Trump se Rusland-beleid gekaap

Pres. Donald Trump. Foto: AP Photo/Alex Brandon

’n Duidelik teësinnige president Donald Trump het verlede week wetgewing onderteken waarvolgens Amerika nuwe sanksies teen Rusland, Iran en Noord-Korea instel. Noord-Korea maak dalk sin, maar onverwagse nuwe sanksies teen Rusland en Iran in ’n tyd van reeds verswakkende verhoudinge met beide belangrike lande, maak eenvoudig nie sin nie.

Trump se waarskuwing nadat hy die wetgewing onderteken het, naamlik dat die verhouding tussen Amerika en Rusland ’n gevaarlike laagtepunt bereik het, is belangrik. Dit dui daarop dat Trump die erns van die krisis verstaan. Amerikaanse politici buite die Withuis is egter sodanig verenig in hul haat vir Rusland dat ’n veto deur Trump net tot groter verdeeldheid binne sy party en tot meer bespiegelinge oor Trump se verhouding met Rusland aanleiding sou gee.

Verlede jaar tydens die Amerikaanse verkiesingsveldtog was Trump se boodskap duidelik. Amerika moet hom uit konflik en oorloë wat nie sy belange dien nie, hou. Tweedens het hy herhaaldelik belowe dat, sou hy president word, sy administrasie daarop sal fokus om deur dialoog en onderhandeling die verhouding tussen Amerika en Rusland te verbeter. Tydens die Republikeinse Party se verkiesingskonvensie in Cleveland was dit duidelik dat die party se grondvlakstrukture hierdie boodskap ernstig opgeneem het. Partybeleid wat hiermee ooreenstem is aanvaar en die oorloglustige neokonserwatiewes wat in die Oekraïne teen Rusland wou gaan oorlog maak en nuwe konflik met Iran wou skep, het verloor. In November verlede jaar het die Amerikaanse kiesers gespreek en is Trump verkies.

Vandag, byna sewe maande ná Trump se inhuldiging lyk dit egter asof die oorloglustiges ten spyte van die wil van die Amerikaanse kiesers daarin slaag om hul agenda weer te laat geld. Die Amerikaanse regering het onlangs besluit om ten spyte van Trump se beloftes van verlede jaar wel wapentuig en ammunisie aan die regering in Kiev te voorsien. Verlede week het adjunkpresident Mike Pence in Georgië belowe om dié land deel van NAVO te maak en daardeur Amerikaanse militêre teenwoordigheid in nog ’n land tot op die grens met Rusland te neem. Dit alles spreek van Amerikaanse aggressie teenoor Rusland.

Ten spyte van Trump se beloftes van dialoog met Rusland, verkies die Amerikaanse kongres om eerder die Russe met nog sanksies te verras en kwaad te maak. Nie eens die Europeërs het van die beplande sanksies geweet nie en talle Europese leiers het met ontsteltenis daarop gereageer.

Verlede maand is ’n standbeeld van Roland Reagan en Mikhail Gorbatsjof in Moskou onthul. Talle hooggeplaaste Russiese politici het die geleentheid bygewoon. Ten spyte van talle uitnodigings het Amerika besluit om niemand na die geleentheid te stuur nie. President Gorbatsjof se reaksie op die onthulling van die standbeeld was dat die projek nie net na die verlede kyk nie, maar ook na hoe die toekoms tussen Rusland en Amerika moet lyk: een van reguit praat en gesonde dialoog.

Die teenwoordigheid van meer en meer Amerikaanse tenks in Oos-Europa, sanksies wat sonder goeie rede ingestel word en die voortdurende vernedering van Rusland se mense en leiers is nie in die belang van Amerika nie. Dit lyk ongelukkig of Trump se beleid jeens Rusland toenemend deur die neokonserwatiewe oorlogslustiges gekaap is. Dit kan net tot meer konflik en lewensverlies aanleiding gee.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Baie dankie vir die interessante artikels oor Trump en die VSA!

“Reguit praat en gesonde dialoog” … President Trump het presiés dit probeer, maar die Washington-“swamp” verkies om voort te duiwel in hul vyandige groef met hooghartige sanksies en géén resultate.

Wat ‘n skreiende skande dat geen Amerikaanse verteenwoordigers by die Reagan-Gorbatsjof-standbeeld inhuldiging was nie. ‘n Gulde geleentheid verlore!

Nee wat, gee die Withuissleutels vir die spul terug en sê hulle moet gerus voort foeter.

Piet Snot ·

Hulle veg die koue die koue oorlog jare na dit reeds verby is.
Pleks dat hulle die geleentheid aangryp om verhoudings te verbeter. Dié geleentheid gaan nie vir altyd beskikbaar bly nie.

Christien ·

Maklik om oorlog te maak uit jou kantoor in Washington en ander te stuur om te skiet en geskiet te word !

VanAfrika ·

En wat dink jy moet Donald Trump doen as die vyand selfmoord bommers jou land instuur om onskuldige mense dood te maak. Dink bietjie aan 9/11. En dit het nie daar gestop nie. Het jy al met n mafia of sindikaat doen gehad wat dwelm middels die wereld instuur en nie n duiwel omgee dat hulle ons jong tieners junkies maak nie.. Hulle het geen genade as dit by geld kom en jy in hul pad staan as dit by onwettige bedrywe kom nie om hul gierigheid te voed nie. En die Chinese, hulle besit so te se vir Amerika, Donald Trump probeer dit stop. En Suid Afrika, ons is klaar die besit van die Chinese regering. Hoeveel biljoene het hulle net nie al in hierdie land ingeploeg nie. As oorlog hier uitbreek dink jy dit gaan net tussen ons wit en swart wees? China sit en wag, hulle wil oorneem en dink jy Rusland, Amerika en Isis gaan dit toelaat. Die hele wereld weet van ons politieke onstabiliteit en vir jare lank is hulle almal al agter ons land aan. En dieselfde geld vir Amerika, as hulle hul hande op ons land of Amerika kan le, sal dit n bonus wees vir hulle, China is “over populated”, en hulle soek land en ons minerale, ons is n ryk land, hulle weet dit, net jammer ons rigering dink nie verder as wat hulle neuse lank is nie. Dink jy nog steeds Donald moet met sy hande gevou sit?

