Trump se vervolging: klug of klad?

Foto: (AP Photo/Patrick Semansky)

Op Vrydag 13 Desember – heel onheilspellend – het die Amerikaanse huis van verteenwoordigers se geregtelike komitee twee artikels van vervolging teen president Donald Trump goedgekeur en op 18 Desember is daar gestem om te besluit of die president in ’n staat van beskuldiging geplaas moet word, al dan nie.

Artikel 1 (magsmisbruik) en artikel 11 (regsverydeling) is op uiters skraal bewyse gebaseer, dit nadat die voorsitters van die verskillende Intelligensiedienste en die geregtelike komitee hul beskuldigingsaanklagte van quid pro quo na omkopery en toe later na afpersery verander het. Die verhore wat oor ’n paar dae gestrek het, het niks aan die lig gebring nie, behalwe hoorsê-bewyse en gekwetste gevoelens. Hierdie openbare verhore het geboemerang en ’n slapende reus in sogenaamde swaai-state, waar die Republikeine driftig terugveg, wakker gemaak. Mens vind dit ironies dat Trump se gewildheid eerder toegeneem het en sommige Demokrate gedreig het om oor te loop.

Hierdie ondersoek na vervolging wat in rekordtyd deur die huis van verteenwoordigers gestoomroller is, was bedoel om die president voor Kersfees onkant te vang en só die weg vir die Demokrate te baan om met gemak die verkiesing van 2020 met ’n paar nuwe truuks en vuilspel te wen. Om die waarheid te sê, die ondersoek het nooit oor grondwetlike beginsels of etiek gegaan nie, maar eerder om ’n sittende president wat goed op pad is om in 2020 herverkies te word, uit die kussings te lig.

Pres. Donald Trump draai na speaker Nancy Pelosi tydens sy staatsredetoespraak in Washington (5 Februarie 2019). Foto: Andrew Harnik/AP

Die Demokrate, wat permanent omgekrap en kwaad is, het saamgesweer om Trump te laat vervolg, nog voordat hy president was. Kongreslid Al Green het so ver gegaan as om te sê: “As ons nie ’n klag teen die president inbring nie, sal hy herverkies word.” Hy het bygevoeg: “Die president kan meer as een keer beskuldig word, want hy sal bykomende oortredings begaan.”

Nancy Pelosi, speaker van die huis van verteenwoordigers, en mede-Demokrate het soortgelyke menings uitgespreek. Ontevrede omdat die Mueller-ondersoek nie daarin geslaag het om Trump uit sy amp te verwyder nie, het die Demokrate vinnig na ’n volgende komplot beweeg.

Terwyl Trump in Desember 2019 by die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) was, het ’n fluitjieblaser die voorsitter van die Intelligensiediens, Adam Schiff, gewaarsku dat hy bewyse het dat die president die Oekraïniese president, Zelensky, opdrag gegee het om sy politieke opponent, Joe Biden, en sy seun se besigheidsonderhandelinge met Burisma, die Oekraïne se grootste energie- en oliemaatskappy, te ondersoek in ruil vir hulp. Die vuilbekkige Adam Schiff het vir dae op hierdie inligting geteer en verkondig dat sy bron iemand van integriteit is, betroubaar, en enige ondersoek sal deurstaan.

By nadere ondersoek het dit geblyk dat die fluitjieblaser noue bande gehad het met John Brennan (voormalige hoof van die Amerikaanse Intelligensiediens [CIA] en ’n uitgesproke Trump-hater), Joe Biden (voormalige visepresident), Adam Schiff (hoof van die Intelligensiediens) en ander Demokratiese poppemeesters. Hy was niks meer as net ’n fluitjieblaser wat ál wat ’n protokol is, verbreek het nie.

Pres. Donald Trump. (AP Photo/ Evan Vucci)

Hoe dieper die hooggeplaastes van die Republikeinse Party gedelf het na die identiteit van die fluitjieblaser, hoe meer het Schiff daarop aangedring dat hy anoniem moet bly om sy veiligheid te waarborg. Teen hierdie tyd het die hele Washington DC egter geweet wie hy is – ’n CIA-agent met sterk bande met die Demokratiese Party-lede. Maar gou en heel tydig het die fokus van die fluitjieblaser geskuif na die bewerings van omkopery, uitbuiting, magsmisbruik en regsverydeling.

Woedend omdat daar weereens ’n skelmstreek beplan is om hom te ontsetel, het Trump onverwags die transkripsie van sy oproep na Zelensky (op 25 Julie) bekendgemaak om onomwonde te bewys dat hy geen buitelandse hulp aan die Oekraïne in ruil vir ’n ondersoek na Biden aangebied het nie. Hy ontken ook dat daar enige omkopery of uitbuitery of melding van die 2020-verkiesing gemaak is. Hy erken wel dat hy president Zelensky gevra het om ondersoek in te stel na korrupsie in sy land en inmenging in die Amerikaanse verkiesing, maar dat hy Zelensky nooit onder druk geplaas het nie.

