Trump se problematiese mandaat

Donald Trump

Foto: AP Photo/Paul Sancya

Laat ek begin met ʼn uitdagende stelling, wat egter onmiddellik genuanseer moet word: Donald Trump het nie die pas afgelope Amerikaanse presidentsverkiesing gewen nie, Hillary Clinton het. Clinton het 60 467 245 stemme (47,7%) getrek, teenoor 60 071 650 (47,4%) vir Trump. Sy het dus byna 400 000 stemme meer as Trump gekry.

Maar goed, die Amerikaanse politieke stelsel is nou eenmaal soos hy is. Die kiesers kies nie die president regstreeks nie; hulle kies per deelstaat afgevaardigdes na ʼn kieskollege, wat dan die president aanwys.

En in die kieskollege het Trump meer stemme gekry as Clinton: 290 teenoor 232. En dus was dit verlede week hý, pleks van Clinton, wat na die Withuis genooi is om die bewindsoorgang met pres. Barack Obama te bespreek.

Nou die nuansering: al het Clinton eintlik naelskraap gewen, bly dit ʼn feit dat feitlik alle kenners en peilings Trump se steun onderskat het. Weliswaar nie met verskriklik veel nie. Die dag voor die verkiesing het die gemiddeld van alle peilings, soos opgeteken op die webwerf RealClearPolitics, ʼn voorsprong van 3,2 persentasiepunte aan Clinton gegee.

Peilings is ʼn moeilike ding. Om akkuraat te wees, moet die monster wat jy meet, so getrou moontlik aan die egte bevolkingsamestelling wees en dis baie moeilik. Vandaar dat peilings altyd met ʼn voorbehoud uitgereik word. Hulle gee deurgaans ʼn foutmarge van so 4 persentasiepunte aan.

In die RealClearPolitics-gemiddeld, het Clinton met 3,2 persentasiepunte voorgeloop. Uiteindelik het sy met 0,3% “gewen”. Wat beteken die werklike uitkoms was bínne die foutmarge.

Vandaar dat elke kommentator wat sy sout werd is, frases soos “as die peilings korrek is” en “dis nie peilings wat stem nie; dis die kiesers wat dit doen” by sy analises voeg. (En laat ek eerlik wees, al het ek dié voorbehoude in my stukke gebruik, het ek nie die einduitslag verwag nie.)

Die kiesers besluit inderdaad, uiteindelik. Wat nou gedoen moet word, is om die kiesersgedrag behoorlik en onbevange te ontleed en jou voorkeur vir hetsy Trump of Clinton opsy te skuif.

Verskillende metodes kan gebruik word. Een nuttige hulpmiddel is wat die Amerikaners noem “exit polls”. Wanneer hulle die stemlokaal verlaat, kry kiesers ʼn vorm met verskeie vrae en die versoek om dit in te vul.

Dié uitslae is nou bekend. Die antwoorde wat die kiesers self verskaf het, is soms voorspelbaar, soms uiters verrassend.

Allereers: Die idee wat ʼn mens vooraf uit verskeie bronne gekry het, dat die Trump-stemmers eerder wit as gekleurd is, eerder manlik as vroulik, eerder arm en ongeleerd as ryk en geleerd, was nie heeltemal onwaar nie, maar dit was oordrewe.

Die persentasies wat hieronder genoem word, kom nie saam by 100% uit nie. Die rede is dat mense ook vir die Libertariese en die Groen Party kon stem. Hul invloed is egter klein.

Onder die wittes het Clinton sleg uitgesak. Sy het slegs 37% van dié groep se steun gekry, teenoor 58% wat vir Trump gestem het.

Daarteenoor was Clinton se meerderheid onder die Latino’s kleiner as wat verwag is, met 65%, teenoor 27% wat vir Trump gestem het. Dis ʼn bevolkingsgroep wat moeilik is om by die stembus te kry en klaarblyklik het Clinton nie hul harte voldoende gesteel nie.

Die swartes het soos verwag gestem, 88% vir Clinton en net 8% vir Trump.

Onder vroue het Clinton inderdaad die peilings se voorspelling geëwenaar van 54% teenoor 42%. Die mans se stemgedrag was ʼn spieëlbeeld hiervan: 53% vir Trump en 41% vir Clinton.

Onder kiesers met ʼn universiteitsgraad, was Clinton duidelik bobaas met 52% teenoor 43%. En Trump se meerderheid onder die ongeleerdes (51-45%) was kleiner as wat verwag is.

As ons kom by arm en ryk, was die algemene verwagting totaal verkeerd. Die meeste mense wat minder as $50 000 per jaar verdien, het (52-41%) vir Clinton gestem en dié in die kategorie $50 000-$100 000 het juis vir Trump gekies (50-46%). Bo $100 000 was dit gelykop (48% elk) tussen die twee kandidate verdeel.

Nog ʼn terrein waar die algemene verwagting foutief was, was die gedrag van nuwe kiesers. Voor en onmiddellik ná die verkiesing is gesê Trump het daarin geslaag om mense, wat nooit tevore gestem het nie, agter hom te skaar.

Dit was nie die geval nie. Onder diegene wat vir die eerste keer gaan stem het, het Clinton Trump met 56-40% uitgestof.

Dit hang saam met die ouderdomskwessie, waar die peilings ook nie ver uit was nie. Hoe ouer die kieser, hoe groter was Trump se steun.

