Twee maal skuldig beteken nie gedeelde of halwe skuld nie

Ahmed Timol (Foto: Zetaboards.com)

Ou wonde word vandeesweek weer oopgeruk met die saak teen Jan Rodrigues (80), die oudveiligheidspolisiebeampte, vir sy beweerde aandeel in die dood van die anti-apartheidsaktivis Ahmed Timol in 1971.

Dit werp opnuut ’n blik op die vraag hoe Suid-Afrika met sy problematiese verlede moet omgaan. Immers, kom ons wees as Afrikaners werklik eerlik met mekaar: Die apartheidstyd is gekenmerk deur talle skrynende menseregtevergrype. Maar voordat die leser nou in woede ontsteek – lees eers die hele artikel voordat u modder na my begin gooi.

Ahmed Timol was ’n jong Indiër-onderwyser van Roodepoort, wat weens die sterk emosies na aanleiding van die daaglikse vernederings van apartheid by die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) aangesluit het. Ná ’n paar jaar in ballingskap, wat opleiding in geheime politieke werk aan die Internasionale Lenin-skool in Moskou ingesluit het, het hy teruggekeer en weer in sy tuisdorp begin skoolhou.

Hy is egter in Oktober by ’n padblokkade kragtens die Wet op Terrorisme van 1967 in hegtenis geneem. Dié wet het dit – in teenstelling met “normale” inhegtenisnemings – moontlik gemaak dat ’n verdagte onbepaald lank aangehou kon word, sonder toegang tot sy regsverteenwoordiger.

Dié stelsel het misbruik deur die ondervraers uitgelok. Toe Timol op 27 Oktober 1971 ná vyf dae in aanhouding dood is, het ’n magistraat bevind dat hy selfmoord gepleeg het deur homself uit ’n venster op die tiende verdieping van John Vorster-plein in Johannesburg na sy dood te slinger en dat niemand anders as hyself dus vir sy dood verantwoordelik gehou kon word nie.

In deel 3 van die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) se verslag word die getuienis van ene Kantilal Naik, wat saam met Timol in hegtenis geneem is, aangehaal:

I made a statement … and some of the security policemen said I was talking rubbish … They started to question me. They were not satisfied with my answers … and two burly policemen were assaulting me. I think it was like a seesaw. The one punched me and I fell on to the other guy, and the other guy then of course punched me and you know, it was a seesaw thing.

Nog een van Timol se kamerade, Salim Essop, is na bewering só ernstig aangerand dat hy in die hospitaal opgeneem moes word.

Die WVK het sewe polisiebeamptes, van wie Rodrigues blykbaar die enigste oorlewende is, verantwoordelik vir Timol se dood gehou. Die landdros se bevinding uit 1972 is verwerp, maar dit het tot 2016 geduur voordat ’n ander landdros daardie bevinding ook amptelik omvergewerp het.

Rodrigues se verskyning vandeesweek is die gevolg hiervan.

Timol se klaarblyklike marteldood is nie die enigste wat op die brood van die destydse veiligheidspolisie gesmeer kan word nie. Toe ek in die begin van die jare tagtig parlementêre verslaggewer was, het ’n offisier my met smaak vertel hoe hy en ander polisiemanne terroriste in aanhouding “lekker gedonder” het tot hulle hulself bevuil het.

Dus is ek geneig om te dink dat die WVK en die landdros se 2016-bevinding oor Timol se dood nader aan die waarheid is as die weergawe van die 1972-bevinding. Maar uiteraard moet Rodrigues nog die kans kry om sy eie saak in ’n ope hof te stel.

Die gevolgtrekking is ewenwel dat die staat waarvoor ons Afrikaners voor 1994 verantwoordelikheid gedra het, talle menseregtevergrype gepleeg het. Ek dink nie enigiemand wat eerlikheid nastreef, kan daaroor twyfel nie.

