Trump se verhoor: Wat het regtig gebeur?

Pres. Donald Trump. (Foto: Evan Vucci, AP)

Die vervolgingsaak teen president Donald Trump van die VSA is verby, tog gaan die Demokrate voort met hul dreigemente van ondersoeke teen hom.

Die bestaansrede van die opposisie, te wete dreigemente van vervolging, het die primêre wapen geword om Trump uit sy amp te verwyder. Hoewel die grondwet “die kongres die mag gee om die president te vervolg en te verwyder weens verraad, omkopery of ander ernstige misdade en wangedrag, skep dit wigte en teenwigte teen polities geïnspireerde en venynige aanklagte van vervolging.” Alhoewel Trump duidelik nie verraad gepleeg het nie, het sy vyande ’n ratjietoe van aanklagte van omkoping, hoogverraad en wangedrag versin en saamgeflans. “Aanklag 45” was die oorlogskreet van kongreslid Maxine Waters sedert dag een – ʼn oorlogskreet wat tot satwordens toe deur haar kollegas herhaal is.

Toe die Mueller-ondersoek nie daarin kon slaag om ’n lasbrief uit te reik nie, het die Demokrate “obstruksie van die gereg” geskree. Toe dít misluk, het hulle hul amptenare in die staatsdiens gebruik om op Trump te spioeneer. Asof hy ’n haas uit ’n hoed trek, het Adam Schiff, hoof van die Withuis se intelligensiediens, ’n klag deur ’n anonieme fluitjieblaser gelê wat Trump van buitelandse inmenging in sy 2020-herverkiesing beskuldig. Alles was egter op hoorsê gegrond. Die fluitjieblaser erken daarna dat hy “nie ’n ooggetuie was van die meeste van die gebeure soos beskryf nie”. Daarna noem hy verskeie bronne in die diplomatieke diens wat getuies van sy uitlatings kon wees. Hy sê voorts: “… die amptenare van die Withuis wat eerstehandse kennis van die oproep gehad het, het die president versoek om druk op mnr. [Volodymyr] Zelensky [president van die Oekraïne] te plaas om, onder meer:

  • ’n ondersoek na die aktiwiteite van die voormalige visepresident Joseph Biden en sy seun, Hunter Biden, te inisieer of daarmee voort te gaan;
  • hulp te verleen met die sogenaamde onthulling dat die bewerings van Russiese inmenging in die Amerikaanse presidentsverkiesing van 2016 in die Oekraïne ontstaan het; en
  • met die twee persone wat die president spesifiek as sy persoonlike gesante oor hierdie aangeleenthede benoem het, mnr. Giuliani en prokureur-generaal Barr, te ontmoet en samesprekings te hou.”

Adam Schiff. Foto: (AP Photo/J. Scott Applewhite)

ʼn Klag wat op hoorsê gegrond is, moes die geloofwaardigheid van die sogenaamde fluitjieblaser eintlik nietig verklaar het, maar tog het Schiff hom beskerm en die ondersoek voortgesit – in die geheim.  Sy naam is egter deur baie genoem. Die persone wat in die aanklagte genoem is, het tydens die verhoor as getuies verskyn, naamlik die Amerikaanse spesiale verteenwoordiger vir Oekraïne-onderhandelinge, Kurt Volker, die Amerikaanse ambassadeur in die Oekraïne, Marie Yovanovitch, en die Amerikaanse ambassadeur in die EU, Gordon Sondland.

In die verklaring van die fluitjieblaser is Trump deur almal geïmpliseer, maar toe hulle een-een deur die huis van verteenwoordigers ondervra is (of Trump ’n quid pro quo vir ’n ondersoek na die seun van die voormalige visepresident Joe Biden van president Zelensky afgedwing het), het hulle dit almal ontken.

In September 2019 is dit bekendgemaak dat Trump die Oekraïne met dodelike verdedigingsmissiele teen Rusland gehelp het, in teenstelling met die komberse wat in die verlede deur president Obama gestuur is.

Wat Trump se beskuldigers, onder andere, Schiff, nie verwag het nie, was dat die president die transkripsie van sy oproep met Zelensky sou bekendmaak.

