Trump se opsies min in stryd met Noord-Korea

Donald Trump

Pres. Donald Trump. Foto: AP Photo/Evan Vucci

Tydens verlede jaar se Amerikaanse verkiesingsveldtog het ’n jong man by een van Donald Trump se reuse byeenkomste ’n plakkaat vasgehou met die woorde: “Uiteindelik, iemand met waagmoed” daarop geskryf. Baie Amerikaners, spesifiek ’n meerderheid van daardie 63 miljoen kiesers wat vir Trump gestem het, het gevoel dat Barack Obama op verskeie terreine te sag opgetree het en dat ’n meer politiek-inkorrekte, byna bombastiese harde benadering in die Withuis nodig was.

Wanneer Trump dus wegtrek met neerhalende Twitter-boodskappe vroeg op ’n Sondagoggend moet ’n mens onthou dat sy retoriek en aanslag juis dit is wat hom verlede jaar se verkiesing laat wen het. Wanneer retoriek en die werklikheid voor die ongemaklike posisie staan om mekaar êrens te ontmoet, word leierskap werklik getoets.

Noord-Korea se aggressiewe militêre toetse, insluitende die afgelope naweek se toets van ’n waterstofbom, skep die grootste buitelandse uitdaging vir Trump sedert hy in Januarie president geword het. Sy reaksie in ’n reeks boodskappe op Twitter Sondagoggend was vol van die soort retoriek wat talle van sy ondersteuners baie gelukkig sal maak. Trump se dreigemente dat die VSA ’n grootskaalse aanval op Noord-Korea sal loods spreek van kragdadigheid. Selfs China en Suid-Korea het Sondagoggend deurgeloop omdat Trump voel hulle nie genoeg doen of goed genoeg besef hoe groot die Noord-Koreaanse bedreiging regtig is nie. Trump se vroegoggendboodskappe op Twitter is opgevolg deur ’n mediakonferensie deur sy minister van verdediging, genl. Jim Mattis, waar Mattis gesê het dat die Amerikaanse weermag reg is om Noord-Korea volledig uit te wis.

Dit is nou hier waar retoriek en werklikheid mekaar gaan begin toets. Oor die afgelope vier dekades het Amerikaanse regerings probeer om met dreigemente, sanksies, militêre oefeninge op die Koreaanse Skiereiland en selfs kubersabotasie die Noord-Koreaanse bedreiging intoom te hou. Dit lyk egter asof geen van hierdie opsies meer suksesvol is nie.

Vir lank was Noord-Korea soos ’n skoorsoekende klein hondjie wat eintlik geen bedreiging inhou nie. Dit raak egter duidelik dat dié land se vermoë om langafstandmissiele suksesvol af te vuur en sy ontwikkeling van ’n kernbom, klein genoeg om op so ’n missiel te pas, ’n werklikheid raak. Dat Noord-Korea binne die volgende twee of drie jaar oor die vermoë sal beskik om Amerikaanse stede soos Los Angeles, San Francisco en Seattle met ’n kernbom aan te val, lyk toenemend moontlik.

Wat is dan die opsies vir die VSA en sy bondgenote? Die ideaal sou wees indien China meer druk op Noord-Korea kon plaas om sy militêre program te staak en tot onderhandelings met die Weste, Suid-Korea en Japan toe te tree. Noord-Korea is besonder afhanklik van ekonomiese betrekkinge met China. China moet egter ’n goeie motief hê om Noord-Korea finaal ekonomies te isoleer en Trump se houding jeens China is nie juis hiervoor bevorderlik nie.

Die Amerikaners kan sekerlik oorweeg om ’n vinnige, volskaalse oorlog teen Noord-Korea te loods. Noord-Korea se militêre vermoë kan sodoende vinnig uitgewis word, maar dit sal gepaardgaan met enorme lewensverlies. Daar is min ander opsies, soos om Kim Jong Un te laat vermoor of om te hoop huidige sanksies en druk slaag wel een of ander tyd.

