Trump-regering verval toenemend in chaos

Donald Trump

Donald Trump. Foto: AP Photo/Paul Sancya

Die Trump-regering verkeer toenemend in chaos. Duisende poste in die administrasie is steeds nie gevul nie en twee van pres. Donald Trump se belangrikste raadgewers het die afgelope tyd bedank. Verlede week was sekerlik een van die slegste weke tot nog toe vir Trump met sy nuwe kommunikasiehoof, Anthony Scaramucci, wat al vloekende ander senior kollegas in die Withuis met ’n joernalis bespreek het. Kort ná hierdie onsmaaklike voorval het Trump sy baie bekwame stafhoof, Reince Priebus, afgedank. Dit alles nadat Trump se woordvoerder, Sean Spicer, ook onlangs skielik bedank het.

Intussen het Trump en die Republikeinse Party se pogings om pres. Barack Obama se mediese hervorming, die Obamacare-wetgewing, te laat herroep en te vervang, ook verlede week finaal misluk. Dit het tot ’n bitter woordewisseling gelei waarin Trump sy party se leierskap deeglik sleggesê het. Trump se binnelandse agenda begin al hoe meer skipbreuk ly weens die onvermoë van die Republikeine om wetgewing deur te voer. Daar is tans soveel binnegevegte in die Republikeinse Party dat daar twyfel bestaan of belastinghervorming, Trump se volgende belangrike doelwit, enige kans op sukses het.

Trump het ook meer en meer kopsere op die internasionale front. Die VSA se verhouding met Rusland het verlede week nog ʼn verdere duik gevat nadat die Amerikaanse kongres nuwe sanksies teen Rusland ingestel het en Rusland in antwoord daarop opdrag gegee het dat meer as 700 Amerikaanse diplomate Rusland moet verlaat. Intussen word Rusland se verhouding met lande soos China en Iran net sterker. Die spanning met Noord-Korea vererger. Daar bestaan tans geen duidelike plan hoe om die krisis te hanteer nie en die geweld en politieke onrus in Venezuela kan vir die VSA heelwat uitdagings skep.

Die ondersoek na Russiese inmenging in die Amerikaanse verkiesing verlede jaar tel ook stoom op en talle persone naby aan Trump word toenemend hierby geïmpliseer. Robert Mueller, wat aangestel is om die ondersoek te lei, beplan duidelik om diep te krap en terwyl sy ondersoek besig is, plaas dit ʼn demper op die Trump-administrasie se werk.

Ná ses maande as president is Trump die ongewildste president sedert peilingsagentskappe met gereelde gewildheidspeilings begin het. Minder as 40% van Amerikaners is nog tevrede met sy werk as president. Trump geniet egter steeds sterk steun onder dié mense wat verlede jaar vir hom gestem het en die vraag bestaan of al die probleme in die Withuis een of ander tyd ook die goeie getroue Trump-ondersteuners kan begin vervreem.

Daar bestaan geen twyfel dat die Trump-administrasie onder druk verkeer. Tog het Trump talle bekwame mense in sy span en het die Republikeinse Party ʼn meerderheid in die senaat en huis van verteenwoordigers. In elke krisis behoort daar ook ʼn geleentheid te wees en indien Trump daarin kan slaag om sinvolle hervormings deur die kongres te laat goedkeur en om byvoorbeeld met die hulp van China die geskil met Noord-Korea by te lê, kan dinge nog omgekeer word. Trump se herverkiesingsveldtog is eers oor meer as drie jaar van nou af, maar die tendens van binnegevegte, onprofessionele gedrag, inkonsekwente optrede en verdagmakery sal dan baie vinnig tot ʼn einde moet kom.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

38 Kommentare

Kopskud ·

Wat sê die Trump-aanhangers nou? Hierdie is seker weer, volgens julle, alles onwaar :-)

JG ·

Hmmm…onthou n munt het altyd twee kante….moenie altyd alles glo wat jy lees nie…

Willie ·

Kopskuddend kan jy tog nie alles glo wat Jaco Kleynhans of Pretoria FM opdis deur Maroela Media nie.

JC ·

Nou wat daarvan indien dit (verskeie uitdagings) waar is, hmmm?
WAT DAARVAN?

Eish ·

When days are dark, friends are few.
Ek dink jy moet maar n dik vel hê wanneer die gety so ongevraagd draai. Ek hou steeds van die man al is dit net oor wie nie van hom hou nie.

Eish ·

Dan ook, die ander kant van die munt, indien jy almal gelukkig wil maak, moenie n leier word nie, gaan verkoop roomys.

Anoeniem ·

Trump was nou nie die beste kandidaat nie, maar eerder hom as Hillary, maar ek dink Suid Afrika het grooter probleme.

