Twaalf leuens oor Afrikaans

  1. afrikaanse-taalmonument

    Die Afrikaanse Taalmonument. Argieffoto.

    Baie min mense in Suid-Afrika praat Afrikaans. Daarom is dit beter om na Engels oor te skakel.

Verkeerd. Afrikaans, met 6,8 miljoen sprekers, is die derde grootse taal in Suid-Afrika ná Zoeloe (11,5 miljoen) en Xhosa (8,1 miljoen). Engels (4,8 miljoen) word deur slegs 9,6% van Suid-Afrika se bevolking as moedertaal gebruik (Sensus 2011).

Afrikaans is die meerderheidstaal in twee provinsies (Wes- en Noordkaap) en die tweede sterkste taal in drie ander provinsies (Vrystaat, Noordwes en Oos-Kaap). Verder wys navorsing dat slegs 50% van Suid-Afrikaners Engels redelik verstaan. Die res verkies om in hul moedertale te kommunikeer.

Daar is meer as 7000 tale in die wêreld. Afrikaans is ongeveer die 140ste grootste taal.

  1. Afrikaans het nie ʼn plek in Suid-Afrika nie omdat dit ʼn “witmanstaal” is.

Verkeerd. Die meerderheid Afrikaanssprekendes is nie wit nie. Van die 6,8 miljoen Afrikaanssprekendes is net 2,7 miljoen wit. Bruin Afrikaanssprekendes is verteenwoordig 50% (3,4 miljoen); wit Afrikaansprekendes 40% (2,7 miljoen) en swart Afrikaanssprekendes 9% (602 100), met die res uit ander groepe (Sensus 2011). Dit beteken dat meer as 60% van die Afrikaanse gemeenskap nie wit is nie.

  1. Omdat Afrikaans die taal van die onderdrukker was, is dit beter om Afrikaans af te skaf en na Engels oor te skakel.

Engels was die taal waarin die wreedste slawehandel en koloniale uitbuiting in Afrika plaasgevind het. Die Nazi-geskiedenis s in Duits gepleeg. Tog word Engels en Duits as tale nie vir hierdie verlede gestraf nie. Waarom vandag die meerderheid Afrikaanssprekendes, wat bruin is en aan die ontvangskant van apartheid was, straf?

  1. Afrikaans hoort nie in Afrika nie want dit is nie ’n inheemse taal nie.

Afrikaans se wortels is Westers maar met sterk invloede van Asië (Maleisië) en Afrika. Behalwe dat Afrikaans na die Afrika kontinent vernoem is, word dit nêrens anders in die wêreld gepraat nie. Hoe kan dit dan nie ’n inheemse taal wees nie? Die oneerlikheid van mense wat so sê is dat hulle dan ten gunste van Engels is, wat blykbaar as koloniale en Europese taal in Afrika hoort.

  1. Vir die langtermyn oorlewing van oorwegend Afrikaanse universiteite is dit beter dat die universiteit Engels word want Afrikaans het ʼn kwynende mark.

Volgens die SAOU het 54 000 wit, bruin en swart Afrikaanssprekendes in 2011 matriek geskryf. Hiervan het 36 000 universiteitstoelating gekry waarvan 29 000 hulle by universiteite ingeskryf het. Dit regverdig twee tot vier kampusse wat Afrikaanse klasse aanbied.

  1. Afrikaans is nie tegnies genoeg ontwikkel as ʼn akademiese taal nie.

Net vyf tale het in die twintigste eeu ontwikkel tot die hoogste vlak nl: Hebreeus, Katalaans, Indonesies, Hindi en Afrikaans. Meer as 450 vakwoordeboeke en terminologielyste in Afrikaans is ontwikkel vir byvoorbeeld die mediese-, rekenaar- ruimte, en vele ander velde. Vyf Suid-Afrikaanse universiteite bied nog klasse in Afrikaans aan. Afrikaans word as vak by Nederlandse, Poolse, Russiese, Amerikaanse, Belgiese en vele ander universiteite aangebied. Die internasionale erkenning van Afrikaans blyk uit die feit dat byvoorbeeld Microsoft, Google en Nokia, Afrikaans as een van hulle keuse-tale aanbied.

  1. Engels is ʼn internasionale taal – daarom is dit dom om in Afrikaans te wil studeer.

Internasionale navorsing het bewys dat onderrig in jou moedertaal altyd die beste is. Die Chinese studeer in Mandaryns; die Duitsers in Duits en die Franse in Frans. Die Duitse ekonomie is die sterkste in Europa en hoewel min Chinese Engels praat of verstaan, is hulle wetenskaplik ver voor baie ander lande en het reeds verskillende ruimtetuie die ruimte ingestuur.

