Twee kante van die 2016 politieke muntstuk

hatfield-studentebetogings4

Studentebetogings in Pretoria (Oktober 2016). Foto: Twitter

2016 was werklik ʼn jaar van groot verandering. Die wêreld is keer op keer verras deur onvoorspelbare gebeure wat die politieke fondamente van lande en die wêreld geskud het. Hiermee saam was daar enorme migrasies, geskiedkundige Olimpiese prestasies, die Zika-virus, studente-protesoptogte en terreuraanvalle in verskeie wêreldstede.

Polities gesproke word sowel die Brexit-referendum as die onlangse presidensiële verkiesing in die VSA geag as twee van die grootste politieke rewolusies van die afgelope dekade. Niemand, onder wie meningspeilers, kon hierdie twee historiese gebeure vooruitskou nie en, op die oog af, lyk dit asof 2017 nie veel anders gaan wees nie. In Frankryk en Oostenryk gaan ons heel moontlik twee konserwatiewe regerings sien, met Francois Fillon en Nobert Hofer onderskeidelik as staatshoofde van dié lande.

Wat eers gelyk het na blote fratsgebeure, word nou beskou as deel van ʼn groeiende wêreldtendens. Brexit en die Donald Trump-oorwinning het ʼn aantal gemeenskaplike eienskappe: albei het hulle kiesers loodreg in die helfte verdeel, albei het alle voorspellings en meningspeilings ernstig verkeerd bewys en albei was ʼn metaforiese klap deur die gesig van die wêreld se liberale elite. Die opposisie teen albei bewegings was nie juis in voeling met die onderskeie lande se bevolkings nie. Die Brexit-teenstanders, sowel as Hillary Clinton en die Demokratiese Party, was (soos die spreekwoord lui) ver van hulle kiesers en toe baie naby aan hulle skade.

2016 se politieke rewolusies kan hoofsaaklik toegeskryf word aan twee oorsake. Aan die een kant was dit ʼn repliek en luidkeelse uitdrukking  van ekonomiese misnoeë. Aan die ander kant was dit ʼn verwerping van politieke korrektheid, asook ʼn duidelike teenstand teen die stelselmatige marginalisering van sekere dele van die bevolking, terwyl bepaalde groepe polities voorrang geniet.

Die vraag is egter of Suid-Afrikaners hulle ook vereenselwig met hierdie wêreldwye behoefte en of politieke gebeure in ons land ook die internasionale tendens gaan volg. Die vraag oor wat hierdie gebeure vir Suid-Afrika behels, is krities in die volgende twee jaar voor ons volgende nasionale verkiesing.

Daar bestaan twee moontlike perspektiewe in hierdie verband. Aan die een kant word hierdie gebeure gevier deur talle Suid-Afrikaners wat voorstanders is van die vrye mark en vryheid van spraak en nie geneë is met die ongekende voorrang wat aan bepaalde groepe verleen is tydens die afgelope twee dekades in Suid-Afrika nie. Die oorwinnings vir Donald Trump en Brexit dien as ʼn baken vir Suid-Afrikaners wat soos vreemdelinge in hulle eie land voel. Dit gee vir sommige mense moed dat daar moontlik ʼn politieke toekoms vir hulle kan bestaan. Hierdie groep fokus op hoe 2016 se politieke rewolusie spesifiek ʼn antwoord was as ʼn verwerping van politieke korrektheid en “sosiale geregtigheid”. Hierdie nuwe politieke rewolusie word gevier as ʼn oorwinning van konserwatiewe waardes. Dit is egter net een kant van die muntstuk.

Aan die ander kant behoort die gebeure van 2016 as ʼn groot aanmoediging vir populistiese en nasionalistiese bewegings in Suid-Afrika te dien. Sowel Brexit as die VSA-verkiesing is gekenmerk deur sterk populistiese bewegings op voetsoolvlak. Gepaard met sterk nasionalistiese sentimente, raak hierdie bewegings ʼn ernstige politieke faktor. Ons sien ook eenderse golwe van nasionalistiese populisme in lande soos Italië, Frankryk en Nederland.