President Zelensky. Foto: (Sven Hoppe/dpa via AP)

Die president het, nadat hy van ’n Navo-vergadering in die buiteland teruggekeer het, geen tyd verspil om die oproep bekend te maak nie – die oproep was hartlik, gelukwensend en sonder die beweerde snert van die fluitjieblaser. Die transkripsie het verder getoon dat Zelensky entoesiasties was oor Trump se verkiesingsoorwinning, dat hy uit Trump se verkiesingsvaardighede geleer het en dat hy ook die moeras van korrupsie wou skoonmaak en sy administrasie wou regruk. Tydens dié oproep het Trump hom gevra om meer steun van Duitsland en die Europese Unie (EU) te vra, waarop Zelensky geantwoord het dat hulle redelik traag was om sanksies teen Rusland in te stel. Daarna bedank hy Trump vir die militêre hulp, met die versekering dat hy van plan is om in die toekoms meer Javelin-missiele teen Russiese aanvalle aan te koop.

Trump se versoek lui as volg: “Ek wil hê u [Zelensky] moet uitvind wat gedurende die Oekraïne-situasie gebeur het – daar word gepraat van ’Crowdstrike’ [ʼn sekuriteitsfirma wat die Demokratiese Nasionale komitee aangestel het] … Ek wil hê dat die prokureur-generaal u of u mense moet skakel om agter die kap van die byl te kom.” En verder: “Mnr. Giuliani is ’n hoogs gerespekteerde man en voormalige burgemeester van New York. Ek sal hom vra om u, tesame met die prokureur-generaal, te skakel.”Schiff en sy trawante – verbaas oor die bekendmaking van die transkripsie – het gou hul beskuldigings van quid pro quo na omkopery en afpersing verander, en wat later deur die regskomitee “vertaal” is na magsmisbruik en minagting van die kongres.

Nancy Pelosi. Foto: (AP Photo/J. Scott Applewhite)

Op 24 September het Nancy Pelosi, speaker van die Amerikaanse huis van verteenwoordigers, ’n formele ondersoek na Trump bekendgemaak vir “verraad van sy ampseed, verraad van ons nasionale veiligheid en verraad van die integriteit van ons verkiesings”. ’n Stemming deur die huis van verteenwoordigers op 31 Oktober het die ondersoek gemagtig.Die Demokrate het beweer dat die president sy magsposisie gebruik het om na ongerymdhede van sy politieke teenstander (teen hierdie tyd was Joe Biden nie sy teenstaander nie) te soek in ruil vir militêre hulp. Dit was egter duidelik uit al hul (eie) getuies dat dié bewering vals was. Trump het geen ondersoeke afgedwing nie en militêre hulp is aan die Oekraïne gegee, ongeag. Zelensky het geen ondersoek ingestel na Joe Biden se seun, Hunter Biden, wat op die raad van die magtige gasmaatskappy in die Oekraïne, Burisma, gedien het nie (en miljoene dollars verdien het weens sy pa se amp as visepresident). Die werklike quid pro quo-dreigemente kom eintlik van Biden, wat in ’n plofbare video in 2018 tydens ’n raadsvergadering vir buitelandse betrekkinge, onbeskaamd spog dat die Oekraïense aanklaer wat sy seun ondersoek het, afgedank sal word in ruil vir ’n miljard dollar se bystand.

Tydens die vervolgingsverhoor het Trump se regsverteenwoordigers duidelike bewys hiervan gelewer en aangevoer dat Trump geen ondersoeke aangevra het in ruil vir hulp nie; dat die guns wat hy gevra het, nie vir hom persoonlik was nie, maar vir die land. Trump wou hê dat Zelensky ʼn ondersoek moes instel of die Oekraïne in die 2016-verkiesing ingemeng het (anders as president Obama wat Trump nie in 2016 oor Russiese inmenging in kennis gestel het nie). Sou Zelensky hulp met die ondersoek nodig kry, het Trump die hulp van AG Barr en die voormalige burgemeester Rudi Giuliani aangebied. Die raad het sonder enige twyfel bewys dat dit geen magsmisbruik was nie. Selfs al was dit, sou dit nie ’n vervolgbare oortreding wees nie.

Pres. Donald Trump. Foto: (AP Photo/Patrick Semansky)

Indien Trump wel persoonlike gunste van Zelensky wou hê, sou hy nie so dom wees om die prokureur-generaal te vra om die Oekraïne te help om hom (Trump) te help om die 2020-verkiesing te wen nie. Zelensky het bevestig dat dit ’n oproep van gelukwensing was, dat hy nie onder druk was nie, en dat hy meer militêre toerusting sou koop. Daar was geen melding van militêre hulp tydens die oproep nie. Buitendien – soos in die verlede – het baie amptenare van Nasionale Veiligheid, die Amerikaanse Intelligensiediens (CIA), die Withuis en die Amerikaanse Federale Speurdiens (FBI) van dié oproep kennis gedra.

