Trump se nalatenskap moet anderkant sy persoon gesoek word

(Foto: MANDEL NGAN / AFP)

Dit was ʼn nederige, ouer en hopelik wyser Donald Trump wat Woensdagoggend by die St. Andrews-lugmagbasis buitekant Washington DC voor ʼn klein groepie ondersteuners finaal afskeid geneem het. Trump se kort toespraak is gekenmerk deur waardering vir die mense om hom en vir sy ondersteuners en deur sy opregte dank wat hy uitgespreek het vir die voorreg om te kon dien. Dit was ʼn ander Trump as die verwoede, vurige Trump wat sedert die verkiesing op 3 November met bewerings van enorme verkiesingsbedrog sy eie nalatenskap bykans aan flarde geskeur en sy beweging en party enorme skade berokken het.

Dit is tans baie moeilik om oor oudpres. Trump se nalatenskap te praat. Hy het onlangs die eerste Amerikaanse president ooit geword om twee keer deur die huis van verteenwoordigers in ʼn staat van beskuldiging geplaas te word. Binnekort kan hy die eerste president word wat deur die senaat skuldig bevind word.

Trump het die afgelope 11 weke sy eie nalatenskap enorme skade berokken. Hy het die konserwatiewe beweging, die Republikeinse Party, en selfs die Amerikaanse demokrasie van federalisme en ʼn sterk gedesentraliseerde kiesstelsel op onverantwoordelike wyse gediskrediteer.

(Foto: Pete Marovich – Pool/Getty Images/AFP)

Trump het op 3 November verlede jaar die Amerikaanse verkiesing verloor. Dit is ʼn feit. Hy het 74 miljoen Amerikaners oortuig om vir hom te stem – ʼn uitsonderlike prestasie wat 11 miljoen stemme beter is as Bush se vorige rekord vir ʼn Republikein in 2004. Hy het egter soveel vyande gemaak, soveel woede onder sy opponente ontketen en soveel vrees onder sekere dele van die Amerikaanse bevolking aangewakker dat 81 miljoen Amerikaners – ook ʼn rekord – teen hom gaan stem het. Want ja, die 81 miljoen stemme vir Biden was in ʼn groot mate eerder 81 miljoen stemme téén Trump.

Die Trump-era is verby en Trump sal die Republikeine en die konserwatiewe beweging ʼn groot guns bewys om hom aan die aktiewe politiek te onttrek. Die Republikeine sal egter ʼn groot fout begaan indien hulle dink dat ʼn verwydering van dit wat Trump verteenwoordig het, sy beleid, sy empatie met gewone Amerikaners, sy begrip van die vervreemding van ʼn groot segment van die Amerikaanse kiesers en sy vermoë om met ekonomiese en kulturele populisme die Republikeinse party se steunbasis te vergroot, nou die oplossing vir die party is.

Die Republikeinse Party kan nie weer die party van ouer, wit buiteklublede word nie. Hoewel hierdie groep van hoërmiddelklas-, dikwels meer konserwatiewe, Amerikaners steeds ʼn belangrike deel van die party se steunbasis uitmaak, het Trump die afgelope vyf jaar daarin geslaag om die Republikeinse Party die party van gewone hardwerkende, behoudende Amerikaners, wat oor hul gesinne, instellings, gemeenskappe en land bekommerd is, te maak. Dit mag dalk Trump se grootste enkele nalatenskap wees, sou die regte opvolger vir Trump na vore tree om sy beleid en boodskap op ʼn meer geloofwaardige en afgeronde wyse in volgende verkiesings aan Amerikaanse kiesers te bied.

Foto: REUTERS/Carlos Barria

Ten spyte daarvan dat Trump die Amerikaanse kiesstelsel en demokrasie op onverantwoordelike maniere diepliggend benadeel het, was sy administrasie van vier jaar propvol suksesse wat ongelukkig nou deur veral die hoofstroommedia ontken word.

Tydens die eerste drie jaar van Trump se regering is sewe miljoen werksgeleenthede geskep. Werkloosheid het tot op die laagste vlak in 50 jaar gedaal. Ja, een rede was die positiewe ekonomiese siklus wat onder Obama se leiding begin het, maar Trump se verlaagde belastingkoerse en deregulering van verskeie ekonomiese sektore het ʼn groot rol gespeel. Sy proteksionistiese handelspraktyke het tot die skep van 1,2 miljoen vervaardigingsposte bygedra.