Dieselfde dryfkrag wat spruit uit ekonomiese misnoeë vir politieke partye begin reeds sy opgang maak in Suid-Afrika. Die Ekonomiese Vryheidsvegters gebruik dit juis om hulle eie momentum te skep. Donald Trump verteenwoordig blouboordjie-werkers wat keelvol is vir gevestigde politieke partye en mislukte ekonomiese beleide. Sy retoriek klink baie soos die rooibaret-retoriek wat tans in Suid-Afrika verkondig word! Die belangrikste gevolg van 2016 se gebeure mag dus dalk nog ʼn verwerping van die gevestigde politieke wêreldorde wees. Dit moet in ag geneem word dat Suid-Afrika se gevestige politieke orde die DA én die ANC insluit.

Die partye en politici wat in die volgende paar jaar hul vingers die beste op die pols van ons land se hartklop hou, gaan die mees suksesvolle partye wees.

Die sogenaamde “stilswyende stem” was ʼn kragtige deel van die VSA-verkiesing. Kiesers wat nie noodwendig openlik te kenne gegee het dat hulle vir Donald Trump sou stem nie, het wel hulle lojaliteit aan hom getoon toe hulle die kruisie moes trek. In Suid-Afrika kan daar moontlik ook ʼn groeiende meerderheid wees wat nie hulle politieke gesindheid openlik sal wys nie, maar wel hulle stem sal uitbring wanneer dit nodig is. Die feit dat die ANC-regering onkant betrap is tydens die plaaslike verkiesings vroeër vanjaar, mag moontlik reeds ʼn aanduiding van hierdie groeiende tendens wees.

Dit bly egter nog onseker op watter sy die 2016 politieke muntstuk vir Suid-Afrika gaan val. Wat wel soos ʼn paal bo water staan, is dat niks meer seker is in hierdie nuwe politieke landskap nie.

  • Daniël Eloff is ʼn regstudent aan die Universiteit van Pretoria met ʼn besondere belangstelling in die Publiekreg. Hy is ʼn gereelde skrywer vir die aanlyn nuuswebwerf The Rational Standard en ook betrokke as studenteleier in sy voormalige posisies as voorsitter van die UP Debatsvereniging sowel as die hoof van leierskapsontwikkeling by die Tuks Leadership and Individual Program.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Daniël Eloff

Meer oor die skrywer: Daniël Eloff

Daniël Eloff werk by Hurter Spies Ing., ʼn regsfirma wat spesialiseer in openbare belang-litigasie en is tans besig met sy meestersgraad in publiekreg. Hy is ook ʼn direkteur van AGENDA, ʼn nie-winsgewende organisasie wat hulself beywer vir die ontwikkeling van debat in Afrikaans in Suid-Afrikaanse skole en op ons land se tersiêre kampusse.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

John ·

Watter twak om Trump met Malema te vereenselwig. Trump wil juis he Amerika moet ophou om sy neus in ander lande se sake te steek wat nog grond beset soos Malema verkondig. Die drastiese liberalisering wat die Demokrate nagejaag het en die sluwe vernietiging van die een na die ander midde-oosterse regeringstelsel het geleidelik die VSA se bevolking sat gemaak. Trump probeer nie ‘n nuwe ideologie najaag nie. Brexit hou grootliks verband met die feit dat Brittanje uit die kloue van die EU probeer kom – miskien te laat. Wat SA betref kan
4 milj weinig vermag teen 65+ milj wat naarstiglik agteruitgang najaag. Wat kan ons leer uit die gebeure in die EU en die VSA? Afrika is ‘n ander planeet wat om sy eie wankelende as draai.

Daniël Eloff ·

Hallo John,

Ek sal graag hieroor met jou wil gesels.

My eerste punt van reaksie sal wees waar die kousale verband tussen Trump se isolasiebeleid en grond beset is? Die parallel wat getrek word tussen die twee is eerstens nie die primêre gedagte van die berig nie en is tweedens getrek op grond van die populistiese aard van hul ondersteuning.

Die tweede punt van reaksie is dat om die ekonomiese misnoeë van Trump ondersteuners te ignoreer ‘n besonderse wanvoorstelling en vlak analise van die Amerikaanse verkiesing is. Hierdie is die einste misnoeë wat mense ervaar in Suid-Afrika en dit is ook die einste misnoeë waarmee die Suid-Afrikaanse kiesers in 2019 gaan stem.

