Tweede oorgang dalk ‘n tweede kans?

Suid-Afrika benodig ʼn ‘tweede oorgang’ om probleme te takel wat nie tydens die ‘eerste oorgang’ ná 1994 behoorlik hanteer kon word nie. In 1994 het ons ʼn ‘politieke oorgang’ beleef van wit minderheidsregering na swart meerderheidsregering. Sosiale en ekonomiese transformasie, wat in die proses agterweë gebly het, noodsaak ʼn tweede oorgang. In dié nuwe fase behoort grondwetlike bepalings wat transformasie strem, gewysig te word. Die huidige grondwet weerspieël immers die kompromieë wat tydens die skikking van 1994-96 aangegaan is.

Só verklaar die ANC in ʼn beleidsdokument wat vir sy nasionale konferensie in Desember vanjaar voorberei is.

Buite die dampkring van die regerende party is die voorstel van ʼn tweede oorgang met groot skeptisisme en selfs openlike vyandigheid ontvang. Maar tog bied die idee van ʼn tweede oorgang moontlik – en onbedoeld – nuwe politieke beweegruimte vir minderheidsgemeenskappe in Suid-Afrika.

ʼn Paar jaar gelede is in Afrikanergeledere sterk voorbrand gemaak vir ʼn sogenaamde opvolgskikking juis om gebreke in die oorspronklike skikking van die middel-negentigerjare reg te stel. Een daarvan was onvoldoende grondwetlike beskerming vir die regte van taal- en kultuurgemeenskappe. Die ANC het hom doof gehou vir sulke voorstelle.

Nou kom die regerende party met sy pleidooi vir ʼn tweede oorgang. Dit word egter nie as ʼn nuwe inklusiewe skikking tussen verskillende partye aangebied nie, maar bloot as ʼn beleidsbesluit wat die ANC op sy eentjie in Desember kan neem.

Eerder as om hierdie eensydigheid gelate te aanvaar, behoort burgerlike organisasies wat hulle vir gemeenskapsregte beywer, te begin agiteer vir ʼn meer inklusiewe ‘oorgang’ wat ook wyer strek as sosiale en ekonomiese kwessies. Wat ookal die naam, gaan dit in wese om die soort opvolgskikking wat destyds bepleit is.

ʼn Kultuurakkoord tussen gemeenskappe en die staat kan ʼn kernelement van so ʼn skikking wees. En die akkoord kan op sy beurt gebou word op die idee van kulturele vryheid, waaroor ʼn vorige bydrae gehandel het.

Sedert daardie stuk geskryf is, het die FAK ʼn ideesentrum gestig wat hom juis met die bevordering van kulturele vryheid bemoei. Een van die hooftake van die NP van Wyk Louw Sentrum vir Kulturele Vryheid is om ʼn konstruktiewe bydrae tot politieke denke en debat oor kulturele vryheid te maak en om met werkbare planne vir die beskerming en uitbouing van dié vryheid vorendag te kom.

Die sentrum lyk na die aangewese instansie om die bal aan die rol te sit met ʼn konsep-kultuurakkoord wat deur belangstellende gemeenskappe oorweeg kan word voordat dit aan die regering voorgelê word.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deon Geldenhuys

Meer oor die skrywer: Deon Geldenhuys

Deon Geldenhuys is ‘n professor in Politiek aan die Universiteit van Johannesburg. Hy is betrokke by die stigting van die NP van Wyk Louw Sentrum vir Kulturele Vryheid.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Gemsbok ·

Die ANC is heeltemal reg wanneer hy sê dat die magsbalans nie (volledig) in sy guns was tydens die vorige oorgang nie.

Die NP (die enigste werklike ander onderhandelaar) het immers beheer en die lojaliteit van die veiligheidsmagte en ‘n goeie staatsdiens aan sy kant van die skaal gehad.

Oor watter balans van mag beskik enigeen buite die drie-party-alliansie om konsessies mee te wen?

Om te onderhandel sonder ‘n magsbasis is bedel.

Dalk is dit die vraagstuk wat allereers opgelos behoort te word?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.