Twee jaar later en kernooreenkoms met Iran toon sukses

iran-vlag

Foto: Etereuti/Pixabay.com

Twee jaar ná die ondertekening van die kernooreenkoms tussen Iran en Westerse lande raak dit moeilik vir die oorloglustiges wat die ooreenkoms as gevaarlik en verkeerd beskryf het om nog enigsins by die suksesvolle implementering daarvan verby te kyk.

Die internasionale atoomenergieagentskap en die Amerikaanse departement van buitelandse sake het onlangs erken dat Iran die ooreenkoms nakom. Philip Gordon en Richard Nephew, twee van die voorste Amerikaanse kenners oor Iran en die politiek van die Midde-Ooste, skryf verlede week in die nuustydskrif The Atlantic dat die drie belangrikste doelwitte van die ooreenkoms bereik word. Eerstens wou Westerse lande verhoed dat Iran genoeg materiaal bekom om ’n kernwapen te vervaardig. Daar is grootliks in hierdie doel geslaag.

Tweedens wou hulle aan die bevolking van Iran die voordele van samewerking met die internasionale gemeenskap wys. Die persepsie dat die hele bevolking van Iran ’n klomp Moslem-ekstremiste is, is heeltemal verkeerd. ’n Groot deel van die land se bevolking is gematig en wil graag in vrede met hul buurlande en ook die Weste saamleef.

Die derde doelwit wat Westerse onderhandelaars in 2015 vir hulself gestel het, is om ’n ooreenkoms met Iran te bereik wat tyd sal koop totdat politieke hervorming uiteindelik wel in Iran plaasvind en die land sy buitelandse beleid begin aanpas. Ook in hierdie doelwit is geslaag en die gemaklike verkiesingsoorwinning van die meer gematigde pres. Hassan Rouhani vroeër vanjaar is ’n teken daarvan.

Terwyl die meeste Europese lande tans verkies om nie in konflik met Iran te tree nie is die stem van oorlogslustiges in die VSA en Brittanje steeds baie sterk. Dit word veral gedryf deur die VSA en Brittanje se enorme wapenhandel met Saoedi-Arabië. Die stryd tussen die Soenniete en Sjiïete in die Midde-Ooste verteenwoordig ook die stryd tussen Saoedi-Arabië en Iran vir mag en invloed in die Midde-Ooste.

Saoedi-Arabië, wat Soenni-dominasie in die Midde-Ooste nastreef, speel ’n groot rol in die verskaffing van wapens aan Soenni-militante groepe in Sirië, Irak en Jemen. Hierdie wapens word natuurlik van veral die VSA en Brittanje aangekoop en dit is ’n ope geheim in die strate van Washington DC dat die steunwerwers vir wapenvervaardigers ’n stewige greep op talle senatore het.

Iran se huidige groeiende invloed in Irak is meegebring deur die Amerikaners se voortydige verwydering van Saddam Hoesein as diktator. Die Islamitiese Staat, wat as terreurgroep sy ontstaan en veral vinnige groei weens die isolasie van die Soenni-bevolking in Irak na Saddam se omverwerping te danke het, sal makliker verslaan word indien Amerika en Iran kon saamwerk. Die voormalige Amerikaanse minister van verdediging Robert Gates het reeds in 2010 voorspel dat Saoedi-Arabië die VSA dieper en dieper in hul eie konflik met Iran gaan insleep. Dit is presies wat vandag in Sirië en Irak gebeur.

Die Weste se benadering tot magshonger Midde-Oosterse lande moet wees om minder kant te kies en eerder meer ooreenkomste te onderhandel en raakvlakke te vind wat konflik sal verminder, die ontwikkeling van kernwapens kan beperk en unieke oplossings vir hedendaagse Midde-Oosterse vraagstukke kan skep.

Die kernooreenkoms van 2015 doen presies dit en behoort geprys eerder as veroordeel te word.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hennie ·

Ek het 3 jaar in Iran gewerk en is n lewende getuie dat die Iranese baie vredeliewende mense is. Dit is Amerika en sy bondgenote wat wil stirr omrede oorlog net vir hul geld in in die sak bring met verskaffing van wapentuig. Het nerens ter wereld so veilig gevoel soos daar nie. Kon my Bybel invat en lees sonder enige probleem. Mens kan nie altyd glo wat jy lees nie.

Basson ·

Korrek Hennie – die VSA is in werklikheid die grootste terroris(te).

Kom Ons Boks ·

Baie goeie artikel weereens. 80 -90% van die Moslem wereld bestaan uit Soenni’s uit. Die radikale element (ISIS; AL Qaeda) en die matiges onder die Soenni’s het heelwat verskille. Histories het Soenni’s (matiges let wel) nog altyd meer samewerking getoon teenoor die Weste (Saoedie-Arabie bv wat VSA weermag basis het; selfs Saddam, ook Soenni, wat in die 80’s enorme bystand verkry het van Weste tydent Iraq se Iran inval – die 90s het natuurlik sy einde gesein to hy Koeweit eiewys binneval.) Bin Laden (ook Soenni) het destyds sy geiriteerdheid met S-Arabie verder gevat deur die omverwerping van die monargie daar aktief te bevorder.

Kom Ons Boks ·

Trump doen die regte ding om die ooreenkoms met Iran vir eers in plek te hou. Die Iraniers het ‘n diep wantroue vir die Weste vir baie redes maar die belangrikste hiervan is die historiese kantkiesery ten gunste van Soenni beheerde state. Ek hoop ook dat Iran, wat verreweg die magtigste en tot onlangs die enigste Shia staat is, en die Weste kan bou op die relatiewe goeie betrekkinge tussen hulle huidiglik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.