Die gemiddelde inkomste van ʼn middelklasgesin in Amerika het tydens Trump se presidentskap met $6 000 per jaar gestyg. Dit is vyf keer meer as tydens die agt jaar van Obama se regering. Die salarisse van Amerika se werkersklas het met 16% gestyg en veral minderheidsgroepe het die meeste hierby gebaat. Huiseienaarskap onder swart Amerikaners het van 41,7% tot 46,4% toegeneem.

Een van die grootste suksesverhale van die Trump-administrasie was sy enorme poging om regulasies te verminder. Die Trump-administrasie het 25 000 bladsye se regulasies uit die Federale Register laat verwyder, terwyl Obama nog 16 000 bladsye tot die regulasies bygevoeg het. Deregulering het tot die ontwikkeling van meer kleinsakeondernemings gelei en het tot verdere groei in onder meer die ontginning van natuurlike hulpbronne aanleiding gegee. Die hoeveelheid nuwe generiese medisyne wat jaarliks goedgekeur word, het danksy Trump se dereguleringspogings met 50% toegeneem wat tot ʼn laer koste vir medisyne aanleiding gegee het.

(Foto: Randy Hoeft/The Yuma Sun via AP)

Veral arm swart kinders in Amerikaanse stede het aansienlik baat gevind by die Trump-administrasie se pogings om skoolkeuse te verbreed en ouers self te laat kies waar hulle hul kinders wil laat skoolgaan.

In die lig van sy fokus op “Amerika Eerste”, het Trump sy grootste suksesse, ironies genoeg, waarskynlik op buitelandse gebied behaal. Die Trump-administrasie het ʼn groot bydrae gelewer om die Islamitiese Staat in Sirië en Irak te verslaan. Anders as Obama het Trump sy belofte nagekom om Amerikaanse soldate uit oorloë in Irak, Sirië en Afganistan te onttrek. Hy het Europese lande gedwing om groter verantwoordelikheid vir hul eie verdediging te begin aanvaar. Op Trump se aandrang het Navo-lidlande hul finansiële verbintenis met $400 miljard teen 2024 verhoog.

Die ooreenkomste wat tussen Israel en verskeie Arabiese lande bereik is, was te danke aan Trump se onkonvensionele en transaksionele diplomasie. Dit het die Midde-Ooste in ʼn nuwe era ingedwing en het die Palestyne laat besef dat hul kat-en-muis-speletjies tot ʼn einde gekom het en dat hulle met erns sal moet onderhandel indien hulle nog ʼn eie Palestynse staat wil sien verrys.

Ook Trump se aggressiewe benadering jeens China was tydig en nodig. Dit is duidelik dat die Biden-administrasie, net soos met Trump se Midde-Oosterse beleid, ook nie van sy benadering jeens China sal kan afwyk nie. China het die grootste bedreiging vir die Westerse demokrasie geraak. Dit is nou ʼn feit.

Foto: (Doug Mills/The New York Times via AP, Pool)

Konserwatiewe Amerikaners is Trump groot dank verskuldig vir die 234 federale regters, drie regters in die hooggeregshof, 54 regters in die federale appèlhowe en 174 regters in distrikshowe wat deur Trump benoem is. Trump het Amerika se grensbeheer verbeter, 600 km se grensmuur laat blou en onwettige immigrasie doeltreffend teengewerk.

Die Trump-administrasie se suksesse is heelwat meer as wat in bogenoemde opsomming genoem word. Die hoofstroommedia, ook in Suid-Afrika, se eensydige ontkenning daarvan spreek van sensuur in dieselfde gees as die drakoniese wyse waarop konserwatiewe stemme die afgelope tyd op sosiale media onderdruk word.

Soveel dinge kon seker anders gewees het sou Trump op 4 November die verkiesingsuitslag aanvaar het en hom eerder daarvoor beywer het om die konserwatiewe beweging en die Republikeinse Party te help uitbou. Die Trump-administrasie was van dag een af chaoties en ongedissiplineerd en Trump se regeerstyl was een wat bondgenote ongelukkig aanhou vervreem en tot die een skandaal na die ander aanleiding gegee het.

Anders as wat die media berig, is Trump egter nie die ongewildste oudpresident nie. Trump se steun onder Amerikaners is tans wesenlik hoër as wat George W. Bush se steun was toe hy in 2008 die Withuis verlaat het. Trump se steun is natuurlik baie hoër as die steunvlakke van ander gediskrediteerde oudpresidente soos Richard Nixon, Warren G. Harding en James Buchanan.