Kyk hierna: In die ouderdomsgroep 18-29 het Clinton Trump met 55-37% en in die groep 30-44 met 50-42% uitgestof. Maar dan verander dit: Diegene tussen 45 en 64 het met 53-44% agter Trump gaan staan en dié bo 65 met 53-45%.

Die regtig interessante gegewens kry ons wanneer kiesers gevra word wat vir hulle belangrik is. Van die Trump-stemmers het net 42% die ekonomie genoem (Clinton: 52%). Altesame 64% van die Republikeine het immigrasie aangedui (Clinton 32%), 57% terrorisme (Clinton: 39%) en buitelandse beleid 34% (Clinton: 60%).

Die interessantste antwoorde is egter gegee op die vraag watter kwalifikasies die kiesers in die kandidate soek. Van die Republikeine het slegs 8% ervaring genoem (Demokrate: 90%) en net 26% goeie oordeel (Demokrate: 66%). Daarteenoor het ʼn reusagtige 83% geantwoord hulle soek iemand wat verandering kan bring (Demokrate: net 14%).

Een laaste antwoord, wat aansluit by die vorige. Mense is gevra of die een vir wie hulle gestem het, “eerlik en geloofwaardig” en “gekwalifiseer” was om as president te dien.

Die uitslag is verstommend. Net 33% van die Trump-stemmers het gemeen hy is eerlik en geloofwaardig en net 38% meen hy is geskik om president te wees. Net 35% sê hy het die “temperament om effektief as president te dien”.

Altesame 57% van die kiesers het gesê ʼn Trump-oorwinning sal hulle “negatief” laat voel, teenoor 53% wat dieselfde gevoel by ʼn Clinton-sege sou hê.

Dié soort syfers slaan jou soos ʼn voorhamer tussen jou oë. Wat het dan gebeur?

Die syfers verskaf ʼn antwoord. Die mense was keelvol vir die status quo. En Clinton was die versinnebeelding van die status quo.

Hulle het verandering gesoek. Enige soort verandering, maak nie saak wat nie.

Uiteindelik het Trump egter in die aantal stemme naelskraap verloor. Dis ʼn ope vraag of hy daaruit ʼn egte mandaat kan aflei.

Maar kom ons gee hom ʼn billike kans. Kom ons kyk wat hy maak met die problematiese mandaat wat hy wel gekry het.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

32 Kommentare

jongste oudste gewildste
Leendert

Hoe die Amerikaanse kiesstelsel werk, is in die verlede vooraf, soos ook hierdie een, elke keer met ‘n verkiesing aan die wêreld uitgelig, so dit is nie ‘n nuwigheid waarvan die mense moet kennis neem nie. Baie kommentators skryf nou hieroor en wys statistiek, wat baie interessant is. (Party maak dit uit en uit ‘n raskwessie.) Moet die Amerikaners dan nie maar ‘n nuwe kiesstelsel daarstel nie, as die huidige dan nou so onregverdig is, terwyl niemand daaroor gekla het, terwyl in daardie verkiesings waar die kieskollege asook die populêre stem aan dieselfde kant was, was almal tevrede? Dan ook,… Lees meer »

Jordaan

Hierdie statistiek is op sogenaamde “exit polls” gebaseer aangesien werklike stemme anoniem en geheim is. Watter geloofwaardigheid het sulke ontledings as die statistici voor die tyd heeltemal verkeerd was oor steun vir die twee partye?

Elizabeth

En hierby hoop ek Maroela volstaan nou in hul onuitputlike bron van ontleding van die verkiesing. Die koël is deur die kerk. Aanvaar dat julle ook verkeerd was. Jul kan aanhou kopkrap soos jul wil. Nie in julle eie wildste drome het jul dit ooit gesien kom nie. Al wat jul propageer het was n algehele oorwinning deur Clinton. Verstaan ook julle nou dat Jan Publiek moeg raak vir die media en sy vooroordeel? Ons is Gatvol om voorgeskryf te word om te moet dink soos die massas..oorgewaai van die “ou” Amerika en res vd wereld. Kom ons gee elke… Lees meer »

Nico K

Ek glo dat die “exit polls” heeltemal geloofwaardig is. Ek aanvaar dit is nog steeds anoniem en hulle het dus geen rede om nie te waarheid te praat nie. Vooraf meningspeilings is net ‘n steekproef. En ek dink baie kiesers verander hul mening baie vinnig. Ek wil net graag ‘n opmerking maak oor die rykes wat vir Trump gestem het en die armes vir Clinton. Dit is nie snaaks nie. Tradiesioneel is die Demokrate sosialisties, dus beter vir die armes en die Republiekeine is kapitalisties, dus beter vir ryk mense.

Rupert Ashford

Paar opmerkings: 1.) Mense wou verandering he. Waarvan? Siek vir die politieke establishment en die pers establishment wat kop in een mus met die politieke establishment is en vir die gewone middelklas burger vertel hoe hy moet dink/stem (manipulasie), terwyl die twee beroepe eintlik die burgerklas moet dien. 2.) In die eerste wereld raak die bevolkings al hoe ouer, maw al hoe minder kinders – algemene kennis. So maw solank as wat iemand soos Trump die ouer lede van die bevolking kan oortuig sal hy altyd ‘n kans he, en dankie Vader daarvoor. Meeste van ons (soos die syfers wys)… Lees meer »