Twee langdurige linkse regerings in Suid-Amerika kom tot ’n einde

Evo Morales. Foto: (AP Photo/Rebecca Blackwell)

Twee lande wat ná 14 jaar nou deur ’n bewindsverandering in die gesig gestaar word, naamlik Bolivië en Uruguay, verteenwoordig die uiterstes van Suid-Amerika.

Bolivië is ’n land met ’n sterk inheemse (Indiaanse) bevolking. Trouens, dit verteenwoordig die meerderheid (55%) van die bevolking van sowat 11 miljoen. Mestizos (gemeng tussen Indiaan en wit mense van veral Spaanse afkoms) is sowat 30 % terwyl 15% behoort tot die klein, maar nietemin invloedryke wit minderheid.

Die land is wel groot, maar sonder toegang tot die see. Wat die landskap betref is dit dramaties en uiteenlopend met die Andesgebergte, die Altiplano Hoogland, die Titicacameer, die groot soutpanne, tropiese reënwoude en die Gran Chaco (droë woud). Dit is vol histories belangrike plekke soos Potosi, Sucre en La Paz, en het ’n bloedige en onstuimige geskiedenis vol verowerings, gruweldade en gierigheid na minerale.

Bolivië is ook die armste land van Suid-Amerika ten spyte van ryk hulpbronne soos tin, silwer en aardgas. Die uiteenlopende geografie is ook die rede dat daar nie een sentrum nie, maar verskeie sentrums van mag is, wat ook saamval met die etniese groepe: die hoofstad La Paz in die Andes is die vesting van die Indiane; Santa Cruz in die laagliggende ooste dié van die Mestizos en wit mense.

Uruguay is die Denemarke van Suid-Amerika. Die bevolking van net 3,5 miljoen is grootliks homogeen wit, die land het ’n lang kuslyn (wat die breë riviermond van die La Platarivier insluit), en ’n eerder vervelige landskap bestaande uit sagte groen heuwels met beesplase.

Omtrent alles is gekonsentreer in die hoofstad Montevideo, die enigste noemenswaardige stad. Die geskiedenis van die land – in ’n stadium ’n twisappel tussen die Spanjaarde in Argentinië en die Portugese in Brasilië – het redelik gelykvormig en vreedsaam verloop, want hier was nóg goud en silwer, nóg noemenswaardige getalle inheemse Indiane. Hulpbronne is daar min, maar die land het ’n sterk en moderne landbousektor (veral beesboerdery) en verwerking van landbouprodukte en ander nywerhede, asook toerisme.

Al twee lande het vir lank linkse regerings gehad (van 2006 tot nou).

In Bolivië het die linkse populis Evo Morales (’n Indiaan) die land op ’n duidelik sosialistiese pad geplaas: nasionalisering van myne; die energiesektor en ander strategiese bates; onteiening van buitelandse maatskappye; konfrontasie met die welvarende wit minderheid en duidelike bevordering van die Indiaanse arm meerderheid deur middel van ’n welsynstaat; onteienings en sentralisasie van mag; vriendskap met Kuba, Venezuela en ander sosialistiese lande en vyandskap met die VSA en sy bondgenote.

Bogenoemde het die land skerp verdeel en verkiesings is elke keer met groot passie geveg en het neergekom op ’n etniese sensus.

Morales was en is nog steeds baie gewild by die arm deel van die bevolking en het verskeie verkiesings gewen. Daar was egter hewige protes (van die opposisie) teen sy bewind. Ná sy derde termyn het hy egter geweier om uit te tree soos die grondwet vereis en hom ook nie gesteur aan ’n referendum wat juis dít geëis het nie.

Die laaste verkiesing in November vanjaar was in groot omstredenheid gehul en daar is duidelik met die uitslag gepeuter. Die opposisiekandidaat Carlos Mesa het geweier om die uitslag te aanvaar en het ook nie ingestem tot nuwe verkiesings nie, maar geëis dat Morales moet bedank. Die grondwetlike hof het bevestig dat die verkiesing gemanipuleer is. Toe die Organisasie van Amerikaanse State (OAS) boonop aangekondig het dat hy nie die verkiesing as vry en regverdig kan verklaar nie, het die druk op Morales verder toegeneem. Op die ou end is hy deur die weermag gedwing om ter wille van vrede en stabiliteit te bedank voordat die land (weens hom) in ’n burgeroorlog gly.

Jeanine Anez. Foto: (AP Photo/Juan Karita)

Morales het ná Mexiko in ballingskap gegaan en die senator Jeanine Anez, ’n mestizo, is as tussentydse president aangewys en moet verkiesings voorberei, wat seker alles behalwe rustig sal verloop. Sy eis ook dat Morales vir sy wandade (tydens sy bewind is tientalle betogers doodgeskiet) voor die hof moet verskyn.

In Uruguay regeer die linkse Frente Amplio (Breë Front) nou al vir 14 jaar, maar met verskeie presidente, wat wel (anders as Morales in Bolivië) by hul termynbeperking hou en mekaar afgewissel het. Tot onlangs toe het Tabaré Vázquez, wat nou moes uittree, regeer.

Uruguay stuur sedert 2005 ’n duidelik linkse koers: bande met Venezuela en Kuba; ’n sterk welsynstaat en hoë belasting; en die wettiging van aborsie, dagga en homoseksuele huwelike. Anders as in Bolivië het die linkse beleid egter min weerstand uitgelok, want die politieke verdeling is minder skerp en gaan ook nie saam met etniese en geografiese verdeling nie.

Twee kandidate het kop aan kop gestaan in die onlangse verkiesing: die senator en seun van ’n voormalige president, Luis Lacalle Pou van die konserwatiewe Nasionale Party, en Daniel Martinez van die Breë Front (en tot nou toe burgemeester van Montevideo). Lacalle het naelskraap met ’n 1%-meerderheid gewen. Alhoewel die verkiesing alles behalwe oortuigend gewen is, kom die 14 jaar lange linkse bewind nou tot ’n einde. Anders as in Bolivië, sonder veel drama, konflik en omstredenheid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Feite ·

Die SA regering se bande met Venezuela en voorliefde vir die sosialisme is aanduidend van wat vir SA voorle. Sosialisme mag van tyd tot tyd sneuwel op ander vastelande, maar nie op die Afrika vasteland nie. In SA is sosialisme tans in n eenrigting verkeer glybaan!

Rissiepit ·

Goed geskryf. Uruguay is ´n land wat ek meer onder oog sal hou. Is daar dalk ´n moontlikheid vir S.A. mense daar? Hoe moeilik is dit om daar te oorleef sonder Spaans?
Dankie vir die artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.