(Foto: Cory Morse, AP)

Trump se nalatenskap gaan egter oor die volgende paar jaar deur twee dinge beïnvloed word. Eerstens hoe sy eie party daarop gaan reageer en of hulle daarin gaan slaag om die goeie daaruit te neem en ʼn groter, beter party daaruit te bou. Gaan Trump-Republikeine ʼn heksejag voer teen partyleiers wat teen Trump gedraai het? Hieroor het Ronald Reagan gesê dat jou 80%-bondgenoot nie jou 20%-verraaier is nie. Party-eenheid gaan ʼn enorme uitdaging wees en Trump kan steeds ʼn rol speel om die party te help verenig of verdere verdeeldheid onder die Republikeine te saai.

En tweedens is die vraag natuurlik tot watter mate die Biden-administrasie Trump-beleid gaan voortsit of omkeer en tot watter mate Biden gaan slaag of misluk, en hoe dit persepsies oor Trump se hantering van die belangrikste Amerikaanse vraagstukke kan help inkleur. Die laaste woord oor Trump se nalatenskap is nog nie gespreek nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Francois ·

Met al sy foute, sou ek eerder vir hom saamvat oorlog toe, as vir Biden. Ek vermoed hulle gaan nog vir Trump mis…

Therese ·

Jaco Kleynhans is ‘n skitterende voorbeeld vir ander van hoe objektiewe politieke kommentaar moet lyk. Dankie, dit was dun gesaai die afgelope vier jaar!
Hoe anders kon dinge nie gelyk het sonder die nimmereindigende meedoënlose heksejag deur ‘n vyandige Demokraat Party en ‘n sensasiebeluste wêreldmedia nie.
Wie kan vergeet hoe selfs die Trump-Merkel-handskud hoofberigte gehaal het.

Adam Adriaan ·

ja nou toe. Die militêre troepe bewys die afelope dag of wat, die respek wat ou Jo afdwing. Hy word nie eers gesalueer nie en die troepe draai hulle rug op hom as hy verby kom. Wat sê dit vir ‘n mens. ‘n Foto of video lieg nie en dit dien as bewys van die waarheid. Kyk ‘n bietjie rond op die media platforms vir die bewyse. Vir Trump het hulle die grootste respek gehad!!!

Stof ·

Sy morele waardes, en onbeskaamde wyse hoe hy dit bevorder het en aan derduisende gemotiveer het tot ‘n lewe van ware integriteit, maak dat ek net respek het vir Donald Trumph.
In besonder, die wyse hoe sy Christus getuienis wyd en syd gedeel is, maak van hom ‘n ware edelman, ‘n ware Koninkryksprins.
Viva Donald!

Anton ·

Ek sou argumenteer dat Trump se nalatenskap agv en nie ten spyte van sy persoon is nie. Romney en McCain het gewys dat die Demokrate “fair play” as swakheid uitbuit. Wat die VSA nodig gehad het was ‘n “street fighter” en “pit bull”

Rupert Ashford ·

Anton, jy praat waar. Wat mens moet verstaan van die NWO linkerkant van die politieke spektrum oor die algemeen (ek veralgemeen) is dat hulle soos ‘n wolf in skaapsklere optree, so ‘n reuse vertoon van fatsoenlikheid terwyl ‘n “whatever it takes” veldtog in die agtergrond gevoer word. ‘n “Nice Guy” gaan nooit weer wen teen die demokrate selfs met Trump se idees nie. Jy moet bereid wees om vuil te veg. Ronald Reagan sou nie in vandag se politiek gewen het nie.

Rupert Ashford ·

Die Republikeine se sukses of mislukking sal bepaal word deur hoe hulle die impeachment hanteer. As hulle teen Trump draai, sal maklik 10 miljoen van daai 74miljoen hulle verwerp en dan sal hulle vir die volgende 10 jaar nie weer enige beheer van enige huis of the presidensie ruik nie. Republikeine sal ook moet begin werk op grassroots om die verkiesings regulasies in die individuele state reg te ruk om die geleenthede vir knoeiery aan bande te le. Die Amerikaners se beheer rondom verkiesingsintegriteit sal Suid-Afrikaners se hare laat regop staan en daar is baie geleentheid vir knoeiery met posstemme.