Terselfdertyd het die ander kant ook ernstige wreedhede gepleeg. In die berugte strafkamp Quatro in Angola het gevangenes, luidens die getuienis van Luthando Dyadop (ook voor die WVK), slegs twee regte gehad – “to work hard and be beaten”. George Dube het getuig:

You lie on your stomach and pick your legs up like this …then they hit me with electric cord under the feet there. My feet were cut, like being cut by razors. … So I was torn, my mouth was torn, my eye here, even now if you hold me, you can hear the bone is broken bone that very day. The boot, the boot had an iron in front there. So I was kicked around and beaten on my body, fists, kicked my abdomen …

En dit is slegs ’n enkele voorbeeld. Daar is honderde ander. In een geval is kookwater oor ’n man se kop uitgegooi totdat die gaar vleis van sy skedel gepeul het.

Kom ons laat dit daar. Die punt is dat geen enkele kant in die struggle met reg kan sê dat hy sonder skuld is nie.

Maar nou moet ’n mens versigtig wees. As jy jouself verdedig deur die ANC van ewe erge wandade aan te kla, noem filosowe dit die tu quoque­-verdediging (Latyn vir “jy ook”). Met ander woorde, pleks van om die aanklag teen jou wesenlik te beantwoord, probeer jy die bordjies verhang deur dieselfde klag teen jou aanklaer te lê.

Daarmee kan ’n mens wel een ding bereik. Jy kan aandui dat jou klaer beskeie moet wees of geen morele reg het om jou aan te kla nie.

Maar die belangrikste kan jy nié bereik nie. Jy kan nie daarmee jou eie morele skuld ontken of verminder nie.

Twee maal skuldig beteken nie gedeelde of halwe skuld nie. Skuld is nie soos ’n eetlepel konfyt waarvan jy die digtheid halveer deur dit oor twee snytjies brood pleks van een te versprei nie.

As jy en ek albei iemand vermoor het, maak dit ons nie elkeen halfpad skuldig nie. Ons is albei voluit skuldig.

Goed, ons het nou vasgestel dat alle kante in die struggle skuldig aan ernstige misdade was. Wat beteken dit in die praktyk?

Wel, om mee te begin, kan albei kante hul morele arrogansie gerus temper. Die ANC maak hom gereeld daaraan skuldig, maar ook by talle kommentare onderaan artikels op Afrikaanse webwerwe merk ’n mens ’n skokkende arrogansie en gebrek aan selfondersoek, veral by mense wat boonop dapper agter ’n skuilnaam wegkruip.

Is die oplossing nie dat ons álmal besef dat ons skuldig is nie? En dat ons in ons wedersydse omgang met mekaar moet ophou met die geskel op die ánder nie?

Die eindkonklusie is dalk skokkend vir sommige: Ons is almal feilbare mense wat in die verlede – en nou nog – gefaal het. Die oomblik as jy dít erken en in die praktyk daarna handel, kan die gepaardgaande welwillendheid die huidige polarisasie laat wyk.

Maar, eerlik gesê, ek sien dit nie gebeur nie …

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

25 Kommentare

Mossie ·

Jy is heeltemal korrek in jou mening. Tot en met 1994 is daar onvergeetlike dade gepleeg baie kere sonder geldige rede. Met 1994 se oorname was dit seker te veel gevra om die verlede agter te laat en van vooraf n land te bou, maar 24 jaar later word daar nogsteeds onverpoosd wreedaardig teen ons opgetree. Ek was 14 in 1994, ek was nog n blote kind, my kinders word groot gemaak met die geskiedenis van beide tydperke. Nog nooit het een van ons n ander benadeel of onderdruk nie, waarom word ons dan nog verantwoordelik gehou vir die verlede? Ek kan nie vandag se generasie verantwoordelik hou vir hoe daar op getree was in die ossewa-tydperk nie. Daar sal nooit eenigheid wees indien ieder en elk vervolg moet word oor dade wat jare terug gepleeg is nie. Onthou die geskiedenis maar vergeet die wraak en vergelding, slegs dan sal ons n land kan voort bou.

marco polo ·

Solank daar net na die verlede gekyk word, sal daar nooit vorentoe gegaan word nie. Mens moet sekerlik jou geskiedenis ken, sodat jy nie weer dieselfde foute maak nie, maar daar moet darem waaragtig n dag kom dat mens dit wat verby is, in die verlede laat en vorentoe beweeg. Ek het al bsie lande besoek, maar het nog nooit n land gesien waar mense so vasklou aan die verlede soos in SA nie,