Selfs voor die bekendmaking van hierdie transkripsie het speaker Pelosi haar voorgeneem om ’n klag van omkopery teen Trump aanhangig te maak. Getuies is ingebring en geheime vergaderings is in die kelderverdieping van die huis van verteenwoordigers gehou. Die Republikeine is nie toegelaat om ’n stem te hê of getuies in te bring nie en daar is gekeer dat die identiteit van die fluitjieblaser bekend gemaak word. Laasgenoemde het so “onsigbaar” geword dat hy later heeltemal van die toneel verdwyn het.

Ná luide klagtes van die Republikeine is sommige konsessies toegestaan om hulle toegang tot die komitee te gee. Openbare verhore is met die Demokrate gehou en getuies is geroep om Trump in die verleentheid te stel. Dit het egter niks opgelewer nie – nie een van die getuies het enige gesprekke met Trump gehad nie of enige bewyse dat hulle die president hoor vra het vir ’n quid pro qou nie – alles was maar net om uiting te gee aan hul gevoelens en minagting vir die president met sy buitelandse beleid van hulpverlening. Daarteenoor het die Amerikaanse ambassadeur van die Europese Unie, Gordan Sondland, wat ’n gesprek met die president gehad het, erken dat Trump gesê het: “I want no quid pro quo”.

President Donald Trump waai vir verslaggewers nadat hy met hulle gepraat het by die Wit Huis in Washington. (Foto: Manuel Balce Ceneta, AP)

Die Demokrate se getuies het dus oor geen feite beskik nie. Mediakommentator Geraldo Rivera het die Demokrate se poging tot vervolging “konstitusionele vandalisme” genoem. Met die bekendstelling van die transkripsie is hulle onkant gevang, ’n mediasirkus het gevolg en woorde en frases is uit verband geruk om die onwaarhede verder te versprei.

Trump was versigtig krities oor buitelandse hulp aan “moeilike” lande soos Honduras, Pakistan, die Palestynse Bevrydingsorganisasie (PBO) en baie ander – oortuig daarvan dat lande in die EU en Asië hul beskeie aandeel bygedra het. Gegewe die Oekraïne se geskiedenis van korrupsie, het hy vertrou dat die nuwe president sy huis in orde sal kry aangesien hulp met vorige administrasies teruggehou is.

Dit is tog sekerlik die rol van ’n president voordat hy sy belastingbetalers se geld aan die buiteland gee. Ironies genoeg is al die hoorsê-bewyse teen Trump nietig verklaar deur sy daadwerklike hulpverlening en die feit dat hy dodelike Javelin-missiele aan die Oekraïne verskaf het as verdediging teen Rusland – anders as president Obama wat slegs komberse geskenk het!

Die tweede artikel van vervolging, te wete regsverydeling, is gegrond op president Trump se weiering om sy personeel toe te laat om op aanhoudende, irriterende dagvaardings te reageer – dagvaardings wat daarop gemik is om die personeel van die Withuis te intimideer en die president te verneder. Schiff en die voorsitter van die geregtelike komitee, Jerry Nadler, het die vrae vir die getuies vooraf opgestel, Trump ontsê van die normale verloop van die proses en ’n inkwisisie in Sowjet-styl uitgevoer.

Die marathon-drama het geëindig met vier IVY League-professors – drie wat die Demokrate verteenwoordig en een van die Republikeine. Eersgenoemde drie het substansiële argumente ten gunste van vervolging aangevoer. Prof. Turley, regsverteenwoordiger vir die Republikeine en konstitusionele kenner van Georgetown Universiteit (en geen Trump-ondersteuner nie) het die verhore onomwonde afgekeur en gesê dat “die Demokrate Trump beskuldig op grond van die skraalste bewyse ooit in die geskiedenis van hierdie land.

“Ons het nog nooit iemand vervolg slegs op grond van magsmisbruik wat gekoppel is aan ’n enkele teenstrydigheid soos hierdie nie… Hoe onderskei mens wat die president hier doen van wat ander presidente in gesprekke met staatshoofde doen?”

Turley het voorts gesê: “Ek kan dit nie genoeg beklemtoon nie en ek sê dit net nog een keer: As julle ’n president vervolg, as julle van ’n hofgeding ’n ernstige misdaad en oortreding maak, dan ís dit magsmisbruik – júl misbruik van mag. Julle doen presies dieselfde waarvoor julle die president beskuldig. Ons het ’n derde tak wat konflik van die ander twee takke hanteer. En wat daaruit voortvloei en wat julle daarmee maak, is die juisste definisie van geregtigheid.”

Pres. Donald Trump. Foto: (AP Photo/ Evan Vucci)

Geen president kan optimaal funksioneer met ’n daaglikse aanslag van komplotte en vuilspel deur sy opposisie nie. Tog, ten spyte hiervan toon Trump se maandelikse werkskeppingverslae rekordhoogtes, ’n skerp styging in die Dow-indeks en suksesvolle handelsooreenkomste. Hieroor is die Demokrate natuurlik permanent briesend. Wat ons hier sien, is ’n tiranniese meerderheid wat deur ’n binnekring van Obama-agente in koalisie saamwerk om die president tot ’n val te probeer bring.

