Die Voortrekkers het onlangs hulle 80ste verjaarsdag met ʼn luisterryke geleentheid in die Voortrekkermonument gevier. Prof. Piet Strauss is hoofleier van die Voortrekkers en het ʼn paar van die gedagtes uit sy toespraak van daardie aand vir Die Groot Debat saamgevat.
Ek het probeer uitwys dat Die Voortrekkers as ʼn kultuurbeweging vir moderne jong Afrikaners, wat sy eie toekoms betref, ʼn paar faktore in sy guns het.
1. Ons uitgangspunt maak voorsiening vir verankerde sowel as nuwe of eietydse denke en gedrag. Die kwessie van moderne Afrikanerwees, positiewe burgerskap in die land waar jy woon en konsekwente Christenskap of Christenskap op alle terreine of in alles wat jy doen, is konstantes wat die identiteit van Die Voortrekkers in 1931 bepaal het en dit ook in 2011 doen. Hierdie ABC is ons kern.
Die uitleef daarvan het oor die jare egter verander. Dit wys in ons kleredrag, ons verhoudinge tussen offisier en jeuglid (dit is meer spontaan en minder formeel), en die vrae waarvoor ons deesdae staan. Maar, wat my moed gee is, as ek ons senior jeuglede vra om aan my ʼn moderne Afrikaner te wys, ʼn Afrikaner van nou, gee hulle hulle self as voorbeeld. Hulle het ook konsensus dat hulle in Die Voortrekkers as moderne Afrikaners ʼn geestelike en kulturele tuiste het. As ek vra: wat in Die Voortrekkers moet verander? antwoord hulle: Niks! Net ons beeld na buite.
2. Om Afrikaner te wees, is meer populêr as 20-30 jaar gelede. Ons kinders assosieer meer openlik daarmee as my geslag wat destyds jonk was. Hulle sien hulle self kultureel as Afrikaners, staatkundig as Suid-Afrikaners en as mense wat in Afrika woon, as Afrikane. Ek onthou toe die liedjie “De la Rey…” op sy piek van gewildheid was, het van ons kinders in ‘n opname van Solidariteit kortweg gesê “As Bok van Blerk sê ons is Boere, is ons Boere!” Ons sangers is deesdae vertolkers van wat in die harte van ons kinders aangaan. Die sangers sing ook vir die mark en daarom skep hulle patriotiese liedere. Op Voortrekkerkampe dawer hierdie nuwe liedere oor die luidsprekers. Nou onlangs by die onthulling van ʼn monumentjie tydens ʼn De la Reytoer, het 143 Verkenners (graad 10-12) spontaan op aandag gekom toe die nuwe “Ons vir jou…” oor die luidsprekers gekom het. Ons kinders moet eenvoudig hulle eie soort Afrikanerskap skep of beleef om Afrikanerkinders van vandag te wees.
Die wonder is dat ons kinders nou – terwyl die Afrikaner ʼn laagtepunt in sy geskiedenis beleef – meer intens met ons assosieer. Die Voortrekkers trek met sy ABC in hierdie spoor.
3. ʼn Konsekwente Christelike leefwyse wat op ʼn moderne of eietydse manier geleef word, het eenvoudig ʼn toekoms. God-Drieënig bepaal die uitkomste van vandag en môre. Hy is die God van nou en netnou. Van eendag.