Trump stel sy visier op swart ondersteuners

West met ʼn rooi hoed met Trump se verkiesingslagspreuk, Make America Great Again, daarop. Foto: (AP Photo/Evan Vucci, File)

Die kletsrymer Kanye West het verlede jaar alle versigtigheid oorboord gegooi deur openlik sy bewondering vir pres. Donald Trump te verklaar.

Met die doel om eerder liefde as haat te verkondig, is Kanye na die Withuis waar hy onbeskaamd sy liefde vir die Buiteperd van Washington verklaar het en daardeur aansienlike teenkanting van Hollywood en drukgroepe in die musiekbedryf ontketen het.

Deur sy rug te draai op ’n kultuur van narcisme, statusverbruik en die ontkenning van sedes en gewoontes wat ’n negatiewe invloed op kinders het, het Kanye nie geaarsel om (nou) as volgeling van Jesus, sy velkleur aan die groot klok te hang nie. Dit was dus nie vreemd dat sy album Jesus is King ’n toptreffer geword het nie.

Kanye, wat sy geloof Sondag 17 November in die grootste megakerk in Houston openlik bely het, het duisende van sy aanhangers oortuig om navolgers van Christus te word met sy outentieke boodskap oor wat dit beteken om jou rug op roem en alles wat Hollywood kan bied, te draai. Hy het tong-in-die-kies beweer dat “die grootste kunstenaar wat God ooit geskape het, nou vir Hom werk”. Dit sal geen verrassing wees dat baie van sy aanhangers ná dese ook hul sienings oor Trump sal wysig nie.

Maar beteken dit dan nou dat wit stemme deur swart stemme vervang gaan word vir die “oranje man” (Trump) wat deur die linkses as die grootste rassis in die geskiedenis beskou word?

Tog, toenemende verkiesingsondersteuning terwyl die vals aanklagte-verhoor om die draai is, is nogal baie gevra. Met die ganse mediamasjien wat gerat is om Trump uit die saal te lig, vind strukturele verskuiwings op ’n ander front plaas – swart ondersteuning vir Trump is aan die toeneem. Hoewel dié ondersteuning vir hom in 2016 ’n skrale 6% teenoor Hillary Clinton se 90% besorg het, en meer as 85% vir die Demokrate gedurende die tussenverkiesings, bly die vraag: Het Trump enige kans om deur die glasplafon te breek en swart ondersteuning te werf?

Volgens die Rasmussen Reports is dit nogal interessant dat stemme van 29 Julie tot 2 Augustus 2019 – nadat Trump kongreslid Elijah Cummings gekritiseer het omdat hy sy knaagdierbesmette Baltimore verwaarloos en laat agteruitgaan het – aandui dat die persentasie swart mense wat ten gunste van Trump as president is, met ongeveer 32% gestyg het. Dog, in Oktober 2019 het die HillHarrisX-meningspeiling slegs 12% swart ondersteuning aangedui wat, hoewel dit sedert November 2016 verdubbel het, steeds kommerwekkend laag vir Trump is.

By ’n onlangse “Swart Stemme vir Trump”-byeenkoms in Atlanta by die Georgia Wêreldkonferensiesentrum het Trump beloof om op swart stemgeregtigdes as teikengroep vir die 2020-verkiesing te konsentreer.

“Met julle hulp gaan ons elke gemeenskap in elke stad, voorstad en platteland besoek en propaganda maak vir elke liewe Afrika-Amerikaanse stem in 2020. In drie jaar het ons meer vermag vir die Afrika-Amerikaners as wat die gebrekkige Washington-establishment in meer as 30 jaar probeer doen het. Net verlede maand was die werkloosheidsyfer van die Afrika-Amerikaners op sy laagste ooit in die geskiedenis van ons land,” aldus Trump.

Met trots het die president oor sy sukses tot dusver gepraat: werkloosheid onder die Afrika-Amerikaners het gedaal na 5,4%; armoede onder dieselfde groep het afgeneem; strafreghervorming deur middel van die First Step Act (Formerly Incarcerated Reenter Society Transformed Safely Transitioning Every Person) is daarop gemik om die terugval in misdaad te laat afneem; sy belofte om 3 100 gevangenes uit federale tronke vry te laat op grond van goeie gedrag; ekonomiese geleentheidsones vir laeinkomstegemeenskappe is geskep; en sy pro-lewe-standpunte oor aborsie bly onveranderd.

