Twee gewigtige vrae oor volkwees

Die Melkweg was ‘n digte hemelliggaammassa van horison tot horison in die naghemel. Die môrester en die naaste planete was nader en groter as wat ek hulle nog ooit gesien het.

Die melkweg, soos afgeneem by die Paranal Sterrewag in Chili. (Foto:: Wikipedia)

Het ek in dié vreemde droom alleen op Ongelukskop buite Petrusburg gestaan? Dalk nie. Dalk was ek in die straat waar die kabeldiewe verlede Saterdag twee meter telefoonkabels gesteel het, sodat ‘n hele voorstad nou al dae lank sonder telefoon- of internetverbinding sit. Of op die trappe voor die Uniegebou, met die grasperke teen die hang nog rommelbesaai ná die laaste massasaamtrek of staking. Laat dit so wees. Ná die sterrenag—so onverwags in ‘n tyd van baie vrae — sien ek ‘n forse Ou-Testamentiese gestalte in die newels van die eeue.

Ook sý oë moes anders gewees het, die oggend ná sy nag buite in die teenwoordigheid van God. O, vir ‘n paar chronologies geordende nabyfoto’s van Abraham se oë vóór daardie nag: selfversekerdheid en hoop op dertig of veertig; onrus op vyf en veertig; radeloosheid op vyftig; pyn en stoïsisme op vyf en vyftig; ‘n stuk doodsheid op sestig, wanneer hy die donker nag van die siel oor sy en Sara se kinderloosheid binnegaan. Uiteindelik, in sy ouderdom, kyk jy in sy oë en sien jy ‘n membraan van gelatenheid soos katarakte daarin, met die onbeantwoordbare vrae van alle mense vlak daaronder.

Dan praat God met Abraham, tóé nog Abram: “Moenie bang wees nie, Abram, Ek beskerm jou! Jou beloning sal baie groot wees.” (Gen 15:1.)

En Abram waag dit om te vra: “Here my God, wat kan U vir my gee? (Gen 15:2).

Toe het die Here vir Abram buitentoe laat gaan en vir hom gesê: “Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan.” Verder sê die Here vir hom: “So baie sal jou nageslag wees.” Abram het toe in die Here geglo, en die Here het dit goedgevind dat Abram so volgens die wil van die Here gehandel het. (Gen 15:5,6).

Die katarakagtige gelatenheid met die somtotaal van die mens se onbeantwoordbare vrae was weg uit Abraham se oë.

Ons jongmense kom terug na hulle vaderland, hoor ons oral waar ons kom. Ons eie kinders en kleinkinders ook. Hulle kom terug na hulle volk en hulle wortels, na ‘n bodem met ou oorlogsgrafte en vars Vigssterftegrondhope, na ‘n land van plaasmoorde en kabeldiefstal, ‘n land met baie doemprofete en Geesverlate predikers; ‘n land vol woede oor maatskaplike ongelykheid, korrupsie en nepotisme; ‘n land van grondeise, voortgesette regstellende aksie en ‘n struggle wat in ons leeftyd nie laat vaar gaan word nie.

Here my God, wat kan U vir my gee? Wat kan U vir hulle gee wat terugkom?

Emily Hobhouse (1860-1926), bekend om haar bemoeienis met die lot van vroue en kinders in konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog.

In ‘n brief aan Emily Hobhouse skryf genl J.C. Smuts: “Ek en die myne behoort tot die oorwonnenes… Die hele land herinner my aan die sombere reël van Keats waar hy skryf oor ‘the weariness, the fever, and the fret. Here where men sit and hear each other groan.’”*

Daar is ‘n gewigtigheid aan terugkom, ‘n diepe erns van alle jippie-jippie-hoera-agtigheid ontdaan. Terugkeer en terugverwelkom kan slegs vreugdevol word wanneer dit voorafgegaan word deur ‘n nag buite met God. Selfs met baie nagte alleen daarbuite met die God van Abraham, Isak en Jakob. Die Abrahamvraag, gestroop tot op die been, móét gevra word: “Here my God, wat kan U vir my gee?”

Vreemd hoe die koue rillings deur ‘n mens gaan wanneer jy die vraag met die een klemverskuiwing ná die ander aan die Ewige vra: “Here my God, wat kan U vir my gee?… “Here my God, wat kan U vir my gee?…”

Ek dink nie daar is ‘n belangriker eerste vraag vir die Afrikaner se huidige aardse bestaan en besluite nie. “Here my God, wat kan U vir my gee?” is die terugmigreervraag.

Dit is ook die vraag wat gevra moet word voordat alles verkoop en ingepak en agtergelaat word vir hervestiging in anderland.

Die tweede vraag is in beide scenario’s — terugmigreer of emigreer — met die eerste verweef: Is volk belangrik vir God? Maak langtermyn-identiteit, behóórt, saam feesvier en saam swaarkry, saam heropbou en saam ween, saam werk en saamwerk, die wese van volk-op-aarde wees ten diepste saak?

Binne die Koninkryk van God is die metafoor van volkwees so tydloos en so onaantasbaar soos die Ou- en Nuwe-Testamentiese metafore van lig, sout en herderskap:

“Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys.” (1 Pet 2: 9,10).

Volkwees is vir altyd. En die jongmense wat terugmigreer, weet dit. Hulle weet dat volkwees ná die tweede geslag in anderland prysgegee word. En hulle keer terug na die sone van ongerief.

Toe Esra met sý terugmigreerders op die punt van terugkeer gestaan het, was daar ook aan hulle terugkeer ‘n gewigtigheid, ‘n diepe erns van alle werklikheidsvreemde ligsinnigheid ontdaan. Só het die dae voor hulle terugkeer verloop:

Ek het daar by die Ahawarivier ‘n vasdag uitgeroep om ons voor ons God te verootmoedig en Hom te bid om ‘n voorspoedige reis vir onsself, ons afhanklikes en al wat ons besit het. Ek was skaam om vir die koning soldate en ruiters te vra om ons teen vyande langs die pad te help. Ons het vir die koning gesê ons God sorg goed vir almal wat Hom dien en Hy straf almal swaar wat Hom verlaat. Ons het dus gevas en die hulp van ons God gevra vir die onderneming, en Hy het ons gebede verhoor. (Esra 8:21-23.)

Dankbaar oor die moed en die geloof van elkeen wat terugkeer na sy/haar volk, is dít die gebed wat ons vir die terugmigreerders bid.

*S.G. Millin, General Smuts, I, p.207. Datum: 6 Mei 2004. Brief van Genl Smuts aan Emily Hobhouse.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Maretha Maartens

Meer oor die skrywer: Maretha Maartens

Maretha Maartens is die skrywer van meer as 100 gepubliseerde boeke en meer as 1000 tydskrifartikels en koerantrubrieke. Sy wil nêrens anders as in (Suid) Afrika leef en werk nie. Haar lewensleuse is om lig en eenvoudig te leef. Haar God is die God van die Bybel.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Fanie ·

Maretha,

Baie dankie vir hierdie stuk waaroor almal by my werk praat nadat ek dit uitgedruk en uitgedeel het. Ek het dit ‘n paar gelees, en elke keer sien ek nog meer diepte raak. Dankie

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.