Piet ·

Stem saam met vorige kommentare – eendag moet die verlede darem daar gelaat word waar dit is – in die verlede.
Wat vir my egter kommerwekkend is, is dat in die meeste van hierdie skrywer (en ook ander historikusste) se skrywes daar so in die algemeen na “die Afrikaners” of “ons Afrikaners” verwys word, so asof almal wat Afrikaans praat die Nasionale Party ondersteun het, iets wat werklik nie waar is nie. Miskien moet hulle bietjie oplet op hulle feite, want met hierdie tipe “feite” word die vervolgingswaan teenoor die Blanke Suid-Afrikaner nog aangeblaas ook, asof die mense wat so aan die verlede vasklou nou nog gehelp word ook, om te kan wys na hierdie tipes geskiedenis skrywers om hul punt te staaf.
Kom aan julle historikuste – kry julle feite reg asb!!
Dit is al hoe ons in hierdie land sal kan vorentoe beweeg – met korrekte feite van die verlede en nie historikuste se “feite” nie!!!
Nou kan julle my maar kruisig oor wat ek hier kwytraak!!!
Ons vir jou SUID-AFRIKA!!!

Piet ·

Hallo naamgenoot. Ek glo nie daar bestaan n woord soos “historikusste” nie, maar wat ek eintlik wil se is dat, reg oor die wereld word die geskiedenis geskryf deur die wat gewen het en hulle is gewoonlik maar beinvloed deur bevooroordeling. Om sosiaal “korrek’ te wees is vir die meeste mense belangrik, selfs in hul onderbewuste as hulle dit nie openlik wil erken nie. Mens moet dus maar jou eie stel feite he wat jy maar grond op wat jy wil. Mense verdraai ook maar die bybel net soos dit hulle pas. Ek gebruik maar my Godsdiens (bybel) vir my morele kompas. Wanneer ek dit doen en ek word steeds geteiken vir my wit vel of vir wat ook al dan moet dit maar so wees want ek voel vere vir politiese korrektheid of die sosiale leer. Die waarheid is al wat tel!

Jerry ·

Hoekom sien die skrywer dit nie gebeur nie dat Afrikaners menseregtevergrype veroordeel en die ANC struggle terreurdade veroordeel nie? Want beide kante glo dat hulle optrede en dade op die spesifieke tydstip nodig was en reg was. Om mense aan beide kante te oortuig dat beide se optredes en dade eintlik verkeerd was en veroordeel behoort te word ten einde ware versoening en welwillendheid te bewerkstellig is menslik gesproke, wensdenkery. Solank as wat daar ekonomiese hoop is en dit goed gaan en mense hulle sin kry, vir solank sal daar verdraagsaamheid wees. Verdraagsaamheid aan beide kante is dus nie gewaarborg nie en dit laat die toekoms uiters donker lyk. SA beskik ongelukkig nie oor genoegsame leierskap met integriteit en insig om mense te oortuig om die regte dinge reg te doen soos byvoorbeeld om menseregtevergrype en terreurdade oor dieselfde kam te skeer en te veroordeel. Dit is altyd die een kant of die ander kant wat geblameer word, nooit beide nie en dit is hoe dit was, is en weer sal wees.

Paul ·

Ons kan uit die geskiedenis leer, maar kan niks daaraan doen om dit ongedaan te maak nie, dit is tragies, maar die toekoms is wel in ons hande en kyk watter gemors maak ons daarvan.

A ·

Amen – ek stem saam.

My gevoel is net dat daar geen hoop is op versoening omdat die verlede nie begrawe kan word nie. Die 8% blankes wat oor is in die land kan ook nie AL die sondes van die voorvaders dra nie. Al wat ek wonder is wanneer hulle nou die oorblywende 8% vermoor of verjaag het – wat gaan volgende in lyn wees om te blameer?

