Trump se twiet: Wat nou?

Pres. Donald Trump. (Argieffoto: AP Photo/Susan Walsh.)

Die hele Suid-Afrika is in beroering oor die laatnag-twiet van die Amerikaanse president, Donald Trump, oor Suid-Afrika. In dié twiet vra hy dat die VSA se minister van buitelandse sake (secretary of state) Mike Pompeo moet aandag skenk aan plaasmoorde en grondgrype van wit boere in Suid-Afrika. Trump se twiet volg oënskynlik op ’n nuusbulletin op die Amerikaanse Fox News, waarin die aanbieder Tucker Carlson aandui dat grondgryp nou reeds plaasvind en die Grondwet gewysig is om dit moontlik te maak. Kyk gerus op YouTube.

Tucker Carlson

Carlson is seker een van die mees gerekende konserwatiewe aanbieders op Fox News, wat daagliks miljoene kykers lok en heelwat meer gewild is as, byvoorbeeld, CNN. President Trump het, anders as met ander mediahuise wat hy as fopnuuskanale beskryf, ’n waardering vir Fox News se aanbieding en is ’n gereelde Fox News-kyker. Carlson se aannames oor die verandering van die Grondwet is dalk voortydig (die Grondwet is nog nie verander nie), maar die feit dat daar ’n rassistiese element is om grond te onteien, word in die aanbieding uitgelig. Hy het ook ’n gesprek met Marian Tupy van die konserwatiewe Cato-instituut in Washington gevoer oor die situasie rakende eiendomsreg in Suid-Afrika en die ooreenkomste daarvan met Zimbabwe. Carlson het ook tydens AfriForum se onlangse besoek aan die VSA met Ernst Roets, die adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, ’n gesprek op sy Fox News-program gevoer oor grondgryp en plaasmoorde.

Die vraag is uiteraard wat die impak van president Trump se twiet gaan wees. Op Carlson se program word die Amerikaanse departement van buitelandse sake (State Department) aangehaal wat president Cyril Ramaphosa se beloftes oor ordelike grondhervorming, regstaat ens. vir soetkoek opeet. Hierdie mening word erg deur Carlson gekritiseer in dié program.

Die reaksie op Trump se twiet is nogal insiggewend. Trump se teenstanders het hom (voorspelbaar) as ’n wit rassis uitgeskel wat nou skielik wil optree as wit mense in gedrang is. Baie het selfs enige plaasmoord ontken en swart aansprake op grond wat “gesteel” is, verdedig. ’n Rits (oënskynlik) swart Suid-Afrikaners het Trump openlik in twiets beledig en selfs gedreig. Oor die algemeen was (oënskynlik) wit Suid-Afrikaners en Trump-ondersteuners in die VSA se twiets (oor Trump), baie meer positief.

Tucker Carlson

Amerikaanse departement van buitelandse sake (State Departement) moet herbesin

In Trump se twiet het hy as’t ware vir Pompeo opdrag gegee om weer te besin oor sy departement se uitsprake teenoor grondgryp in Suid-Afrika. Pompeo se departement van buitelandse sake sal nou die aansprake van grondgryp en plaasmoorde in heroorweging moet neem.

’n Mens moet erken dat enige buitelander ’n moeilike pad het om tussen die waarheid en leuens te onderskei ten opsigte van gebeure in Suid-Afrika. Aan die een kant is daar ’n minderheidsgroep (meestal wittes) wat aansprake maak ten opsigte van grondgryp, ekonomiese rampspoedigheid en selfs ʼn onafwendbare burgeroorlog of volksmoord, teenoor ’n groot meerderheid (die regering, die ANC, sy ondersteuners en self belangegroepe en menseregteorganisasies) wat dit heeltemal ontken. Dubbelpratery is aan die orde van die dag en dit is duidelik dat baie buitelanders die plaasmoorde en grondgryp ontken en as ’n tipe wit samesweringsteorie sien. Bewyse van brutale plaasaanvalle en dreigemente teen wittes word as “propaganda” voorgehou. Dan moet daar ook nog onderskei word tussen plaasmoordsyfers en -tendense wat verskil (selfs tussen Afrikaanse organisasies soos AfriForum en Agri SA).

