Trump sal strategie met Rusland beter moet verpak

Die Amerikaanse president, Donald Trump, luister Maandag 16 Julie na die Russiese president, Wladimir Poetin, aan die begin van ʼn vergadering in die presidensiële paleis in Helsinki, Finland. (Foto: Pablo Martinez Monsivais, AP)

Verraad is die nuutste klagte teen die Amerikaanse president, Donald Trump. Na die onlangse Helsinki-beraad tussen Trump en Wladimir Poetin van Rusland, het ’n storm in die politieke kringe van die Amerikaanse hoofstad, Washington DC uitgebreek. Die ervare politieke kommentator Patrick Buchanan het dit verlede week as ’n histerie beskryf.

Trump se opmerkings ná die beraad met Poetin waarin hy laat blyk het dat hy Poetin se ontkenning van Russiese inmenging in die Amerikaanse verkiesing van 2016 aanvaar, het wyd opslae gemaak. Politici van die Republikeinse Party en die Demokratiese Party het die beraad as ’n laagtepunt bestempel.

Waaroor gaan die herrie werklik? Sedert Januarie verlede jaar, toe Trump as president ingehuldig is, vind die een ondersoek ná die ander plaas oor beweerde Russiese inmenging in die Amerikaanse verkiesing. Die bewerings gaan veral oor die wyse waarop toegang tot die rekenaarstelsel van die Demokratiese Party verkry is, sowel as pogings deur persone in Rusland om die openbare opinie oor Hillary Clinton en die verkiesing te beïnvloed. Die Direkteur van Nasionale Intelligensie in Amerika het reeds vroeg verlede jaar ’n verslag gepubliseer waarin tot die gevolgtrekking gekom word dat Poetin en die Russiese regering direk hierby betrokke was. Hoewel dit ’n feit is, dat daar vanuit Rusland ingemeng is, is bewyse dat die Russiese regering betrokke was, heelwat meer vaag.

Hierdie bewerings en die gevolglike voortslepende ondersoeke het natuurlik president Trump se planne om die verhouding tussen Amerika en Rusland te verbeter, nadelig beïnvloed. Trump was tydens sy verkiesingsveldtog in 2016 duidelik uitgesproke oor sy behoefte om ’n beter verhouding tussen Amerika en Rusland daar te stel.

Dit is dan ook presies die missie waarmee Trump die Helsinki-beraad met Poetin benader het. Ongelukkig het die media en selfs baie politici slegs een fokus, naamlik die ondersoek na Russiese inmenging in die Amerikaanse verkiesing gehad. Trump se lompe, onvoorbereide antwoord en sy pogings tot skadebeheer sedertdien, het die saak verder laat versleg.

Twee sake is hier belangrik. Eerstens moet die vraag gevra word of dit sinvol is om soveel van die saak oor inmenging te maak. Indien die Russiese regering werklik direk daarby betrokke was, is dit sleg en moet die nodige stappe volg. Intussen kan die verhouding tussen Amerika en Rusland tog sekerlik nie volledig hierdeur bepaal word nie. Spioenasie, diefstal van intellektuele eiendom, politieke steunwerwing en soortgelyke aksies vind daagliks oor landgrense heen plaas. Peilings in Amerika wys dat die bewerings oor Russiese verkiesingsinmenging min van ’n prioriteit vir Amerikaners is.

Die tweede belangrike punt gaan oor die aard van die verhouding tussen Rusland en Amerika. Trump se pogings om sy verhouding met Poetin te verbeter, is ’n nakoming van ’n verkiesingsbelofte.

Die probleem hier is dat die meeste Amerikaanse politici steeds in ’n Koue Oorlog-denkraamwerk vasgevang is. Rusland is die vyand – presies waarom en hoe weet niemand lekker nie. Trump se lomp hantering van die beraad met Poetin en die histeriese reaksie van die politieke regeerdersklas daarna wys dat Amerika ’n groter probleem het – hulle het nie ’n duidelike Rusland-strategie nie. Indien Trump uit die huidige Rusland-moeras wil kom, moet hy sy denke oor ’n nuwe verhouding tussen Amerika en Rusland beter verpak en kommunikeer.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Elize ·

Wladimir Poetin? korrekte spelling is Vladimir Putin. Hoe swak dat ons Afrikaanse koerant nie korrekte naam kan publiseer nie.

Sune van Heerden ·

Dagsê Elize

Buitelandse eiename word in Afrikaans getranslitereer wanneer die twee tale nie dieselfde alfabet gebruik nie. In Engels word die naam, Влади́мир Влади́мирович Пу́тин, byvoorbeeld as “Vladimir Putin” gespel, en in Afrikaans “Wladimir Poetin”, of Горбачёв word as “Gorbachev” of “Gorbachyov” gespel, en in Afrikaans “Gorbatsjof”.

“Wladimir Poetin” is dus die standaard Afrikaanse transliterasie vir sy naam uit die Sirilliese alfabet wat die Russe gebruik na die Latynse alfabet wat ons gebruik. Die spelling “Vladimir Putin” is die standaard Engelse transliterasie vanaf Sirilliese skrif na die Latynse alfabet wat Engels gebruik. Die Franse spel sy naam byvoorbeeld “Vladimir Poutine”, die Spanjaarde skryf “Vladímir Putin”, en so voorts.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Jacques du Toit ·

Elize 0
Maroela Media 1
:):):)

Komaan Elize, erken jy was verkeerd.

Eish ·

Ek dink dis die klomp liberale wat so lawaai.
Onderhoude met Putin oor die aangeleentheid deur n Amerikaanse joernalis, het haar sleg tweede laat kom. Bring die bewyse.

Etienne Prinsloo ·

Jaco, skryf vir Pres Trump ‘n brief. Hy sal iemand met jou diepe insig sommer dadelik as sy senior adviseur en beleidmaker aanstel. Veral met SA wat ‘n wêreld leier op fronte soos korrupsie, misdaad, rassehaat, geweld en skoolprestasie is, wie sou nie ‘n Suid Afrikaner se advies wil hê nie?

Adriaan ·

Seth Rich was n DNC werknemer en whistleblower wat inligting oor die DNC se korrupsie en manipulasie na Wikileaks en andere versprei het. Dit was nie die Russe nie.

Rupert Ashford ·

Net ‘n bietjie perspektief van “The Washington Post:

The President on Putin meddling in the election:

“He denies it. So the idea that somehow public shaming is gonna be effective, I think doesn’t read the thought process in Russia very well.”

– President Barack Obama, December 16; 2016

gatiep ·

Dis maar net die demokrate wat alles in hysteria laat verander.
Elke keer as Trump iets doen of se is ons op die rand van wereld oorlog.
Ons mense wat wakker is met wat aangaan in wereld kan maar net lag vir die klomp.CNN is n spektakel om te kyk.
En hulle raak al hoe erger hoe meer hulle verloor.
Ek weet nie hoe Trump dit nog kan rekry om daai land regop te hou met die lot wat so skree in sy nek nie.
Ek so ook nog steeds Putin is regte speling.Maak nie saak met watter verskoning Maroela kom nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.