Turkye en Navo – tyd vir ʼn egskeiding?

Turkye se president Recep Tayyip Erdogan. (Foto: Turkish Presidency via AP, Pool)

Navo, die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie, is tans in die proses om twee nuwe lande as lede by te kry, naamlik Swede en Finland. Beide lande is tradisioneel neutraal, alhoewel hulle kultureel deel van die Weste is.

Swede het, soortgelyk aan Switserland, uit die twee wêreldoorloë uitgebly en daarby gebaat om sy hulpbronne vir sy eie ontwikkeling te kon gebruik in plaas daarvan om dit op ʼn oorlog te verkwis. Finland se neutraliteit was meer uit nood gebore: omdat die land ʼn lang grens met Rusland, oftewel destyds die Sowjetunie, het en ook verskeie kere deur sy magtige buurland aangeval is waartydens van sy grondgebied weggeneem is. Dus was militêre en politieke neutraliteit ʼn strategiese skuif om die land se soewereiniteit te behou en nie weer vir die Sowjetunie ʼn rede vir ʼn aanval te gee nie.

Nou, met Rusland se onverwagse en brutale aanval op Oekraïne, het Swede en Finland geskrik en gevoel dat hulle beter af is binne die magtige verdedigingsverbond, Navo, as op hulle eie. Die gevoel in die bevolking het vinnig geswaai en ook met die parlementstemmings in beide lande was ʼn groot meerderheid vir lidmaatskap van Navo.

Omdat Navo egter ʼn ledeorganisasie is, moet ook elke enkele lidstaat oor die nuwe lede se toelating stem. Dit was in die meeste gevalle net ʼn formaliteit, behalwe in die geval van Hongarye en Turkye.

Hongarye het intussen belowe om gou die lidmaatskap goed te keur, maar Turkye bly sy voet dwars sit. Turkye het veral ʼn probleem met Swede, omdat dié land mense huisves wat in Turkye as terroriste geld.

Swede huisves sowel lede van die militante Koerdiese Werkersparty (PKK), wat met reg as terreurorganisasie beskryf word, maar ook mense wat gewoonweg in opposisie tot die Turkse regering is.

Swede het al Turkye op allerhande maniere tegemoet gekom, maar dit blyk dat Turkye nuwe redes vind om die toetrede te dwarsboom. As liberale land wat hoog opgee vir menseregte kan Swede nie politieke vlugtelinge uitlewer sonder om sy nasionale gewete te verkrag nie. Turkye se stokkie in die wiel is waarskynlik ook te danke aan die Turkse presidentsverkiesing in Mei vanjaar: teenoor sy ondersteuners moet president Recep Tayyip Erdogan die rol van sterkman wat sy land se belange eerste stel bevestig.

Turkye, as Islamitiese en geografies grotendeels Midde-Oosterse staat, blyk nie te pas binne Navo nie. Turkye is egter al van 1952 af lid, dus een van die oudste lede, afgesien van die stigterslede van 1949.

Destyds was die Koue Oorlog op dreef en was dit vir die VSA as hoofpilaar van Navo belangrik om te keer dat nog meer lande in die invloedsfeer van die Sowjetunie beland. Turkye was as Navo-staat wat aan die Sowjetunie grens ʼn soort doring in die vlees, amper vergelykbaar met Kuba se posisie teenoor die VSA.

Turkye was destyds en tot en met die 2000’s polities onomwonde deel van die Weste. Met die twee oorloë teen Irak (1991 en weer 2002) was Turkye van groot waarde weens sy lang grens met Irak en sy militêre basisse wat die VSA kon gebruik.

Later, sedert die bewind van Erdogan, het Turkye op die internasionale toneel meer en meer sy eie kop gevolg en probeer om sy brood aan albei kante te botter: die land het aan die een kant in die oorlog in Sirië ingemeng, nie as deel van Navo nie, maar om die Koerdiese rebelle aan te val, wat eintlik deel van die Navo-gesteunde koalisie teen die diktator Assad was. Aan die ander kant het Turkye Navo te hulp geroep om teen aanvalle van Sirië beskerm te word. Ook in die huidige oorlog tussen Oekraïne probeer Turkye wipplank te ry (terwyl Navo onomwonde vir Oekraïne steun).

Alhoewel Turkye sy ander medelede toenemend irriteer, is ʼn uitsluiting uit Navo nie moontlik nie. ʼn Lidland kan wel uit sy eie uittree, maar nie uitgeskop word nie. Al waarop Navo kan hoop is dat Erdogan eendag uittree en ’n ander persoon Turkye lei wat weer nader aan die alliansie beweeg.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Amerika gaan Turkye as ‘n vyand van die mensdom verklaar en dan saam met hul getroue volgelinge vir Istanboel en ander groot stede gelyk maak met die grond.

Marthinus W ·

Navo, die “magtige verdedigingsverbond”. Dis seker hoekom hulle Joegoeslawie vanaf 24 Maart 1999 tot 10 Junie 1999 daagliks gebombardeer het. 2500 dood, 87 kinders. Die land het verbrokkel, en tans is daarernstige gevaar in Serwie, Kosowo. Seker ook hoekom hulle Libie ingestorm het en Gadaffi vermoor het.

Die afgelope week is die koran verbrand in Denemarke en Nederland, wat Turkye se hand sterk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.