Trump se Midde-Oosterse vredesplan

Foto: (AP Photo/Amr Nabil)

Die vredesplan vir Israel en die Palestyne, wat die Amerikaanse president Donald Trump onlangs bekend gestel het, is ’n goeie stuk realpolitiek en werk met die gegewens soos hulle vandag is.

Die ink op die dokument was egter nog nie droog nie toe dit reeds deur die Palestynse owerheid verwerp is. Deur Israel is dit daarteenoor gunstig ontvang.

Uit die aard van die saak sal ’n vredesplan van die VSA meer die belange van Israel – die land se mees getroue bondgenoot in die streek – in ag neem as dié van die Palestyne, maar die plan bied ook die Palestyne heelwat en dit is dwaas om dit summier te verwerp. Immers kom dit van die leier van die magtigste land op aarde.

Daarbenewens is die plan nie in beton gegiet nie: die Palestyne sou in onderhandelinge nog ’n paar toegewings kon beding. Nou lyk dit asof die Palestyne geen vrede soek nie. Die rede vir die Palestyne se verwerping is hul totale selfoorskatting en struggle-mentaliteit: Hulle wil nie erken dat hulle teenoor Israel hopeloos ondergeskik is nie.

Hul dekade lange-oorlog teen dié land het die lewe van baie mense gekos, veral dié van die Palestyne, maar niks is daardeur bereik nie. Die Palestyne, oftewel hul leiers (wat demokratiese legitimiteit ontbreek) leef nog in die waan dat hulle die hele Israel – of ten minste die grootste gedeelte daarvan (wat die hele Jerusalem ingesluit) – sal kry.

Intussen verswak hul posisie gedurig sedert die stigting van Israel in 1948. Anders as vroeër, staan die Arabiese wêreld ook nie meer geslote agter die Palestyne nie.

Hierdie is dalk die laaste kans om nog ’n Palestynse staat te kry – wel met talle beperkinge, maar ook met talle geleenthede en potensiaal.

Pres. Donald Trump en Benjamin Netanyahu, Israel se eerste minister. Foto: (AP Photo/Alex Brandon)

Die vredesplan van Trump behels kortliks die volgende:

  • Die Palestyne ontvang nie die hele gebied wat aan hulle in die 1994 Arafat-Rabin-ooreenkoms toegesê is nie omdat Israel talle nedersettings in die Wesoewer het wat deel van Israel bly en met korridors aan Israel verbind sal word.

Aan die ander kant ontvang die Palestyne gebiede wat tans deel van Israel is, sodat hul grondgebied oppervlakgewys feitlik dieselfde bly. Daar sal ook ’n tonnel wees wat die Gasastrook met die Wesoewer verbind.

  • Die grense is so getrek dat feitlik alle Jode en alle Palestyne (97% in beide gevalle) in hul onderskeie lande woon.

Belangriker as historiese aansprake, weeg die feitlike bevolkingsverspreiding.

  • Jerusalem sal sowel die hoofstad van die Jode as van die Palestyne wees, maar nie gesamentlik nie.

Die grootste deel, ook die historiese ou stad, bly onder Joodse beheer, terwyl Oos-Jerusalem die Palestynse hoofstad word. Die heilige plekke van aanbidding binne die ou stad, soos die tempelmuur en die al-Aqsa-moskee, sal wel vir die onderskeie geloofsgroepe toeganklik wees en die bestuur gaan voort soos dit tans is.

  • Daar is geen outomatiese reg tot terugkeer vir die “vlugtelinge” nie.

Dit is ’n dikwels herhaalde, maar onrealistiese eis. Die Palestyne wat weens die oorlog in 1948 uit Israel gevlug het, het geweldig vermeerder en is intussen in die vierde generasie. Trump se plan voorsien finansiële kompensasie en die integrasie waar hulle hul reeds bevind – in yl bevolkte buurlande soos Jordanië. Die reeds dig bevolkte Israel en die Palestynse gebied kan en wil nie nog meer vlugtelinge akkommodeer nie, veral omdat daar talle oproermakers onder hulle is.

  • Die Palestynse staat word nie dadelik onafhanklik nie, maar Israel sal beheer behou tot die Palestyne hul bekwaamheid en verbintenis tot vrede en demokrasie bewys het.

Tans is Palestina, bestaande uit die Gasastrook en dele van die Wesoewer, onder ’n ondemokratiese, korrupte leierskap wat terrorisme befonds. Israel sal volgens dié plan stapsgewys sy beheer oorgee aan die Palestyne. Soewereiniteit moet verdien word en verplig ’n staat tot goeie verhoudinge met sy buurstate.

  • As egte besigheidsman bied Trump die Palestyne talle ekonomiese geleenthede:

’n vryhandelsooreenkoms, uitvoergeleenthede deur Israel se hawens en later ’n eie uitvoerhawe en lughawe in Gasa, asook verdere beleggings in infrastruktuur.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Petrus ·

Nou ja. Die olifant in die kamer: As ‘n plan gemaak kan word om vir die Palestyne (wat soos roereier tussen die Isreali’s woon) ‘n eie staat te skep waar woonbuurte met tonnels en korridors aan mekaar verbind word, waarom nie ‘n soortgelyke oplossing vir Afrikaners nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.