Sou die Amerikaanse staatsdepartement van buitelandse sake wel sy terugvoering aan hul politieke hoof (Pompeo) verander en die Suid-Afrikaanse regering voortgaan op sy tog van antiwit-grondgryp en eiendomsreg se verskansing in die Grondwet ophef, kan die gevolge vir Suid-Afrika ingrypend wees.

Trump het reeds gewys dat hy nie bang is om optrede teen buitelandse regerings te neem nie. Turkye, Iran en Zimbabwe se leiers was in die laaste maand of wat deur die Trump-administrasie uitgesonder en sanksies is uitgebrei of ingestel teen daardie regerings en selfs individue. Teoreties gesproke is daar niks wat Trump keer om nie dieselfde met die Suid-Afrikaanse regering en regeringsleiers te doen nie.

Mike Pompeo

Moontlike VSA-maatreëls

Dan is daar natuurlik ook heelwat Amerikaanse hulp wat deur agentskappe soos US Aid (die VSA se hulpverleningsagentskap) aan Suid-Afrika gegee word. Dis nie heeltemal seker presies hoeveel hulp verleen word nie, maar dit blyk soveel as R6 tot 7 miljard te gewees het in 2017. Dan is daar nog die opsie dat Suid-Afrika sy status as voorsiener van tariefvrye goedere aan die VSA kan verloor kragtens die Agoa-wet (die VSA se Wet op Groei en geleenthede in Afrika). Dit kan op sigself miljarde rande per jaar beteken.

Die Suid-Afrikaanse regering sal natuurlik probeer om sover moontlik vure dood te slaan en alle aansprake dat Trump wel ’n punt beet het, ontken. Die VSA se ambassadeur in Suid-Afrika gaan ook moontlik “ingeroep” word deur die Suid-Afrikaanse regering om Trump se twiet te verduidelik. Verwag maar baie ontkenning en verontwaardiging van die regering en die vernaamste politieke partye oor Trump se twiet.

Wit Suid-Afrikaners wat die twiet ondersteun, moet egter nie dink dat die VSA nou skielik teen die Suid- Afrikaanse regering gaan optree en onmiddellik sanksies gaan instel of selfs oorweeg nie. Of dat Trump nou wittes of plaasboere vlugtelingstatus in die VSA gaan verleen nie. Daar is nog geen aanduiding dat so ’n drastiese optrede enigsins beplan word nie. Wat wel waar is, is dat die wêreld in 2018 begin kennis neem van die situasie in Suid-Afrika en dat die belangstelling van die VSA se president dié kennisname in ’n nuwe kategorie plaas.

President Ramaphosa sit met ’n dilemma: hy kan nie anders as om grond sonder vergoeding te onteien nie weens druk van die EFF en inderdaad sy eie ondersteuners. Maar hy sal fyn moet speel om nie openlik rassisties teenoor die wit minderheid en hul regte op te tree nie.

Wat presies die regering beoog en hoe hulle dit gaan probeer regverdig, is nog nie duidelik nie.

Wat wel waar is, is dat die regering nou versigtig te werk moet gaan want ene @realDonaldTrump is gereed om op te tree.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Adri ·

Die gereelde gebruik van gereelde woorde lei daartoe dat gereeld reg gespel word.

Celtis Africana ·

Die artikelskrywer begaan n massiewe mistasting met die volgende bewering: ” … Afrikaanse organisasies soos Afriforum en Agri SA.)”
Die president van Agri SA, Dan Kriek verklaar onomwonde aan die verslaggewer Willemien Brümmer van die Volksblad van 4 Augustus 2018 die volgende:
” Daar is èèn ding wat vir my verskriklik belangrik is. Ek verteenwoordig nie Afrikaners as n groep nie. Ek verteenwoordig ook nie n kultuur of taal nie. Ek verteenwoordig mense van alle rasse binne die landbou.”
Die skrywer laat dan ook na om te sê dat die Afriforum syfers oor plaasmoorde baie meer akkuraat sal wees synde Afriforum n eenheid gestig het wat plaasaanvalle hanteer, berading aan slagoffers verskaf asook die bebloede plaashuise skoonmaak na n aanval indien daartoe versoek.
Volgens Afriforum is 15000 boere lede van die organisasie.
Agri SA daarenteen het geen sodanige dienste beskikbaar nie. Die enigste diens in die verband is Agri Securitas. Hoofsaaklik gemik op veiligheidstelsels.
Die feit dat Trump aandag aan die saak gee, is hoogs veblydend. Dit gaan meer bemarking vir die aangeleentheid tot gevolg hê as n 100 oorsese inligtingsaksies.
Verseker gaan gemoedere die hoogte inskiet.
Huidige benadeeldes en voorheen benadeeldes
se ervaring van die werklikheid is anomalië.