Laasgenoemde het ’n vuurwarm patat geword in die swart gemeenskappe waar die meeste aborsies plaasvind. Hierdie kwessie is verder verpolitiseer deur die aktivis Candace Owens. Sy het die naam Margaret Sanger (stigter van Planned Parenthood en uiterste rassis wat gesê het haar doel is om swart mense “soos onkruid uit te roei”) hierby ingesleep. Swart kommentators, les bes Kanye West, het hierdie siening tot sy voordeel gebruik nadat Owens luidkeels verklaar het:

  • Sowat 62% van alle aborsies in Alabama word op swart vroue uitgevoer;
  • Hoewel swart vroue slegs 7% van die bevolking verteenwoordig, is 40% van aborsies wat in Amerika uitgevoer word op swart vroue;
  • As gevolg van aborsies het die swart bevolkingsgroei heeltemal gestagneer… “Ons is die enigste ras wat nie as bevolkingsgroep groei nie;
  • Planned Parenthood-klinieke word met ’n doel strategies in swart buurte geplaas; en
  • Aborsie is nie slegs moord nie, maar ’n stil uitwissing van die swart bevolking wat gekanaliseer word deur rassistiese liberale deur hul beheer oor ons staatskoolstelsel.”

Die uitgesproke mev. Owens het die land deurkruis en oral swart mense aangemoedig om die rug te draai op die Demokrate met hul patroniserende beleide ten opsigte van maatskaplike welstand, koskoepons, aborsies en die onderdrukking van swart mans wat veroorsaak dat swart gemeenskappe vir ewig van die staat afhanklik sal wees.

Trump se boodskap, “Wat het jy om te verloor?” het sy met oop arms ontvang. In ag genome die feit dat die lewe van Afrika-Amerikaners op baie gebiede versleg het, het sy swart mense aangemoedig om die slagoffermentaliteit af te skud en hulself te bemagtig.

Deur haar beweging, Blexit, wat sy ’n jaar gelede gestig het, motiveer sy Afrika-Amerikaners om die Republikeinse Party te oorweeg as ’n verdienstelike alternatief, gegewe alles wat Trump in drie jaar vermag het. Sy reken die vloedgolf van ondersteuning vir die Demokrate is nog nie omgeskakel in ’n dramatiese transformasie van die lewenstandaard van Afrika-Amerikaners nie.

Dog, met elke verkiesing stem hulle steeds oorweldigend vir die Demokratiese Party.

Pres. Trump em West tydens hul ontmoeting. Foto: Washington Post photo by Calla Kessler

Pres. Trump em West tydens hul ontmoeting. Foto: Washington Post photo by Calla Kessler

President Trump se ontmoeting met prominente swart leiers, onder andere, Herman Cain (voormalige presidentskandidaat), Alveda King (Georgia se staatsverteenwoordiger en broerskind van Martin Luther King), die politikus Katrina Pierson, pastoor Darrel Scott, Daniel Cameron (prokureur-generaal van Kentucky), Ben Carson, sekretaris van behuising en honderde ander in die skare met Trump-T-hemde en MAGA (Make America Great Again)-pette het ’n vrolike noot van optimisme aan die byeenkoms in Atlanta gegee. Herman Cain het dit soos volg in The Western Journal beskryf:

In reality, the left-wing media prefers to present black people as victims — as part of a perpetual grievance group that’s always being discriminated against and held down. The last thing they want is to highlight black people who aren’t complaining about life in America because we understand the concepts of hard work and opportunity, and appreciate a president who’s helping to open up more of it for us. I’ve understood this my entire life. I faced discrimination when I was working my way up the corporate ranks. But I never used it as an excuse.” …. “That was the mindset of the people I had the pleasure of joining at Black Voices for Trump.”

