Tweestryd in Franse presidentsverkiesing

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk (Foto: Ludovic MARIN / AFP)

In die pas afgelope presidentsverkiesing in Frankryk het, uit ʼn wye verskeidenheid kandidate, twee deurgegaan na die uitklopronde op 24 April: die sittende president Emmanuel Macron van die links-liberale party La Repulique en Marche (LREM) wat 28% gekry het, en Marine Le Pen van die regs-nasionalistiese Rassemblement National (RN) met 23%.

So ver is dit eintlik soos verwag: die twee was die gunstelinge om deur te gaan na die volgende ronde. Le Pen het wel effens beter gedoen as verwag en Macron het na talle krisisse verlede jaar weer vanjaar sy steun gekonsolideer. Albei kandidate het reeds met die laaste presidentsverkiesing in 2017 teen mekaar gestaan en Macron het Le Pen in die tweede ronde duidelik verslaan met 66% teenoor 33%.

Interessant was egter die uitslae van die ander kandidate: die verlinkse Jean-Luc Melechon van La France Insoumise (onbuigsame Frankryk) het met 22% verbasend goed gevaar en so amper self deurgedring na die tweede ronde toe. Aan die ander kant het die verregse kandidaat, Eric Zemmour van die nuwe party Reconquête, met 7% heelwat agter sy eie en die meningspeilings se verwagtings gebly. Die grootste skok was egter die swak vertonings van die eertydse hoofstroompartye wat vir die grootste deel van die 20ste eeu die Franse politiek oorheers het: Valérie Pecresse van die gematigd-konserwatiewe Les Republicains (LR, die Republikeine) het nie eers 5% gekry nie, terwyl daar in ʼn stadium selfs ʼn goeie kans was dat sy die naaswenner sou word.

Anne Hidalgo, tans burgemeester van Parys en kandidaat van die Parti Socialiste (PS, Sosialisteparty), het selfs nog minder gekry met skaars 2%, en is daarmee op die vlak van obskure splinterparty-kandidate. Om dit in perspektief te plaas: LR, oftewel sy voorlopers, het presidente soos Jaques Chirac en Nicholas Sarkosy opgelewer. In 2017 se presidentsverkiesing het hulle kandidaat Francois Fillon ten spyte van ʼn korrupsieskandaal nog 20% gekry. Ook in verlede jaar se streeksverkiesing het sowel LR asook die sosialiste goed gevaar en die meerderheid streke verower en onderskeidelik 30% en 31% gekry. Ook die kandidaat van die Groenparty, Yannick Jadot, het met slegs 4% swak gevaar.

Marine Le Pen. (Foto: AP Photo/Thibault Camus)

Vir die tweede ronde is Macron wel die gunsteling om te wen, maar dit is nie meer so seker soos in 2017 nie. Destyds was al die ander kandidate teen Le Pen en kon Macron die meerderheid agter die vrees vir die “regse gevaar” verenig. Le Pen het sedertdien meer gematigd begin optree en ook haar beleid versag. Omstrede eise soos ʼn “Frexit“ was nie nou meer ter sprake nie. Boonop het Zemmour as kandidaat regs van Le Pen haar minder ekstreem laat oorkom. Sy het ook hard gewerk en die land deurkruis en het ʼn passie en aanvoeling vir die gewone mense, terwyl Macron van die grondvlak verwyderd is en tipies die arrogante optrede van iemand uit die elite het. Hy het wel die stedelike middelklas agter hom en natuurlik feitlik alle meningsvormers en gesagsdraers.

Die tweestryd is nie eintlik meer tussen links en regs nie. Trouens, op ekonomiese gebied is Le Pen meer links as Macron, wat die gunsteling van die ondernemers is. Dit is eerder die tweestryd tussen globaliste en nasionaliste, iets wat deesdae kenmerkend van die politiek in die Weste is.

Alhoewel die oorgrote meerderheid van die kandidate wat uitgeval het vir Macron in die tweede ronde ondersteun, is dit nie te sê dat dit vir hulle kiesers ook almal geld nie. Die vraag is ook hoeveel van die nie-stemmers van die eerste ronde gemobiliseer kan word, en hoeveel van die ondersteuners van die ander kandidate buite stemming bly. Die kanse is beslis groter vir Macron om te wen, maar soms gebeur die onverwagte, soos met die Brexit-volkstem of die verkiesing van Donald Trump in 2016.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Treurwilger

Mag Le Pen seëvier!
Macron se hardhandige hantering van landsburgers/belastingbetalers in Parys se strate tydens Covid is maar net één van sy tekortkomings.
Hy en die meeste ander staatshoofde behoort vervolg te word vir hul arrogante, hartelose optrede teenoor mense wat van werk en inkomste ontneem is.
Politici het nie één sent verloor tydens die sg. pandemie nie.