Twyfel oor duursame vrede in Sirië

sirië

Argieffoto van Sirië.

Die Siriese burgeroorlog is basies onoplosbaar. Bowendien is dit die bron vir groot onstabiliteit in die wêreld, onder meer die vlugtelingprobleem in Europa. Waarom kan die mense nie ophou om hul eie land so te vernietig nie? Leopold Scholtz soek na ʼn antwoord.

Die Amerikaanse en Russiese ministers van buitelandse sake, John Kerry en Sergei Lawrof, het verlede week in Genève uiteindelik ooreenstemming oor ʼn skietstaking in Sirië bereik. En tog is daar groot twyfel of dit tot ʼn duursame vrede gaan lei.

Dit is ʼn konflik wat sover al byna ʼn halfmiljoen lewens geëis het. Sowat 6,5 miljoen mense is binne Sirië ontheem. Meer as 3 miljoen het na buurlande, soos Turkye, Libanon, Jordanië en Irak, gevlug. Nog anderhalf miljoen het Europa oorstroom, ofskoon dié vloed (voorlopig) min of meer gestuit is.

Burgeroorloë kan lank duur; volgens akademiese navorsing van die politieke wetenskaplike prof. James Fearon van die Stanford-Universiteit in Amerika, gemiddeld selfs 10 jaar. Die een in Sirië is nog maar 5 jaar aan die gang.

Daar is ook verskeie faktore wat die duur en intensiteit van burgeroorloë kan help bepaal. Ten eerste kan “eenvoudige” burgeroorloë makliker as “ingewikkelde” konflikte beëindig word. As net twee partye betrokke is, is dit al klaar moeilik genoeg. Hoe meer partye, hoe meer ingewikkeld raak dit.

Die Siriese oorlog is een van die ingewikkeldstes in ʼn lang tyd. Daar is ten minste vyf binnelandse partye wat teen mekaar veg:

  • Die amptelike Siriese regering van pres. Basjar al-Assad;
  • Die terreurbeweging Islamitiese Staat (IS);
  • Die terreurbeweging Al-Noesra (ʼn filiaal van Al-Kaïda);
  • Die Koerde, ʼn volk sonder eie staat wat in die grensgebiede van Turkye, Sirië, Irak en Iran bly. Hul doel is om genoeg grondgebied te beset om die wêreld voor ʼn voldonge feit van ʼn eie staat te stel; en
  • Die “liberale” rebelle wat ʼn gematigde Islamitiese staat nastreef. Dié kategorie is self onderling verdeel en veg soms ook teen mekaar.

Maar dis nie al nie. Dit raak ingewikkeld omdat verskeie buitelandse moondhede hulle met die oorlog bemoei, elkeen met sy eie politieke agenda wat dikwels regstreeks teen mekaar indruis:

  • Amerika en die Weste, wat die “liberale” rebelle steun. Hul doel is om Sirië in ʼn brawe demokrasie om te skep. Die Midde-Oosterse werklikhede in ag geneem, is dit ʼn nogal naïewe doel, maar dit daargelaat. Amerika en verskeie Europese state verleen lugsteun aan die “liberale” rebelle en die Koerde en bombardeer teikens van die IS en Al-Noesra.
  • Rusland steun die Assad-regime. Pres. Wladimir Poetin se strategiese doel is om Rusland weer ʼn gevreesde en gerespekteerde groot moondheid te maak en die behoud van sy invloed in die Midde-Ooste vorm deel hiervan. Assad is die enigste oorblywende betroubare bondgenoot van Rusland in dié wêrelddeel en dus bombardeer Russiese vliegtuie enigiemand wat Assad beveg.
  • Iran is ook ʼn Assad-bondgenoot, wat eweneens troepe en bomwerpers in die stryd gewerp het. Iran probeer sy invloed in die streek vergroot. Terselfdertyd speel die godsdienstige verwantskap tussen die Assad-bewind en die Iranse regering ook ʼn rol. Iran is oorweldigend Sjiïties, terwyl Assad en sy ondersteuners Alawiete is, ʼn sylyn van die Sjiïete.
  • Turkye het die laaste paar weke ook gemeganiseerde troepemagte oor die grens gestuur. Enersyds is dit gedoen op Amerikaanse versoek, wat meen Turkye moet die Moslem-ekstremiste aktiewer beveg, maar die Turke se werklike motief is om te keer dat die Koerde die hele grensstreek onder hul beheer kry.
  • Ten slotte is daar Saoedi-Arabië, die beskermer van die heilige stad Mekka en prominentste Soennitiese land. Die betrokkenheid van Saoedi-Arabië en Iran aan weerskante van die politieke skeidslyn gee aan die Siriese konflik die ekstra dimensie van ʼn godsdiensoorlog, wat dit buitengewoon gevaarlik maak.