My derde en laaste punt van reaksie, om aan te voer dat die EU en die VSA se gebeure van die afgelope jaar geen uitwerking sal hê om die gebeure hier in Suid-Afrika nie is op sy beste naïef. Ons almal se sosiale media en nuusbronne was hierdie jaar volop met nuus oor die gebeure. Of ons daarvan hou of nie dit raak die psige van ons bevolking. Die blote feit dat jy gepla is deur ‘n parallel tussen die VSA, die EU en Suid-Afrika dui op hierdie effek aan.

John ·

Nee, Daniel, ek verstaan presies wat jy se. Ons is nie nou by die debatsvereniging nie, maar selfs dan maak ‘n mens nie aannames wat jy as nie van toepassing afmaak sodra jy in ‘n hoek is nie. Die invloed van gebeure in Europa op my of ander Suid-Afrikaner? My raai is so goed soos joue.

Daniël Eloff ·

Beste John,

Die redevoering hier is heerlik. Ek waardeer die terugvoer.

Net twee laaste punte in reaksie op jou tweede stukkie kommentaar.

Eerstens, ek sukkel om te sien watter presies aannames jy na verwys. Indien jy hulle sal uitwys en verduidelik reageer graag op hulle. Redevoering word nie beperk tot formele debatsgeleenthede nie en ek glo gesprekke soos hierdie is die kern van ‘n demokrasie en vryheid van spraak.

Tweedens, ek is onseker oor wat jou maatstaf vir aannames is. Soos ek jou standpunt volg behels ‘n aanname in hierdie geval ‘n mening. Indien hierdie menings nie oor geskryf moet word nie gaan joernalistiek ‘n tragiese dood sterf. Alle wêreldgebeure kan nie oor geskryf word met die gebruik van die wetenskaplike metode nie. Platforms soos die “Meningstukke” afdeling van Maroela Media is juis die forum om menings te lig en hul onder die soeklig van die openbaar te bring.

Knikkebollen ·

Die terme ‘liberale elite’, ‘populisties’ ensovoorts, kan nie oor die globale spektrum as ‘n eenvormigheid beskou word nie- wat populisties in Amerika is, is nie noodwendig populisme met dieselfde waardes as in Suid – Afrika nie.

Henry ·

Is dit nie koddig hoe daar altoos ellelange verduidelikings/verklarings verskaf word om ‘n baie eenvoudige gebeurtenis/ontwikkeling te verduidelik/verklaar nie?

Die meerderheid Britte het enkele dekades na Thatcher, opnuut hul nasionalisme, gekoppel aan hul eeue oue ‘apartheid’ van Europa laat seëvier. Euro-skeptisisme is so deel van die Britte se geskiedenis en bestaan soos ‘ fish ‘n chips’ en Yorkshire pudding.

Kapitalisme en die Amerikaners se diep gesetelde geloof in die bereiking van die ‘American Dream’ het na jare se onderdanigheid aan die liberale wêreldbeskouing, Trump se uiteindelike sukses verseker. Globalisasie en die finansiële krisis wat gedurende 2008 die Amerikaanse Droom geskud het, het die terugkeer na ou waardes soos dit deur Trump uit gestippel is, onafwendbaar gemaak.

Niks nuut onder die son nie en uiteindelik – heel eenvoudig…

John ·

Knikkebolle en Henry is reg. Om Franse truffels te bestudeer as jy rooibostee wil verbou, is doelloos, buiten vir die kortstondige aroma van ‘n luukse verwyl. Die woord populisme is die inwoord maar word a la post-waarheid aangewend. Drama, skok en ongeloof pas nie daarby nie. Ek is bly Daniel praat van die pers wat deesdae soos ‘n Aarde-Unie regeer en nie meer nuus dra nie maar ideologie georienteerd is, afhangende van waar dit ingebed is. Daniel jy vergeet dalk dat die huidige gebeure nie iets uniek is nie. Kyk bv na die bekende gebeure in ou Israel tydens en na Christus. Chaos, ellende, veranderinge, diaspora. Wat van WW2 en daarna. Selfs Adam en Eva is gekonfronteer met ‘n nuwe ideologie ‘werk vir ‘n lewe’ en gou het haat en moord en leuens toegetree. Dis soos Henry se, eenvoud oortuig ‘n regter.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.