Therese van Schalkwyk ·

Die feit dat “duisende poste in die administrasie nie gevul is nie” is dalk ‘n aanduiding dat hierdie poste totaal onnodig is. Die paar wat gevul is, hou die media wêreldwyd so besig 24/7 dat hul skaars tyd het vir belangrike nuus.

Teleurstellend dat die Amerikaanse kongres verkies om vyandskap met Rusland voort te sit, eerder as om goeie verhoudings te kweek in belang van vrede.

TESS ·

Die mense is al so gewoond aan minder goeie leiers dat hulle seker nie weet hoe lyk ‘n leier wat weet wat hy doen nie?

TESS ·

skuus, myself verkeerd uitgedruk- hy weet wat hy doen en dit is wat mense vreemd vind

elmarie ·

Dit is snaaks dat as Trump so swak is, dat die ekonomie gegroei het in die 6 maande van sy bewind, en die Dow weereens ‘n rekord bereik het amper 22,000!

Veritas ·

Los vir Trump uit man. Julle hardloop agter die liberale Amerikaanse nuuskantore aan en gebruik hul aanvalle op ‘n konserwatiewe president om stories te skryf. As ek so na die spulletjie kyk, lyk dit nie vir my asof hy droogmaak nie. Inteendeel die Amerikaanse dollar doen redelik goed op die geldmarkte. Gee hom nog so’n jaar en dan praat ons weer

Lynne ·

Stem! Goeie genugtig….en daar spring die Oraniër nou ook op die Liberale Media Bandwagon! Siestog!

chris ·

Tipiese lui joernaliste wat nie hulle eie huiswerk gaan doen nie en eensydige berigte uit die liberale media van oorsee (VSA) aan ons kom opdis.Gelukkig val ons nie meer vir hierdie fopnuus nie.

Andre ·

Jaco Kleynhans se analise klink vir my soos die Amerikaanse menings peilings alewig verkeerd.
Die jongste groei koers syfers is 2.6%. Meeste mense in diens in 17 jaar. As jy die moeras wil dreineer klim alle ongediertes uit en probeer terug baklei. Ek luister na Fox hulle is meer gebalanseerd. CNN en MSNBC is erg links en liberaal en eensydig.

JC ·

Fox is die beste, met ‘n bietjie Breitbart “on the side” :)

Kom Ons Boks ·

Ek is jammer Jaco, maar die chaos word geskep deur die media. Volgens HSM het Trump al menige “Watergates” beleef in sy presidensie wat in werklikheid nie eers waatlemoene was/is nie.
Robert Meuler – Is dit nie die man wat ook aangegaan het destyds dat daar WMVs in Iraq was nie? Comey en Meuler loop al lank ‘n paadjie saam maar niemand durf vra of hy miskien die verkeerde man vir die takie is nie. Nogtans sien ek uit na sy ondersoek se finale bevinding.
Scary Muchi – Die man het sy afdanking verdien deur so vloekend sy kollegas aan te val. Noudat ek daaraan dink, elke afdanking deur Trump het meriete gehad (veral Comey wat sy magte oorskry het deur die DVJ se magte eiehandig in te kort – wys my ‘n VS President wat hom nie die trekpas sou gee nie) . Onthou iemand Genl. McChrystal (Obama se top Genl. op een stadium) wat verwyder is net omdat hy durf gevra het vir meer troepe in Afghanistan? Daar was egter geen meriete om die bekwame McChrystal te verwyder nie tog het die MSM heelhartig saamgestem.
En daar gaan ons weer met die “akkurate” peilings – die “silent majority” se opinies sal nooit reflekteer in enige van hierdie peilings nie en is heeltemal nutteloos totdat agentskappe laasgenoemde se opinies eerlik kan vasle nie.
Ek hou wel van jou laaste sin – om die vrot appels uit te sny skep Trump sodoende ‘n beter span.

JC ·

Baie dankie, jou kop is reg aangeskroef:)
Ek kan nie MEER saamstem met alles wat jy se nie!

Zack ·

Stem saam. DIs ‘n eensydige artikel geskryf om onmin te saai. Niks word gemeld oor sy goeie suksesse nie. Dis die nadeel van gratis nuus wat niemand kan vertrou nie..