Aanklag 2 van die vervolging – verydeling van die kongres – was gebaseer op Trump se misbruik van sy uitvoerende mag om personeel van die Withuis die geleentheid te ontneem om voor die kongres te getuig. Die huis van verteenwoordigers het verskeie senior personeellede gedagvaar wat voortgegaan het om hulle in die hof uit te daag op grond van die verdeling van magte. Toe een personeellid teen die Demokrate wen, het Schiff sy ander dagvaardings teruggetrek, maar steeds beweer dat Trump die kongres se taak in die wiele ry. Toe daar geweier is om John Bolton te dagvaar, het die vervolgingskomitee geëis dat die senaat hom moes dagvaar, en Mitch McConnell, die senaat se meerderheidsleier, parmantig gevra om sy vuil werk te doen.

Ons moenie vergeet dat die huis van verteenwoordigers, wat ingevolge die grondwet eintlik as aanklaer dien, die mag het om ’n president te vervolg nie en dien in wese as jurie en regter. Trump se raad het daarop gewys dat die meerderheid van die huis van verteenwoordigers wat die aanklagte van vervolging geïnisieer het, getaak was om ’n deeglike ondersoek te doen, die regte prosedures te volg, seker te maak van hul saak, en dit dan uiteindelik na die senaat te verwys om die geloofwaardigheid van hul saak te toets. Onseker oor hul slordige werk wat onder twyfelagtige omstandighede uitgevoer is en die bewering dat dit ’n dringende saak was – aangesien Trump ’n bedreiging vir nasionale veiligheid was – het die huis op 18 Desember 2019 die klagtes van vervolging na die speaker (met ’n meerderheidstem van 230 teenoor 197) verwys.

John Bolton. Foto: (AP Photo/Mark Humphrey)

Speaker Pelosi, wat aanvanklik teen die vervolging gekant was, het die aanklagte vir 33 dae onder oë gehad voordat sy dit na die senaat verwys het. Met die wete dat hul saak gebrekkig was, het lede van die huis van verteenwoordigers die senaat uitgedaag om bykomende getuies in te roep, onder andere John Bolton, Trump se voormalige adviseur van die nasionale veiligheidsraad. (Bolton het glo in sy ongepubliseerde manuskrip beweer dat hy inligting oor die Trump-Zelensky-gesprek het.) Dit is interessant dat die informant, lt.kol. Vindman, die tweelingbroer is van een van die anti-Trump-getuies, wie se taak dit was om manuskripte vir geklassifiseerde inligting noukeurig deur te gaan.

Ná ‘n week se getuienislewering wat deur die administrateurs van die huis van verteenwoordigers aangevoer en toe weer deur die raad van president Trump weerlê is, en vrae van die senators, het die senaat se meerderheidsleier versoek om meer getuies tot stemming te bring op grond daarvan dat die huis nie die reg gehad het om aan die senaat voor te skryf hoe om die saak te verhoor nie.

President Donald Trump. Foto: (AP Photo/Jacquelyn Martin)

Indien die senaat sou instem tot meer getuies, sou die Republikeine daarop aandring om hul eie getuies te roep – moontlik die fluitjieblaser, Schiff, president Trump en Zelensky, en ander. Die verhoor sou weke duur, waarskynlik tot in die verkiesing. Dit is met 51 stemme teenoor 49 afgestem.

Betreffende Aanklag 1, naamlik magsmisbruik, het die senaat met 52-48 gewen; betreffende Aanklag 2, verydeling van die kongres, was die getal stemme 53 teenoor 47.  President Trump is op 5 Februarie 2020 van albei aanklagte van vervolging vrygespreek, met senaatleier Mitch McConnel se slotwoorde dat dit ’n onregverdige en onsamehangende saak was. “Ons kan nie toelaat dat faksiekoors ons instellings breek nie. Dit moet andersom werk. Instellings moet die koors breek.” Hy sê voorts: “Die opstellers het die senaat tot stand gebring om tydelike woede te voorkom – woede wat permanente skade aan ons republiek kan doen.”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Die rubriekskrywer Rhoda Kadalie is afgetree en woon tans in die VSA. Sy is die voormalige direkteur van Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en akademikus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Maria ·

Dankie vir al die inligting, ek het gewonder hieroor. Dit het amper ‘n stille dood gesterf. Vreemde wêreld inderdaad. ‘Ratjietoe’ is ‘n lekker nuwe woord vir my!

Abie ·

Baie dankie aan Rhoda Kadalie vir haar insiggewende artikel oor die Trump saga. Dit het duidelikheid gebring en is in goeie Afrikaans vir ons as lesers aangebied.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.