Rupert Ashford ·

En ou McCain is een van die oorlog manne. Ek het hom eens op ‘n tyd bewonder…

JC ·

Kon mens die ou OOIT bewonder het Rupert? Sy aksies na dese verraai die feit dat hy waarskynlik reeds vir dekades in Soros en die internasionaliste se sakkie is :)
Ek wonder wat se geraamtes sal alles uit daardie kas uit val as die mense sou besluit om bietjie te krap…?

arnaud ·

Dankie. Ek wil net byvoeg: dis nie slegs in Amerika, maar in ALMAL se belang om die kaartehuis van leuens te deurbreek, hier word nie met vuur maar wel met radioaktiewe wolke gespeel.

John ·

Hillary glo sy het die verkiesing gewen en haar bewerige ou man droom snags oor sy eens magtige dade as president… In 8 jaar het Obama die gesig van die VSA doelbewus permanent verander. Joe Biden glo hy gaan binnekort vir Trump vervang. Hy boer in die Ukraine en staar jaloers in die verskiet na die Rusiese brandstofryke landskap vol edelstene en ou kunswerke en knibbel aan wurmbesmette ou sjokolade uit sy boesemvriend se gehawende fabriek… ja, Navo moet versterk word… Rusland bedreig die wereld… alweer….

JC ·

Baie dankie Jaco, vlymskerp artikel. En dankie ook aan die kommentators, julle vat beslis raak!

Kom Ons Boks ·

Goeie en insiggewende artikel definitief. Ek kan nie glo dat daar diegene in die VSA is wat sonder oogknip hul eie land so kan kortwiek net om Trump by te kom nie. Rusland veral kan ‘n ongelooflike vriend of vyand wees – waar is die logika om hulle vyandig te wees? Trump is reg en die onpatriotiese Demokrate/Libbies/MSM/neo-konserwatiewes/Hollywood-bekendes wat gedurig by die bek skuim is verkeerd.

Gemsbok ·

Dit is blykbaar nie net neokons in die Republikeinse party wat aggressie aanmoedig nie, maar ook ‘n klomp Demokrate soos Hillary Clinton wat berug is vir haar fondsinsamelingsprojekte.

jurie blanche ·

VSA kongres dink hulle is verskriklik slim maar dit is soos “cut your nose to spite your face” nou moet oor die 700 diplomatike werkers Rusland verlaat, kern verdragte kan deur Rusland opgeskort word en amerikaanse maatskapye en europa wat energie van Rusland koop kom in gedrang so dit is n kaping en as jy dit nou gedoen het wat maak jy daarmee. Die establishment in die amerikaanse politiek is kwaad want n nie politikus het hulle ore aan gesit en teen alle verwagtinge President geword en nou soek hulle om iemand te oordeel en dit is kamstig Rusland wat in hulle verkiesing inmeng dmv eposse onderskep en die waarheid uit bring soos by ons oor gupta leaks. Die sanksies al klaar besig om in hul gesigte te ontplof. So kaping was n baie dom besluit.

Nico K ·

Ek kan glad nie met die artikel saamstem nie. Om te praat van Amerikaanse aggressie in Georgië is belaglik. Georgië het die VSA gevra om deel van Navo te word. Dit was nie teen hul sin nie. Net soos die ander oud Soviet state wat die VSA gevra het of hul kan aansluit by NAVO. (In teenstelling met Rusland se ongevraagde militêre inval in die Ukraine. Dit is dus duidelik dat Rusland die aggresiewe een is en dit is duidelik dat al die ander oud Soviet state Rusland vrees, En tweedens word die indruk in die artikel geskep dat die vorige regering (die Demokrate) oorlogsugtig was. Terwyl almal wat iets van internasionale politiek af weet (wat duidelik niemand insluit wat hierbo kommentaar gelewer het nie) weet dat die juis Trump se party is wat al die jare oorlugsugtig was. As Trump so vredeliewend was, wat maak hy in die Republiekeinse Party.

Therese van Schalkwyk ·

Nico K

As selferkende leek op die gebied word deeglik gelet op jou meerdere kennis van die internasionale politiek. Goed om te leer by ander lesers.

Net dit: Donald Trump is veronderstel om nie die ‘tipiese Republikein’ of beroepspolitikus te wees nie, ‘n feit wat jou tot dusver moontlik ontgaan het. Hoop is gekoester dat hy ‘n vars bries (orkaan) deur die Washington-moeras en die oorlogsugtige wêreld sou wees, maar helaas, dit werk nie so uit nie.

Presies wat hierdie artikel tuisbring.

gatiep ·

Vir my lyk dit of die US hom self wil vernietig.Hulle maak net vyande en gaan op die ou einde geen vriende he nie.
Al die evil goed wat die US gedoen het in die verlede kom nou ook alles uit.
Trump moes soos Putin van Rusland gemaak het en daai klomp Oligaards in die Tronk gegooi het toe hy ingekom het.Dit lyk of hulle hom al klaar omsingel en hom vertel wat hy mag en nie.Ek dink hoeka die klomp wat gevlug het uit Rusland sit seker nou in die US en Europa en trek die toue.Die meeste goverments se knie raak lam as hulle so baie geld sien.
Dankie Jaco goeie stuk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.