Tussenkerklike Raad: Ope brief aan die ANC

Gwede Mantashe. Argieffoto: Werner Beukes/SAPA

Gwede Mantashe. Argieffoto: Werner Beukes/SAPA

Geagte mnr. [Gwede] Mantashe en lede van die ANC-leierskap

Insake die ANC-uitnodiging tot gesprek op 9 Junie 2015

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) en die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) het kennis geneem van u uitnodiging om op Dinsdag 9 Junie 2015 met die leierskap van die African National Congress (ANC) in gesprek te tree. Ons het daarvan kennis geneem dat die uitnodiging ook aan ander Afrikaanse burgerlike organisasies gerig is.

Die drie Kerke het besluit om nie individueel op die uitnodiging te reageer nie, maar wel gesamentlik deur middel van die Tussenkerklike Raad (TKR).

Sedert 1943, met die totstandkoming van die Interkerklike Kommissie, is die NGK, NHKAen GKSA formeel met mekaar in gesprek. Die eenheid wat tussen die Kerke bestaan, word sigbaar in gestruktureerde samewerking op verskillende terreine, onder andere in ons openbare getuienis. Sedert 2004 word die Kerke se gesamentlike optrede en getuienis deur die TKR gekoördineer.

Alhoewel ’n baie groot deel van hierdie drie Kerke se lidmate uit Afrikaanse en blanke lidmate bestaan, het ons ook lidmate uit ander taal-, kulturele en etniese gemeenskappe. Ons is nie maar net deel van die Afrikaanse burgerlike samelewing nie. Die TKR het ná ontvangs van u uitnodiging by verskeie geleenthede besin oor deelname aan die gesprek. Ons is diep bewus van die kerk se profetiese roeping. Die kerk móét getuig van die versoening in en deur Jesus Christus en die implikasies daarvan vir die Suid-Afrikaanse  samelewing, onder andere die handhawing van reg, geregtigheid en menswaardigheid. Daarom het die TKR aanvanklik besluit om die uitnodiging tot gesprek te aanvaar.

Die jongste verwikkelinge rondom die Nkandla-verslag het die TKR genoodsaak om sy deelname aan die gesprek van 9 Junie te heroorweeg. Die misbruik van regeringsinstellings om die persoonlike verryking van pres Zuma vanuit openbare fondse te kondoneer en hom van persoonlike aanspreeklikheid te vrywaar, is na ons mening immoreel en bevorder sistemiese korrupsie in staatsinstellings. Die ANC se gebrek aan morele leierskap met dié aangeleentheid bemoeilik die komende gesprek, omdat die TKR slegs op grond van bepaalde morele uitgangspunte met u in gesprek sou kon tree. Wedersydse erkenning van basiese morele uitgangspunte is na ons mening noodsaaklik vir enige toekomstige gesprek tussen die ANC, kerke en burgerlike organisasies. In die lig hiervan het die TKR besluit om nie u uitnodiging tot gesprek te aanvaar nie.

Die TKR is diep verontrus oor die morele ineenstorting wat die afgelope tyd toenemend in staatsinstellings sigbaar word. Die TKR is verder bekommerd oor die ANC-regering se onwilligheid om die morele krisis met konkrete handelinge aan te pak. Voorbeelde wat die huidige moraliteitskrisis illustreer, is die volgende:

  • Xenofobiese uitsprake teenoor minderheidsgroepe in Suid-Afrika, onder andere wanneer ANC-leiers na sulke groepe verwys as ‘the other’, ‘colonialists of a special kind’ en ‘die oorsaak van al die probleme in Suider-Afrika sedert 1652’.
  • Uitsprake van ANC-leiers ondermyn grondwetlike meganismes soos die Openbare Beskermer.
  • Minagting van uitsprake van die hof bring die onafhanklike funksionering van die regbank en die bestaan van Suid-Afrika as ʼn regstaat in die gedrang.
  • Politieke inmenging en magsmisbruik in burgerlike organisasies en semistaatsinstellings is aan die orde van die dag.

Die TKR is diep verontrus oor ANC-uitsprake wat die gesag van die Grondwet van Suid-Afrika, ingeslote die Handves van Regte, ondermyn. Die huidige morele krisis lei tot ʼn gebrek aan inklusiewe taal en sosiale kohesie, die stelselmatige agteruitgang van infrastruktuur, toename in rassekonflik, sistemiese korrupsie en swak administrasie wat onder andere die lewering van maatskaplike en ander dienste aan die armstes van die armes ernstig benadeel.

