Trump, Sanders en die begin van die einde van die tweepartystelsel in Amerika

Amerikaanse vlag amerika

Argieffoto (Foto: Gordon Dean)

Die nominasiestryd in Amerikaanse voorverkiesings is nou verby die halfpadmerk en met die sogenaamde Tweede Super Dinsdag agter die rug, is dit duidelik dat Hillary Clinton die Demokrate se presidentskandidaat gaan wees. Aan die Republikeine se kant het Donald Trump weer eens baie goed gedoen en daarin geslaag om sy voorsprong verder uit te brei. Met Marco Rubio wat onttrek het, is dit nou net Ted Cruz wat nog enigsins wesenlike kompetisie vir Trump bied.

Trump gaan waarskynlik daarin slaag om teen Julie, wanneer die Republikeine hul nominasiekongres in Cleveland, Ohio aanbied, ʼn groot voorsprong in aangewysde afgevaardigdes te hê. Die vraag is egter of hy teen Julie die belangrike 1237-merk kan verbysteek om die onbetwiste kandidaat vir die Republikeine te word.

Hy moet oor die volgende drie maande 60% van die oorblywende afgevaardigdes se steun wen indien hy meer as 1237 wil behaal. Sou hy nie daarin slaag nie, bestaan daar ʼn goeie kans dat sy teenstanders in Cleveland sal probeer om die anti-Trump stem te verenig en so vir Trump van die nominasie te ontneem.

ʼn Trumpkandidaatskap, sowel as enige alternatief, kan meebring dat die Republikeine diep verdeeld in November ʼn nasionale verkiesing moet aanpak. Hoe welgestelde hoofstroomsentrumregses, proteksionistiese bloukraag konserwatiewes, libertariërs en neokonserwatiewe intervensioniste voor November kan verenig om saam een kandidaat te steun, is tans onduidelik en die kanse daarvoor lyk toenemend onmoontlik.

Aan die Demokrate se kant is daar ook tekens van ernstige krake. In verskeie peilings is dit duidelik ʼn wesenlike deel van Bernie Sanders se ekstreemlinkse ondersteuners is nie bereid om Hillary Clinton te ondersteun nie. Die verdeeldheid onder die Demokrate is nog nie so wesenlik soos aan die Republikeine se kant nie, maar tekens van minstens ʼn beperkte onversoenbaarheid is duidelik. Hoewel Clinton gister goed gedoen het deur in Ohio, Illinois, Noord-Carolina en Florida te wen, is daar steeds miljoene linkse Amerikaners wat vir Sanders steun en ʼn redelike sterk afkeur in Clinton het.

Indien ʼn mens in ag neem dat tussen 120 en 140 miljoen kiesers vanjaar op 8 November aan die presidentsverkiesing sal deelneem, besef jy wat ʼn enorme uitdaging dit vir ʼn kandidaat is om ʼn koalisie van meer as 50% van hierdie kiesers te verenig om die verkiesing te wen.

Amerika is toenemend divers, nie net demografies nie, maar ook polities. Die opkoms van populisme aan die linker- en regterkant van die politieke spektrum skep ʼn moeilike situasie vir die Republikeine en Demokrate wat altyd hul ekstreme flanke as gegewe steun aanvaar het en eerder om die kiesers in die middel meegeding het. Die verlies van kiesers aan die meer ekstreme flanke gaan oor die volgende paar jaar ʼn interessante politieke dinamika in die VSA skep en sal waarskynlik die einde van die tweepartystelsel beteken.

Die verval van ʼn tweepartystelsel in die VSA volg op soortgelyke gebeure in ander Westerse lande. Frankryk het die afgelope paar jaar die opkoms van populistiese partye ervaar en Front National is tans besig om die gevestigde politieke stelsel daar sterk uit te daag.

In Duitsland was daar sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog ʼn tweepartystelsel met die Sosiaal-Demokrate en Christen-Demokrate wat afwisselend regeer het. Koalisies was byna nooit nodig nie en ʼn meerderheidstem was meestal ʼn gegewe. Met die opkoms van die Groenparty, die Alternatief vir Duitsland en tot ʼn mate ook die Linkse-party het Duitsland nou in ʼn veelpartydemokrasie verander. Veelpartykoalisies op staatsvlak en selfs na volgende jaar se federale verkiesing, op nasionale vlak, is Duitsland se voorland.

