

Die realiteit is egter dat hierdie instellings tot nou toe grootliks onsuksesvol was. Die rede hiervoor lê in die verskuiwing van fokus onder lede van die Republikeinse Party. Demokrasie in die Midde-Ooste, die rooi gevaar in Rusland en vryhandelsooreenkomste met byna elke land en streek in die wêreld was nog in 2000 toe George W. Bush verkies is, vir Republikeine belangrik. Hierdie sake is nou baie minder belangrik.

Tydens die presidentskappe van Bush en Barack Obama het die sogenaamde deelnamekoers aan die arbeidsmark van meer as 67% tot net meer as 62% afgeneem. Mense staar vas aan die lae werkloosheidskoers in die VSA, maar besef nie dat daar die afgelope paar jaar ‘n enorme toename in mense wat aan die arbeidsmark onttrek het, was nie. Baie van hierdie mense is ongeskoolde en semi-geskoolde middeljarige blankes wat voorheen in die vervaardigingsektor gewerk het en wat hul werk verloor het omdat die invoer van goedkoper produkte uit onder andere China werksgeleenthede in die Amerikaanse vervaardigingsektor vernietig het. Gedurende dieselfde periode was daar ‘n groot toename in wettige en onwettige immigrasie na Amerika wat arbeidskoste afgedruk het en wat mededinging vir ongeskoolde en semi-geskoolde arbeid selfs verder verhoog het.

Hierdie mense het geen behoefte om teen Rusland of Iran oorlog te voer nie. Hulle stel nie belang in die teoretiese voordele van vryehandelsooreenkomste nie. Hulle wil nog minder weet oor die humanitêre motiewe vir asiel vir vlugtelinge. Hierdie mense, en daar is baie van hulle, wil weet hoe daar ‘n beter toekoms vir hulle geskep gaan word. Donald Trump se anti-immigrasie, anti-oorlog en ekonomies-proteksionistiese standpunte spreek dus tot hierdie kiesers.

Geen politieke ontleder op CNN of Fox News gaan hierdie mense oortuig om vir ‘n ander kandidaat te stem net omdat Trump luidrugtig en onbeskof is of omdat hy voorheen eintlik maar ‘n liberalis was nie. Trump se praktiese idees soos goeie verhoudinge met Rusland, ‘n muur tussen Amerika en Mexiko en die beskerming van die Amerikaanse vervaardigingsbedryf deur die heronderhandeling van handelsooreeenkomste met byvoorbeeld China, klink vir hierdie kiesers soos oplossings wat ‘n werklike verbetering aan hul lewensomstandighede te weeg kan bring. Jare se leë beloftes deur verkose politici het hierdie mense sodanig skepties teenoor beroepspolitici gemaak dat ‘n scenario waar hulle sal ophou om vir Trump te ondersteun, onwaarskynlik lyk.

Hoe lyk die pad vorentoe? Donald Trump sal waarskynlik eerskomende Dinsdag die koukus in Nevada wen. Daarna behoort hy op 1 Maart wanneer daar in 11 state gestem word, ‘n meerderheid van die state te wen, hoewel Ted Cruz waarskynlik Texas en nog een of twee state in die Suide kan wen. Dit beteken dat Donald Trump teen begin Maart in ‘n baie sterk posisie kan wees om die Republikeinse Party se presidentskandidaat te word.

Intussen sal politieke ontleders, joernaliste en politici bly sê dat Trump eintlik geen kans staan nie. Selfs nadat hy in Suid-Carolina gewen het, het die oudraadgewer van George Bush, Karl Rove, beweer dat Marco Rubio nou die voorloper is. Rove vermy natuurlik die feit dat Rubio nog nie een enkele staat kon wen nie.

Die uitdaging vir Donald Trump is om soos wat die aantal kandidate minder word sy steunbasis uit te brei. Daar is ‘n wesenlike deel van die Republikeine wat nie van Trump hou nie en sou hulle almal teen hom verenig kan dit sake vir hom bemoeilik. ‘n Peiling deur die Washington Post wys dat Trump in ‘n tweemanstryd met Marco Rubio egter steeds 46% van Republikeine se steun sal geniet. Dit mag dalk teen middel Maart al wees wat hy nodig sal hê om genoeg afgevaardigdes te wen sodat hy in Julie in Cleveland, Ohio amptelik as die Republikeine se kandidaat aangewys kan word.

