Uit die bloute, die nuwe minister van finansies

Van Rooyen tydens sy inhuldiging. Foto: Elmond Jiyane

Van Rooyen tydens sy inhuldiging. Foto: Elmond Jiyane

In ʼn onlangse verslag, wat vroeër die week deur die Solidariteit Navorsingsinstituut vrygestel is, is daadwerklike kommer oor die toedrag van sake by die staat se finansies uitgespreek. Ons gevolgtrekking was dat “sake soos gewoonlik” by die tesourie gaan voortduur.

In die konteks het sake soos gewoonlik onder andere na die voortsetting van fiskale tekorte, toenemende skuld, grootskaalse staatsgedrewe kapitaalprojekte en groot spandering verwys.

In ons verslag het ons die volhoubaarheid van die regering se belastinginkomstes met inbegrip van swak ekonomiese groeikoerse, korporatiewe belastinginkomstes wat onder druk verkeer, en persoonlike inkomstebelasting wat op ʼn nie-volhoubare wyse deur enorme staatsdienssalarisse en betreklik hoë privaatsektorvergoedingsvlakke (in ʼn verswakkende sake-omgewing) gerugsteun word, bevraagteken.

Een van ons aanbevelings was dat die regering markvriendelike hervorming oorweeg en toepas om sodoende die vertroue van besighede en beleggers te herstel. Sodoende glo ons kan die benarde ekonomiese toestand verbeter word. Dat stabiliteit geskep moet word, was onderliggend aan ons standpunt. Sou dít nie plaasvind nie, het ons gereken, sal ʼn volskaalse noodsituasie in die staat se finansies uiteindelik die gevolg wees.

Met inbegrip van die voorafgaande kon ons tot nou toe darem een ding sê en dit is dat die tesourie darem grootliks by hul afgebakende koers probeer hou het. Hulle het die ratte in die masjien van die staat se finansies voorspelbaar laat loop.

Self al verskil ons in ons sienings van makro-ekonomiese- en algemene staatsbeleid, sal meeste mense saamstem dat voorspelbaarheid en stabiliteit van binnelandse staatsfinansies raadsaam is. Die stelling geld selfs al is die oorwig van beleid nie noodwendig ʼn sprankelende voorbeeld van ʼn vryemark ekonomiese oortuiging nie.

Tot op hede het ʼn groot aantal finansiële deskundiges die tesourie oor die algemeen as deursigtig, stabiel, genoegsaam onafhanklik en as goed bestuur, beskou. Vandag is dit nie meer die geval nie.

Ons is nou ook genoodsaak om ons siening van “sake soos gewoonlik” by die tesourie te herbesin.

Gister se skokaankondiging, waar president Zuma onder beweerde bedenklike, selfs duistere, motiewe, die nou voormalige minister van finansies, Nhlanhla Nene, met David van Rooyen vervang het, het meeste markdeelnemers onkant gevang.

Van Rooyen is ʼn grootliks onbekende ANC-aanstelling wat volgens gerugte as uitvoerende burgemeester voorheen by die (wan)bestuur van die steeds swak presterende Merafong-munisipaliteit betrokke was. Die aanstelling het natuurlik ʼn skerp reukie van vermeende kaderontplooiing die lig laat sien.

Nie net was die aanstelling onverwags en uiters verstommend nie, maar die gebeure kon nie op ʼn slegter tydstip plaasgevind het nie.

Die afgelope Vrydag beleef ons ʼn hersiening van Suid-Afrika se soewereine kredietgraderings. S&P hersien SA se vooruitsigte van BBB-minus stabiel na BBB-minus negatief. Fitch Ratings pas ʼn afgradering van BBB tot BBB-minus toe. Rommelstatus blyk nou die regering en Suid-Afrika se voorland te wees.

Daarmee saam duik die Rand die afgelope tyd teenoor die Amerikaanse Dollar. Dit blyk dat die Rand nou self vinniger en verder as vantevore kan daal.

In weerwil daarvan vervang president Zuma gister skynbaar eensydig ʼn algemeen gerespekteerde minister van finansies by een van die land se belangrikste finansiële instellings. Enigiemand wat ʼn greintjie finansiële insig aan die dag lê sal ten sterkste teen sulke stappe waarsku, omdat dit verreikende gevolge kan inhou. Maar die moontlike gevolge het oënskynlik nie vir president Zuma in dié geval laat huiwer nie.

Vir die tesourie beteken die aanstelling moontlik dat die spreekwoordelike koeël deur die kerk is. Die ratte van die goedgeoliede tesouriemasjien kan nou moeilik begin draai.

Het ʼn nuwe era nou vir die tesourie aangebreek? Inligting oor wat ons te wagte is, is maar skraps, maar as Van Rooyen nie as ʼn uitvoerende burgermeester die Merafong-munisipaliteit kon regruk nie, kan ʼn mens maar wonder oor sy kanse op sukses by die strategies belangrike en komplekse tesourie.

