Trump se ommeswaai in internasionale beleid kry net nie end

2016 Election Trump

Pres Donald Trump Foto: AP Photo/John Locher

Verlede jaar tydens die Amerikaanse verkiesingsveldtog het Donald Trump die dapper stap gewaag om teen die grootste deel van sy party se standpunt in te gaan en die Amerikaanse oorlog in Irak as ’n sinnelose oorsese avontuur wat tot voortslepende skade vir Amerika lei, te beskryf.

Trump het verder gegaan deur te sê dat enige poging van Amerika om pres. Basjar al-Assad van Sirië uit die kussings te lig in die hand van terroristegroepe soos die Islamitiese Staat sal speel.

Trump se standpunt het vir hom sterk steun gewen onder miljoene Amerikaners wat moeg was vir die oorlogsmal, intervensionistiese konsensus wat gans te lank die Republikeinse Party oorheers het. Soveel Amerikaners was en is steeds teen duur oorsese oorloë gekant dat Trump se standpunt oor Amerikaanse militêre betrokkenheid in die Midde-Ooste en Asië baie stemme vir hom kon wen.

Die afgelope paar weke het Trump en sy administrasie egter totaal van standpunt verander. Eers het die Trump-administrasie ʼn verbintenis tot die verdediging van Suid-Korea en selfs Japan teen Noord-Koreaanse aggressie bevestig. Sowat 30 000 Amerikaanse soldate en ’n groot verskeidenheid van die beste wapentuig waaroor die Amerikaanse weermag beskik, word teen ’n enorme koste in Suid-Korea en Japan gereed gehou.

Waar Trump aanvanklik, heeltemal korrek, krities was oor die uitgediende idees van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie en veral die groot koste van dié naoorlogse verdedigingsburokrasie, het Trump intussen kritiek teen Rusland se betrokkenheid in die Oekraïne uitgespreek en voortgegaan om Amerika se betrokkenheid in Oos-Europa te bevestig, alles teen die wil van Rusland.

Die grootste ommeswaai deur die Trump-administrasie het egter verlede week gekom met die skielike besluit om ’n lugmagbasis van die Siriese weermag gedurende die nag met dosyne missiele te bombardeer. Die konflik in Sirië is uiters ingewikkeld en talle Westerse leiers het al bevestig dat dit onmoontlik is om tussen ’n goeie en slegte rolspeler te kies. Eerstens is die konflik tussen ’n wye reeks partye van oor die hele spektrum tussen goed en baie boos.

Deur Basjar al-Assad uit die kussings te lig sal ’n leierskapsvakuum geskep word wat – soos vroeër in Irak en Libië, nadat Saddam Hoesein en Moeammar al-Ghaddafi se tande deur Westerse magte getrek is – tot ’n teelaarde vir ekstremistiese groepe sal lei. Talle groepe soos die Islamitiese Staat en Al-Kaïda droom van ’n situasie waar Al-Assad se regering deur Westerse magte uit die kussings gelig word.

Trump se ommeswaai in Sirië word gemotiveer deur die gifgasaanval in ’n stad wat tans deur rebellemagte beheer word. Daar bestaan eerstens geen bewyse dat die Siriese regering vir die aanval verantwoordelik was nie en tweedens kan een enkele, hoewel bose aanval, tog nie die beleid van die magtigste land in die wêreld bepaal nie. Hierdie gifgasaanval was in elk geval nie die eerste van sy soort in die Siriese oorlog nie.

Trump se toenemend aggressiewe internasionale beleid vernietig enige kanse op ’n beter verhouding met Rusland, Iran, Turkye en ander belangrike moondhede. Dit laat ook vrae oor Trump se blykbaar maklike ommeswaai in standpunte en sy vermoë om deur die neo-konserwatiewe oorlogsmal groepering binne die Republikeinse Party by onnodige konflik in lande soos Sirië en Noord-Korea ingesleep te word. Intussen verloor hy van sy grootste ondersteuners.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Rynhardt

Trump het reeds sy woord verbreek teenoor amerikaanse kiesers deurdat hy Sirie aangeval het.In die Wit Huis sit Trump met nog baie van Obama en “Hitlary” Clinton se demokratiese begasie.Talle geheime agentskappe (dienaars van Demokrate en nuwe wereldorde) is ook nog nie deur Trump verander nie.Die gifgasaanval was nie gepleeg deur Basjar al-Assad (wat n Christen) is nie, maar dit was n valsvlag gewees! Die vermoede was dat Saudie-Arabie betrokke was.Trump het sy mag misbruik en bo oor die Amerikaanse kongres gegaan om Sirie te gaan aanval.Nou grom hy en kommunistiese Noord-Korea vir mekaar! Trump gaan net volg in die… Lees meer »

Kobus Hattingh

WAS eers n aanhanger maar het intussen deur die man gesien. Mag hulle nog vinnig van hom ontslae raak want hy gaan ons almal nog in ‘n 3de Wereld oorlog laat beland.

Pietman

Beste ding wat enige land kan doen is om kernwapens te bekom. Die VSA los lande uit wat kernwapens besit. Kernwapens het waarsknlik ‘n helse oorlog tussen die VSA en Rusland voorkom.

Rynhardt

Sopas op E-Tv het Korea bevestig dat hul voorbereidings tref vir n oorlog teen die VSA! VSA kan hul enige tyd aanval.Die kruitvat wag om aan die brand gesteek te word.Dit gaan jou hele wereld intrek, voordat die Vierde Reich uit Europa gaan opstaan.Nie n goeie rigting wat die wereld tans inslaanaan met dwase van die wereld nie.

Dirk Breytenbach

My nederige voorstel is om onsself besig te hou met die krisis in SA. Die kommentaar en menings of Trump nou goed of sleg is ‘n mors van tyd. Rome brand!