Voeg hierby ook nog dat die doelstellings wat Amerika en die Weste enersyds en Rusland andersyds nastreef, bitter moeilik versoenbaar is, indien dit hoegenaamd moontlik is. Die verskil is dat die Weste se strewe ambisieus en onhaalbaar is, terwyl dié van Rusland eenvoudig en relatief maklik uitvoerbaar is.

Bowendien het Poetin nou al herhaaldelik gewys hy het nie las van ʼn morele gewete nie. Ook binnelands duld hy immers geen teenstand nie en verskeie “lastige” joernaliste en fluitjieblasers, wat te veel aan skandale gekrap het, het geheimsinnig gesterf en ander is op grond van duidelik vervalste aanklagte in die tronk gegooi.

Poetin is soos ʼn stoomroller. Hy wil die Assad-regime stut en dus bombardeer Russiese vliegtuie selfs skole en hospitale wat deur rebelle beheer word. Daar is nie veel wat die Weste daaraan kan doen sonder om die risiko van ʼn oorlog met Rusland te loop nie.

Dus hardloop Poetin op die oomblik kringe in Sirië rondom pres. Barack Obama.

Burgeroorloë eindig meestal wanneer die vegtende partye oorlogsmoeg is en wanneer hulle sien ʼn klinkklare oorwinning is nie meer moontlik nie. Maar as die een party, in dié geval die Assad-regime, sodanig militêr deur ʼn buitelandse bondgenoot (Rusland) gesteun word dat hy steeds meen hy kan wen, sal die oorlog voortduur.

In die proses begin Sirië al hoe meer na ʼn troostelose woestyn lyk. Onlangse foto’s van dele van die stede Aleppo en Damaskus, waar kwaai gevegte plaasvind, lyk baie soos beelde van Stalingrad in 1943 of Berlyn in 1945: totale vernietiging net waar jy kyk.

Selfs al word ʼn duursame vrede môre gesluit, sal dit jare, dalk dekades, duur voordat Sirië weer op die been is.

Die probleem is egter dat Sirië sy probleme uitvoer. Die oorlog het een van die grootste bevolkingsverskuiwings sedert 1945 aan die gang gesit en miljoene mense het die pad gevat. Die meeste vlugtelinge word elders in die land of in buurlande gehuisves, maar die mees ondernemendes, dikwels jong mans, het die lewensgevaarlike roete na Europa gekies.

Daar plaas hulle haas ondraaglike spanning op die Europese samelewings se absorberingsvermoë, want die mense wat verlede jaar op Europa toegesak het, is op die beste buitengewoon moeilik integreerbaar. Hul godsdiens en kultuur is eenvoudig te anders.

Bowendien is die gevaar dat Moslem-ekstremiste hul weg na Europa kan vind volgens die Franse politieke wetenskaplike en is die gevaar dat Moslem-ekstremiste hul weg na Europa kan vind Islam-kenner, prof. Gilles Kepel, van die Paryse Instituut vir Politieke Studie. In ʼn onderhoud met die Berlynse dagblad Die Welt het hy gesê al word hul radikalisme slegs deur ʼn klein persentasie van die Moslems in Europa gedeel, is hul doel om ʼn soort burgeroorlog teweeg te bring en die vasteland uiteindelik in ʼn Moslem-kalifaat om te skep.

Dis is maklik in teorie: Die beste, eintlik die enigste, manier om die vlugtelingprobleem onder die knie te kry, is om ʼn duursame politieke oplossing vir die Siriese vraagstuk te vind.

Maar dit gaan nie gebeur nie. En dus moet Europa sy boude maar vet smeer. Hier kom nog groot moeilikheid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

John ·

Waarom kan die mense nie ophou om hulle eie land so te verniel nie…? Poetin is soos ‘n stoomroller…. Daar is nie veel wat die Weste kan doen nie…. Sirie voer sy probleme uit… Professor ek weet nou uiteindelik wat ‘his…story’ beteken…

johan 2 ·

Ek dink die prof skryf op die verkeerde plek….probeer dalk maar eerder hoofstroom liberale media…regtig waar, Putin is nie een van die aggressors nie.

John ·

Liewe otter!!! Dit is nie die Siriers wat hul land opvoeter nie. Dit is die Amerikaners wat kwansuis baas speel in ander lande duisende kilometres van hul eie grens af. Die CIA finansier die rebelle al van die begin af en so nou en dan val daar twee of meer kratte met wapens bestem vir ISIS vanaf Amerikaanse vragvliegtuie. Hoekom sukkel Amerika na twee jaar om nog steeds ISIS teikens uit te wis? Met hul tegnologie sou n boer binne n maand n vyand kon uitroei.

Yoliza ·

Ek volg hierdie gebeure ook nou al ‘n jaar of 2. Hierdie meningstuk is eenvoudig uiteengesit en baie duidelik, dankie. Hoop baie mense gaan dit lees en besef voorbereiding vir die nabye toekoms is nodig….die hele wereld is ontstuimig (nie net SA nie). Elkeen se voorbereiding gaan anders wees: fisies, geestelik, emosioneel. Vra die Heilige Gees om jou te lei.