Dit is nie ʼn vergesogte idee dat dit nou die tyd is om teen populistiese, sosialistiese wanbesteding te verskans nie. Terwyl die gevaar bestaan om soos ʼn vreesaanjaer te klink, moet uitgewys word dat die gevolge vir mense in Suid-Afrika beduidend sleg kan wees. Indien die markte en beleggers nie die nuwe aanstelling as oordeelkundig aanvaar nie, kan ʼn wegholverlies van sake- en beleggersvertroue plaasvind.

Die uitwerking hiervan kan verreikend wees. Onttrekking en opskorting van internasionale beleggingprojekte, mense- en kapitaalvlug, verdere afgraderings, duurder en moeiliker bekombare staatskuld en ʼn verswakkende Rand kan die huidige onrusbarende ekonomiese omstandighede na ʼn volskaalse fiskale noodsituasie aanjaag.

In ons verslag het die SNI ook gewaarsku dat so ʼn noodsituasie ʼn verdere sentralisasie van staatsmag en selfs totalitarisme kan voortbring. Dit sal beteken dat die nou verslete politieke slagspreuke wat op “vryheid” aanspraak maak, slegs in die konteks van die Orwelliaanse idioom sal sin maak.

Daar is twee Suid-Afrikaanse instellings waar ʼn oorname deur blinde kaderontplooiing enorme finansiële risiko’s vir die man op straat kan inhou. Die een is die Reserwebank, wat die mag het om geld te skep, en waar wanbestuur verwoestende hiperinflasie kan veroorsaak. Die ander is die tesourie wat gesamentlik oor die staat se beursie, die mag om te laat belas, en die reg om ingrypende finansiële- en belastingbeleid daar te stel, beskik.

Roekeloosheid by enigeen van dié twee instellings kan ontsettende skade aan die land se ekonomie en sy mense aanrig. Die vraag is nou of die tesourie nie as slagoffer van kaderontplooiing geval het nie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Gerhard van Onselen

Meer oor die skrywer: Gerhard van Onselen

Gerhard van Onselen is ʼn senior navorser by Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Arno ·

Ek dink regtig dit raak nou tyd om te emigreer. Ek het altyd daaroor gewonder, maar wou nooit my land verlaat nie… Maar ‘n mens word meer en meer gedwing om dit te oorweeg. Waarvoor werk ‘n mens as jy bloot verarm of as jou pensioenbydraes nutteloos raak. Is ons nie maar regtig op dieselfde pad as die res van Afrika nie? Kyk wat het EEN man aan Zimbabwe gedoen — nou doen EEN man dieselfde tipe dinge aan Suid-Afrika. Dis waarlik ontnugterend.

Gerhardt ·

En dan is daar nog “meningsvormers” wat PW veroordeel het oor die rand se paar sente val tydens “Rubicon’. Zuma sink die rand met 5% in 2 minute!

Gert ·

Ek wil net noem dat die ANC regering mik om in ons pensioen vondse in te delf. Dit sal selfs die toekoms vir die huidige hard werkende wit man finansieel onderdruk. Die kommunis se mikpunt is om beheer van alle geld en eiendom te verwerf in die land. Zuma en die ANC regering moet weg.

Neels ·

Ons met n westerse verwysingsraamwerk moes n skuif soos hierdie verwag het. Dit is niks nuuts nie, nie in SA nie en ook nie in die res van Afrika nie. Ons moet vrede maak met feit dat die denke in n afrika verwysingsraamwerk hemelsbreed verskil van die in die westerse wereld, n wereld waarmee ons as Afrikaners meer geaffilieer is. Die politieke landskap le bestrooi met voorbeelde van onderdagte aanstellings, of laat ek liewer se weldeurdagte aanstellings volgens die huidige regering se denkraamwerk. Die SAUK, SAL, Eskom, Skerpioene, Nasionale Int, noem maar op. Hierdie skuif is nie vreemd nie, en ons moet verstaan dat die ekonomiese aanwysers wat vir ons van kritisie belang is vir die huidige regering met hulle huidige afrika gesentreerde denkwyses van absoluut geen waarde is nie. Aanvaar dit, en maak greed vir nog erger dinge. Grondbesettings en onteiening is ons voorland. Moet nooit die fout maak wat die boere in Zim gemaak het in die vroee 90`s nie, hulle het gedink dit sal nooit gebeur nie. Dink weer.

Jan maak n Plan ·

Pateet en pateet se maatjie. Hou die rand dop. Een van die dae dieselfde as die Zim dollar.

Johan 2 ·

Kakaka ek hou van die foto…lyk soos n mafia saamkoms met zuma in sy sonbril…LMGA

Fanie ·

Die ANC is nou al vir amper 22 jaar aan bewind. Wil jy vir my sê hulle het nog niks geleer van politiek volgens die westerse politieke standaarde nie? Dit is Pateties!! Gaan hulle nou maar vir ewig net één rigting dink volgens hulle Afrika Standdarde.
Na 22 jaar van regime waarin hulle niks positiefs en volhoubaar gewys en bewys het nie, ….
Kan hulle nie maar net Vanish drink nie…….

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.