Naas Engels is Afrikaans die enigste Suid-Afrikaanse taal wat ook internasionaal verstaan word. In die res van die wêreld is daar 24 miljoen mense wat Afrikaans verstaan, in byvoorbeeld lande soos Nederland, België en Suriname. Dit is nie waar vir die ander Suid-Afrikaanse tale nie.

  1. Die voorstaner van Afrikaans is anti-Engels.

Voorstaners van Afrikaans is nie anti-Engels nie. Engels is belangrik en maak baie deure oop – veral internasionaal. Daarom behoort Engels as vak deur studente tot op universiteitsvlak geneem te word – verkieslik verpligtend. Afrikaanse studente wat in Afrikaans studeer het, doen baie goed in die buiteland waar hulle dikwels in Engels moet werk. Navorsing bewys dat studente beter vaar as hulle moeilike begrippe in hul moedertaal, byvoorbeeld Afrikaans, aanleer (Kathleen Heugh). Omdat hulle Engels as taal ken, kan hulle kommunikeer en goed vaar in ʼn Engelse wêreld.

Daar is ʼn groot verskil tussen Engels bemeester as taal, teenoor Engels as enigste taal van onderrig in alle vakke.

  1. Om Afrikaans as onderrigtaal by ʼn universiteit te gebruik, is teen die grondwet.

Art 29(2) van die grondwet: “Elkeen het die reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is. Ten einde … hierdie reg te verseker, moet die staat alle redelike alternatiewe.. met inbegrip van enkelmedium oorweeg, …”

Van die 36 universiteitskampusse in Suid-Afrika is slegs twee nog oorwegend Afrikaans. Dit beteken dat die meeste kursusse daar nog van die begin tot die einde in Afrikaans voltooi kan word. Is twee oorwegend Afrikaanse kampusse te veel gevra?

  1. ʼn Taal kan nie tot niet gaan nie.

Baie tale het reeds uitgesterf. Tans is daar 1500 tale wat met minder as 1000 mense wat dit praat, op die grens van uitsterf is. Afrikaans is ʼn Germaanse taal. Van die 22 Germaanse tale het 10 reeds verdwyn. Tale kan dus tot niet gaan.

  1. Solank ʼn taal nog gepraat word, kan dit nie tot niet gaan nie.

As ‘n taal nie meer in die hof, in die parlement, in die skool, in die universiteite en in die ekonomie gepraat word nie, verloor dit status en is daar min aansporing vir ouers om hul kinders daarin groot te maak. Binne drie geslagte kan so ’n taal tot niet wees.

’n Taal begin dus tot niet gaan as hy sy amptelike of hoë taalfunksies verloor. Gaan kyk na hoe Oksitaans, Wallies, Skots-Gaelies en ander tale agteruitgegaan het nadat hulle hulle hoë taalfunksies verloor het.

  1. Afrikaans sluit uit en gee aanstoot.

Moenie enkele gevalle veralgemeen en op alle Afrikaanssprekendes van toepassing maak nie. Afrikaans durf nie die turksvy in die Suid-Afrikaanse taalboord wees nie. Die manier waarop die “taalstryd” gevoer word, sal dit bepaal. Dit is in die belang van al Suid-Afrika se tale dat Afrikaans die stryd voortsit.

Die bekende Afrikaanse skrywer Chris Barnard het gesê: “As Engels die oorhand (in Suid-Afrika) kry, is dit meer as net Afrikaans wat in die slag gaan bly. Tien inheemse tale gaan verdwyn. Die enigste uitheemse taal (Engels) gaan bly en al elf dele van die koek kry, miskien ‘n hoflike windjie breek en verder stap Afrika in.”

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Pieter Mulder

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr. Pieter Mulder was ʼn parlementslid en is die voormalige leier van die Vryheidsfront Plus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

19 Kommentare

Frik Lotz ·

Baie goeie artikel deur dr. Mulder. Goed uiteengesit en mooi verduidelik. Ons moet opstaan vir Afrikaans en saamstaan met mense soos dr. Mulder en die VF Plus. Saam is ons sterker!

B. Naudé ·

Dankie Dr Mulder vir die waardevolle klomp feite oor Afrikaans ! Ek is trots op my taal !!!

Thinus Erasmus ·

Daar het jy dit nou! Absoluut oortuigende en ontwisbare feite oor ons taal. Baie dankie vir Dr Mulder.
Afrikaans en Afrikaners staan op! ons is welopgevoede en eerbare mense, maar moenie ons bedreig nie, ons het al die Britte gewen. Net ‘n paar duisend boere!