Gaan Trump ’n balans tussen retoriek en werklikheid vind en sal die probleme met Noord-Korea sy groot nalatenskap of sy ondergang beteken? Niemand weet nie, maar ons behoort binnekort uit te vind.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Hoe ironies dat “probleme met Noord-Korea Trump se groot nalatenskap of sy ondergang kan beteken”, terwyl Noord-Korea se vreesaanjaende kernwapenontwikkeling onder die ‘wakende oë’ van sy ‘formidabele’ voorgangers geskied het.

President Trump het helaas heeltemaal te laat op die toneel verskyn!

Kom Ons Boks ·

China het die mag om nagenoeg die hele Suid-Sjinese See te annekseer en lande soos Indonesia, Philippines, Vietnam, Malaysia, Cambodia, Singapore uit hulle maritieme soewereiniteit te boelie. Maar China sukkel om DPRK in te tou? China is duidelik hier aandadig, asook Rusland wat ‘n grens met die DPRK deel. Persoonlik dink ek die DPRK is niks meer as ‘n blafferige brakkie nie – die toets van mag en invloed in Asie is vierkantig tussen die VSA en China (deur hul bondgenote respektiewelik). Hierdie gaan ‘n koue oorlog wees.

Frans C ·

Dit is nie net ‘n Trump probleem nie,dit is ‘n wêreldprobleem. Waar Suid Afrika heel waarskynlik onder buitelandse druk sy kernwapens onskadelik gestel het,vee Noord Korea
sigself af aan enige kritiek.

Sê nie veel vir die sg groot moonthede van die wêreld nie.

Thomas John ·

Trump is ‘n patetiese grootbek wat absoluut nog niks reggekry het nie – hy het beloof om die VSA ambassade na Jerusalem te skuif, om Obamacare te vervang, om ‘n muur op die Meksiko grens te bou… nog niks het werklikheid geword nie! Buitendien het hy sy sienings oor buitelands kwessies al male sonder tal gewysig… Die internasionale gemeenskap beskou hom as ‘n nar…

anton ·

Nou verwag jy dat hy alles al moes gedoen het in net 6 maande???
Sekere goed vat darm ook n tydjie hoor.
En onthou tog ook net dat die Amerikaanse ”Congress” eintelik Amerika se meeste besluite neem. Die President het nie so baie mag en se, as wat mense mag dink nie.
Ek persoonlik dink hy is n ”YSTER” en beste ding wat ooit met Amerika kon gebeur het!!!

Kom Ons Boks ·

Gits Thomas, die persoonlike beledigings spreek boekdele vrind. Jy weier seker om die rekord groei van die VSA ekonomie tov kleinhandel/verbruikers vertroue/vernaamste beurse in te reken, of die feit dat onwettige immigrasie virtueel oornag verdwyn het, of dat oorlogs-veterane nou beter mediese voordele geniet as ooit tevore, of dat voorkeer aan wet en orde bo linkse- of regse geweld/protesaksie gegee word, of dat DACA/Paris Accords/trans-seksueles in weermag nou uiteindelik afgestel word/is en broodnodige Dakota pyplyn ondersteun word, of dat vervaardiging sektor se uitset op ‘n 16 jaar hoogtepunt huidiglik is, of dat hy $1mil uit eie sak geskenk het vir relief in Texas na Harvey. En dit is vermag in slegs 6 maande met slegs ‘n fraksie van sy kabinet wat die demokrate nog steeds aanhou kelder (as dit van die vyandige demokrate afhang sal geen van sy beloftes realiseer nie). Nie sleg vir ‘n patetiese grootbek nie of hoe…

Thomas John ·

@Coenraad Ek woon nie in SA nie… @Anton Ja ek weet hoe werk die VSA regeringstelsel en die rol van die kongres, maar die punt bly steeds, Trump weet dit ook maar hy het beloftes gemaak wat hy nimmer as te nooit gestand sal kan doen nie. Hy is ‘n glansgans grootbek, kant en klaar!

vrikie ·

Wys ons ‘n hedendaagse staatsleier wat wel sy beloftes gestand doen

Kom Ons Boks ·

Hoe lank het dit Obama gevat om die gehate “Obamacare” tot wet te roep? Kongres en Senaat was Obama ook nie naastenby so vyandig nie. Miskien moet Thomas begin om appels met appels te vergelyk en nie met gebrande pere nie. Ronald Reagan het ‘n baie similere eerste termyn gehad as wat Trump huidiglik sover het, vandag word die Republikeinse Reagan en sy “Reagonomics” beskou as een van Amerika se goue eras. Terloops, Reagan het ook eers ‘n draai in Hollywood gehad voor hy sy buiging in politiek gemaak het.