HPV ·

Sodra hierdie vervolging suksesvol afgehandel is, sal die regime die res van ons wat in die veiligheidsmagte gedien het begin vervolg. Intussen verander hulle die grondwet, ontwapen ons, laat opswepers toe tot aanhitsing om lede van die minderheidsgroep te vermoor en so kan mens aangaan en aangaan… tot vervelens toe…! Ons sal maar moet sien.

Johan ·

Daardie beweerde optredes sal ek nooit kan aanvaar nie. Maar was jy dààr, Leopold? Dit was oorlogtyd. Niemand kom blinkskoon aan die anderkant van n oorlog uit nie.

Eish ·

Tydens die grensoorlog is mense met opset gedood op die grense aan beide kante met oorlogstuig en nie vervolg nie.
Tydens die grensoorlog het die terreur oorgespoel in die land en burgerlikes is dood agv terreurdade soos bomme ens.
Synde dit nie beveg kon word met konvensionele wetgewing wat binnelands gegeld het nie, is addisionele wetgewing geskep.
Synde die doel was om die publiek te beveilig en beskerm teen terreur is gedoen wat nodig was.
Sjurrup as jy veilig geslaap het gedurende die tyd.
Amen Johan.

Willem ·

U is 100% reg Dr Leopold. Ek wil tog aansluit by van die bogemelde kommentators, leer ons dan nie uit die geskiedenis nie, al is dit nie waaroor jou artikel gaan nie? Ons kan wel iets aan die hede en die toekoms doen. Kyk na die regering van die dag, hulle het niks geleer nie, kyk na die gewelddadige betogings, die #feesmustfall veldtogte by universiteite waar niks en niemand ontsien word nie. Lees mens van die selfmoord verlede week van die kardiograaf by Ikeys en die redes waarom, dan besef mens ons het nie ‘n tree gevorder nie.

Herman ·

Ek stem saam met die meeste kommentaar maar daar is nog ‘n dimensie en dis generasies en ouderdomme. So “tu quoque” omgekeerd. Baie van die wit werkende Suid-afrikaners vandag het geen insae en deel gehad by die apartheids verlede nie , so het hulle ook geen verwysings raamwerk daarvan nie. Hulle beskou die hede en die nuwe bedeling van 94 af as hulle verwysings raamwerk en dis hier waar jy nie na die verlede kan terug wys en se ja maar “Julle” het dit onder aparthied gedoen of gehad nie. Ons is hier en nou en die vergrype en aanvalle van die ANC regering in ons werksplek , skole en gemeenskappe is ‘n werklikheid en dis nou.

ZAR ·

Jare terug het ek met ‘n fotograaf gesels wat fotos geneem het van die Bosnië oorlog. Die soldate van die een kant het hom vertel dat hul vyand ingekom het in ‘n dorp en die bewoners lewendig gespitbraai het, die fotograaf vra toe wat gaan hulle daaraan doen, die man se antwoord; ons gaan húlle nou lewendig spitbraai. (Die afgryslikheid van wat hy gesê het het nie tot die soldaat deurgedring nie) Hoeveel mense is in daai oorlog dood?
Mens moet onthou dat die ANC, en die kommunistiese partye geweld gepleeg het, terreur dade. Dit was oorlog. Elke bom wat geplant was en elke skoot wat geskiet was het die haat meer laat opborrel. *Hate begets hate.* En tog was die swartmense nooit naby aan uitsterf tydens die apartheidsera nie, inteendeel, hul nommers het die hoogte in geskiet. Op die oomblik kry witmense net haat, haat word weer gekweek. Dit borrel, dit bars. Oorlog is lelik en dit bring die lelikste uit mens uit, want jou eerste instink is oorlewing. Dis net vreemd dat niemand onthou dat Afrikaners vanaf sy bestaan op die verdediging was en alles in hul vermoë moes doen om te bestaan. Hoeveel mense is dood in die apartheidsera? En hoeveel mense is dood daarna? Kan jy vergelyk? Ons syfers dooies is nou in “vredestyd” vergelykbaar met gesneweldes in “werklike” oorloë. Ons Afrikaners veg nou WEER om oorlewing. Laat die waarheid seëvier.