Die kanse dat ʼn derdepartykandidaat vanjaar in die Amerikaanse verkiesing goed kan doen, is baie skraal. Dit is besonder moeilik om in verskeie state op die stembrief te kom en die tyd daarvoor is ook reeds beperk. Michael Bloomberg, die skatryk oudburgemeester van New York, kon moontlik ʼn sterk veldtog gevoer het, maar het onlangs aangekondig hy gaan nie deelneem nie. Die laaste wesenlike aanslag van ʼn derde partykandidaat was Ross Perot se veldtogte in 1992 en 1996. Die Libertariese Party staan die beste kans om moontlik 2-3% van die stemme te wen.

Dit tyd is egter nou ryper as ooit tevore vir die ontstaan van nuwe politieke partye in die VSA. Indien die Republikeine en Demokrate voortgaan om populiste in hul eie geledere te onderdruk, kan afvalliges hier nuwe politieke bewegings begin. Die beste kans hiervoor sou wees indien die Republikeine ʼn manier vind om Donald Trump te verhoed om hul kandidaat vir vanjaar se presidentsverkiesing te word. Trump en sy miljoene ondersteuners sal waarskynlik dan uit die party tree en ʼn nuwe politieke beweging begin.

Dit lyk egter toenemend waarskynlik dat die Republikeine Trump as kandidaat sal moet aanvaar, wat weer ʼn afvalligheid onder veral neokonserwatiewes en welgestelde hoofstroomlede van die party kan veroorsaak.

Aan die Demokrate se kant sal die meeste Sanders-ondersteuners waarskynlik ʼn Clinton-kandidaatskap gelate aanvaar, maar met ʼn agenda om dit nie weer toe te laat nie. Die saad is gesaai en die ontkieming van nuwe politieke bewegings in die VSA het reeds begin.

Teen die verkiesing in 2024 kan ons moontlik vier tot vyf partye sien wat op meer gelyke voet met mekaar meeding. Intussen sal Amerikaners moet kies tussen Clinton, met haar hope bagasie en oninspirerende aanslag en Trump, met sy bombastiese houding en beperkte kennis van die politiek van die dag.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

JC ·

Dankie, dit is ‘n baie interessante en informatiewe artikel.

Trolle ·

Dit lyk vir my of daar n revolusie gaan kom maak nie saak watse kant gaan wen nie,nie een van die twee kante gaan tevrede wees met uitslag nie.Ek kan wel sien hulle is besig met baie vuil spel om Trump uit te hou amper soos Mugabe maak.

Hendrik ·

Trump is ‘n homofobiese, bullebak, stripclub eienaar wat aan die een kant die Bybel rondswaai om Christene se stemme te kry, en aan die ander kant verklaar dat hy nog nooit vir God om vergiffenis gevra het nie. Die enigste manier hoe Trump die VSA se president sal word is as a) Sanders die demokratiese kandidaat word, wat toenemend al hoe meer onwaarskynlik lyk, of b) as Sanders besluit om as ‘n onafhanklike kandidaat te staan. Trump sal die VSA terugneem na die George Bush dae toe Amerika die muishond van die internasionale gemeenskap was.

Nico ·

Ek stem nie noodwendig saam met jou uitlatings nie. Ek weet ook nie van watter bronne jy gebruik maak nie. Indien ‘n mens egter na die groter prentjie kyk : Donald Trump is bereid om op te staan teen die die sogenaamde “Establishment” of GOP “Grand Old Party” wat nie die wil van die mense respekteer nie, en met aanhoudende vuilspel hierdie opwindende patriotisme wil onderdruk. Hierdie man waag letterlik sy lewe om op te staan teen politieke korrektheid. ‘n Man met “guts” wat omgee vir sy mense. Wens ons kan so ‘n man kry wat vir ons sal opstaan

jurie Blanche ·

maak jou maar reg vir Pres Trump, die keer sal die burgers besluit wie word President en nie die media of lobby groepe nie.

Johan 2 ·

Ek stem met jou saam Nico. Hoofstoom media wat hom so uitbeeld, mense val nogal daarvoor.

Rupert Ashford ·

Die mense is kwaad, want wereldwyd word na ‘n agenda van die UN se pype gedans deur hulle “verkose” regerings en die ouens na wie se belange laaste omgesien word is die stemvee. Die politiese en media klas reken hulle kan die stemvee aan hulle neuse rondlei en dit het gewerk tot nou toe. Maar al hoe meer mense begin deur die streke sien, ten goede of ten kwade. Trump is ‘n simptoom van hierdie “siekte” en hy is slegs die eerste, nie die laaste nie. En onderskat hom maar op eie risiko.

Victor ·

Dis interessant dat daar onder Afrikaners – veral op Maroela Media – nogal baie ondersteuning is vir Trump. Mense verwys na almal wat na die UN se pype dans, dat Trump ‘n kandidaat die die “people” is, ens. Hoekom al die ondersteuning? Hierdie ou is net so skelm soos die res van hulle en tussen hom en Hillary is die keuse maar bra sleg. Nie een verdien om president te word nie.