John ·

Trump is nie die koning van die aarde nie. Hy het skaars aangeland as VSA-president dan moet hy al die vorige dwase presidente in sy land plus al die wereld se probleme en geskiedkundige foute regstel en Hillary se verwoede agterbakse aanslae omdat sy verloor het plus die demokrate se sosialistiese oppertunisme plus die CIA, die FBI en big -brother-Pentagon se reeds uitgetrapte militere kaart beveg of uitvoer. En dan is daar die honger bakhandbaba-Ukraine en die toue Mexikaners en… en… en dan is daar Japan en sy vrese en… en dan is daar Noord-Korea. Wie help die land om ‘n U-bom te bou? Wie dryf handel met hom? Wie bly in die direkte omgewing? Dis mos ook hul verantwoordelikheid. Hoekom treiter Suid-Korea sy buurland met popfeeste en uitsendings op die grens? Is alles Trump se skuld? O tog… ek het van CNN & kiekie vergeet… die ultra-wereldleier. Miskien kan die voorsitter van die ruimte-kontinent ingryp… Hulle weet mos alles… Wat van ‘n paar vals e-posse en berigte… dit sal met Noord-Korea se gal werk..

Oom Kosie ·

Noord Korea het n obsessie om sterk genoeg te wees om n Japan of ander aanvaller te stuit wat in vorige eeue hulle verslaaf het. As NK die kernwapen vervolmaak het sal dit waarskynlik nie onverantwoordelik optree nie. Vòorafgaande was die siening van n kundige.

Kom Ons Boks ·

Ek weet baie kundiges meen dat DPRK hulself sien in ‘n oorlewingstryd, maar die retoriek van Kim se kant af klink regtig nie vir my na oorlewings praatjies nie. Hulle het huidiglik, bemannings gewys, een van die grootste weermagte ter wereld en selfs iemand soos die VSA dink twee- of drie keer oor militere opsies teen DPRK. En hulle het mos nou ‘n bom en huiwer nie om ICBMs oor Japan te skiet nie (Japan is China se enigste ware kompetisie in Asie en belangrike VSA bondgenoot). Iemand soos Israel is wel in ‘n oorlewingstryd gewikkel en min tot geen ooreenkomste kan ek tussen DPRK en Israel bespeur nie. Hoor graag van die ander se menings hieromtrent.

Gerhard ·

Donald Trump is waarskynlik goed deur sy weermag en raadgewers ingelig oor hoe om op te tree. Hy sit waarskynlik en wag vir Noord-Korea om hulle vogende stap te neem wat waarskynlik nie gaan wees om in te gee nie. Intussen plaas hy net meer druk op NK. Dit sal waarskynlik baie meer druk neem om iets van Noord-Korea kry soos bv. die wete dat daar oorlog sal wees wat Noord-Korea sal verloor.

Dit is natuurlik ook iets wat die Amerikaners oorweeg. Hulle kan NK se weermag amper totaal vernieg in net ‘n paar dae. Verder hoef hulle ook nie werklik die oorlog op die grond te veg nie, Suid-Korea is sterk genoeg om dit te doen en die Amerikaners kan hulle toespits op lugaanvalle en bloot die Suide te ondersteun.

Die situasie met NK gee Donald Trump ook die geleentheid om nog iets wat hy wil he te kry, dit is om Sjina ekonomies onder druk te plaas. Die Sjinese sal moet kies tussen NK help en ekonomies daarvoor te betaal of NK aan sy lot oor te laat.

Persoonlik dink ek Donald Trump sit met al die kaarte en hy weet dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.