Trump word geteiken

Pres. Donald Trump. (Foto: AP Photo/Chris Carlson)

Die gekke seisoen is op hande. Nee, dis nie Krismiskoors nie, dit is die verkiesingseisoen in Amerika. Die Demokrate en hul kulturele keisers staan verenig in hul vasberadenheid om die land van die Oranje Man te bevry. Tog, die Russiese samesweringsklagte was onwaar; die Mueller-ondersoek het misluk; die Oekraïne-debakel was ‘n windeier; en die vervolgingsaak was die grootste klug van die eeu. Dus, wie ook al diep genoeg grawe, sal iets vind.

Vreesbevange dat Donald Trump al hoe meer geraamtes uit die Demokratiese kas sal haal, is dié paniekerigheid in Washington DC tasbaar. As ‘n laaste poging om Trump uit die weg te ruim, slinger sy opponente die een bom ná die ander. Want hoe gewilder die president, hoe meer histeries is die komplotte en die stempeilings. Hoe robuuster sy prestasies, hoe waansinniger word die pogings om drek op te grawe.

Desnieteenstaande gaan die Demokrate voort met hul kwaadstokery. Hoekom? Omdat hulle weet dat die skoothondjie-hoofstroommedia (HSM) die aanvoorwerk vir hulle sal doen. Om die waarheid te sê, berig HSM lankal nie meer nuus nie; hulle maak dit. Hulle speel dus ‘n aktiewe rol om die land te verdeel in twee opponerende faksies wat hierdie demokrasie blootstel vir wat dit geword het – ‘n bastion van dooie liberalisme en die dooie taal van lojale opposisie.

Voormalige speaker Newt Gingrich, ’n uiters geskikte kommentator om die status quo op te som, het in ‘n onderhoud op 13 September gekla dat die moderne Demokrate nou promisdaad en antipolisiëring is.

George Soros. (Foto: AP Photo/Ronald Zak, File)

“Die feit dat George Soros miljoene dollars bestee om staatsprokureurs te kies wat promisdaad en antipolisiëring is, begin nou insink.”

Met verwysing na ’n 165%-toename in skietvoorvalle in New York binne een jaar, het Gingrich bygevoeg: “Dit is ‘n verstommende verval in die stelsel, en De Blasio en Cuomo het die grootste aandeel hieraan. Die wetsontwerp wat vir geen borgtog voorsiening maak nie beteken net een ding: Nie net in New York nie, maar ook in Chicago, Seattle, Portland, St. Louis, Baltimore en Philadelphia sal misdadigers veilig wees, want die Demokrate gaan hulle nie vervolg nie.”

Die BLM- en Antifa-aktiviste wat op Demokratiese beskerming op die hoogste regeringsvlakke staatmaak, het hierdie stede en besighede (groot en klein) feitlik vernietig. Die meeste van hierdie binnelandse terroriste is vrygelaat sonder borgtog of deur skatryk prokureurs, wat hul geld uit groot ondernemings en Hollywood maak, uitgeborg. Die verwoesting in hierdie stede word dus kliphard en flink voortgesit – aangevuur deur die opruiende retoriek van senior Demokratiese leiers, veral deur voormalige president Barack Obama en senator Kamala Harris. Dié twee het herhaaldelik beweer dat die betogings vreedsaam was en het die geweld deur die vingers gesien en openlik die ontfondsing van die polisie gesteun. Omdat hulle nie gestraf word nie, beweeg hierdie oproermakers nou van voorstad tot voorstad, en dreig private burgers by restaurante en selfs in hul huise.

Pres. Donald Trump. (Foto: AP Photo/Alex Brandon)

Terwyl hierdie Demokraties geïnspireerde vernietiging voortduur, het Trump die negatiwiteit daarvan met die volgende teëgestaan: die herstel van 10,5 miljoen werkgeleenthede ná die Covid-19-inperking; ‘n daling in werkloosheid tot 8,4% ná Covid-19; ‘n meer as veerkragtige aandelemark; ‘n spoedige beskikbaarstelling van entstof teen die koronavirus; en onverwagte vredesooreenkomste in die Midde-Ooste, Kosovo en Serwië – met twee benoemings vir die Nobelprys vir Vrede as resultaat. Laasgenoemde vuur natuurlik die Biden/Kamala-paar aan in hul siek gejaag na nóg meer populistiese beleide en donasies – veral dié van Michael Bloomberg wat $100 miljoen geskenk het om Trump in Florida teen te staan, asook $200 miljoen van ’n ander vroulike erfgenaam.

Die mees gemene demokratiese strategie is om so veel as moontlik ammunisie teen Trump te gebruik.

Trump kry nou die skuld vir die koronavirus-sterftes ondanks die feit dat twee demokratiese goewerneurs hom geprys het vir sy uitstekende hulp aan Kalifornië en New York tydens die hoogtepunt van die virusuitbarsting. Hy kry ook die skuld vir die ekonomiese insinking, terwyl die Demokratiese goewerneurs en burgemeesters die inperking tirannies toegepas het, ondanks sy pleidooie vir Demokratiese state om besighede, skole, kolleges en universiteite te open.