Trump staan en braak op net wat die mense wil hoor. Groot “sweeping” statements wat al die red necks gelukkig maak met geen ware planne oor hoe hy alles wil uitvoer nie. Regtig, wat is so edel aan hierdie man?

Trolle ·

Victor dis omdat jy nie regtig weet wat agter die skerm aangaan nie wat jy nie sal verstaan regtig hoekom mense vir Trump stem nie.Gaan kyk bietjie hoekom die clintons,bush vamielie en oubama almal dieselfde gedoen het,en waar het dit die wereld heen gevat.

Victor ·

Trolle,

Ok, jy sê ek weet nie wat agter die skerm aangaan nie. Dus, weet jy? As jy nie weet nie, of een of ander konkrete bewyse vir jou stelling het nie, waarvan praat jy?

Ek stem saam die vorige reeks presidente is nie reg vir die US gewees nie, maar dit beteken nie dat Trump enigsinds gaan beter wees nie. Hierdie man se “track record” is die van ‘ruthless capitalist’ wat alles doen om te wen en voor te kom. So, as mens na sy geskiedenis kyk, dan doen hy hierdie net vir een persoon – en dit is hyself.

Trolle ·

Ek sal opstele moet skryf om alles te verduidelik Victor.
Doen net baie navorsing en jy sal dan self later verstaan,dis amper soos daai prenjies wat ons in die ou tyd gekry het met die no op wat jy die lyn trek van 1 na 2 dan no3 as jy nie al die punte bymekaar sit nie kan n mens nie sien wat die prentjie is nie.
Ek kan jou een iets se moet nooit vir CNN en Fox nuus glo nie hulle verdraai stories soos dit hulle pas dan kyk jy sommer wie besit daai tv kanale en jy sal dan sien hoekom hulle so lieg.

Victor ·

Trolle,

My eie navorsing het baie dinge vir my gewys – ook van die ou NP regering en die leuens wat hulle aan almal vertel het. Ek weet een ding, ek vertrou nie een van die kandidate in die US nie

Trolle ·

Ek stem saam met jou Victor n mens kan niemand meer vertrou nie ek vertou ook nie vir Trump 100% nie maar iets anders sal moet gebeur in wereld want USA kan nie so aangaan om gahos in wereld te veroorsaak nie net omdat hulle dit kan doen nie.ISIS sal dan die hele wereld oorvat want Russia sal nie meer kan keer nie hulle is bankrot nou met die US sanksies teen hulle.Trump het klaar gese hy wil nie oorlog teen Russia he hy wil trade met hulle wat n goeie ding is vir die hele wereld.Op die oomblik help die USA om China n supper power te maak waarvoor ek bang is want hulle is kommunisties.

Johan 2 ·

Victor, dit is n welkom verandering. Hy doen dit dalk vir homself maar dan ten minste nie vir die wêreld banke, olie maatskappy, wapen handelaars, ens nie. Verder dink ek smag allmal na vryheid van die dollar (wat waarskynlik nie gou gaan kom nie) maar met Trump is daar dalk hoop hoe klein ookal.
Die VSA is geweldig agresief teenoor ALMAL met militêre basisse omtrent oral en n geldeenheid wat alles beheer. Afrikaners op die forum weet waarskynlik ook goed hoe die VSA ons in die rug steek om elke hoek en draai en verwelkom dus enige verandering wat nie lyk of dit net nog n gesig is wat verander nie. Daai “twee party” stelsel beteken niks, die party verander maar niks verander verder nie, die mense agter die skerms bly presies dieselfde mense….maar nou LYK dit of daar DALK verandering is met n “mal mens” wat net dalk nie die psigopatiese magswolwe agter hom het nie.

Ek dink een skelm wat nie alles kan beheer nie is aantreklikker as n klom skelms wat voel hul moet alles beheer omdat hul kan.

Victor ·

Ek hoor wat jy sê Johan, maar hoe weet jy hy is nie ook maar in die sak van die wêreld banke, olie maatskappye nie, ens?

Ek stem saam met jou laaste sin veral.

Ek dink net, in hierdie tyd waarin ons lewe, niemand ‘n president van ‘n land soos die US word sonder dat daar “iemand” agter dit sit nie – en ek vertrou Trump se motiewe nie meer as enige ander kandidaat se motiewe nie.

“Perception is reality” en Trump, net soos die ander, maak baie mooi seker wat mense se “perception” van hom is

Knikkebollen ·

Dalk is Trump vir Clinton, wat Sarah Palin vir Obama was: die waarborg-kaartjie vir die Presidentskap….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.