Herman G ·

Goeie artikel
Volgens my is daar 2 kern probleme:
1) Soos in Afrika is die state in die Midde Ooste geskep deur lyne op ‘n kaart te trek, en mense wat nie die selfde is nie (bv. Koerde & Arabiere, Berbers en Arabiere, Soenie & Sjitiese moslems) is in 1 staat geplaas. Een groep het bewind oorgeneem en klou met alle mag daaraan vas. Bv Die Alawiete was onderdruk deur die Turke en Soenies. Toe Sirie ‘n Franse kolonie word het die Franse die Alawiete gewerf vir hulle weermag. Met die land se onafhanklikwording voer die Alawiete ‘n staatsgreep uit en regeer van toe af.
2) Die lande in die Midde-Ooste (ook soos in Afrika) het vir dekades lank ‘n hoer bevolkings aanwas as groei koers gehad, plus die welvaart het in ‘n klein elite se hande gebly. Druk het opgebou en opgebou en toe ontplof dinge ‘n paar jaar gelede (soos in Libie)

En ja, ek stem saam dat die Weste ongelooflik naief is om demokrasie te bevorder in Sirie. Die mense gaan volgens etniese en godsdienstige stem, en dan kry jy ‘n diktatorskap van die meerderheid, soos in Irak. Die Midde Ooste het ook nie ‘n tradisie van demokrasie nie, behalwe Israel & Libanon.

Nico K ·

Ek stem heeltemal saam met Herman G dat die koloniale grense, soos in Afrika, die probleem is. Maar, soos in Afrika, sal die regerings veg tot die laaste om te keer dat daardie koloniale grense verander word. Ek glo apartheid, of die wêreld dit wil weet of nie, is die oplossing vir afrika se oorloë.

En Herman, onthou tog jou deeltekens. Daardie sin van die bevolkingsaanwas klink sleg sonder die deeltekens. Hoewel die woord soos jy hom daar geskryf het heelwaarskynlik bygedra het tot die bevolkingsaanwas.

gatiep ·

Alweer Putin die verskriklikke man met geen gewete nie.
Magtige USA maar terwyl hulle isis gebom het het het isis ook magtiger geraak ek USA se wapens bekom. Watse tiepe oorlog is dit wat hulle doen.
Help die vyand oorlog?

John ·

Amerika sit juis agter die geweld. Terwyl Sirie nie mag aanval nie word hul deur die CIA rebelle aangeval en 23 keer het die rebelle Siriese magte aangeval na wapenstilstand. Amerika moes dit laat gebeur omdat hul besig was om grond te verloor en nou verskaf die CIA met 7 dae vakansie meer wapens aan terroriste.

Theuns ·

More Leopold, gewapende stryd gebeur altyd onder die dekmantel van van iets anders soos moraliteit, rassisme, mishandeling ens. In Suid Afrika is verontregting van die uitlanders gebruik om n oorlog te begin. Die werklike rede vir laasgenoemde was ons goud en diamante en ons land sommer as ‘n toegif aan die Engelse. “Apartheid” is gebruik om oorlog en oorgawe af te dwing van die minderheid. Die werklike gebeure is oorskadu deur valse propaganda wat die ANC die “darling” van die buite wereld gemaak het en witmense die muishonde. Die oorloe in die middeooste word gevoer vir Amerika en rusland se eie gewin en dit het , teen verwagting in van die Amerikaners en Russe, net ‘n groot gemors veroorsaak soos jy tereg se! Die vraag is nou sal dit nie nou maar beter wees vir die Amerikaners en Russe om maar heeltemal te ontrek nie? Laat die ouens mekaar opdons tot daar niks van hulle oorbly nie? Selfs al bevoordeel dit ISIS? As daar dan ‘n wenner te voorskyn tree dan kan die Weste en Russe hom uitwis! As hulle so voel! Wat dink jy

gatiep ·

John dit is so duidelik soos daglig dat die USA isis gemaak het en befonds het.
Hulle media is teen n man soos Trump wat vrede met Putin wil he en staan agter iemand soos Clinton wat oorlog met Putin wil he.So iets se vir my dis mal mense wat in beheer is van USA. Wie in sy regte mind soek n oorlog vandag met die wapens wat vandag daar is.
Dis hoekom Putin gese het n oorlog tussen USA en Russia gaan daar nie n wenner of verloorder wees nie.
As iemand anders as Putin in beheer was van Russia sou die US seker al hulle oorlog gehad het.

DewaldS ·

Ek is bly om te sien dat die gemiddelde kommentator op Maroela vir hom/haarself kan dink en nie net die spindoktor se narratiewe vir soetkoek op-eet nie.

Ons gaan ‘n gevaarlike tyd binne en kritiese denke (met gepaste aksie wat die regte feitelike uitkomste op grondvlak tot gevolg sal hê) gaan nodig wees vir oorlewing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.