Die TKR beplan om die gesprek oor moraliteit en integriteit met ander kerke in Suid-Afrika, ekumeniese liggame asook burgerlike organisasies voort te sit en hulle op te roep tot mobilisering in dié verband.

Die TKR sou bereid wees om met die ANC in gesprek te tree indien bogenoemde sake ʼn wesenlike deel van die agenda sal uitmaak en die gesprek met ons as Kerke plaasvind. Ons wil u graag in dié verband uitnooi.

Vriendelike groete.

Prof Nelus Niemandt en dr Kobus Gerber namens die Nederduitse Gereformeerde Kerk.

Dr Wim Dreyer en ds Leon Geel namens die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika.

Ds Cassie Aucamp en prof Nico Vorster namens die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Gert ·

Ek meen hierdie is n goeie geleentheid vir Afrikaner organisasies om ons weersin in die huidige toedrag van sake uit te spreek. Onttrek asb aan die geleentheid

HEVW ·

En wie staan agter die deur? Ons kerke deur eindeloos te poog om met allerlei slenters die Belhar- belydens d.m.v. stemming in ons kele af te dwing. Jul wat eindeloos preek t.w.v. eenheid, en nou verdeeldheid veroorsaak deur gemeentes, Kerkrade, ringe en sinodes deur middel van verkiesings in verskillende kampe te jaag. Jul gee nie n flenter om vir eenheid nie. Hoe vertolk die liberales en die huidige regering hierdie gedrewe eenheid. Waarop stuur dit af? Die Belhar is niks anders as n groenlig vir ons kommunistiese regeerders nie. Die Belhar se weg met apartheid. Die regering verpolitiseer dit om aan
minderheidsgroepe die reg van selfbeskikking, eie kultuur en taal te ontse. Die Belhar se versoening. Die regering se versoening ten alle koste selfs om ons eiendomlike soos godsdienvryheid, ons taal op skool en tersierevlak op die altaar te le. Dit waarvoor die Belhar veg, staan presies i.v.b. met al die gedrogte van grondwetlike buigings wat aan die orde van die dag is. Belhar Vergewis jul liewer van die implikasies van die Belharbelydenis soos deur die bree sosiaal – liberale tradisie en die regering vertolk.

Mike ·

Waar was die kerke al die tyd, saam met die NP? Was hulle net so naief soos de Klerk gewees wat net die sogenaamde “verregses” kon aanval en niks betekenisvol vir die afrikaner kon doen nie nou wil hulle huil.

Winston ·

Die huidige regering voel n veer vir waarvoor die Kerke staan. Gaan kyk na alle kerklike bedelings in Afrika. Daar is geen verskil gemaak nie. Jammer maar julle mors julle kennis, tyd en hoed in die hand staan ,vir niks. Ek hoop hier kom ander oplossings anders stuur ons op n ramp af.

George ·

Ek is dankbaar dat die kerk begin besef dat gelowiges nie saam met ongelowiged in die selfde juk kan trek nie. Dit is in elkgeval ‘n Bybelse beginsel.

Jury Hayes ·

Ek stem saam met die gesamentlike siening van die drie kerke maar is bevrees dat die regering met hul arrogansie en ondemokratiese algemene houding en gedrag vir die kerke vinger sal wys. Mag God gee dat dit anders sal wees.

HEVW ·

Dit is nie raadsaam om jou tyd op oningeligtheid te verspul nie.

Ds. Frikkie Mulder ·

Die Gereformeerde gemeente waar ek predikant is in Amanzimtoti, het in 2014 die volgende oproep teenoor ons regering gerig. Indien jy wat nou lees ‘n christen is, laat weet tog waarmee jy in hierdie “oproep” nie mee saam stem nie. Vriendelike groete :

http://www.oproepregering. wordpress. com

Phillip ·

Dit is verbasend/tragies dat “gelowiges” die geleentheid verbeur om die wese van wie Jesus is, ten toon te stel, deur die weiering van gespreks deelname met ANC. Wat het geword daarvan dat God in beheer is en so ‘n gesprek in geloof, in die hande van die Heilige Gees te laat!? Val liewer in gebed en smeking op die kniee neer vir wysheid, Gees van onderskeiding en gaan in gesprek soos die Gees lei en nie in eie krag nie.