Terwyl die Republikeine in Suid-Carolina gestem het, het die Demokrate hul koukus in Nevada gehad en kon Hillary Clinton met byna 53% van die stemme daar wen. Sy loop nou weer effens gemakliker voor teen Bernie Sanders. Die moontlikheid van ‘n stryd tussen Clinton en Trump raak al hoe sterker. Vir Trump om in November te wen sal hy egter sy steun onder meer geskoolde Republikeine moet uitbrei en sal hy werk moet maak van sy steun onder minderheidsgroepe. Trump staan geen kans om Hillary te wen indien hy nie minstens 10% van Afro-Amerikaners se stemme en 30% van die stemme van kiesers van Latyns-Amerikaanse afkoms kan wen nie. Trump sal ook op een of ander manier sy verhouding met die leierskap van die Republikeinse Party moet stabiliseer. Daar lê ‘n paar maande van interessante politieke stryd in Amerika voor.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Ian ·

Trump, jou yster! Hoop jy kom heelbo uit en hou jou belofte om Afrika reg te ruk.

Trolle ·

Mooi Trump nie net jou mense wat agter jou staan nie baie in die wereld agter jou.
Sluit asb sommer daai klomp oorlogsugtiges toe as jy inkom dat die wereld nie weer n probleem gaan he met hulle nie.Hoop en bid dat jy niks oorkom nie nie,dink jou lewe is baie in gevaar nou.

Wilhelm ·

Lyk my Trump het die vinger op die pols! Hy diagnoseer die kwale wat niemand tot dusver kon doen nie.

John ·

Trump kom soms soos ‘n ongeslypte diamant voor, maar eerder dit as ‘n gepolleerde klip, want die VSA se buitelandse aksies gaan in die nabye toekoms verrykende gevolge he vir die res van die wereld. Daar was in die geskiedenis al net veel tannies met breiwerke langs brandstapels en guilotines wat vrolik giggel wanneer die vyand in ligte laaie staan of die bloed spat as die koppe rol.

Realis ·

Jammer om dit vir jou te se Mnr Trump, maar ek het ‘n sterk vermoede “zupta” en “mugaabe” gaan sanksies teen jou instel.

Jacoba ·

Mense wil nie die waarheid hoor. Gewilde leiers gewoonlik nie goeie voorbeeld maar ongewildes is goed vir die land deur moeilike maar die regte besluite ten gunste van sy burgers te neem. Sterkte Mnr Trump.

Trolle ·

Dink nie eens ons Suid Afrikaners besef dat dit seker die belangrikste verkiesing vir die wereld en ons kinders se toekoms is wat nou besig is in die USA nie.Dit lyk amper of ons mense so vasgevang is in die wit en swart storie by ons hulle sien niks anders raak nie.
Die rooi mag oorsee is groter gevaar as die paar rooi ouens by ons wat rond dans en aandag soek,gewone wit en swart mense werk goed saam in werksplekke sonder probleme.
Wonder mense nie hoekom wil die USA so graag teen Russia oorlog maak wat n christelikke land is nie,en dit vir christine onmoonlik maak om nog in die middelooste te bly nie?In die USA self word christenskap nie meer toegelaat in die skole nie.
Dink die duiwel sit erens in USA hpenlik kan Trump hom vir ons vasbind vir so duisend jaar.

Josef du Toit ·

Terwyl die voorgee-sukses van onbekeerde reeks-egbreker en onwelvoeglik gesnawelde Trump, met sy baster beleidsuitsprake (soos steun vir staatsbefondsing vir die nie-aborsie-aktiwiteit van die wêreld se mees gewetenlose babamoord-fasiliteerders), inderdaad opspraakwekkend is, moet die kêrel maar versigtig wees om nie die dag te prys voor dit twaalfuur in die aand is nie.
Trump sal waarskynlik, in sy eie woorde, nie ‘n enkele ondersteuner verloor nie, selfs as hy “in die middel van Vyfde Laan [‘n beroemde winkelstraat in New York] staan en iemand skiet” – ‘n kolskoot beskrywing van gepeupelbewegings se gebrek aan morele grondslag. Aan die ander kant, blyk dit dat die meerderheid ondersteuners van die orige Republikeinse kandidate eerder in Trump se visier in “Vyfde Laan” sal staan, as om vir hom te stem.
Hy loop voor omdat die anti-Trump stem nog tussen vier ander verdeel is. Wanneer die lys uiteindelik verkrimp na Trump (populisties), Cruz (konserwatief) en Rubio (hoofstroom), sal die onderliggende gelyke een derde steunverdeling vir elk meer duidelik blyk.
In sy guns tel dat gaande weg die hoofstroomringkoppe en hul steunwerwingsindikate besef dat Trump vir al sy grootpratery nog altyd, na voldoende ego-strelery, ‘n plooibare onderhandelaar midde die manipulasie-spele van sy mede-geldmagte was en is, met wie hul veel eerder sal saamwerk as met die groot voorwerp van hul haat, sy onwrikbaar behoudende teenstaander Cruz – ‘n briljante jong Texan, geraffineer in die ou Reagan beleidskool.

Paul ·

Baie raak beskrywing van die gebrek aan morele grondslag. Dit blyk asof Trump geen ware beginsels het buiten: “Ek sal dinge regmaak deur kragdadig op te tree!” nie.