Rasper ·

Die groter prentjie gaan nogsteeds oor die Suid-Punt van Afrika. Dit is nogsteeds net so belangrik as in 1652. Hoe sal Amerika voel as Rusland sy vloot stationeer in Kaapstad? SA is deel van BRICS en dit sal teoreties niks snaaks wees nie. Die Afrikaner met sy westerse kultuur is seker die beste vennoot wat Amerika en die Weste sal hê in Afrika. Omdat die apartheid bordjie nie meer aan ons hang nie, en die ANC die morele hoë grond sal verloor sodra hulle grond onteien, beteken dit dat Westerse leiers soos Trump bereid is om te “twiet”. Later dalk ietsie meer. Die Afrikaner kan nie ‘n bondgenoot wees binne Suid-Afrika soos hy tans is nie, maar wel binne ‘n eie grondgebied. Hierdie is die laaste keer wat ons ‘n kans gaan kry om vir selfbeskikking te werk.

Kalahari Kind ·

Ek stem!

Dit laat my wonder oor die Russiese skip vol plofstof wat “per ongeluk” gesien is en nou in SA water gehou word “sodat ondersoek na sy bestemming” gedoen kan word. En intussen word daar dalk afgelaai…..

marco polo ·

Lees bietjie news24 of Yahoo se nuus. Almal is nie so opgewonde oor Trump se uitsprake nie. Dalk moet ons nie te veel verwag nie. Maar moenie moed verloor en ophou met die geveg nie.

Willem ·

Adriaan Basson se linkse News 24 het ‘n dag of wat gelede in ‘n peiling sy lesers (van wie die meeste waarskynlik nie Afrikaans en wit is nie) se mening getoets. ‘n Skrale minderheid het gemeen dat President Trump op fopnuus gereageer het. Die oorweldigende reaksie was dat die tweet aanduidend daarvan was dat die buitewêreld begin kennis neem van (die gemors) wat in Suid-Afrika aan die gang is. Die uitslag is klaarblyklik nie goed ontvang nie en dit is gou deur ‘n ander peiling vervang. Die onderwerp daarvan het my nou ontgaan maar die uitslag het eweneens duidelik gewys dat die beskouings van Adriaan, sy verslaggewers en kommentators nie deur die groter gros van sy lesers gesteun word nie.

Jerry ·

Wat nou? Die voor die hand liggende antwoord is dat ons almal in spanning wag om te sien wie gaan verklaar word as hero of zero!

Gerhard ·

Ons weet nou die wat by die onderhandelinge oorgegee het is zero. So ook die wat daardie strategie aanhang.

Valkoë ·

Ons regering kon tot dusver absoluut niks aan die plaasmoorde gedoen nie. Hopelik sal die druk van Trump die gewenste uitwerking tot gevolg hê.

Disselboom ·

Laat ons maar sien wat volgende, voor daar stellig verklaar word dat pres. Donald Trump daadwerklik gaan optree. En sou daar optrede kom (meer as net ondersoek, verslag en retoriek), wat gaan dit wees? Dis nie vanselfsprekend in wie en watter belang optrede gaan wees nie.

Jerry ·

Disselboom, ek stem saam. Indien Trump die ANC weergawe aanvaar en daar geen optrede volg nie, kan die forum hulle reg maak om geblameer te word en optrede teen die forum kan volg asook die aanslag teen die Afrikaner kan verskerp word. Die moontlikheid dat die forum van hero na zero kan val is dus n waarskynlike moontlikheid.

SA Eienaar ·

Dit lyk of President Trump se Minister van Buitelandse Sake, Mnr Mike Pompeo, se werknemer, Me Nauert werklik baie omgee vir potensiele/toekomstige mede-“mens” slagoffers, wat hul “menseregte” eiendomme en lewensmiddele kan/gaan verloor op grond van hul mede-“wit”-heid. Dit lyk of die gesigsuitdrukkings op hierdie video amper tot trane van medelye kon lei, en moes sy die ondervraging hieroor na 7min stop. http://www.bit.ly/2PzyZmd , http://www.bit.ly/2wcypTl

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.