Ek woon nou al byna twee jaar in die VSA en het die kom en gaan in Washington DC met misnoeë aanskou. My mond hang meer as dikwels in ongeloof oop oor waarmee die Demokratiese Party telkens vorendag kom om die presidentskap te destabiliseer.

Amerika se demokrasie dateer terug tot 1789, maar dit blyk niks beter te wees as Suid-Afrika se duistere “nuwe” demokrasie nie.

Die Clintons, wat Trump vroeër “bewonder” het vir sy donasies aan die Clinton Foundation en ander veldtogte, het hom destyds aangemoedig om as kandidaat vir presidentskap te staan. Selfs John Kennedy jr. het kwytgeraak dat sou Trump kandidaat vir die Withuis wees, hy maklik sal wen. Maar… die establishment het dit nooit bedoel nie. Hulle het sonder twyfel geweet dat Trump, as ’n Washington DC-buitestander, hulle na alle waarskynlikheid sou wys hoe om ’n land te regeer én boonop suksesvol daarin te slaag.

Alex Castellanos, ’n mediakommentator, het dit soos volg gestel: “As Trump reg is oor enigiets, sal dit beteken dat die Demokrate verkeerd was oor alles.”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Die rubriekskrywer Rhoda Kadalie is afgetree en woon tans in die VSA. Sy is die voormalige direkteur van Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en akademikus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

André André ·

Hoe klein van gees in jou boosaardigheid soos die Demokrate kan mens nie wees nie! En dit met Nancy Pelosi aan die voorpunt. Mag al hierdie gebeure in hoofopskrifte in die Amerikaanse geskiedenis weerklank vind.

Weskusnooi ·

Susanna, ek kan nie meer met jou saamstem nie!

Mag hierdie bom in die Demokrate se gesigte ontplof.

Ja, hy doen nie altyd alles volgens protokol nie, maar daar is ‘n hele paar dinge wat hy reg doen en hy stel die land en sy mense eerste!

H Rust ·

Dankie Rhoda vir die eerste egte waarheid soos in jou skrywe.Die fake news het reeds hul bes gedoen om in ons land die verdraaide beeld van die demokrate op te dis as die waarheid.Daar was ook ingekleurde aftakeling van die kandidaat gegee.Hy is lief vir sy land en AL sy mense.Hy het ook ‘n goeie vaste geloof en ‘n eerlike ,opregte mens……DOEN WAT HY BELOWE.Dit gaan goed met die ekonomie waarin alle landsburgers deel, asook die demokrate.Die kiesers daar het goeie oorsig en sien hoe lyk lande wat neig om kommunisme as visie na te streef.Die kiesers het dan geen sê nie, en almal in so ‘n land is arm,behalwe die regeerder elite.Ek hoef nou hieriir niks te sê nie!

AG Ja! ·

Die demokrate kan dit nie hanteer dat Trump die land sover meer stabiel gemaak het met sy finansiele beleid. Hy het baie meer reggekry as wat Obama in sy twee termyne kon doen . Die demokrate laat my dink dat hulle dieselfde taktiek wil gebruik soos sekere partye in SA. Trump het ook hulle geld kraantjie mooi toegedraai, want hulle het net vir hulle self gesorg en nie n duit omgegee vir die gemiddelde landsburger nie.

Markus ·

Die president is besig om sy mandaat uit te voer en die VSA n beter plek te maak maar net soos SA n malema het het amerika n pelosi wat nie n goeie ding sien as dit nie uit sy /haar siek mond en verotte brein kom nie.Ek troos my dat goed altyd oor onregverdigheid sal seëvier al vat dit ook hoelank.

Ag Ja! ·

Markus,
Goed opgesom. Dit gaan by die demokrate net oor geld. As hulle die mag het kan hulle doen wat hulle wil soos selfverryking,korrupsie ens, ens. Hulle gee nie n flenter om nie en sal die nVSA vir China en ander lande gee ter wille vir selfverryking. Klink baie soos by die huis?

JG ·

Dit wil al hoe meer lyk na die “Demoon-krate” wat doenig is in die VSA…

ALLAN ·

Soos gewoonlik, weer ‘n BAIE goeie artikel, presies soos ons dit sien en ervaar. Baie dankie en hou so aan

Natascha ·

Stem saam SA kort n Donald Trump. Hul kan nie vat dat hy so baie regkry en doen vir sy land.
Sterkte Donald my stem bly by jou.

Susan de Klerk ·

Ek kyk met nuwe oe na Hollywood en die Demokrate se uitsprake en gedrag. Nog nooit het ek so iets beleef nie. Ongeskik, ongepoets en pleinweg rou en kom weg met vryheid van spraak. Daar is tog darem iets soos beskaafheid, maar hulle neuk net voort. Arme Trump!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.