Kom Ons Boks ·

Kan jy miskien in ‘n volgende artikel Trump se suksesse uitwys (rekord groei van ekonomie; laagste werkloosheids-syfers en hoogste verbruikers-vertroue in dekades; uitbreiding van goeie verhoudinge met Japan, ou Oosblok-lande, SKorea, Israel, Saoedi-Arabie, Iran, Frankryk ens; onlangse en regmatige tugstappe teen tradisionele teenstanders soos China; NKorea, Rusland en dan ook veral Venezuela. Onwettige immigrasie wat, ten gunste van die VSA, enorme skipbreek ly? Maar net so ‘n paar goedjies wat ek vinnig aan kan dink…

Kom Ons Boks ·

Ai, dis jammer dat groot GOP manne soos McCain voortdurend Trump se agenda onderdruk maar ‘n GOP gesondheidsplan is ver van dood af. Hoe lank het dit die Obama administrasie dan nie gevat om Obamacare deur te druk nie? Amper ‘n jaar en ‘n half? Vandag is dit ‘n flop waar self Demokrate wil onderhandel om dit te wysig.
Trump veg wel ‘n baie vyandige politiese landskap wat tot in sy eie kraal strek maar diegene wat dink Trump gaan maklik le ken duidelik nie Die Donald nie. Nie sleg vir ‘n 70 jarige toppie nie. Semper Fi

Dot ·

Stem Trump is man van staal en ek like hom kwaai. Ons het so ou met guts hier in SA nodig.

Ashlee ·

Kom ons boks. Sal wat wou gee om n bier saam met jou te geniet ouboet. Weet nie hoe, maar laat weet as jy ooit n draai in Los Angeles gaan maak.

Rupert Ashford ·

Wat vir my ongelooflik is, is dat iemand wat dan kwansuis so hand om die blaas met die Russe sou wees gedurende die verkiesing sodat hy vir 4 jaar daaroor “ondersoek” moet word nou sanksies teen hulle instel.

Gjorgi ·

Dis ironies dat al die Trump ondersteuners wat sê mens moet nie net alles wat jy in die media hoor glo nie is JUIS die mense wat sommer net al die “suksesse” glo en verkies om blind te wees vir die mislukkings.

Kom Ons Boks ·

Die ironie vir my sit in die denke dat dieselfde nie andersom ook geld nie? Waar is die ewewig? Ek glo nie sommer net iets wat ek hoor nie en verkies dat my punte feitelik gestaaf kan word (dikwels soos verskaf deur organisasies wat of neutraal of vyandig is teenoor huidige administrasie – jy weet, daai goetjies wat MSM nie aan wil raak nie). Ek hoop regtig dat jy ietwat beter voorbereid sal wees vir ons volgende vriendelike boks.

Ashlee ·

Ja kyk, fopnuus sal altyd daar wees. Dit is juis daarom dat Trump nie ophou tweet nie. Regering verval in choas??? Wat n klomp bollie. Ek woon hier al 25 jaar. Het nie vir Trump gestem nie, maar kan dit se van die ou. Hy buig agteroor vir niemand. Al is n persoon sy beste pel, sal Trump ontslae raak van hom as hy erg opneuk. Hy se n ding soos ek en jy. Glad nie op sy bek geval nie, al is hy die President. En hierdie ou slaap 4 uur n dag, die res is werk. Selfs op n naweek. Dalk die rede waarom sekere slapgatte rondom hom nie kan byhou nie.

Therese van Schalkwyk ·

Ashlee

Die vyandigheid en meedoënlose aanslag van die media, die Hillary “popular vote”-brigade asook die Republikeinse vleuel van John McCain en kie is verstommend om dop te hou!

Die kinderagtige vlak van die Amerikaanse ‘humor’ wat Trump-“bashing” betref, is ook teleurstellend en nogal ‘n openbaring.

Ons sal ongelukkig nooit weet hoe President Trump moontlik kón gevaar het, as hy toegelaat was om sy stempel af te druk soos met vorige presidente die geval was nie.

Genie ·

Ek stem saam met jou Ashlee! Trump werk verskriklik hard en die resultate spreek van self. Jaco en CNN is net jaloers!!!!!!!!

Frans C ·

Die DOW bereik hoogtepunte wat mi die storie van chaos weerlê.

Susan de Klerk ·

Elke 2de joernalis is deesdae n Amerikaanse politieke spesialis. CNN dweep daagliks oor Trump en ons kon dit nie meer hanteer nie. CNN is nie meer welkom in ons huis nie, waar dit in die verlede ons op hoogte van wereldnuus kon hou. Nou is dit net Trump, Trump. Wat is dit met die President wat mense nie kan hanteer nie? Hollywood is net so beheb.

Piet Snot ·

Manne, raak rustig. Jy kan Tromp oor die algemeen ondersteun, en steeds kritiseer as hy iets vreemds doen.
Ons hoef nie ‘n alles-of-niks benadering te volg nie. Lees weer die artikel: ek stem ook nie met alles saam wat Jaco sê nie, maar baie van wat hy sê, het meriete.
Kom ons speel die bal, nie die man nie.

Therese van Schalkwyk ·

Piet Snot

Stem saam.
Jaco Kleynhans is een van die enkele uitsonderings wat daarin slaag om oor Donald Trump verslag te doen sonder die persoonlike beledigings waartoe dikwels gedaal word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.