Pieter ·

Dit sal nogal interessant wees om te sien wat die Afrikaner gaan laat aksie neem. Lyk my die medeburgers verstaan nie dat in hu leie geval was dit die taal wat die onrus ontketen het.

Marinus Schoeman ·

Mooi so Pieter Mulder – ‘n uitstekende artikel! Ek is dankbaar en bly dat ons ‘n man soos jy in die parlement het.

Lientjie Maritz ·

Wonderlik!!
Ek is so lief vir Afrikaan en dit is so lekker om so iets te lees.
Gee asb. nog.

Josef du Toit ·

Waardevolle artikel.

Goed om te lees van vyf Afrikaanse Universiteite wat nog klasse in Afrikaans aanbied. Ek neem aan dit sluit Stellenbosch, Bloemfontein, Potchefstroom en Pretoria in, maar wat sou die vyfde dan wees, of is daar werklik nog Afrikaanse klasse in Johannesburg (ou RAU)?

Dr Stan Theron ·

In dele van NZ is Afrikaans die 3e of 4e taal tussen meer as 300 tale! In ou Natal het Afrikaans nie tot reg gekom tot 50’er jare en het ons oud-Natallers dikwels suiwerder Afrikaans gepraat en bevorder as baie ouens op die “Reef”!! Die Afrikaner en sy kultuur is sedert 1820 deur Engelse propaganda verdag gemaak en in die meer-Engels-sprekende dele van die land moes baie Xhosa- en Zulu-sprekendes van “anti-Boor” instansies (kerke ook waarvoor in PMBurg verskoning gevra is deur destyds biskop van Desmond T se kerk!) hulle kennis en antipatie teen Afrikaans-sprekendes “leer” terwyl daar baie eg-menslike verhoudings in die Afrikaans-sprekende binneland ontwikkel is. Ook het Afrikaanse uitreike tot in Oos- en Wes-Afrika geen politieke dryfvere gehad en die NGK het die grootste inheemse sending-, opvoedkundige en welsynsorganisasie in Afrika geword wat reeds vroeg leierskap gedeel en oorgegee het in inheemse hande en harte. [Die ou Oosbloklande het ook meer begrip vir die Afrikaner gehad as sekere “taalghetto’s” in die RSA]! Die mite wit-swart moet ook iewers aangespreek word want vel is nie die teken van beskawing nie. [My grootjie-grootjie Ouma was Christen Sigeunerin van sterk beginsels – en niemand weet wat die herkoms van Sigeuners is nie.] DNA sal miskien baie van ons laat wakker skrik em eerder ons trots te vind in ‘n oorwegende Christelik-beskaafde kultuur! post scriptum: Die lees en skryftale van honderde gemeenskappe het te danke aan Christelike ywer – ook Afrikaans. Afrikaans het nie ‘n nie-christelike agtergrond nie – dis eers agterna wat sommige sprekers nou “evoleer” het bokant die “onontwikkelde vlak” van hulle waardige vaders want hulle het nog nie mooi die vyfde gebod gelees of verstaan nie waar langer en meer vrugbare “verlengde dae” belowe is nie.

Dewald Alberts ·

Aai jaai jaai jaai teriekedraai, ekke luv die comments wat strek van ditsem tot blitsem…..Pieter, dit is lankal reeds tyd dat Afrikaans verwyder word van die kleur van ons vel en eerder as Taal betrag word as om aan net `n sekere groep landsburgers met politieke agendas geheg word. Ek dink knaend aan ons kleurling nasie wat sukkel om in te pas, hulle praat Afrikaans, tog is die Muslim geloof sterk verteenwoordig, polities is daar sterk ondersteuning vir die Anc….

Theresa ·

Lekker-lees artikels Dr Mulder en Oom Jan! Dis net vir my deesdae asof ons Afrikaans as gebruikstaal desekteer en vir dié een dit gee, en vir daardie een dat. Enige taal moet eerstens ordentlik gepraat word. Om leenwoorde te gebruik, is nie vergesog nie, maar dit behoort nie afbreuk aan ‘n taal te doen nie. Bv. die taxi staan in die garage. ‘n Engelse en ‘n Franse leenwoord. Maar soms (ook in sepies, waar kinders luister en dit as ‘n norm kan uitleef) hoor mens baie keer so ‘n deurmekaar spul, dat dit tog nie Afrikaans is nie.
“Ek love my girl friend se custard slices. Die hond se tricks is cute! My kar se gearbox raas en die fuses het ingekonk. Dis absolutely awesome, doll! ”
En tog het dit ‘n tipe Afrikaans geraak.