Ongeag die konstante sieldodende beskuldigings van rassisme teen Trump, het sekretaris Ben Carson hierdie aantygings onmiddellik as onsin afgemaak, gegewe die baie erkennings wat Trump van mense soos Jesse Jackson ontvang het vir sy bydrae tot swart vooruitgang. Pastoor Darrel Scott van Ohio het op sy beurt ook gewys op die vele suksesse in die nuwe administrasie se eerste drie jaar en het met trots verklaar dat Trump selfs “beloftes nagekom het wat hy nie eens gemaak het nie”.

Voordat ons vergeet: die Atlanta-byeenkoms was die kulminasie van ’n reeks geleenthede wat sedert Trump se inhuldiging in die Withuis gehou is met swart sakeleiers, swart geloofsgebaseerde leiers en – vroeg in Oktober 2019 – swart jeugleiers.

Trump se eerste vrylating van die hoëprofielgevangene Alice Johnson, wat lewenslank gevonnis is vir dwelmsmokkelary, het groot mediadekking gekry, les bes weens die ingryping deur Kanye West en Kim Kardashian namens haar. Gou daarna is ander gevangenes ook vrygelaat en menige van hulle is verwelkom in die Withuis. Trump was ook direk betrokke in die vrylating van die swart kletsrymer A$AP Rocky wat in Swede in hegtenis geneem is vir beweerde aanranding. Rocky – wat goed bevriend is met Nicki Minaj, Kanye West, Kris Jenner, Justin Bieber en ander – se beroep op die president vir hulp, het na alle waarskynlikheid sy reputasie onder musieksterre eksponensieel verbeter, hoewel hulle dit nie openlik sal erken nie.

Trump, anders as sy Demokratiese opponente, patroniseer nie swart mense nie. Sy program van aksie het in werking getree sedert die dag waarop hy sy plek as president ingeneem het – met uitstekende resultate.

Al hierdie aktiwiteite beteken tog sekerlik iets?

Ja beslis. Maar, soos die ANC-ondersteuners wat getrou vir hul eie ondergang stem, sien swart stemmers in Amerika steeds die Demokrate as hul redding.

Dit gaan die verstand te bowe.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Die rubriekskrywer Rhoda Kadalie is afgetree en woon tans in die VSA. Sy is die voormalige direkteur van Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en akademikus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Human ·

Rhoda is jy nou ‘n stemwerwer vir Don Tantrum Trump ? Trump is ‘n kulkunstenaar en ‘n mens moet baie “gullible” wees om te glo, die geroeste yster, is eerbaar en gee om vir al die mense in die VSA.

Stephan de S ·

Wat n kostelike opmerking…” ANC ondersteuners wat getrou vir hul eie ondergang stem”.

Feite ·

Die republikeine gaan nou al so ver om Trump te probeer beskerm dat hulle van hom begin praat as “the chosen one”. Ek het al snert in my lewe gehoor, maar die een oor trump vat wragtig die koek en ek twyfel of swart kiesers vir die snert wat die trump veldtog nou probeer opdis, gaan val. Tien teen een sal trump (con artist) al gefire wees of bedank het nog voordat die verkiesing plaasvind!

gatiep ·

As ek so na jou luister Human verdwyn my hoop vir die land.
Dit lyk my ons sal eers n Syria moet raak hier voor mense se oe sal oopgaan in die land.Dankie Rhoda.

Neels ·

Kyk net daai uitdrukkings op Trump, sy dogter en skoonseun se gesigte. Dit vertel ‘n storie van 10,000 woorde. Die Republikeine verdien beter.

Human ·

Wat het ons oë se oopgaan in die land met Don Tantrum Trump en die ondergang van die land uit te waai. As jy jou hoop op die Don plaas, weet nie om watter rede, wag daar net ontnugtering vir jou, dit is soos om jou pêrels vir die swyne te gooi en om dan te hoop vir `n wonderwerk. My voorspelling is, jy gaan baie lank wag vir `n wonderwerk om te gebeur, indien ooit.

johan ·

Human,en andere wat Trump as n nar en kulkunstenaar beskryf is duidelik in die duister oor gebeure in die VSA .

Human ·

Praat van jouself wat betower en in die duisternis is deur die nar en kulkunstenaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.