Twee plus twee is nie vyf nie

1984-01

Woorde uit die roman ‘1984’, deur George Orwell. Foto: Sporcle.com

Deur Monica Mynhardt

Die Suid-Afrikaanse regbank het ontaard in ’n oppermagtige entiteit wat homself die taak toegeëien het om as sedeskepper op te tree. Dit wat die howe beslis, is onbetwisbaar wet en waarheid. Howe pas nie meer die wet toe nie – hulle skryf voor wat ons mag wees en wat ons mag sê.

Die toestand waarin ons land verkeer, is nie normaal nie. Ons almal weet dat Suid-Afrika moreel en struktureel verniel is, maar is al so afgestomp dat ons soms die reikwydte daarvan vergeet. Ons sit met ’n regering wat inherent onbevoeg, tog onversadigbaar magshonger is. George Orwell skryf in sy boek 1984:

“Power is not a means; it is an end. One does not establish a dictatorship in order to safeguard a revolution; one makes the revolution in order to establish the dictatorship. The object of persecution is persecution. The object of torture is torture. The object of power is power.”

Die uiteinde is ’n massiewe regering wat naarstigtelik na beheer op enige moontlike gebied probeer gryp. Hoe meer beheer hulle verloor oor dit wat in ons land gebeur, hoe meer gryp hulle na grenslose mag. Onbeskaamd deurdring hulle mense se privaatheid in ’n soeke daarna. Nie om ’n edele einddoel te verwesenlik nie – doodeenvoudig om mag te hê.

Die afgelope Woensdag het die Johannesburgse hooggeregshof by monde van regter Phineas Mojapelo die ou landsvlag tot haatspraak verklaar. Die uitspraak is deurtrek van Mojapelo wat aannames maak oor mense se denke en bedoelings. Hy sê herhaaldelik dat enige mens wat ná 1994 die ou landsvlag vir redes afgesien van kunstige, akademiese en joernalistieke doeleindes vertoon het, noodwendig so gedoen het omdat hulle swart mense haat, verlang na apartheid en wit meerderwaardigheid wil beklemtoon. Hy noem verder dat daar met die vertoon van die vlag nie so iets soos subjektiewe bedoelings kan bestaan nie – slegs die noodwendig objektiewe feit dat dié mense haat wou verkondig.

Deur mense hul eie gedagtes en bedoelings só te ontken, is ’n skaamtelose stroping van hul identiteit. Hierdie is ’n gevaarlike plek om te wees. Die regering eien aan homself die mag toe om self te beslis wat individue se subjektiewe bedoelings en gedagtes is. Hulle poog om die mees intieme spasie van ’n mens binne te dring en dikteer – jou eie denke.

In ’n enkele paragraaf kyk Mojapelo na die vraag of die vlag ook in die private sfeer verban moet word. Mojapelo verduidelik hoe die lewens van verskillende rassegroepe in Suid-Afrika nog nooit gekompartementaliseer was nie. Sodoende is daar feitlik geen private spasie vir ’n ras waarby ’n ander nie betrokke is nie.

Vanuit hierdie aanname beslis hy dat dit net so onaanvaarbaar is om die vlag in private spasies soos jou eie huis en skool te hang. In ’n enkele hofuitspraak kry die regering seggenskap oor wat jy in jou eie huis mag doen. Die regering gee homself die mag om te bepaal wat jy vir jou kinders leer; die mag om die alomteenwoordige afdwinger van die reg te wees. Die regering sê hierdeur dat daar geen plek is waar hulle nié ’n houvas oor jou gaan hê nie.

Regter Mojapelo hamer in sy uitspraak daarop dat sogenaamde Suid-Afrikanisme deur ons almal nagejaag moet word in ’n gees van vereniging. Herhaaldelik verduidelik hy hoe ons deur ons diversiteit tot ’n inklusiewe Suid-Afrikanistiese kultuur moet konformeer. Hy verwerp egter herhaaldelik enige mening of ideologie of kultuur of gedagte wat nie strook met dié van die regering nie. Hierdie sogenaamde diverse Suid-Afrikanisme is in wese onverdraagsaam en eenvormig. Dit is presies hoe die regering ook redeneer – onder die vaandel van verdraagsaamheid onderdruk hulle enigeen wat nie soos hulle dink en is nie. Hoewel die regering aanvoer dat hulle diversiteit vier, is dit juis wat hulle die meeste vrees – dit skep die moontlikheid dat iemand van hulle verskil.