CG ·

Die aard en omvang van geweld voor 1994 het hemelsbreed veskil. Genl Van der Merwe het erken dat die SAP ongeveer 70 mense onregmatig gedood het (vermoor het). Dit teenoor ongeveer 30000 mense wat in Swart op Swart geweld vermoor is. Die SAP het gewaande terroriste/ vryheidsvegters gedood, die andet kant(e) hoofsaaklik burgerlikes, insluitende kinders. Daar is ‘n baie groot verskil. ‘n Braaivleisvuur en vuurspuwende berg gee albei hitte af wat mense kan seermaak, maar daar is ‘n groot verskil! Albei kante moet aanspreeklikheid aanvaar vir wat hulle verkeerd gedoen het. Om egter te beweer albei is ewe skuldig is verkeerd.

Casper Labuschagne ·

Ek was ‘n lid van die veiligheidsmagte in die ou bedeling en het nie voor die WVK verskyn nie omdat ek vandag steeds oortuig is dat ek niks verkeerd gedoen het nie. Daar was brutale metodes gebruik om inligting te bekom, maar dit was om onskuldige lewens te beskerm teen kleefmyne in restaurante, bomme in stasies en bloeddorstige hordes met petrol en motorbande. Niemand wat nie verbrande mensvleis van ‘n plafon af geskraap het na ‘n bomontploffing waar die ANC onskuldiges vermoor het, het die reg om my vir die verlede te veroordeel nie.

Hier is my probleem met die Timol saak, die metodes wat in die onlangse ondersoek as getuienis gelewer was, was nie die effektiewe en beproefde dog brutale metodes van ondervraging wat in my ondervinding, wel gebruik was nie. Dus is my gevolgtrekking dat hierdie bloot ‘n boendoehof is met die doeleinde om rassehaat en aan te hits en vergelding na te streef.

ZAR ·

Casper, baie dankie. Die waarheid moet seëvier. Dankie ook vir jou diens.

Willem ·

Ons wat nie daar was nie, kry ook ander perspektiewe uit die kommentare.

Paul ·

En gisteraand was toe nie die regte tyd vir CR om die aankondiging te maak nie, lees dan nou vanmiddag ook Jan-Jan Joubert se artikel en dan moet ons hierdie een met ‘n oop gemoed verorber, wat nou nogal moeilik is. CR en die ANC voel ‘n veer vir die land se ekonomie en alle mense daarin.

MTSteyn ·

Leopold,

In een van jou vorige rubrieke maak jy die stelling: “Eers Christen, dan Afrikaner”.

As mede-Christen is die konsep van menseregte (die vergrepe van lg. waaraan Afrikaners hulle kwansuis skuldig gemaak het tydens Apartheid) vir my vreemd, en is dit ‘n begrip wat ek nerens in die Skrif vind nie. Waaraan die Afrikaner hom wel tydens die einde van apartheid skuldig gemaak het, is ‘n liggelowigheid en kinderlike naiewiteit wat meesterlik deur sy ‘leiers’ en liberale koerantredakteurs- en joernaliste en slinkse mediahuise uitgebuit is.

Feite en fabels, ou maat, om dan nou uit Jannie Geldenhuys se werk te leen.

Francis ·

Wat ookal met wie gebeur het, die meeste mense, wit of swart weet nie wat gebeur het nie, daarom haat ek niemand nie. Ons kan nie, weereens swart of wit, laat boet en straf vir dade wat nie deur hulle gepleeg is nie. Onskuldige mense gaan nie tronk toe nie, dus mag hulle ook nie vermoor word nie.

Boerseun ·

Die verskil is dat dieselfde versoening euphoria nie onder 80% van die bevolking tuis is nie. Soos tyd gaan aangaan sal jy derde , vierde geslag mense kry wat nogsteeds rectifications of the past gaan op eis as is hulle voorvaders vir geslagte vergoed.

Kobus ·

Nee wat ou Leopold! Om terroriste met handskoene te hanteer gaan jou nêrens bring nie. Regdeur die wêreld gebruik veiligheidsmagte geweldadige metodes om inligting te bekom. Een kyk na die Kerkstraat Slagting argiewe en jy sal verstaan dat ‘n ernstige benadering tot die bestryding van terrorisme genoodsaak was.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.