Jaco ·

Hiers nou ‘n perfekte kans om te gebruik: Biden en sy Demokrate beheer nou die volle regering van Amerika. Dis sterk ingestel op human rights en oop grense en oop immigrasie. SA se president hou weer nie van SA se wit mense nie en mors rond met ons human rights. So kom ons vra ramaphosa en biden om saam ooreen te kom dat al SA se wit mense na die oop Amerika gedeporteer word. Dan is ramaphosa ontslae van die wit mense wat alles in SA so “ongelyk” maak en dan kan Biden se mooi oop immigrasiebeleid en klem op human rights sommer dien as goeie voorbeelde van watse “mooi” land Amerika nou is. Eerlikwaar, eks bereid om met niks van vooraf in Amerika te begin. Daar is darem, selfs onder die Demokrate, nie beurtkrag, plaasmoorde, onbeheerde misdaad en swak munisipale dienslewering nie.

Kosie ·

Ek stem gedeeltelik saam met jou Jaco, maar hoekom wag vir Cyril en Biden om vir jou te sê jy kan gaan? Ek sou voorstel gaan net, as die V.S.A. nie vir jou ‘n visum wil gee nie probeer Kanada en so nie Mexico. Stap oor die grens en word ‘n onwettige emigrant. Biden het reeds ‘n ‘Executive Order’ geteken dat jy vir die volgende 100 dae nie uit die land gegooi mag word nie. So, gaan net, daar is niks om jou te keer nie. Ons moet dalk bietjie ophou met die ingesteldheid om altyd iemand se goedkeuring te vra. Wil jy ‘n Amerikaanse burger word, die grense is nou oop vir 100 dae. Gryp die geleentheid aan…

Kirst ·

Net jammer Biden het ons vandag verbied om daarheen te reis, so daardie plan gaan nie werk nie. Die Demokrate is in elk geval liewer vir Moslems as vir wit Christene van ander lande so verander eerder jou naam na Kosef en koop ‘n rok en ‘n blik skoenpolitoer.

Frans ·

Biden is geheel en uitdrukkingloos-net sy lippe beweeg en lyk dit of hy van buite af beheer word.Daar is ‘n reuse vlugtelingkaravaan wat 2600 km ver in Honduras begin het, op pad en dit groei by die dag.
Die dag kom al nader dat vlugtelinge die politieke toneel in Amerika gaan oorheers en die Republikeine se kanse om te regeer al hoe kleiner word.
Die Pew research centre beraam die totale vreemdeling gebore bevolking op 45.6 miljoen.
Die 2020 bevolking van die VSA word beraam op 331 miljoen. Die 45.6 miljoen is amper 14% en soos hul alhoemeer stemgeregtig raak het dit die vermoë om die verkiesing alhoemeer te beinvloed en waarskynlik meer ten gunste van die Demokrate

Die Wolf ·

Pence gaan n groot rol speel in die Republikeine se comeback. Trump sal die persoon wees wat agter die skerms die dinge gaan roer. Biden word voorgeskryf deur Obama wat nie werklik iets vir die VSA beteken het nie,behalwe om net skuld te maak en geld weg te gee.

Chris ·

Ek het met ‘n voorspelling gewaag dat Trompie herverkies gaan word. Ek het erg in die hek geduik. Die Amerikaners is anderste mense en hul kiesstelsel nog vreemder. Ek hoor dat hy 81 miljoen ondersteuners op Tweeter gehad het. As elkeen net vir Trompie gestem het sou Osama Bin Biden nie “gewen” het nie. Ek dink tog daar is ‘n slang in die gras. Ek dink die VSA gaan ‘n onbekende onseker tyd tegemoed. Die Amerikaners glo ek is uit hul luilekker, gemaksutige Coke & Hamburger kultuur geruk. Daar het die afgelope jaar goed gebeur wat onder die mat ingevee is. Ek is bevrees die Demokratiese beleid se tyd is ook uitgedien. Dit is soos van vriende en kennisse wat ek hier het. Dit is mos “in tel” om links/liberaal te wees. Daar is mos ‘n snobisme daaraan verbonde. Hoe meer demokraties kan mens word? Die rassespanning is nog lank nie oor nie en die begin is nou op hande.

Therese ·

Asseblief Maroela:
Lesers sal belang stel in dié “link” op die respektabele Politicsweb raakgelees:
“Law Professor responds to WOKE University” op Youtube.
Prof. David K Clements gesels oor die verkiesingsbedrog, bedreiging van spraakvryheid en die Capitol-fiasko.
Enige ordentlike Trump-ondersteuner sal die 30 minuut video waardeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.