Die ding om te verstaan van hierdie hofuitspraak, is dat die vlag nie die tersaaklike kwessie is nie. Dit is nie eers dat die regering ’n kultuurgroep wil onderdruk of ontken nie. Hierdie hofuitspraak spreek van ’n regering wat enige iets of iemand wat nie met sy ideologie wil konformeer nie, sal uitwerp.

Daar is nie ruimte vir individue nie – slegs onderdane wat die regering klakkeloos napraat. Hulle is selfs bereid om ons private lewens te infiltreer om te verseker dat niemand die narratief ondermyn nie.

In 1984 skets Orwell ’n totalitaristiese wêreld – een waarin die staat alomteenwoordig en alom-magtig is. Daar bestaan geen mense nie, slegs leë doppe wat die staat se stem moet eggo. Om ’n individu te wees, is verbode. Om ’n individu gekant teen die staat te wees, verdoemend.

Hoewel dié staat, soos geskep deur Orwell, onrealisties is, is die ideologie wat dit onderskryf, hoegenaamd nie. Totalitaristiese regerings se einddoel is om mag te hê – nie omdat hulle iets daarmee wil bereik nie, maar net vir die onthalwe van mag. Hierdie mag moet alle aspekte van die samelewing verswelg. So ook moet dit die diepste moontlike dele van die individu se lewe en psige binnedring ten einde allesomvattend te wees. Die individu mag nie wéés nie. Mense mag slegs bestaan om die regering te dien en deur die regering beheer te word. Sonder om te opponeer of bevraagteken. ’n Totalitaristiese regering eien aan homself die mag toe om aan mense voor te skryf wat hulle mag doen, wat hulle mag dink en wat hulle mag wees.

Ons regering is besig om aan ons voor te skryf wat ons mag doen, wat ons mag dink en wat ons mag wees. Hulle is besig om die waarheid te verwring en ons vryheid te steel. Elke oomblik wat hulle oor een of ander vorm van mag beskik, gaan hulle vir ons sê wat waar en wat onwaar is.

Die gevaar van totalitarisme is dat dit oorweldigend en oral en skynbaar oneindig is. Ons moet daarteen waak om deur die dreiging daarvan verlam te word – anders loop ons net dalk die gevaar om die regering te glo wanneer hulle vir ons sê dat twee plus twee vyf is.

  • Monica Mynhardt doen tans ‘n internskap by die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Leon ·

Soos ek nog altyd sê, die ANC wil ‘n diktatuur skep waar hulle alles besit en alles beheer. Hulle het dit geleer toe hulle opleiding in die USSR, Sjina en Kuba ontvang het. Die grondgrype, die nuwe gesondheis stelsel ensovoorts is alles ‘n manier om beheer uit te oefen.
Dit is inherent aan die Afrikaan se kultuur. Vir die afgelope 12 000 jaar is dit hoe dit gewerk het in Afrika en dit is hoe hulle wil hê dit moet werk.
Ek onthou die reël: ” Everybody are equal, some are just more equal”. Dit is hoe die regering en sy venote werk.
Ek stem 100% met die artikel saam. Mooi gesê.

Jerry ·

Of jy daarteen waak en of jy nie daarteen waak nie, die feite is dat die ANC/eff n nuwe orde tot stand gaan bring indien die opposisiepartye nie gesamentlik n gemeenskaplike doelwit nastrewe om die ANC/eff te stuit soos bv om die eff plaaslik en internasionaal te brandmerk is n rassistiese party en om die ANC as n kollektief (Cosatu, MRK, NM stigting ingesluit) aan te kla vir verraad en menseregteskendings wat die ANC teen alle Suid Afrikaners pleeg met die skade van staatskaping en met die verlangsaming van die ekonomie met die kamtige herstel van die skade van staatskaping wat eintlik maar net neerkom op staatskaping fase twee! Staatskaping fase 1 het die klimaat geskep vir verandering. Staatskaping fase 2 skep die klimaat vir die implementering van verandering deur wetgewing van n staatsafhanklike regbank! Die laaste hindernis vir die ANC/eff om hulle opponente te verarm en weerstand teen verandering heeltemal te laat verkrummel is om pensioenfondse uit te mergel deur dit te kanaliseer deur SOE’s na ANC kader strukture wat met onregmatige botallige aanstellings geskied het! Deur die ekonomie heeltemal af te breek en belastingbetalers te verarm terwyl jy kaderstrukture verryk, breek jou opponente se weerstand! Wat mense nie besef nie is dat alle ANC kaders, zuma faksie, cr faksie, Cosatu, MRK, NM stigting en die eff almal aan dieselfde kant van die draad staan en uit dieselfde kraal kom en dieselfde gemeenskaplike einddoel om kolonialisme met sosialisme te vervang, nastrewe!