Marius ·

Vader help Amerika en die wêreld as Trump moet wen. Dit sal werklik God se oordeel oor die wêreld wees.

Trolle ·

Marius jy is so gebreinspoel weet nie of daar nog hoop is vir jou nie.Kyk net bietjie om jou rond en kom weg voor jou CNN tv.Trump het sy geld verdien en hard gewerk daarvoor moenie dat sy biljoene jou deurmekaar maak nie.Gaan doen biejie self naforsing op die ander veral daai Clinton jy sal skrik ou maat.

Marius ·

Eintlik kan ek my nie op enige wyshede beroem nie. Dit weet ek. Trump is ‘n besigheidsman wat met vele transaksies gekom het waar hy is. Baie van sy besigheidspraktyke het baie vraagtekens oor hulle. Mense met ‘n skyn van die morele hoë grond het altyd motiewe. Dis sy motiewe wat hom gevaarlik maak. Op hierdie stadium is dit sy eie ego wat hom motiveer uit dit wat sigbaar is. Dis alreeds gevaarlik. Wat van al die sinistere motiewe wat jy nie sien nie? Ware landsleiers het in die geskiedenis hul bearbei vir hulle land vandat hulle hul verstand gekry het. Hy versinnebeeld verseker niks daarvan nie. Dis wat ek dink Pieta

Ben (:-) ·

Ek hoop Donald Trump word die volgende President. Ons Suid Afrikaners is al so ge-breinspoel dat reg en verkeerd nie meer registreer nie – kyk wat hier gebeur. Niemand se ja is meer ja nie, en omgekeerd, so is Ted Cruz en ek wil nie eers praat oor Hillary en die Kommunis nie. Wat sal wees, sal wees.

Marius ·

Eintlik gaan dit glad nie aan Suid Afrika ‘n verskil maak wie die volgende VSA president sal wees nie. Ons hou ons eintlik maar besig met gesprekke oor dinge waarop ons geen invloed het en wat ons nie direk sal raak nie. Onder Trump moet ons weet dat buitelanders baie moeiliker daarheen sal kan emigreer. Dis omtrent al hoe sy presidentskap ons sal raak.

Ben (:-) ·

Baie goeie berig Jaco Kleynhans, dankie, ek volg die verkiesing daagliks en jy het niks verdraai wat ek kon agterkom nie.

Marius ·

Vir ingeval jy nie weet nie. Trump kom uit ‘n skatryk agtergrond en het nog nooit enige swaarkry geken nie. Sy oupa was alreeds ‘n multi miljoener. Ek hou dit nie teen hom nie, en ek dink ook nie veel meer van Clinton nie. Daar is beter kandidate as hy. Mense volg hom omdat hy populistiese uitlatings maak wat mense vir soetkoek opeet. Dis sy manier of jy kan jou ry kry.? Hy het geen agting vir ander se opinies nie en kruit enige opposisie as imbesiele uit. Leierskap?? Vra jouself of hy enige kwaliteite van ‘n Reagan of Roosevelt het. Amerika gaan meer vyande maak as ooit tevore. Hulle burgers sal die prys daarvoor betaal. Hy laat die Republikeine baie sleg lyk, en hy sal die enigste rede wees waarom Amerika geen keuse sal hê om vir Sanders of Clinton te stem nie(ja Sanders staan ‘n kans). Onthou maar hierdie woorde later vanjaar.

Trolle ·

Marius ek het ook soos jy gedink tot ek die ding agter die ding gesien het.
Meskien is dit maar beter dat jy dit nie weet nie want dis baie moeilik om te verstaan as jy nie genoeg navorsing doen nie,en party mense raak dan heel deurmekaar en weet nie meer wat om te glo nie.
As jy belang stel kyk Alex Jones se kanaal en jy kan hom maar glo want hy gee al die bewyse en ek studeer dit al vir baie jare.Vandag is dit maklik met utube lank terug moes jy boeke lees.Baie scary.

Trolle ·

Marius as jy maar net geweet het wat eintlik in wereld aangaan.

Marius ·

Ja nee. Ons het ‘n leser in Trolle. Staan nie ‘n kans teen sulke ingeligte lesers nie. Ek is nou nie seker nie. Moet ek Alex Jones se kanaal kyk of moet ek lees? Ek kan nie die ding agter die ding soos Trolle sien nie. Ek “studeer” nou nie dinge vir baie jare nie maar ek BEstudeer wel van tyd tot tyd dinge. Glo wat jy glo en ek glo wat ek glo. Donald Trump is die demokrate se grootste wapen om die verkiesing te wen. Ek is seker daarvan hulle hou styf duim vas dat hy die wenkandidaat vir die republikeine word. Wag maar en sien. O ja, is Alex Jones op Youtube?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.