Die eerste sarsie
President Trump se kommer oor posstemme wat weens Covid-19 “genoodsaak” word en die gepaardgaande korrupsie, het ’n luidkeelse beswaar van sy opponente ontlok, wat reken dat hy die verkiesing probeer steel – dit ondanks die weggooi van honderde stembusse asook die versuim om die kieserslyste by te werk. Gegewe die United States Postal Service (USPS)-unie se ondersteuning van Joe Biden, het die president dus genoeg rede om die integriteit van die verkiesing te bevraagteken.

Die tweede sarsie

Joe Biden. (Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Die veteraanjoernalis, Bob Woodward, het Trump uitgelok met ‘n reeks onderhoude van altesaam nege uur in die Withuis asook per telefoon. Met die opkomende bekendstelling van sy boek Rage, twee weke gelede, was een van die vele stories wat die rondte gedoen het, dat Trump reeds vroeg in Januarie erken het dat die virus gevaarlik is, maar dat hy dit afgemaak het as niks ernstigs nie, bloot om nie paniek te saai nie. Eintlik was dit nie regtig ’n storie nie, want Trump het hierdie posisie in die openbaar bly handhaaf met sy hantering van die pandemie.

Soos te wagte, was die hoofstroommedia en Joe Biden, ‘n dag ná die bekendstelling van die boek, gereed om aan te val en het Trump ’n leuenaar, ‘n moordenaar, en onverantwoordelik genoem, ten spyte van sy onmiddellike sluiting van die grens met China en Europa vroeg in Januarie en Maart, onderskeidelik. Volgens Biden het Trump met dié sluiting xenofobies opgetree. Speaker Nancy Pelosi het op haar beurt Trump daarvan beskuldig dat hy paniek veroorsaak het, en het die inwoners en toeriste aangemoedig om Chinatown te besoek en die publiek gerusgestel dat voorsorg getref is. Goewerneur Cuomo het op 2 Februarie dieselfde gedoen en daarop aangedring dat dit nie nodig is om paniekerig te raak of oormatig angstig te wees nie. Cuomo het tot in Maart, toe die virusgetalle oor die hele stad die hoogte ingeskiet het, op hierdie trant volgehou. Daarbenewens het die agterbakse Woodward op grond van sy vele onderhoude, natuurlik tot die gevolgtrekking gekom dat Trump nie geskik is om die VSA te lei nie.

Die derde sarsie
Cyrus Vance jr., staatsprokureur van New York en ‘n Demokraat, het onlangs ‘n ondersoek begin na Trump se belasting, besigheidsinkomste en finansiële geskiedenis oor ’n tydperk van agt jaar, in ooreenstemming met die hooggeregshof se beslissing dat presidente nie kwytgeskeld is van strafregtelike ondersoeke nie. Geen ander president is al ooit voorheen blootgestel aan sulke voortslepende en gemene finansiële teistering nie, met die gevolg dat Trump se regspan vir die hoeveelste keer van stryk af gebring is.

Die bedoeling is egter klinkklaar: Verlam Trump op alle terreine, ongeag wat dit verg.

Die vierde sarsie

Pres. Donald Trump en sy vrou Melania Trump. (Foto: AP Photo/Alex Brandon)

In ‘n poging om ‘n wig tussen die weermag en Trump in te dryf, het The Atlantic ’n storie (deur Jeffrey Goldberg) op 3 September 2020 gepubliseer waarin president Trump Amerikaanse mariniers wat in die Eerste Wêreldoorlog gesneuwel het, “stommerike” en “verloorders” noem. Sy beweerde kommentaar is vermoedelik tydens ‘n presidensiële besoek aan Frankryk in 2018 gelewer, waar die president na verwagting die reis na die Aisne-Marne-begraafplaas naby Parys sou onderneem, maar gekanselleer het weens gure weerstoestande.

Goldberg maak hierdie bewerings wat op anonieme bronne gebaseer is, terwyl 20 mense, waaronder John Bolton (wat Trump afgedank het) wat teenwoordig was, die storie ontken. Trump het daarop gereageer en die verslag “’n bedrogspul, ’n heksejag en ‘n blatante leuen” genoem en verder gesê: “As daar mense bestaan ​​wat dit sou gesê het, is hulle in my oë skuim en leuenaars. En ek is bereid om met die hand op die Bybel te sweer dat ek nooit sulke goed oor ons gevalle helde gesê het nie. Daar is niemand wat hulle meer respekteer as ek nie.”

Trump het die volle reg gehad om kwaad te wees, aangesien hy miljarde bestee het aan die opbou van ‘n uitgedunde weermag, die gesondheidsorg van veterane, die terugbring van gyselaars en die eerbetoon aan families van gesneuwelde weermagpersoneel. Die skaamtelose vermetelheid van die berugte The Atlantic om so iets te publiseer met die wete dat Trump lojaal teenoor die weermag is, is ‘n voorbeeld van hoe desperaat die Demokrate is, terwyl president Obama eintlik die een is wat die weermag verswak het deur hulle in nog meer oorloë (in Libië, Sirië, Irak en Afghanistan) te betrek.