Stiks ·

Hierdie sg regering het oor meer as 20 jaar net verwoes en plunder. Faksiegevegte en korrupsie het toestande net vererger.. Die burgerlike samelewing se toekomslot is nou in hulle eie hande

Jerry ·

Jy sal verbaas wees Antie om te weet dat die geskiedenis van kolonialiste asook die bloedspoor wat die bevrydingsorganisasies agtergelaat het, regdeur Afrika uitgewis is en dat geen haan nog daarna gekraai het nie. Al wat wel gebeur het is dat bevrydingsorganisasies se boosheid hulle eie mense vir geslagte en geslagte lank daarna straf! Dit raak nou ernstig tyd dat opposisiepartye gesamentlik n gemeenskaplike doelwit begin nastrewe om die ANC te stuit deur die ANC as n kollektief aan te kla van verraad en menseregteskendings wat teen Suid Afrikaners gepleeg is met staatskaping en vir die verlangsaming van die ekonomie met die kamtige herstel van die skade van staatskaping, wat eintlik maar net neerkom op staatskaping fase 2, want beide staatskapings gebruik belastingbetalers se geld om die ANC kaderstrukture te verryk terwyl belastingbetalers verarm en hulle weerstand verkrummel!

Peet ·

Wat my verstom (of dalk nie) is dat die vingers swaai en eintlik ‘n rigting probeer afdwing. Solank ‘n paar gesaghebbers in weelde kan lewe kan die res maar krepeer en op wanfunsionele dienste staatmaak.
Raak aan pensioen reserwes dan is ons klaar daar. Niemand minder as Barnie Pityana het gewaarsku om enige vorm van stereotipering as basis vir beleid te gebruik ‘n uiterste vorm van rassisme bloodlê.

Marthinus Willemse ·

Toe die kommuniste in 1917 in Rusland aan bewind kom, het hulle dadelik en baie energiek begin om die volk te omskep in een homogene, sowjetvolk. Jy was nie meer Russies of Oekraïns of Tataars of Tjoekji of Tjoewasj nie; jy was `n sowjet. Dit het hulle 70 jaar geneem om die geveg te wen.

Is Wikipedia en World Satesmen, webwerwe waar lande se vlae prominent gebruik word, dan nou haatsprakers?

Dubbel-Standaarde ·

En Julius mag sê net wat hy wil! Ongelukkig vir hulle is die ou landsvlag deel van SA se geskiedenis, hulle voel dis haatspraak. Dalk herinner die ou vlag hulle te veel aan staatsdepartemente wat suksesvol was en nou steek hul baie sleg af daarteen.

John ·

Daar is aangedui dat die ou vlag gebruik kan word in navorsing of artikels waar die wreedhede en onderdrukking en pyn en lyding en en en beskryf word. Dws diegene wat sadistiese neigings het kan die vlag toon om….. wat? Wie moet dan nou eintlik vreeslik sleg voel? Eintlik dateer die vlag nog uit die Britse-oorheersingsfase. Die vierkleur lè my nader aan die hart. Wie wat ja gestem het, het geglo die ANC gaan die ou landsvlag eerbiedig? Regtig mense, kom by. Ontwerp ‘n nuwe vlag of huil jul oè uit.

Swannie ·

Pleks die transformasie regter liewer die rassisme in eie geledere aanspreek, soos die “Black Lawyer`s Association” waaraan geen blanke natuurlik mag behoort nie, so ook die “Black Business Forum” , maar nee, die witman moet weereens onderdruk word.
Ek hoop Frikkie en Kie, is nou tevrede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.