Engels is lank ook nie meer net die taal van die Britte nie!
Om Engels mooi en goed te gebruik, is dit tog die voorbeeld wat gevolg was – al die jare heen.
Nie meer nie. Bv. “zero” vir “naught”. (M a w ‘n Amerikaanse Engels.
Die meer belaglike voorbeelde is die supa vir super, quika of selfs kwika vir quicker, ensovoorts. Blykbaar Afrika Engels??? Spelling vergaan.

O ja, dan die groot, lang doring in die vlees: Ons word dit vergun om nog darem nuus op TV in Afrikaans te mag luister. Is dit?? Dit is met ongemak en irritasie dat die kommentaar meestal deur ‘n persoon geuiter (nie gepraat nie) word wat klink asof hul ‘n spraakprobleem het. Die uitspraak is pateties en die manier van aflees/praat ook.
Dis seker een manier om te wys – jul kan dit kry, maar boeta, lekker gaan jy nie nuus luister nie. Gelukkig is ons aanbieders op Afrikaanse nuus puik.
Dit bly soet op die oor om ons Moedertaal hoor. Dialekte dwarsoor die land ingesluit. Mag ons nog baie, baie jare ons geliefde taal ordentlik en met trots, gebruik.
Sê maar net.

Trots Afrikaans ·

Ek moet sê dat die afgelope druk op Afrikaans het my meer laat fokus op my taal. Ek is nou meer as ooit gefokus om korekte Afrikaans te praat. Waar ek voorheen moontlik in engels sou praat of skryf, doen ek dit nou eers in SUIWER Afrikaans en dit is tog vir my sooo mooi. As my oud Afrikaanse juffrou op Wellington my nou sou kon hoor val sy op haar rug.

Dis ‘n riem onder die hart om te sien hoeveel van my broeders en susters die selfde pad volg.
Hoera vir Afrikaans.

Pierre Prinsloo ·

‘n Baie goed uiteengesit en relevante standpunt. Sekere feite rakende Afrikaans is welbekend, ander weer nie. Nietemin, ek is bly dit word duidelik hier uitgewys en wens net dat meer mense hiervan wou kennis neem, Afrikaans sprekendes sowel as nie-Afrikaans sprekendes.

Pierre Prinsloo ·

Ek wou nog byvoeg, inagnemend van die harde feite in Dr Mulder se goeie artikel hierbo, sou dit uiters insiggewend gewees het om te sien wat hierdie Afrikaans sprekende groep mense se finansiële bydrae is tot die Suid-Afrikaanse ekonomie. Dit kan gewis nie klein wees nie!

Mercia Nel ·

Dankie Dr. Mulder. Jy kry my stem n duisend keer. As ek kon. Afrikaans bo!!!!!

Rina Meyer ·

Baie dankie vir ‘n uitstekende, uitklarende artikel. Dit behoort wyd publiseer te word sodat almal daarvan kan kennis neem. Iemand probeer my taal verkrag – hulle sal dit nie regkry nie!

Roselyn Jacobs ·

Ek is n kleurling van Kaapstad.Ek is hartstogtelik en onbeskaamd lief vir Afrikaans.So los asseblief ons taal.

Michel Lejuste ·

De zuidelijke Nederlanden (ongeveer het huidige Nederlandssprekende deel van Belgie) was de bakermat van de Nederlandse cultuur.
Tijdens en als gevolg van de godsdienstoorlogen trad er een verarming (zowel intellectueel, cultureel, economisch als financieel) op in de zuidelijke Nederlanden.
Het Frans was toen de dominante taal in België en Europa. Tijdens de Slag bij Waterloo in 1815 tegen Napoleon, communiceerden Blucher (Pruis) en Wellington (Engelsman) met elkaar in het Frans.
Het lager onderwijs in België werd pas verplicht in 1930, dertig jaar na Nederland.
Het Nederlands in België was op sterven na dood.
Vandaag zijn 60 % van de Belgen Nederlandstalig, produceren zij 70% van de rijkdom van het land en is het Nederlandstalig onderwijs in België toonaangevend in de oeso. Topfuncties in de wereld worden door Vlamingen ingenomen zoals bijvoorbeeld Jacques Rogge (voorzitter internationaal olympisch comite), Herman Van Rompuy (eerste president van de Europese Unie). Na driehonderd jaar in de vergetelheid, is het Nederlands in België weer springlevend .
Vertrouw in eigen kracht en wees Ad destinatum persequitur (wapenspreuk UPretoria) indachtig.

William Volminck ·

Uitstekende artikel Dr Mulder. Dink die tyd het aangebreek dat alle Afrikaans sprekendes hul taal en die voortbestaan daarvan verdedig. Eendrag maak mag.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.