Leendert van Oostrum ·

Dis nou bietjie soos om die wyse manne te veroordeel omdat hulle “met ‘n ander pad teruggegaan het” en nie terug na Herodes soos hy beveel het nie. Dink net – hulle kon voor hom getuig het van die grootste nuus in die geskiedenis. Onthou – Christus self het sy dissipels beveel – “skud die stof van julle voete af” van hulle wat nie wil luister nie.

As ons pedantiese vingertjies van vermaning wil rondswaai moet ons baie seker maak dat ons nie selektief met die Skrif omgaan nie.

En laat ons maar self nie die Negende Gebod oortree deur wanvoorstellings te gee nie.

Daar was geen “weiering tot gespreks deelname [sic]” met die ANC nie. Lees die ope brief. Die brief self behels gespreksdeelname en getuienis. Dit roep die ANC op tot bekering en sluit af met ‘n uitnodiging aan die ANC om te praat.

En laat ons nie vergeet nie – swye spreek dikwels veel harder as woorde – miskien nog meer in die kulture van Afrika.

izak van zyl ·

Dis half te laat. Die momentum om vir die kerk te lag, mag dalk net die monster die oorhand laat kry oor die burgery….wat….so terloops…..al lankal aan die kortste end trek en al hoe meer swaar kry.

Die speelveld is gelyk en ons as gelowiges het maar een opsie oor in die land.

Kerkeenheid in naam beteken op die aarde niks. ‘n Oorkoepelende liggaam waarby elke Afrikaner organisasie en kerk…nie net die susterskerke nie….maar ook die pinksterkerke verteenwoordig word, moet dringend die lig sien.

Ons probeer nog op intellektkuele vlak seine uitstuur, maar dit blyk te wees dat hoogmoed en eiesinnigheid nog die bo-toon voer.

Ons gesels weer wanneer grondhervorming afgedwing gaan word en boere….kwesbaar soos hulle reeds is…..moet vlug!

Ek is van mening dat ‘n dringende konsolidasie van Afrikanerbelange….insluitend ons geestelike welstand moet plaasvind en dat links en regs mekaar op nutrale grond moet ontmoet waar daar geen plek is is vir ideologie, godsdiens en politieke gedagtespeletjies nie. Die harde, koue feite en geloof! Dis al!

Dewald Alberts ·

Izak, ek steun jou uitkyke, dis verbysterend om daagliks te sien hoe verdeeld en verbrokkeld ons land se mense is, ongeag òf die ingedeel word in groepe volgens geestelike, etniese, taal&kulturele en geboortereg. Dit volgens my is die probleem dat juis van toe die regstelling van slawerny plaasgevind het dat elke groep en diè se leiers steeds die einste slawerny handhaaf, volgens nougesette waardes en maatstawwe binne elke groep. Konsolidasie is van uiterse belang vir die blote rede dat ons visie wyer moet strek as enige geloof, ras òf politieke bewind. Voor 1652 is daar geen geskiedenis nie, bloot net feite en bevindings, ons nou mòèt hande neem, almal na daardie datum IS ons !

Kurt Badenhorst ·

Duidelik leierskap in ‘n ander klas! Erg trots!

Griet ·

Prysenswaardige optrede, maar moenie dink dit gaan die ANCancer genees van hulle siekte (gulsigheid en korrupsie) nie…… Inteendeel, dit sal net afgemaak word as “meerderwardigheid van wit, appartheids gesinde, kolonialiste”.

“Mark my words” – die ANCancer regering/sirkus is nie tot logiese gesprekke wat hulle op hul tekortkomige wys nie.

Ds willem Vermaak ·

Geluk aan die TKR in verband met hulle besluit. Wonderlik

Kobus ·

die kerke bluf hulself, hoekom sal n goddelose regering enigsins ag slaan op n Kerk of God se woord, ons moet ook in gedagte hou dat God hierdie regering aangestel het en volgens Sy woord moet ons hul gehoorsaam, ons taak is om op te hou kritiseer en as gelowiges in te tree dmv gebed vir ons regering, hou op skree oor alles dit maak almal negatief en met n negatiewe gees gaan jy meer skade aanrig, staan op vir jou geloof en bedoel dit deur in geloof te bid, onthou dat die mag wat iemand het, het hy van God af gekry en so vinnig soos wat hy dit gekry het so vinnig kan God dit van hom wegvat!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.