Die vyfde sarsie

(Foto: Simon & Schuster, left, and Peter Serling/Simon & Schuster via AP);

Mary Trump, ’n niggie van die president en skrywer van Too Much and Never Enough: How My Family Created the World’s Dangerous Man, het in haar familie-onthulling niks goeds te sê gehad oor haar oom, Donald Trump nie. Sy het hom beskryf as genadeloos, narsisties, swak en onbevoeg asook fundamenteel rassisties en beweer dat hy “floreer in chaos en verdeeldheid.” En verder: “Die enigste ding wat vir hom belangrik is, is om sy eie bas te red. Hy is die soort man wat, as hy voel hy gaan onder, ons almal saam met hom sal neem.”

Haar pa, Fred jr., ‘n mislukte vlieënier en alkoholis, is jonk oorlede. Mary beweer dat haar oupa, Fred sr., en sy lieflingseun, Donald, beide verantwoordelik was vir sy ondergang, terwyl grief ná grief oor waarom die Trump-familie haar en haar broer onterf het, opgehoop word. In haar vele onderhoude met die hoofstroommedia, lyk Mary Trump ook maar self uiters onbetroubaar met oë wat onrustig rondkyk, gespanne gesig en saamgeperste lippe. Ten spyte van haar angstigheid, verlustig sy haar natuurlik in die vooruitsig van ‘n literêre boerpot wat andersins nie moontlik sou wees as Trump hom nie verkiesbaar gestel het nie.

Die sesde sarsie

Pres. Donald Trump saam met sy gesin. (Foto: AP Photo/Evan Vucci)

Glo dit as jy wil, die hoof van intelligensie, Adam Schiff, het weer eens sy verskyning gemaak met, raai wat, nóg ’n fluitjieblaser wat beweer dat leiers van die departement van binnelandse veiligheid “bewyse het van Russiese inmenging in die Verenigde State se verkiesing en van geweld deur wit ekstremiste.” Dié fluitjieblaser, Brian Murphy, verskyn op 21 September voor ‘n paneel vir ondervraging.

Al bogenoemde aanvalle het tot gevolg dat die media se gesprekspunte van dag tot dag verander – duidelik bedoel om Donald Trump uit te put en afbreuk te doen aan sy vele prestasies.

Maar Dan Bongino, voormalige geheimediensagent van Obama en podsendinggasheer, sien egter dwarsdeur hierdie aanvalle en waarsku: “Die media lyk glad nie bekommerd dat hulle soveel geloofwaardigheid verloor het nie, en elke nuwe vals aanslag op Trump, skop maar min stof op. Niemand luister meer na hulle nie – hulle het té gereeld en op so ’n meedoënlose manier gelieg, dat groot dele van Amerika hulle as nuuskanale uitgeskakel het.”

Ek hoop van harte Bongino is reg.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Rhoda Kadalie

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Die rubriekskrywer Rhoda Kadalie is afgetree en woon tans in die VSA. Sy is die voormalige direkteur van Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en akademikus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Andre

Mense kom ons hou duim vas en hoop dat Trump sal wen in die VSA.Anders gaan die liberale alles in die VSA ook verwoes.

Tomas

Baie geluk met hierdie artikel Rhoda. Jy is bereid om die waarheid oor Trump en die Demokrate te vertel. Hierdie is natuurlik ‘n geestelike aanslag van die bose.
Daar is ‘n groeiende groep Christene in Amerika wat hierdie geestelike stryd begin veg het. Dit sal ‘n verskil maak en Trump sal verkies word as president.
Hier is SA is die kerk self ‘n uitgeteerde hond met geen tande nie. Gelukkig is daar ‘n groeiende getal kinders van God wat begin bid het. Dit sal ook ‘n verskil maak.

Human

In Don the Con se eie woorde “Fake News”.

Delarey

Uitstekende artikel soos altyd Rhoda. As Trump nie wen nie sal Demokrate die grense oopgooi en gratis mediese sorg en ander sosiale voordele aan almal gee. Daarna sal dit moeilik wees vir konserwatiewes om ooit op nasionale vlak ‘n meerderheid te kry en die VSA sal aanhou taan terwyl vryheid van spraak en geloof al meer onder druk sal kom terwyl sosiale en ekonomiese verval aan die orde van die dag sal wees. Die Westerse demokrasie soos ons dit ken sal stadig sterf in die VSA. As Trump egter wen sal die meerderheid wat vir hom gestem het uiters gemotiveerd… Lees meer »

Delarey

Terwyl een van die twee bogenoemde scenarios dalk uitspeel sal die ANC medoénloos voorploeter met sy vernietigende beleide wat sal aanhou lei tot groeiende onrus en moorde. Uiteindelik sal daar ‘n lae intensiteit rewolusie uitbreek in dele van die land omdat politici nie die politieke wilskrag het en die polisie nie die hulpbronne het om geweld en onrus te be-eindig nie. Net soos wat met Fees Must Fall gebeur het en tans in sekere VSA state en stede gebeur. Terwyl rassistiese retoriek en moorde elke dag toenneem sal Afrikaners en die wat by hulle wil staan geen keuse hé as… Lees meer »